Richard Dawkins en ‘The God Delusion’

Die volgende artikel is deel 3 van 3 artikels wat aanvanklik op die e-kerk se webwerf (www.ekerk.co.za) verskyn het. Dit word in samewerking en met toestemming van die skrywer hier gereproduseer.

Godsdiens: Die wortel van alle kwaad?

Deur Phillip Scheepers

Wees bang, wees bitter bang! Regoor die wêreld is daar godsdienstige mense en hulle is daarop uit om almal rondom hulle se bestaan ondraaglik te maak in diens van God.  Hulle is verantwoordelik vir byna elke oorlog wat woed, dra onverdraagsaamheid van geslag tot geslag oor en sal op jou neerdaal as hulle selfs net vermoed dat jy van plan is om ‘n bietjie vreugde uit die lewe te put!  Bang genoeg? Wel jy behoort te wees!  Dis nou as jy die sekulêre doemprofete van ons tyd glo.  Mense soos Richard Dawkins (wat ‘n TV program oor godsdiens getiteld “The root of all evil!” gemaak het (jy kan hom nie eintlik van subtiliteit beskuldig nie!) maak geen geheim daarvan dat hulle glo dat godsdiens die diepste rede vir die mensdom se probleme is nie.  Raak ontslae van godsdiens en voila die goue eeu van die mensdom breek aan!
Die oortuiging dat godsdiens inherent gevaarlik is, is so diep in die sekulêre Westerse bewussyn gesetel dat dit amper as ‘n artikel van geloof (!) gesien word en nie bevraagteken word nie.  Die doel van hierdie artikel is om juis dit te doen.  Is dit werklik so dat as ons godsdiens kan elimineer die wêreld ‘n beter, veiliger en meer verdraagsame plek sal wees?  My oortuiging is dat dit hoegenaamd nie die geval is nie.  Jy mag dalk reageer dat dit presies die antwoord is wat jy van ‘n gelowige sou verwag, ek glo egter dat hierdie standpunt op baie vaste gronde staan.  Ek sal hierdie gronde probeer verduidelik deur middel van ‘n paar stellings:

1. Beskuldigings oor die gevaarlikheid van godsdiens berus dikwels op ‘skuld deur middel van assosiasie’.
Ek besef dat bogenoemde stelling ‘n redelike mond vol is!  Laat ek verduidelik.  Die stelling ‘Godsdiens is gevaarlik’ is ‘n ongelooflike breë plak om mee te slaan, juis omdat daar in ‘n formele en organisatoriese sin nie iets soos ‘godsdiens’ is nie, daar is net individuele godsdienste.  Hierdie godsdienste verskil natuurlik radikaal van mekaar.  Dit beteken dat jy beide die oortuigings dat dit ‘n goeie ding is om mense se koppe af te kap en aan jou gordel te dra, sowel as dat jy met ‘n sagte besem voor jou moet vee as jy loop sodat jy nie dalk ‘n insek seermaak nie (‘n aspek van die Jain geloof), as godsdienstige oortuigings kan beskryf.  Die een is egter in terme van menslike welstand ‘n goeie stukkie meer ‘gevaarlik’ as die ander!  Mense wat, om watter rede ook al, kies om godsdiens as gevaarlik te beskryf kies doelbewus om hierdie verskille te ignoreer en om dan te maak asof die mees skokkende vergrype van sekere godsdienste tipes van alle godsdiens is.  Dink net watter interessante resultate ons sou kry as ons dieselfde werkswyse op ander terreine probeer toepas.  Ons sou byvoorbeeld kon wys op die gruwelike eksperimente van Dr. Josef Mengele in Auschwitz en dan verkondig dat alle wetenskap boos is!  Met ander woorde een wetenskaplike het ongelooflik erg drooggemaak daarom is alle wetenskaplikes sleg.  Dit is wat bedoel word met skuld deur middel van assosiasie (guilt by association).  Die enigste probleem is natuurlik dat geen hof in die Westerse wêreld iemand sonder meer op grond van hierdie beginsel sal veroordeel nie.  Elke saak moet op sy eie meriete staan of val!  Tog het baie mense geen probleem om hierdie beginsel te gebruik om godsdiens te veroordeel nie.  Om hierdie rede kan ons as Christene met reg verontwaardig wees as iemand wys op primitiewe godsdienstige praktyke iewers in ‘n oerwoud, of op die vergrype van radikale Islam, en op grond daarvan alle godsdiens veroordeel.  Dit sou eerder beter wees om te vra of ‘n spesifieke godsdiens gevaarlik is al dan nie.  Ek gaan dus vir die res van hierdie artikel die fokus so bietjie vernou en spesifiek fokus op die vraag of die Christelike geloof inherent gevaarlik is.

