‘n Repliek Op AntWoord

Sien die ander gedeeltes in hierdie gesprek:

_____________________________________________________________________

Stefan Louw reageer op André van Zyl:

Ek wil dankie sê vir jou bereidwilligheid om in gesprek te tree met my oor die artikel. Ek waardeer jou insette en glo dit juis deur ope gesprekvoering, eerder as “quiet diplomacy” wat die gay kwessie in die kerk aangespreek behoort te word.

Ek het jou ant-woord ‘n paar keer deur gelees en dit blyk vir my duidelik te wees dat jy ‘n hele paar sake afleidings maak wat nie in die artikel geïmpliseer word nie. Eers net ter inleiding:

Inleiding

‘n Belangrike onderskeid reg deur die artikel is die onderskeid tussen homoseksuele orientasie en homoseksuele gedrag. Hierdie onderskeid is onderliggend aan die hele argument. In jou kritiek word die onderskeid op verskeie plekke opgehef. My onderliggende argument is dat dat ons in die Bybel slegs tot verantwoording geroep kan word op grond van hoe ons lééf. Dis ons gedragskeuses, ons leefstyl, ons manier van handel wat uiteindelik bepalend is. Die Bybel loop daarvan oor. Vanaf Adam en Eva en die vrug, deur Noag en die goddelose mense, deur die tien gebooie, die volk Israel in hul afgodsdiens, Jesus met die bergrede, die gelykenis vd barmhartige Samaritaan, die skape en die bokke van Matt 25, die Fariseers wie se skynheiligheid juis daarin lê dat hul gedrag hul woorde weerspreek, Jakobus wat die duidelike intieme verband tussen geloof/ ongeloof en dade lê.

Die gevoel wat ek van jou kant af kry is dat jy met my hieroor saamstem. Jy gebruik op verskeie plekke die woord gehoorsaamheid as die bepalende aspek van ware geloof. Jy verwys ook na die onderskeid tussen sonde en sondaar (gedrag en persoon) en omskryf dit dan as “dade in stryd met Bybelse riglyne” (p3). Ek stem honderd persent saam. Gehoorsaamheid is immers die moment waar ek met my dade, met my gedragskeuses, met my leefstyl bewys lewer dat my geloof eg is. Dat dit nie bloot vroom praatjies is nie, nie bloot lippediens is nie.

Dit is dus ‘n basiese vertrekpunt in my standpunte: Die maatstaf of toetsinstrument aan die hand waarvan morele oordele gevel word in die Bybel is GEDRAG.

Natuurlik is dit so dat gedrag nie moraliteit bepaal nie. Dit vertoon dit slegs. Dis wat in die hart aangaan wat in gedrag na vore kom. Ingesteldheid, uitkyk, waardes, gedagtes – hier lê die oorsprong van gedrag. Maar gedrag bly die uiterlike bewys van die innerlike bedoeling, die resultaat, die uitvloei. Dis die vrug wat uiteindelik die lewe of die dood voortbring. En ‘n vyeboom kan tog nie olywe voorbring en ‘n wingerdstok vye nie.

Laat ek dit dus baie duidelik stel: Waaraan moraliteit egter gemeet word is gedrag. Dis as’t ware die venster waardeur ons inkyk in die hart van die mens en sien wat werklik daar aangaan.

Ek dink jy sal ook met my saamstem dat die toetsteen of diepste norm vir morele gedrag vs immorele gedrag die beste saamgevat word in Jesus se opsomming van die wet. Gedrag waarin liefde vir God en liefde vir ons naaste lewend word is die mees volledigste uitdrukking van gehoorsaamheid, die diepste bedoeling van dit wat in die Bybel as moreel beskou word. Christus is vir ons hierin dan ook die uiteindelike voorbeeld. Sy leer en lewe is die konkrete lewendwording van liefde vir God en vir ons naaste.

Hierdie verstaan van moraliteit moet ons konsekwent deurvoer na die kwessie van homoseksualiteit toe. Gedrag is ook hier die maatstaf waardeur ons beoordeel of daar moreel of immoreel gehandel word. Dit moet ook hier die venster wees waardeur ons inkyk op die gay kwessie. Anders gestel, homoseksuele orientasie kan nie insigself vir ons tot ‘n oordeel bring oor die moraliteit of immoraliteit van hierdie verskynsel nie. Let wel, hierdeur sê ek nie dat orientasie moreel neutraal is soos jy dink ek sê nie. Slegs dat dit moreel duister is tot ons sien watter gedrag/ dade daaruit voortvloei. Dan eers kan ons die oordeel vel. Dus, of homoseksuele orientasie moreel of immoreel is gaan ons slegs weet indien ons kyk na watter tipe gedrag daaruit na vore tree, en of hierdie gedrag beantwoord aan die voorwaardes van die liefdesgebod soos deur Christus omskryf en geleef.

