Verskillende benaderings tot Christelike apologetiek

(Hierdie artikel is saamgestel uit uittreksels van Faith Has Its Reasons: Integrative Approaches to Defending the Christian Faith deur Kenneth D. Boa en Robert M. Bowman jr., NavPress-uitgewers, 2001)

APOLOGETIEK AS KONSEP

Die Griekse woord ‘apologia’ beteken letterlik “om ’n beskuldiging weg te praat” (apo-weg, logia-spraak). Die woord kom agt keer in die Nuwe Testament voor (Hand 22:1, 25:16, 1 Kor 9:3, 2 Kor 7:11, Fil 1:7,16, 2 Tim 4:16, 1 Pet 3:15) en in elke geval kan dit vertaal word as verdediging of regverdiging. Hierdie gedeeltes bied egter nie enige formele sisteem of teorie oor apologetiek nie. Die idee om ’n rasionele verduideliking (waarop die moderne woord apologetiek dui) te gee, kan egter wel uit die gedeeltes van Filippense 1:7, 1:16, en 1 Petrus 3:15 afgelei word. Alhoewel daar verskeie vroeë kerkvaders (o.a. Justin Martyr en Tertullian 2 n.C., Origen 3 n.C. en Augustinus 4 n.C.) was wat dit spesifiek hulle taak geag het om die geloofsaansprake en praktyke van die Christelike geloof teen aanvalle te verdedig, het apologetiek as spesifieke teologiese vakgebied skynbaar eers aan die einde van die 18de eeu ’n aanvang gekry.

Alhoewel Christene spesifieke gawes van God gekry het wat dikwels van mekaar verskil, is alle Christene in ’n sekere sin geroepe om in die algemene taak van die apologetiek te deel. Dit is miskien juis so omdat die apologetiek nou verband hou met die feit dat ook alle Christene die taak het om die evangelie aan mense bekend te maak. Paulus skryf in Filippense 1:7b: “Julle deel immers almal saam met my in die genade wat God gee, sowel in my gevangenskap as in my verdediging van die evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan.” Ook in 1 Petrus 3:15 kom die algemene oproep tot alle Christene sterk na vore: “But dedicate your lives to Christ as Lord. Always be ready to defend your confidence in God when anyone asks you to explain it. However, make your defense with gentleness and respect.” (‘God’s Word’ – vertaling)

APOLOGETIEK AS BEDIENING

Daar bestaan twee basiese (maar tog oorvleuelende) vorme van apologetiek wat as bedienings van die kerk werksaam is: evangelistiese apologete is primêr in die bediening van mense buite die kerk betrokke; onderwysende apologete is primêr in die bediening van mense binne die kerk betrokke.

Daar is ’n algemene verstaan van hoe ’n tipiese apologetiese bespreking sou verloop: Die Christen probeer die uitgesproke ateïs oortuig dat dit die absolute waarheid is dat daar ’n God is wat bestaan en wat Drie-enig is, wat mense regverdiglik as sondaars moet oordeel, maar wat mens geword het in Jesus van Nasaret, ons van ons sonde verlos het en wat ’n onfeilbare Bybel geïnspireer het. Dat die apologeet nie in sy doel geslaag het as hy nie hierdie formidabele taak suksesvol uitgevoer het nie, is egter ’n onrealistiese siening van die apologetiek. Die geldigheid van apologetiek is nie afhanklik van die pertinente sukses daarvan nie, maar in die mate waarin dit meewerk tot sukses deur die lewensveranderende werk van die Heilige Gees binne-in nie-Christene. C. Stephen Evans stel dit soos volg:

“We should of course remember that apologetic arguments do not have to convince anyone, much less everyone, in order to be successful. There are many other goals for such arguments, that could be summarized under the rubric of ‘softening up’ the intended audience, such as lessening the grip of various objections, removing certain barriers that make it impossible fairly to consider faith, producing a disposition to hear with a more open mind or to seek to hear more about the faith, and many more.”