2.  Dié wat die Christelike geloof as ‘gevaarlik’ beskou kyk baie dikwels net na een kant van die saak. Die benadering wat hierbo beskryf word, word natuurlik nie net op godsdiens in die breë toegepas nie.  Ook binne individuele godsdienste sal kritici dikwels dinge uitlig wat daardie godsdiens in die slegste moontlike lig stel sonder om vir ‘n oomblik te erken dat die saak ook ‘n ander kant het.  Dit is, byvoorbeeld, nie te moeilik om Christene te vind wat droogmaak (of wat in die geskiedenis drooggemaak het) nie.  Dit behoort ons trouens nie eers te veel te verbaas dat daar sulke mense is nie.  As jy, byvoorbeeld, byna enige van die briewe van die Nuwe Testament lees behoort dit baie gou duidelik te word dat daar selfs tóé al mense in die kerk was wie se bekering, om die minste te sê, ‘n bietjie oppervlakkig was.  In ander gevalle het gelowiges geworstel met sonde of met interpersoonlike probleme.  Die gevolg was dat daar mense was wat die Naam van Jesus bely het maar beslis nie Sy waardes konsekwent uitgeleef het nie.  Kortom die kerk van die Here het van die begin af sy ‘vrot appels’ gehad en sal dit hê totdat Hy ons kom haal en alle dinge nuut maak.  Om egter te maak asof die vrot appels al is wat daar oor die kerk te sê is, is om totaal mis te kyk dat daar massas gelowiges is wat wel God se standaarde probeer nastreef en hierdeur ‘n geweldige verskil in die wêreld maak.  Alister McGrath sê, in reaksie op Richard Dawkins se bewering dat geloof per se gevaarlik is, die volgende: “Religious belief sometimes leads to evil, directly or indirectly. But religion had no monopoly in this respect, as if it was distinguished as the sole area of human life and thought that was marred in this manner. Even science itself can be abused, as some of the more sinister medical developments in Nazi Germany made abundantly clear.  Yet Dawkins would surely argue that this is an abuse of science, quite untypical of its normal values and approaches. And I would agree.  Yet if this defensive strategy can be permitted for science,  why not also for religion? Why not recognise what most people already know: that it is the abuse of religion that is pathological and destructive.  Religion like all other areas of human activity and thought, needs to be reformed, reviewed and corrected – but not abolished.“

3.  Bewerings oor die historiese rekord van die Christelike kerk berus dikwels eerder op moderne vooroordele as op die feite. Dit is verstommend om te sien hoe mense soms probeer om hulle standpunte vanuit die geskiedenis te staaf sonder om moeite te doen om werklik die geskiedenis waarna verwys word onder die knie te kry.  Die geskiedenis van die Christendom is beslis ‘n plek waar dit baie dikwels gebeur.  Dit word aangebied as een slagting en vergryp na ‘n ander.  Weer eens wil ek nie beweer dat daar nie gelowiges was wat reuse foute gemaak het in die manier waarop hulle gedink het oor hulle geloof en die moontlike metodes van die uitbreiding daarvan nie.  Om egter te maak asof Christene dwarsdeur die vroeë fase van die kerkgeskiedenis doodeenvoudig die wêreld met ‘n Bybel onder die blad en ‘n swaard in die hand binnegestap het, grens aan die belaglike!  Hoe pas die eksplisiete lering van Jesus dat dié wat deur die swaard leef deur die swaard sal omkom by hierdie siening in? Waar was die gewelddadige weerstand van die vroegste Christelike martelare op hulle vervolging?  Watter groot veldslae het die verkondigers van die Evangelie geveg om die wêreld vir die ‘Prins van Vrede’ te wen?