As ons empiries gaan kyk na die moderne gay subkultuur dan is die oorgrote getuienis dat ons hier nie te doen het met ‘n Christelike verstaan van liefde nie. Hul gedrag openbaar ‘n egosentriese, materialistiese, permissiewe subkultuur wat vereensamend en verontmenslikend inwerk op wie dit ook al omhels.

Empiries is daar egter ook bewyse vir die teendeel. Ek ken tientalle gays (maw, mense van homoseksuele orientasie) wat glo in Jesus Christus en Hom volg en dien. Mense wat hul geensins wil assosieer met die gay subkultuur nie, alhoewel hul op geen wyse hul fisiese aangetrokkenheid tot ander mans kan ontken nie.

Let wel, hierdie is ‘n feit wat uit die praktyk van pastorale omgang met die probleem na vore kom. Daar is geen moedswilligheid hierin nie. Oor wat die oorsake/ oorsprong hiervan is wil ek nie nou ingaan nie, alhoewel ek net kan noem dat dit die tipiese “nature vs nurture” debat is. Die feit bly egter staan dat homoseksuele orientasie (weereens, let wel: orientasie – empiries neem dit ‘n wye spektrum van gedragsvorme aan) ‘n feit is, ‘n gegewe is, en dat daar ‘n beduidende aantal Christene is wat ook hieronder resorteer.
Let wel, daardeur sê ek nie, soos jy beweer ek sê, dat hulle slagoffers van genetika is nie. Dit verdoem hulle nie in prinsiepe tot promiskuiteit nie. Hulle het steeds die vryheid van gedragskeuse, net soveel soos wat heteroseksueles die vryheid van gedragskeuse het tussen owerspel en kuisheid. Dat iemand immoreel is bloot op grond van homoseksuele orientasie is net so onwaar soos iemand wat geneig is om maklik vet op te tel noodwendig vraatsugtig is, of iemand wat die talent het om baie goed met geld kan werk noodwendig ‘n gierigaard is. Dus: die toets bly steeds gedrag.

Om aan te sluit by jou voorbeelde van alkoholisme of pedofelie: Hierdie gedragspatrone het ‘n intrinsieke geweldsdinamika en vernietig die mense wat daarby ingetrek word. Dus: die toets van die liefdesgebod diskwalifiseer hierdie sake as aanvaarbare Christelike gedrag.

Die kwessie oor seksualiteit vra dus die vraag na aanvaarbare gedrag tussen twee geliefdes. Wat is aanvaarbare liefdesgedrag? Weereens die liefdesgebod: Gedrag wat uitdrukking gee aan die waardes veronderstel in die liefde. Tientalle tekste kan ons hiermee help. Ek noem net ‘n paar: Besordheid (Fil 2:4), deernis/ medelye (Matt 9:36); ondersteuning en hulp (1 Tim 5:14); goedgesindheid en vrede (Rom 12:17,18); geregtigheid, barmhartigheid en trou (Matt 23:23); diensbaarheid (Fil 2:7); geduld en vergifnis (Kol 3:13); opregdheid (Fil 2:15); eerbied (respek) en toewyding aan mekaar (Rom 12:10,11). Die lysie gaan aan.

Seksualiteit in die Bybel waar die liefdesreels geld vind altyd plaas binne die breër dampkring van ‘n verhouding. Die seksuele word bloot ‘n verdere manier waarop bogenoemde waardes op fisiese vlak uitgeleef word. Wanneer die fisiese kant van seksualiteit wat losgemaak word van die breër Christelike verhoudingsdinamika, dán verval dit in verskeie vorme van promiskuiteit. Daarteenoor staan vorme van fisiese aanraking wat liefde, respek, deernis, bewondering, vertroosting, ens kommunikeer. Hierdie is die gedragstekens van die liefde.
Hierdie tipe gedrag is in beginsel nie moontlik by die verhouding tussen die pedofiel en sy slagoffer nie. Dis is egter wel moontlik, en daar is ook talle voorbeelde van liefdesverhoudings tussen twee gay mans en vrouens waar bogenoemde waardes teenwoordig is. Voordat jy hierdie stelling sonder meer afskiet, laat ek jou liewer voorstel aan ‘n paar sulke mense wat ek ken voor jy jou oordeel fel.

