Apostels en dissipels

Goeie More,

Ons het gisteraand in ons selgroep oor dissipels gepraat en toe gewonder wat die verskil tussen hulle en apostels is?

Kan julle dalk vir ons verklaar?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou vraag.

As ‘n mens na verse kyk soos Handelinge 1:21-26, dan is dit duidelik dat ten minste een van die vereistes om ‘n apostel genoem te kon word, was dat iemand ‘n direkte getuie van Christus moes wees (sien ook 2 Korintiërs 12:12). Verder, behalwe vir Paulus wat ‘n apostel genoem is (1 Korintiërs 9:1), is ten minste ook Barnabas (Hand 14:1-4) en Jakobus (Gal 1:19), die broer van Jesus, apostels genoem al was hulle nie een van Jesus se twaalf gekose dissipels nie (net soos Mattias wat in Judas se plek as apostel gekies is, dit ook nie was nie). Die punt is dat slegs sekere van die mense wat in daardie tyd volgelinge van Jesus was, terselfdertyd ook apostels genoem is (waarskynlik nie veel meer as die elf dissipels van Jesus en ‘n paar ander soos hier bo genoem is nie). Ek praat spesifiek van sy volgelinge, want almal wat volgelinge van Jesus was, is dissipels genoem. Ek en jy is dus ook dissipels van Jesus. ‘n Mens kan dit dus soos volg stel: Al die apostels van Jesus was ook sy dissipels genoem, maar nie al sy dissipels (alle gelowiges) was ook apostels genoem nie.

Dit mag wees dat slegs mense met die gawe van apostelskap (sien 1 Kor. 12:28, Ef. 4:11) as apostels benoem is. Dit wil egter steeds voorkom (uit gedeeltes soos Hand.1:21-26 en 1 Kor. 9:1) of die titel ‘Apostel’ slegs aan sekere mense wat Jesus persoonlik geken het, toegedig is (en dus ook nie aan ander oorgedra is nie) en dat nie almal wat die gawe van apostelskap ontvang het, ook noodwendig op die titel kon aanspraak maak nie.

Ek hoop hierdie maak sin. Laat weet gerus as ons jou/julle met nog iets van hulp kan wees.

Beste groete
Udo

2 Comments

  1. Goeie Middag

    Net n vraag te stel, Kan n volgende persoon met iemand anders se gawe/roeping geroep word of kry jy jou eie roeping/gawe.

    En wat is die verskil tussen n gawe en n roeping.

    Baie Dankie

    • Hallo Simon. ‘n Gawe is eenvoudig die spesifieke geestelike vermoë waarmee die Heilige Gees elke kind van Hom toerus om die res van die ligaam van Christus mee te dien (sien 1 Korintiërs 12). ‘n Roeping is die geleentheid of plek waartoe God jou roep om vir hom diensbaar te wees ter wille van sy Koninkryk (en kan dus die uitleef van jou gawe insluit). Baie mense beleef hulle werke as ‘n roeping, dus nie sommer net iets wat in hulle lewensonderhoud voorsien nie, maar ‘n duidelik besef van hoe die Here hulle daar wil gebruik ter wille van Koninkrykswerk.

Leave a Reply to Udo Cancel reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.