Apologetiek moet eerder as geldig en waardevol beskou word wanneer dit die basis bied vanwaar ’n nie-Christen al nader daaraan beweeg om die Christelike geloof te kan aanvaar. Mense is beslis dood in sonde of weergebore, verlore of gevind. Hulle mag egter verder of nader daaraan wees om van die dood na die lewe oor te gaan, afhangende van wat hulle glo of nie glo nie. Mense staan gewoonlik nie stil nie: hulle beweeg oor die algemeen ná geloof of wég van geloof af. ’n Persoon wat nie geglo het dat God bestaan nie, maar wat nou daardie feit aanvaar deur die aanhoor van ’n apologetiese argument, het in die regte rigting beweeg. Dan was apologetiek suksesvol.

BENADERINGS IN APOLOGETIEK

Sedert Paulus se dae is apologete uit verskillende oorde en op verskillende tye met verskeie probleme gekonfronteer. Hierdie apologete het op verskillende maniere gereageer om hulle geloof te verdedig. Dit het gelei tot duidelike verskille oor metapologetiese sake (die omgaan van apologetiek met menslike kennis en ervaring) soos die volgende:

  • Die teorie van kennis wat voorveronderstel word wanneer die Christelike geloof as die waarheid aangebied word.
  • Die waarde van teïstiese bewyse (bewyse vir die bestaan van God).
  • Die mate van sekerheid wat die Christelike geloof bied.
  • Die verhouding tussen geloof en rede, en tussen filosofie en die Christelike geloof.
  • Die rol wat bewyse (evidence) in apologetiek het.
  • Die mate van gemeenskaplike grond tussen Christene en nie-Christene.

Afhangende van hoe apologete hierdie sake vir hulleself uitgeklaar het, kan daar basies vier hoofbenaderings tot die apologetiek onderskei word. Elkeen van hierdie vier benaderings het waarde in die spesifieke doelstellings daarvan. Die vier benaderings is die volgende:

  • Apologetiek as bevestiging (proof) wys dat die Christelike geloof redelik is. Die doel is om te wys dat die nie-Christen dit moet en kan aanvaar omdat dit uiters rasioneel is. Hierdie benadering word dikwels beskryf as ‘Klassieke Apologetiek’ (Classical Apologetics).
  • Apologetiek as verdediging (defense) wys dat die Christelike geloof nie onredelik is nie. Die doel is dus om te wys dat die nie-Christen nie irrasioneel sou optree deur in Christus te vertrou of die Bybel as God se woord te aanvaar nie. Hierdie benadering word dikwels beskryf as ‘Bewysgerigte Apologetiek’ (Evidentialism).
  • Apologetiek as weerlegging (offense) wys dat nie-Christelike geloof onredelik is. Die doel is die weerlê van nie-Christelike geloofssisteme en nie-Christene met die irrasionaliteit van hulle standpunt te konfronteer. Hierdie benadering word dikwels beskryf as ‘Gereformeerde Apologetiek’ (Reformed Apologetics).
  • Apologetiek as oorreding (persuasion) hou in gedagte dat die Christelike geloof nie slegs deur die verstand alleen geken kan word nie. Die doel is om nie-Christene te oortuig dat hulle nie bloot maar net die aansprake oor Christus as die waarheid kan en moet aanvaar nie, maar dat dit uiteindelik daaroor gaan om Christus in die konteks van ’n verhouding te vertrou. Hierdie benadering word dikwels beskryf as ‘Fideïsme’ (fides: Latyns vir geloof).

Mense verskil in terme van agtergrond, gesindheid, voorkeur, perspektief en basiese eienskappe in persoonlikheid. Dit is nie net waar van die apologeet nie, maar ook van die mense met wie apologete in gesprek tree. Dit is veral in terme van hierdie diversiteit van mense waarmee die apologeet te doen kry dat ’n geïntegreerde benadering tot apologetiek die mees effektiefste kan wees. Alhoewel min apologete suiwer van slegs een benadering gebruik maak, kan dit baie waarde hê om spesifiek bewus te wees van verskillend benaderings en hoe dit effektief gebruik kan word. Edward J. Carnell sê die volgende:

“Since apologetics is an art and not a science, there is no ‘official’ way to go about defending the Christian faith. The defense must answer to the spirit of the times…The climate of our modern world is dynamic and existential.”