In die lig hiervan wil ek jou net kortliks wys op ‘n paar afleidings wat jy uit my artikel maak:

1) Jy verwys na die “relativering van die Bybel op moraliteit in die samelewing” (p2). Ek dink dit het nou uit bogenoemde duidelik geword dat daar glad nie gekompromitteer word op die waardes van die liefde nie. In teendeel, gaan hier eerder oor ‘n ononderhandelbare en konsekwente deurvoer van wat dit beteken dat ek vir my naaste moet liefde in die konteks van ‘n liefdesverhouding, en wat dit vir spesifiek vir iemand met homoseksuele orientasie sal hels, indien jy konsekwent eerlik wil wees oor wat jy ten diepste glo oor die evangelie.

2) Jy verwys na my hantering van homoseksuele orientasie as dit dit van gays “slagoffers van omstandighede en genetika” maak. Ek dink dit het nou reeds uit bogenoemde duidelik geword dat dit glad nie die geval is nie. In enige menslike konteks werk jy in elk geval met die spanning tussen dit wat kan verander en dit wat nie kan verander nie. Mense het altyd die keuse wat om met hul konteks, agtergrond en omstandighede te maak. Jy kan altyd op een of ander wyse daarop handel. Dis dát jy daarop kan handel wat jou juis ‘n morele wese maak, en hóé jy daarop handel wat die morele karakter daarvan gaan bepaal.

3) Jy maak die opmerking dat ek die “blaam ten volle op die kerk laat rus”. Ek haal my eie artikel aan: “dat die kerk ‘n bepaalde aandeel het”.

4) Jy maak die afleiding dat my oplossing nou is om “die sonde saam met die sondaar te aanvaar” (p3). Uit begenoemde is dit tog nou baie duidelik dat dit nie die geval is nie.

5) In jou reaksie op die wet-genade tema is dit vir my duidelik dat jy nie artikel goed genoeg gelees het nie. Ek hanteer nie Rom 1 in die artikel omder die wet-genade tema nie, maar onder die skepping-herskeppingstema en die kritiek op natuurlike teologie. Die argument is dat Paulus in Rom 1 na die natuur verwys as dat dit kennis van God inbring. Dat hierdie bron van kennis oor God uiteindelik gebrekkig is word duidelik in Rom 8 uiteengesit. Verskynsels in die natuur kan nie en mag nie vir ons as norm of maatstaf dien van wat God se uiteindelike bedoeling met die mens is nie. Natuurlike teologie is gebruik om apartheid, Nazisme, seksisme, klassisme, ethnic cleansing ens al te regverdig. Die argument is: Omdat ons uit God se skepping kan aflei dat julle minderwaardig/ tweederangs/ ondergeskik/ verdraai is, kan ons julle ook so hanteer. Dis egter nie die natuur nie, maar Christus wat die ware norm vir die Christen is. Hy herskep die natuur tot sy ware bedoeling. Alle onderskeide in die natuur moet onderdanig gemaak word aan ‘n nuwe norm: Christus. Die verskynsel van homoseksuele oriëntasie is geen uitsondering op hierdie reël nie.

6) Jy maak die opmerking dat homoseksualiteit, in teenstelling met geslag, ras, ouderdom, ‘n morele karakter het. Dit blyk nie duidelik te wees wat jy daarmee bedoel nie. Sou dit beteken dat homosekuele orientasie in beginsel immoreel is? Die implikasie daaragter is dat tussen 7 en 15 % van mans en ongeveer 1 uit elke 22 vroue bloot op grond geneties/ omgewingsfaktore wat op pre-adolossente fase ingespeel het op hul lewe nou hul verdoem dit immorele wesens vir die res van hul lewens. Ek sê weer: moraliteit lê in hoe jy handel op jou omstandighede, nie in hoe jou omstandighede daaruit sien nie. Dit geld ook vir geslag, ras, ouderdom. Dat homoseksualiteit sporadies afgekeur word in die Bybel is ‘n aanduiding daarvan dat die tipe homoseksuele gedrag in die heidendom van daardie tyd grootliks promiku was. Nie dat die orientasie in beginsel immoreel is nie.

7) Jou stelling oor die moontlike veranderbaarheid van seksuele orientasie laat my wonder hoe ingelese jy is op die debat en of jy werklik diepgaande pastorale ervaring in die veld het. Die groot debat gaan oor die oorsake: Is dit geneties of sosiale/ omgewings/ opvoedingsfaktore wat die deurslaggewende rol speel. Daar is bykans algehele konsensus in wetenskaplike kringe dat orientasie na adolosensie nie sonder meer kan verander nie. Die pastorale praktyk bevestig dit ook. ‘n Diepere kennis van die probleem bring ook aan die lig dat seksuele orientasie ook lê oor ‘n spektum waarvan volledig homo en hetero die twee verste pole is. Vandaar dat die verskynsel van sogenaamde bi-sekualiteit. Veranderlikheid in seksuele voorkeur na adolossensie is die resultaat van mense wat hul rondom die middel van spektrum bevind. Waar jy jou egter op die op die spektrum bevind is al grootliks vasgelê in vroeë adolossensie, en na twintig ‘n gegewe van jou samestelling vir die res van jou lewe.
Maar doen sommer self die toets. Probeer gerus en kyk of jy op grond van ‘n besluit aangetrokke tot ander mans kan voel. Jy gaan jou vinnig teen ‘n amper irrasionele weeerstand in jouself vasloop. Gays het dieselfde ervaring betreffende iemand van die teenoorgestelde geslag. Verandering ‘is bykans onmoontlik.

