Kan God ons nie maar net vergewe nie?

Goeie dag Udo.

Ek het iets waaroor ek al ‘n hele rukkie wonder.

Hoekom moes God vir Jesus stuur om vir ons sondes te sterf sodat ons sondes vergewe kan word? God is Almagtige, hoekom kon hy nie maar ons sondes vergewe as ons vergifnis vra en berou toon sonder Jesus se kruisiging nie?

Ons hoor ook dat Jesus vir ons sondes betaal het met Sy bloed-maar hoekom was dit nodig vir Hom om vir ons sondes te betaal en aan wie of wat is die ‘betaling gemaak’?

Dankie en groete.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie mense wonder oor waarom God ons nie maar eenvoudig net vergewe vir ons sonde sonder dat Jesus moes sterf nie. Ons as mense doen dit tog gereeld teenoor mekaar (of ten minste is dit die ideaal): Iemand benadeel my, maar as sy dan berou het en vra om vergewe te word, dan vergewe ek haar. Maklik en klaar. Hoekom kan God nie ook dieselfde doen nie?

Daar is veral twee aspekte waaroor ons duidelikheid moet hê wanneer ons hierdie vraag bevredigend wil antwoord. Ons moet verstaan wat sonde regtig is en terselfdertyd moet ons ook verstaan wie God regtig is, veral wat dit beteken om te sê dat God Heilig én Regverdig is.

Kom ons begin deur te kyk na die konsep van regverdigheid. As voorbeeld behoort dit duidelik te wees hoe die regstelsel in ‘n funksionele samelewing voorsiening maak vir die regverdige verhoor van mense wat die wet oortree het. ‘n Regverdige regstelsel werk volgens ‘n beginsel waar vonnisoplegging toegepas word in ooreenstemming met wat so ‘n persoon se verkeerde optrede verdien (soos byvoorbeeld boetedoening, retribusie, rehabilitasie, ens.). Niemand sal dit as regverdig beskou indien ‘n moordenaar, byvoorbeeld, voor ‘n regter erken dat hy verkeerd opgetree het, sy opregte berou bely, vra om vir sy dade vergewe te word en dan deur die regter vrygespreek word nie. Hoekom is dit nie regverdig nie? Die antwoord hierop is dat ons morele sin vir regverdigheid (‘n universele morele beginsel) vereis dat verkeerde optrede ‘n bepaalde loon verdien (‘n mens maai wat jy saai).

God is in ‘n werklike sin die absolute morele Regter voor wie alle mense verantwoording moet doen vir hulle verkeerde optrede (sonde). Net soos ‘n aardse regter, sal God ook nie regverdig wees wanneer hy mense se verkeerde optrede sommer net oorsien nie (selfs al het hulle berou en vra hulle vergifnis). Dit het hier dus niks te doen met God se Almag nie, maar met sy Regverdigheid. God móét met die sonde handel volgens wat dit verdien, anders is God nie Regverdig nie.

Volgens die Bybel is die verdiende loon vir sonde, die dood (Rom 6:23). Die dood moet hier nie verstaan word as net ‘n fisiese dood nie; dit moet primêr verstaan word as die permanente en onoorbrugbare geestelike skeiding tussen God en mens wat deur ‘n fisiese sterwe ingelei word. Maar hoekom die dood? Is dit nie bietjie erg nie, want alle sonde is tog nie dieselfde nie? ‘n Goeie regstelsel maak tog voorsiening vir swaarder en ligter strawwe, so waarom sal die dood die verdiende loon wees op alle en enige sonde? Dit is hier waar dit nodig is om ook God se Heiligheid te verstaan.

God se Heiligheid beteken dat daar by God geen sonde is nie en dat sonde ook nie in sy teenwoordigheid kan bestaan nie (God se Heiligheid is soos ‘n verterende vuur en ons, in ons sonde, soos ‘n verdorde blaar). Die morele verskil tussen God se Heiligheid en die kleinste morele oortreding (sonde) wat ‘n mens kan begaan, is oneindig groot omdat God ‘n oneindige Heilige Wese is. ALLE sonde teen so ‘n oneindige Heilige Wese, verdien dus absolute vergelding en daarom is die dood ‘n absolute loon wat regverdig is.