Francis Schaeffer maak ’n soortgelyke opmerking:

“I do not believe there is any one system of apologetics that meets the needs of all people, any more than I think there is any one form of evangelism that meets the need of all people. It is to be shaped on the basis of love for the person as a person.”

ASPEKTE RONDOM VIER APOLOGETIESE BENADERINGS

Klassieke Apologetiek (Anselm, Thomas Aquinas, C.S. Lewis, Norman Geisler, Peter Kreeft, William L. Graig)

Filosofiese, wetenskaplike en historiese argumente word gebruik om ’n positiewe saak uit te maak vir waarom die Christelike geloof as die enigste logiese geloofsisteem aanvaar moet word. Die gebruik van die rede en logika (soos o.a. die wet van nie-teenstrydigheid, oorsaak en gevolg redenering en nie-weerspreking) word beklemtoon in die bepaling van die geldigheid van kompeterende godsdienstige filosofieë. Sodoende word die waarheidsaansprake van nie-Christelike wêreldbeskouings weerlê en die bestaan van God word deur teïstiese bewyse bevestig.

Bewysgerigte Apologetiek (Joseph Butler, James Orr, William Paley, John Warwick Montgomery, Richard Swinburne, J.P. Moreland, Clark Pinnock, Josh McDowell)

Die fokus val hier op die opklaar en verduideliking van die Christelike standpunt in die lig van misverstande en wanvoorstellings, die beantwoording van besware, kritiek en vrae van nie-Christene en ’n algemene verwydering van intellektuele probleme wat ongelowiges aanvoer in die pad staan daarvan dat hulle kan glo. Dit gaan dus nie soseer daaroor om te wys dat die Christelike geloof waar is as wat dit gaan om die kredietwaardigheid daarvan te bevestig nie. Dis is veral feite en bewyse (evidence) wat hier ’n deurslaggewende rol speel. Daar word veral gewys dat die Christelike geloof op geskiedkundig bevestigbare feite gegrond is. Daar word klem geplaas op die gemeenskaplike gronde tussen Christelike en nie-Christelike denke en die waarde van objektiewe wetenskaplike en historiese feite as bewysstukke. Die argument is dat daar ’n hoë mate van waarskynlikheid ten gunste van die Christelike geloof vasgestel kan word en dat dit dieselfde soort kredietwaardigheid verteenwoordig wat met gevestigde wetenskaplike wette geassosieer word. Die getuienis bestaan nie noodwendig as klinkklare bewyse nie, maar dit is voldoende om die besware te beantwoord en te wys dat die Christelike geloof nie onredelik is nie.

Gereformeerde Apologetiek (Johannes Calvyn, Thomas Reid, Cornelius van Til, Alvin Platinga, Gordon H. Clark)

Die fokus is hier nie op die beantwoording van spesifieke besware teen die Christelike geloof nie, maar op die argumente wat nie-Christene bied as ondersteuning vir hulle eie geloof. Weerlegging kan egter nie alleen staan nie, want om ’n nie-Christelike geloof vals te bewys, beteken nie dat die Christelike geloof daarom waar is nie. Tog is hierdie ’n essensiële funksie van apologetiek. Die gesag van God se openbaring in die Bybel (vgl. Calvinisme en Gereformeerde Teologie) word sterk beklemtoon. Die uitgangspunt is dat rede en feite gegrond is op die Christelike geloof, eerder as dat die Christelike geloof deur rede en feite bewys of verdedig moet word. Die idee is dat empiriese en rasionele benaderings tot godsdienstige waarheid misluk weens die morele verval van die menslike verstand as gevolg van sonde. Benaderings wat slegs gegrond is op die rede en bewyse veronderstel die selfgenoegsaamheid van die gevalle mens om sy rede te gebruik om die feite onafhanklik te interpreteer van Goddelike openbaring. (Hierdie benadering in sy sterkste vorm stel dit onomwonde dat enige apologetiese benadering wat op sulke metodes staatmaak om kennis in te samel, ontoereikend en onvanpas is om geloof te verdedig.) ’n Saak word daarvoor uitgemaak dat argumentasie tussen twee groepe op ’n indirekte manier kan plaasvind (op die vlak van basiese aannames of voorveronderstellings) deur die irrasionaliteit van ’n nie-Christelike standpunt uit te wys en dan te wys dat Christelike teïsme ’n rasionele fondasie vir sin en waarheid bied.