8) Jy gee ‘n definisie van moraliteit: “Christelike moraliteit is gegrond in wat God in gehoorsaamheid van mense vra en nie in wat mense voel liefdevol sou wees nie.” (p4). Hiermee bevestig jy eintlik die geldigheid van my hele betoog. Gehoorsaamheid vind uitdrukking in die wet en die wet vind uitdrukking in die liefde soos wat Christus dit vir ons kom leer en lewe het. Let wel dat ek vir geen oomblik liefde vanuit ‘n kulturele verstaan daarvan definieer (soos jy hier suggereer nie), maar vanuit die Woord.

9) Jy dig my ‘n paar etikette toe wat heeltemal ongevraagd en onvanpas is. Jy suggereer dat ek ‘n tipe “postmoderne” teologie hier bedryf, en later dat ek hier met ‘n tipe “genade-welvaardsteologie” besig is. Dit lyk of jy dink dat ek ‘n tipe “anything goes” posisie hier ontwikkel waar ek dinge kan veroorloof bloot omdat dit lekker of omdat dit my drange of behoeftes is. Niks is verder van die waarheid nie. Ek pleit vir ‘n konsekwente teologie van gehoorsaamheid aan die gebod van die liefde. Jy dink blykbaar dat ek liefde hier verstaan as oppervlakkige gevoel of as blote uitdrukking van natuurlike impuls. In my artikel maak ek dit tog op verskeie plekke duidelik dat Christus die norm is.

10) Jy verwys na mense wat vrywillig kies vir selibaatskap (p5). Dis goed en reg so indien daar mense is wat hierdie pad kies. In my artikel sê ek bloot dat ons dit nie as wet vir ander mag voorskryf nie. Ook nie vir gays nie. Laat dit eerder ‘n saak tussen hom/haar en God wees. Indien hul wel kies om in ‘n verhouding te tree waar fisiese intimiteit betrokke is, onderwerp jul gedrag dan aan die spelreels van liefde. Of dit nou soen of hande vashou of steling of fisiese seksuele stimulasie is – laat dit, soos in enige heteroseksuele verhouding ook geld – binne die konteks van ‘n Christelike liefdesverhouding gebeur.

11) Jy laat dit klink in jou laaste opmerkings of ek pleit vir nuwe tipe moraliteit. Alle behalwe. Ek pleit vir juis vir herontdekking van ‘n eg Christelike moraliteit wat tweeduisend jaar oud is. My betoog is juis teen moralisme wat die doodsteek is van egte Christelike vryheid. Moralisme maak van die Christelike lewe ‘n lysie van reels en taboes.Moralisme is wat die Fariseers bedryf het. Moralisme laat jou altyd skuldig en minderaardig voel omdat daar heeltyd vir jou vertel word dat jy nog nie goed genoeg is nie. Moralisme verstaan nie dat die mens nie daar is vir die Sabbat nie, maar die Sabbat daar is vir die mens. Dat die mens nie daar is vir die wet ontwil nie, maar die wet daar is vir die mens ontwil. Moralisme maak van die wet ‘n nuwe slawemeester en nie ‘n uitdrukking van dankbaarheid wat dit ten diepste veronderstel is om te wees nie. Die wet wil juis die mens help om binne die konkrete realiteit van wie hul is en waar hul hul bevind die lewe in oorvloed te leef. Die gesindheid van die wet is dat dit die mens te hulp kom oor hoe om ten volle mens te wees, nie hoe om eindelike voorskrifte en opdragte uit te voer nie.

Dus, om by jou laaste opmerkings aan te sluit, dit gáán om die mens se geluk. Die evangelie beteken tog “blye boodskap”. Maar die mens se geluk lê juis IN sy redding. Dit gaan oor die ware geluk wat gays ook kan ontdek dat hul in die konkrete konteks van hul seksuele orientasie ook gelukkig, ware mens kan wees, maw mens voor God en in verhouding met God en met hul naaste kan wees. Wie dit nie vir gays gun nie verstaan nie die diepste bedoeling van die evangelie nie.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.