Ek vermoed dat daar by baie kritici van die Christendom wel ‘n antwoord op die laaste vraag gereed sal wees: Die Kruistogte.  Hierdie reeks oorloë (gevoer tussen 1095 en 1272) teen die Moslemwêreld, word dikwels as afdoende bewys van die inherent gewelddadige aard van die Christelike geloof beskou.  Dit is daarom dalk goed dat ek so ‘n paar woorde daaroor sê.  Ten diepste het hierdie paar woorde te doen daarmee dat, soos met enige ander historiese gebeure, die spesifieke historiese konteks in ag geneem moet word voordat daar in die moderne tyd waarde-oordele daaroor gevel kan word.  Dit behoort vir enige student van die geskiedenis duidelik te wees dat die Kruistogte nie sommer net eendag ‘uit die lug geval’ het nie.  Die aanleidende oorsake daarvan was kompleks, maar dit is in die denke van baie aanvanklik primêr gemotiveer vanuit die feit hulle geglo het dat Europa bedreig is deur ‘n anti-Christelike mag wat, indien dit verder sou uitbrei, die aanbidding van die Here Jesus op die kontinent baie moeilik sou maak.  Hierdie aanname is nie sommer ligtelik gemaak nie.  Dure ervaring het gewys dat hele Christelike ryke al voor die militêre aanslag van Islam geswig het.  Hierdie aanslag het dikwels met geweldige aggressie gepaard gegaan en sou trouens lank na die tyd van die Kruistogte voortduur.  Die Franse filosoof Jacques Ellul het die volgende oor die verspreiding van Islam geskryf: “In major encyclopaedias one reads phrases such as ‘Islam expanded in the 8th and 9th centuries’ or ‘This or that country passed into Muslim hands’.  But care is taken not to say how Islam expanded or how countries ‘passed into Muslim hands’…Indeed it would seem as if the events happened by themselves, through a miraculous or amicable operation.  Regarding this expansion little is said about jihad and yet it all happened through war!” Die Christelike nasies van Europa het hierdie uitbreiding, en die vernietiging van ander Christelike kulture wat daarmee saamgegaan het, met groeiende onrus gadegeslaan en daar was aan die begin van die tweede millennium ‘n groeiende oortuiging dat iets gedoen sou moes word om die golf van Islam (‘n geloof wat die sentrale waarhede rondom Jesus Christus radikaal ontken en beveg) wat besig was om oor die wêreld te spoel, te stuit.  Die Kruistogte moet baie duidelik binne hierdie konteks gesien word.  Die idee dat die Christene van Europa net eendag besluit het om die arme, onskuldige, Moslems van die wêreld aan te val is absurd om die minste te sê.  Trouens baie Christelike leiers in daardie tyd het probeer uitwys dat hulle die Kruistogte in wese as ‘n reeks verdedigende aksies beskou het.  Ons moet natuurlik erken dat die Kruisvaarders dikwels ernstig uitgerafel het en op maniere opgetree het wat beslis nie eer aan Christus gebring het nie.  Hierdie feit is natuurlik te betreur, dit kan egter nie gebruik word om te maak asof die Kruistogte in sy oorsprong bloot met naakte aggressie (wat gebruik kan word om te bewys hoe gevaarlik die Christelike geloof is!) te doen gehad het nie.  Die feit is dat samelewings en individue baie meer kompleks is as om in netjiese swart en wit blikke gedruk te word.  Om hierdie rede moet ons soms maar bietjie skepties wees oor pogings om die geskiedenis op sleeptou te neem deur middel van enkelvoudige interpretasies van die verlede (bv. ‘Dis alles godsdiens se skuld!’).  Daar is altyd ‘n ander kant van die storie!

4.  ‘n Eksplisiet ateïstiese ideologie was verantwoordelik vir die grootste menseslagting in die hele geskiedenis van die mensdom. Enige iemand wat glo dat geloof die grootste rede vir menslike lyding is sal dalk goed doen om Stephane Courtois (red.) se “The Black Book of Communism” in die hande te kry.  Volgens hierdie boek (wat die resultate van noukeurige navorsing deur ‘n hele aantal gerespekteerde historici bevat) was kommunisme die mees vernietigende ideologie wat nog ooit op die mensdom losgelaat is.  Die outeurs maak die volgende beramings wat die slagoffers van kommunisme gedurende die twintigste eeu betref: “20 million in the Soviet Union, 65 million in the People’s Republic of China, 1 million in Vietnam, 2 million in North Korea, 2 million in Cambodia, 1 million in the Communist states of Eastern Europe, 150,000 in Latin America, 1.7 million in Africa, 1.5 million in Afghanistan and 10,000 deaths resulting from actions of the international communist movement and communist parties not in power.” (Die totaal is ‘n verbysterende 94 miljoen mense!)