Fideïsme (Martin Luther, Blaise Pascal, Søren Kierkegaard, Karl Barth, Donald Bloesch)

Mense moenie bloot oortuig word dat die Christelike geloof waar is nie, maar nie-Christene moet oorreed word om die waarhede daarvan in hulle lewens toe te pas. ’n Funksie van apologetiek is daarom nie bloot die wen of uiteensit van argumente nie, maar om mense te oortuig dat hulle hul lewe en ewige toekoms aan die Seun van God wat vir hulle gesterf het moet toevertrou. Die noodsaaklikheid van geloof word dus beklemtoon. Die gedagte is dat die mens se kennis oor die waarheid (veral godsdienstige waarheid) ten beste ’n persoonlike saak van die emosie en wil is, eerder as die intellek. Persoonlike, eksistensiële ervaring met God, sowel as God se andersheid en geborgenheid kan nie op rasionele analise of wetenskaplike en historiese bewyse gegrond wees nie, aangesien dit ’n saak van die hart is. (In die sterkste vorm, staan hierdie siening geheel en al skepties teenoor die apologetiese rol van empiriese en historiese bewyse, asook menslike logika, in die proses om tot geloof in God te kom.)

BEANTWOORDING VAN SPESIFIEKE APOLOGETIESE VRAE

Die verskillende apologetiese benaderings beantwoord vrae oor die Christelike geloof op verskillende maniere. In die geheel beskou, kan al die antwoorde as aanvullend tot mekaar gesien word omdat dit antwoorde vanuit verskillende hoeke bied. Ses van die basiese en belangrikste vrae wat deur nie-Christene oor die waarheid van die Christelike geloof gevra word (en die primêre taak van Apologetiek in die beantwoording van sulke vrae) is die volgende:

Hoekom moet ons in die Bybel glo?

Alle apologete beskou as deel van hulle ‘posbeskrywing’ die taak om mense te oorreed om die Bybel as God se Woord te aanvaar. Die verskillende benaderings om dit te doen, kan soos volg uiteengesit word:

  • Klassiek: Die aspek van die Bybel as God se Woord word as die eindpunt van die apologetiek beskou. Tipies word die waarheid van die Christelike wêreldbeskouing eers logies gedemonstreer, dan word die waarheid van die sentrale aansprake van die Bybel namens Jesus verdedig en slegs dan word die Bybel as God se Woord aanbied. Vervulde profesieë bied ’n bewys vir Bybelse inspirasie indien God se bestaan erken word.
  • Bewysgerig: Die betroubaarheid van die Bybel word induktief verdedig. Die Bybel word as ’n bron van waarheid beskou waarvan die egtheid en korrektheid daarvan op spesifieke punte bevestig word. Daarna word Christus se identiteit en Bybelse inspirasie verdedig. Vervulde profesieë is ’n bewys vir Bybelse inspirasie wat weer ’n bewys is vir die bestaan van God.
  • Gereformeerd: Die Goddelike inspirasie van die Bybel word as die enigste standhoudende fondasie vir alle kennis beskou – die inspirasie van die Bybel is dus nie die einde van die argument nie, maar die begin. Die irrasionaliteit van alle ander standpunte word uitgewys. Vervulde profesieë voorveronderstel Bybelse inspirasie.
  • Fideïsme: Die dogma van Bybelse inspirasie word nie spesifiek verdedig nie, maar nie-Christene word gelei om ’n persoonlike ontmoeting met Christus in die Bybel te hê. Geloof is nie eerstens in die Bybel nie, maar in Jesus. Die Bybel is slegs ’n getuigskrif vir Jesus. Vervulde profesieë is God se vooraf getuienis oor Christus.

Lei alle godsdienste nie maar na God nie?