Daar is ‘n verdere punt om in gedagte te hou. Indien God ons sonde sou vergewe sonder om daarteen op te tree volgens wat dit verdien, dan beteken dit dat selfs al het God ons sonde vergewe, bly ons in essensie steeds sondaars! M.a.w. om bloot so deur God vergewe te word (selfs in reaksie van ons opregte berou) maak nie die feit dat ek verkeerd gedoen het (en nog herhaaldelik verkeerd gaan doen) ongedaan nie. Die probleem is dat sondige mense nooit in ‘n Heilige God se teenwoordigheid kan wees of werklik ‘n verhouding met Hom kan hê nie. Die uiteinde van so ‘n vergifnis is dus steeds die dood, omdat ons a.g.v. ons eie sonde steeds geskei sal wees van ‘n Heilige God (Jes 64:6b, Rom 3:23).

Die Bybel verduidelik egter dat God met ons ‘n verhouding wil hê, maar dat die teenwoordigheid van sonde in ons lewe dit verhinder. Om in ‘n verhouding met God herstel te word is daarom veel meer as om ‘n pleister op ‘n seerplek te plak (sonde wat oorgesien/vergewe word); dis eerder soos om ‘n operasie te hê om kanker te verwyder (sonde wat vernietig word).

Hier is die effek en misterie van Jesus se dood aan die kruis: Die Bybel stel dat Hy al ons sonde op hom geneem het en daarvoor gesterf het (Jes 53:12), m.a.w. ons sonde het die loon gekry wat dit verdien (die dood) deur die bonatuurlike werking van God self. (Terloops, Jesus se twee nature, Sy volle mensheid sowel as Sy volle Godheid, is hier ter sprake: As ware mens kon Hy as verteenwoordiger vir die mensdom optree en as ware God kon Hy die bonatuurlike las van almal se sonde dra terwyl Hyself sonder sonde was.)

Wat God deur Jesus gedoen het, is genade; Jesus het vir ons gedoen wat ons nie vir onsself kon doen nie (ons kan nie self die loon vir ons eie sonde dra nie, want dan sal ons vir altyd van God geskei moes wees). Ons kan ook sê dat Jesus vir ons sonde betaal het (met sy dood, want God se Heiligheid en Regverdigheid vereis dit), omdat ons nie self daarvoor kon betaal nie. Die idee van “betaling” is ‘n metafoor wat bloot daarop dui dat die wet ‘n regverdige eis stel wat nagekom moet word (daar moet iets betaal word).

Wanneer ons God se genade deur geloof aanvaar, dan word ons sonde ons nie meer toegereken nie (Jesus het die eis van geregtigheid daarvoor nagekom) en vind daar ook ‘n bonatuurlike wedergeboorte in ons plaas. Dit beteken dat ons ‘n nuwe identiteit kry (o.a. ‘n geregverdigde status voor God, 2 Kor 5:21, Rom 8:33) en ook toegang kry tot ‘n nuwe lewe (een waarin ons deur God se Gees kan lewe) waarin ons in ons verhouding met God herstel is. Ons sonde is dus vergewe en staan nie meer tussen ons en God nie (Rom. 5:19, Kol. 2:10, Heb. 8:12, Heb. 10:14, 17-18, Jes. 38:17, Jes. 44:22, Ps. 103:12). Dit beteken nie dat ons nie meer sonde doen nie, maar beteken dat die sonde nie meer deel is van wie ons inherent is nie, dit het ook nie meer ‘n houvas op ons nie; ons kan dus al meer word soos wat God van ons verwag (2 Kor 3:18, 1 Pet 2:24).

Laat weet gerus of my antwoord vir jou sin maak of waar ek dalk meer oor iets moet uitbrei.

Groete

Udo

Sien ook die volgende:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.