Hierdie statistieke behoort ‘n redelike verleentheid te wees vir dié wat vanuit ‘n sekulêre hoek die bewering maak dat godsdiens die wortel van alle kwaad is!  Kommunisme is as ideologie tog eksplisiet in sy verwerping van geloof.  Sou dit op grond van die wrang vrugte van hierdie verwerping nie dalk vir ons almal se beswil beter wees om ongeloof eerder as geloof aan bande te probeer lê nie!? Richard Dawkins het in The God Delusion ‘n antwoord op hierdie sekulêre tameletjie.  Hy verseker ons dat die vergrype van mense soos Stalin niks met hulle ongeloof te maak gehad het nie.  Hierop kan natuurlik ‘n hele paar antwoorde gegee word.  Ek sal myself tot drie beperk.  Eerstens kan die punt wat ek hierbo gemaak het weer gemaak word.  As mense soos Dawkins verwag dat hulle ideologie nie aan die dade en denke van die ‘vrot appel navolgers’ daarvan gemeet moet word nie, moet hulle bereid wees om ander denkrigtings op dieselfde manier te hanteer.  Tweedens het die slagting onder Kommunisme baie wyer as die regering van Stalin gestrek en was dit konsekwent proporsioneel erger onder Kommunistiese regerings wat die felste teen godsdiens opgetree het.  Derdens is die bewering dat Stalin se ongeloof nie ‘n motiverende faktor in sy optrede was nie doodeenvoudig belaglik.  Dawkins glo skynbaar opreg dat wanneer gelowiges slegte dinge doen dit altyd as gevolg van hulle geloof is.  Wanneer ongelowiges egter fouteer is dit skynbaar altyd ten spyte van hulle ateïsme!  Dawkins maak hierdie punt die sterkste juis wanneer hy oor Stalin praat.  Dit strook egter glad nie met die werklikheid nie.  Andrew Brown sê die volgende oor Dawkins se hantering van Stalin en sy algemene historiese verontskuldiging van ateïsme: “…under Stalin almost the entire Orthodox priesthood was exterminated simply for being priests, as were the clergy of other religions and hundreds of thousands of Baptists. The claim that Stalin’s atheism had nothing to do with his actions may be the most disingenuous in the book, but it has competition from a later question, “Why would anyone go to war for the sake of an absence of belief [atheism]?—as if the armies of the French revolution had marched under icons of the Virgin, or as if a common justification offered for China’s invasion of Tibet had not been the awful priest-ridden backwardness of the Dalai Lama’s regime.

5.  Die standpunt dat godsdiens gevaarlik is staan nie die toets van historiese en empiriese navorsing nie. Indien godsdiens inderdaad die wortel van alle kwaad was sou ons kon aanneem dat dit relatief maklik sou wees om aan te toon hoe geloof die nommer een oorsaak van konflik is, asook hoe dit op persoonlike vlak mense se lewens uiters negatief beïnvloed.  Die feit is dat nie een van hierdie twee aannames wetenskaplik bewys kan word nie.  Geloof was byvoorbeeld nie ‘n faktor in die twee grootste militêre konflikte in die geskiedenis nie.  Keith Ward (in sy boek “Is religion dangerous?”) bevestig hierdie punt: “To find examples of non-religious wars we need look no further than the first half of the twentieth century in which more people were killed in war than in the whole of the rest of human history. The two world wars were not fought on religious grounds at all. The reasons for them are complex but they largely involve the desire for territory and, national pride and the aspiration to extend imperial control.  Where religion was appealed to in support of the war – as it was in the First Wold War in both Germany and England and France – it was the same religion and the same God who was called on for support on both sides.  Religion was called up in support of national duty, or what was believed to be national duty.  But there were no religious doctrines or practise at issue in these wars. The most terrible conflicts in human history were not religious. Waar die Christelike godsdiens wel as die oorsaak vir konflik aangegee word berus dit eerder op ‘n onderskatting van die kompleksiteit van die situasie.  Vir baie lank is die partye in die konflik in Noord Ierland onderskeidelik Protestante en Katolieke genoem (Richard Dawkins dring daarop aan om hulle steeds so te noem!), asof die partye mekaar opgeblaas het as gevolg van verskille oor die fynere punte van die Christelike teologie!  Die feit is egter dat die vernaamste verskilpunt tussen díé partye is of Noord Ierland deel moet wees van die Verenigde Koninkryk of van Ierland.  Die huidige benamings naamlik Loyalist (lojaal aan Brittanje) en Unionist (ten gunste van vereniging met Ierland) gee dus die werklikheid baie meer akkuraat weer as verwysings na mense se geloofsoortuigings.