Apologete mag dikwels verskillend reageer op die aanname van baie mense dat aansprake oor absolute waarheid onbevestigbaar is:

  • Klassiek: Daar word bewys dat die wêreldbeskouings van nie-Christelike gelowe onlogies, weersprekend en teenstrydig is, in teenstelling met die Christelike geloof.
  • Bewysgerig: Getuienis word gebied wat wys op die Christelike geloof se unieke status tussen die godsdienste van die wêreld.
  • Gereformeerd: Daar word gewys op die teenstelling van die Christelike en nie-Christelike waarheidsaansprake en die feit dat nie-Christelike gelowe ook waarheidsaansprake maak wat terseldertyd ook voorveronderstel word. Dit sou daarom heeltemal aanvaarbaar wees om die waarheidsaansprake van die Christelike geloof as basiese aannames te aanvaar omdat dit samehangend en nie-teenstrydig is.
  • Fideïsme: Die beswaar word ontmasker deur daarop te wys dat die Christelike geloof glad nie ’n godsdiens is nie, maar ’n verhouding. Selfs die Christelike geloof as godsdiens kan ’n mens nie na God lei nie.

Hoe weet ons dat God bestaan?

Die apologeet het dit ten doel om die nie-Christen tot kennis van God te bring. Daar is verskillende benaderings om mense van God se bestaan te probeer oortuig:

  • Klassiek: Argumente word gebruik om beslissende bewys te probeer lewer dat God bestaan en dat dit die Christelike geloof die enigste rasionele wêreldbeskouing bied.
  • Bewysgerig: Verskeie argumente word gebruik wat as sterk kumulatiewe getuienis dien om te wys dat dit nie onredelik is om te glo dat God bestaan nie.
  • Gereformeerd: Daar word gewys dat God se bestaan eintlik fundamenteel en basies is tot alle kennis en bewyse. Die bestaan van God word deur aanname aanvaar.
  • Fideïsme: Indirekte argumente of geen argumente word gebruik, omdat kennis oor God eintlik oor ’n verhouding met Hom gaan. Ons weet God bestaan wanneer ons in ’n verhouding met Christus is.

As God bestaan, hoekom laat hy boosheid en lyding toe?

Die apologeet is deeglik bewus dat hierdie die grootste beswaar teen die Christelike geloof is. Vra tien nie-Christene wat hulle twee hoof besware teen die Christelike geloof is en nege sal waarskynlik die probleem van boosheid noem: hoe kan daar boosheid in die wêreld wees wat deur ’n almagtige en liefdevolle God gemaak is?

  • Klassiek: ’n Samehangende Christelike wêreldbeskouing sluit die realiteit van boosheid en lyding in. Vrye wil en daarom vrye keuse is die oorsaak van boosheid en lyding.
  • Bewysgerig: Die positiewe bewyse is meer as die negatiewe bewyse, alhoewel dit nie noodwendig die bose verklaar nie.
  • Gereformeerd: Die realiteit van God se bestaan moet veronderstel word voordat die onderskeid tussen goed en boos gemaak kan word. God is egter nie die direkte oorsaak van die bose nie.
  • Fideïsme: Die vraag kan nie rasioneel beantwoord word nie en is ook nie regtig so belangrik nie. Wat ons wel nodig het om te weet is dat God vertrou kan word. Hierdie vertroue is gegrond in die lydende Jesus wat die dood en die bose oorwin het en daarmee gewys het dat Hy ons belange op die hart dra.

Is wonderwerke in die Bybel nie maar net geestelike mites en legendes met geen feitelike gronde nie?

Moderne kritiek op die Bybel het meegebring dat die oorsprong en historisiteit daarvan in die algemeen in twyfel getrek word. Dit beteken dat die Bybelse weergawes wat spesifiek betrekking het op wonderwerke slegs as simboliese mites wat geestelike waarhede leer beskou word en geen fondasie as historiese gebeurtenisse het nie. Alle apologete beskou wonderwerke in ’n historiese konteks, maar het verskillende benaderings tot ’n verdediging van geloof in sulke wonderwerke:

  • Klassiek: Wonderwerke is oor die algemeen moontlik. Wonderwerke verkry kredietwaardigheid deur die bevestiging van die bestaan van God en verleen ondersteuning aan God se spesifieke openbaring van Homself.
  • Bewysgerig: Daar word direk op die historiese getuienis beroep om te wys dat die gebeure ter sprake hoogs waarskynlik is. Wonderwerke kan ook gebruik as bewyse vir die bestaan van God in die konteks van Bybelse geskiedenis.
  • Gereformeerd: Wonderwerke kan geglo word, omdat die Bybel se gesag aanvaar word. Wonderwerke is profeties van aard.
  • Fideïsme: Wonderwerke word as God se aktiwiteit in die wêreld as reaksie op geloof beskou.

