Apologetiek en Evangelisasie

deur Udo Karsten

Jimmy Williams is die stigter en vorige president van ’n apologetiek bediening Probe Ministries International. In ’n insiggewende artikel oor die verband tussen evange­lisasie en apologetiek skryf hy dat Christene ’n spesifieke taak voor hulle het. Hy sê dat ons beide ons intellek en ons harte moet gebruik om soos Paulus alles te word vir alle mense om dan sommige te red.

Williams moedig ons aan om mooi te besin oor wat dit beteken. “Wanneer ons nadink oor die invloed wat ons as Christene uitoefen in ’n gefragmen­teerde samele­wing, moet ons in gedagte hou dat baie mense nie ons Christelike uitkyk op die wêreld met ons deel nie. Die realiteit is dat sommige eintlik baie vyandig daarop reageer.”

’n Professor het by geleentheid gesê, vertel Williams, dat hy van mening is dat die grootste hindernis vir sosiale vooruitgang tans, die bekrompe en dogmatiese Christelike gemeenskap is. Die professor het skynbaar egter nie hier bloot na ’n onregmatige tipe fundamentalisme met die gepaardgaande ongevoelige uitsprake van som­mige Christene verwys nie, maar na ortodokse Christenskap in die algemeen. Die implikasie is skynbaar dit: Kan Christene nie maar net ’n bietjie ontspan en meer oopkop dink oor dinge nie? En sal die wêreld nie dan ’n gelukkiger plek wees nie? Williams merk op dat hier dus nie bloot vir groter verdraagsaamheid gepleit word nie, maar eerder ’n totale aanvaarding van ander se lewenstyl en persoonlike keuses.

Die Bybel roep ons egter om “sout en lig” in die wêreld te wees, herinner Williams en vra die vraag: “Hoe kan ons dit effektief wees? Ek het nie ’n klinkklare antwoord nie, maar na dertig of meer jare in die bediening kan ek praat oor wat NIE werk nie. Volgens my waarneming, probeer te veel Christene die sake van die dag, met een van drie baie oneffektiewe benaderings hanteer.” Williams gee dan ’n kort beskrywing van elk van hierdie benaderings.

’n Verdedigende benadering: Baie Christene is voortdurend daarop uit om te vra: “Hoe sterk is ons verdediging?” of “Hoe hoog is ons mure?” Hierdie verskansingsmentaliteit is die oorsprong van baie van ons Christelike subkultuur. Ons het ons eie taal, literatuur, helde, musiek, gewoontes en opvoedkundige sisteme. En natuurlik het ons plekke nodig vir wedersydse ondersteuning en die ervaring van gemeenskap van gelowiges. Maar wanneer Paulus in 2 Korintiërs 10 praat van geestelike oorlogvoering, skets hy eintlik die teenoorgestelde prentjie. Dit is die vyand (die bose) wat agter mure is, binne bastions van dwaling en bedorwenheid. Volgens Paulus is Christene gemoeid met ’n aanval op daardie mure om af te breek wat ook al bo kennis van God gestel wil word. Ons is veronderstel om grond te wen en dit nie net te probeer behou nie.

’n Verslaande benadering: Ander Christene het alreeds opgegee. Dinge is so sleg, sê hulle, dat ons nietige pogings nie iets gaan verander nie: “In elk geval, ons leef in die laaste tye en Jesus het gesê dat dinge net al slegter sal raak.” Dit mag so wees, of dalk nie. Jesus het gesê dat niemand weet wat die uur is van Sy koms nie. Die Here mag baie naby wees, maar Hy kan ook nog ’n bietjie langer talm. Siende dat ons nie verseker weet nie, moet ons daarna strewe om ons en ons kinders voor te berei vir ’n lewe in hierdie 21ste eeu.

’n “Godsdienstige ervaring” benadering: Ander Christene probeer wel iets aan ander oor hulle geloof sê, maar ongelukkig kan hulle dikwels nie veel meer deel as net iets oor ’n eie persoonlike godsdienstige ervaring nie. Dit is waar dat Paulus ons bewus maak van die feit dat ons soos ‘briewe’ is wat deur almal gelees word. Ons lewe en ervaring met Christus is ’n baie belangrike getuienis. Daar is egter mense in ons samelewing wat ook getuig van veranderde lewens…maar Jesus het nie die verandering gedoen nie! Evangelisasie moet daarom meer as net die uitruil van belewenisse wees. Ons moet ook leer hoe om ons geloof in die feite van die geskiedenis en die aansprake van Christus te anker en te verwoord. Ons moet help dat ander met Jesus Christus kan worstel, nie net met ons ervaring nie.

(’n Vrye vertaling van uittreksels uit J.F. Williams se artikel Apologetics and Evangelism, www.probe.org)

“Instead, we have refused to use secret and shameful ways. We don’t use tricks, and we don’t distort God’s word. As God watches, we clearly reveal the truth to everyone. This is our letter of recommendation… Our message is not about ourselves. It is about Jesus Christ as the Lord. We are your servants for his sake.” (2 Cor 4:2,5 GW)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.