Hoekom sou iemand die aansprake glo wat Christene oor Jesus maak?

Apologete gebruik ’n verskeidenheid argumente om nie-Christene daartoe te lei om die waarheidsaansprake oor Jesus in te sien en te aanvaar:

  • Klassiek: Die redenasie is dat Jesus moet wees wie die Bybel sê Hy is, want geen ander verduideliking maak sin nie.
  • Bewysgerig: Daar is gedetailleerde en feitelike bewyse vir die lewe, dood en veral die opstanding van Jesus. Moderne anti-Bybelse teorieë oor Jesus word weerlê en die Christelike waarheidsaansprake oor Hom bevestig.
  • Gereformeerd: Jesus is God en Sy uitsprake is Sy eie beste argument. Dit word deur die Heilige Gees bevestig en nie bloot deur wat Christene van Hom sê nie.
  • Fideïsme: Nie-Christene het nodig om met die persoon van Jesus in die evangelies gekonfronteer te word. Die argument is dat Bybelse geleerdes nie ’n ware voorstelling kan bied van die tradisionele Bybelse Christus nie, dat dit inderwaarheid nie gedoen kan word nie en ook nie gedoen moet word nie. Die Christus van geloof is verhewe bo die ‘Jesus van die geskiedenis’ en moet deur geloof gevind word en nie deur historiese ondersoek nie. Jesus is in elk geval nie iemand wat mense sou kon versin nie.

METAPOLOGETIESE VRAAGSTUKKE

Soos reeds genoem hang die spesifieke benadering tot die beantwoording van bogenoemde apologetiese vrae baie af van apologete se siening van die metapologetiek(hoe apologetiek met menslike kennis en ervaring omgaan). Die volgende vrae is van die relevante sake ter sprake en wys hoe verskillende apologete daaroor dink.

Op watter gronde kan ons daarop aanspraak maak dat die Christelike geloof waar is?

Die postmodernistiese siening oor absolute waarheid kan as voorbeeld gebruik word oor hoe apologete verskillend reageer op wat die gronde vir waarheid is: rede, feite, openbaring of geloof?

  • Klassiek: Ontkenning van absolute waarheid is irrasioneel en weersprekend.
  • Bewysgerig: Absolute rasionele sekerheid is nie beskikbaar nie, maar die aansprake word deur die feite ondersteun, miskien selfs bo alle redelike twyfel.
  • Gereformeerd: Almal glo in absolute waarheid, voorveronderstel dit in hulle optrede.
  • Fideïsme: Die absolute waarheid is nie ’n saak van proposisionele kennis of feitelike inligting nie, maar ’n Persoon wat geken word in ’n verhouding, nie in woorde nie.

Wat is die verwantskap tussen apologetiek en teologie?

Daar bestaan ’n debat rondom die teologiese fondasie van apologetiek. Is dit ’n afdeling van die teologie, voorbereiding vir teologie, ens. Hierdie debat het ’n invloed op die verstaan van die reëls en metodes wat in apologetiek gevolg word en wat die doel en omvang van apologetiek is. Apologetiese metodes hou nou verband met hoe iemand die Christelike teologie verstaan en interpreteer. Apologete verskil byvoorbeeld oor of God se openbaring in die natuur genoegsaam deur nie-Christene verstaan kan word om in God te kan glo.

Moet apologetiek betrokke raak in ’n filosofiese verdediging van die Christelike geloof?

Apologetiek word dikwels beoefen as godsdiensfilosofie,’n studieveld wat die metodes van die filosofie gebruik om sekere sleutelaspekte van die Christelike geloof te definieer en te bewys. Sommige apologete het egter ’n aversie in die filosofie en beskou dit dikwels as die vyand van geloof. Tog is daar ander wat baie waarde daarin vind.

Kan die wetenskap gebruik word om die Christelike geloof te verdedig?

Vir nie-Christene bied die wetenskap die mees formidabele intellektuele besware teen die Christelike geloof. Tog verskil apologete drasties in hulle sienings oor die wetenskap.

  • Klassiek en bewysgerig: Aanvaar die bevindinge van die wetenskap met groot entoesiasme en voer aan dat dit juis die Christelike geloof bevestig.
  • Gereformeerd: Bejeën die wetenskap met agterdog en beskou sekere ‘suksesvolle’ teorieë as teenstrydig met die Christelike geloof.
  • Fideïsme: Beskou die wetenskap as irrelevant, aangesien die Christelike geloof oor sake handel wat die fisiese wêreld (wat deur die wetenskap ondersoek word) transendeer.

Bied historiese ondersoek ondersteuning aan die Christelike geloof?

Die siening onder apologete is soortgelyk aan die standpunte oor die wetenskap.

  • Klassiek en bewysgerig: Die waarheid van die Christelike geloof is direk gekoppel aan historiese bevestigbaarheid.
  • Gereformeerd: Stem saam dat die Christelike geloof op historiese gebeure gegrond is, maar lê min klem op historiese ondersoek en waarsku teen die idee dat die sentrale gebeure van verlossing objektief na aanleiding van historiese studie geglo kan word.
  • Fideïsme: Voer aan dat geloof in beginsel nie aan historiese ondersoek onderwerp kan word nie, omdat dit oor die ewige en nie oor die tydelike handel nie.

Wat is die verwantskap tussen kennis en ervaring?

  • Klassiek en bewysgerig: Menslike ervaring word beskou in die lig van universele waarhede waarin die Christelike boodskap gegrond is.
  • Gereformeerd: Ervaring word as onbetroubaar beskou en moet getoets en geïnterpreteer word in die lig van die gesagdraende onderrig van die Bybel.
  • Fideïsme: Ander verwerp argumentasie oor ervaring en moedig nie-Christene aan om God se liefde in Christus te ervaar.

HOLISTIESE APOLOGETIEK

Wanneer apologete in ’n pre-evangelistiese gesprek met ander tree, sou dit hulle goed doen om ook bewus te wees van die verskillende persoonlikheidstipes van die mense met wie hulle in gesprek is. Die rede hiervoor is die feit dat dit moontlik is om sekere persoonlikheidstipes te onderskei wat redelik gemaklik met ’n spesifieke benadering sou kon assosieer. Daar kan dan meer direk van daardie benadering in die apologetiese gesprek gebruik gemaak word.

Vier persoonlikheidstipes wat oor die algemeen redelik goed inskakel by die vier apologetiese benaderings is die volgende:

  • Die idealistiese, verhoudings-georiënteerde persoonlikhede is daarop gerig om die goeie in ’n situasie te vind en gemeenskaplike gronde te soek. Mense met hierdie persoonlikheid sal goeie aansluiting vind by die klassieke benadering.
  • Die analitiese persoonlikheid reageer op probleme deur na die regte antwoorde te soek en neig na wetenskaplike of ander teoretiese aktiwiteite. Die bewys-gerigte benadering sal moontlik vir hulle baie waardevol wees.
  • Die pragmatiese, resultaat-georiënteerde persoonlikheid is ingestel op verpligting, gesag en orde. Sulke mense sal waarskynlik by die Gereformeerde benadering aanknoping vind.
  • Die persoonlikheid met ’n ‘vrye gees’ neig om vir die oomblik te leef en is die mees oop vir die paradoksale. Die fideïstiese benadering mag miskien hier goed werk.

Hierdie is bloot vier geïdealiseerde voorbeelde van persoonlikheid, net soos wat die vier apologetiese benaderings dit is. Dit sal apologete goed doen om bewus te wees van die faktore wat ook hulle eie voorkeur vir ’n spesifieke benadering bo ’n ander beïnvloed, anders as die spesifieke argumente wat deur so ’n benadering vereis word. Apologete wat gesonde verstand gebruik en probeer om hulle apologetiek aan te pas by die persoon met wie hulle praat, sal die mees effektiefste wees.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.