Ook op empiriese vlak het die teorie dat godsdiens gevaarlik is ernstige probleme.  As dit waar was sou studie op studie getoon het hoe godsdiens mense se lewens versuur en hulle misrabel maak.  Die teenoorgestelde is egter waar.  Alister McGrath (in Dawkins’ God) som historiese navorsing oor die impak van geloof op mense as volg op: “A 2001 survey of 100 evidence-based studies to systematically examine the relationship between religion and human wellbeing disclosed the following: * 79 reported at least one positive correlation between religious involvement and wellbeing * 13 found no meaningful association between religion and wellbeing. * 7 found mixed or complex associations between religion and wellbeing * 1 found a negative association between religion and wellbeing. Dawkins’ entire worldview depends upon precisely this negative association between religion and human wellbeing which only 1 percent of the experimental results would seem  unequivocally to affirm and 79 percent equally unequivocally to reject.  The results make at least one thing abundantly clear: we need to approach the subject in the light of the scientific evidence, not personal prejudice.

6.  Bewerings oor die gevaarlikheid van geloof ignoreer dikwels doelbewus die ongelooflike positiewe impak wat die Christelike geloof deur die eeue gehad het. In sy boek The God Delusion kryt Richard Dawkins die Christelike geloof uit as een van die grootste vyande van die najaag van kennis.  Aan die ander kant beklee hy egter ‘n leerstoel aan ‘n Universiteit (Oxford) wat deur monnike begin is en deur die eeue finansieel deur die kerk en Christene gedra is!  Dieselfde eenogigheid oor die positiewe impak van geloof op individue en op die samelewing kom dwarsdeur sy werk voor.  Stephen Tomkins sê hieroor: “…the greatest failure of Dawkins’s case is his refusal to recognise any good that any religion has done. He talks about the crusades, but not medieval hospitals. He tells the story of Oral Roberts getting $8 million out of his flock to stop God killing him, but not of William Wilberforce (along with a lot of other Christians) devoting his life to fighting the slave trade. He details Catholic opposition to science, but not the work of monasteries who rescued Greek philosophical writings from oblivion.  Christian Voice is here (‘n Christen groep wat deur die Britse media as ‘militant’ beskou word), but not Christian Aid (die grootste Christelike liefdadigheidsorganisasie in Brittanje). Neither are the 19th-century reformers and philanthropists: Shaftesbury, Fry, Müller, Barnardo. Religious conflict in Northern Ireland, yes. Christian peace-building organisations, no.” Hierdie is ‘n punt wat nie genoeg beklemtoon kan word nie.  Vir elke aanklag wat gebring kan word kan ons uit die geskiedenis en die hede verskeie voorbeelde bring waar die teendeel bewys word.  Christene het ‘n rol gespeel in dinge so wyd uiteenlopend soos die afskaffing van bloedsport (onder andere Gladiator gevegte) in die Romeinse Ryk tot die uitbreiding van geletterdheid waar die Evangelie ook al verkondig is.  Dit is wat my betref onteenseglik so dat ons wêreld ‘n armer, wreder, meer ongekunstelde, swakker opgevoede en boser plek sou gewees het as mense nie die lering van Jesus deur die eeue op hulle eie lewens en samelewings toegepas het nie.  (Vir ‘n uitgebreide bespreking van hierdie punt wil ek graag “What has Christianity ever done for us – Its role in shaping the world today” deur Jonathan Hill aanbeveel)

7.  Vyande van geloof fokus dikwels op vae veralgemenings oor die rol van geloof, terwyl die spesifieke lerings van die Christelike geloof geïgnoreer word? Dis in ‘n sekere sin baie maklik om algemene stellings oor geloof te maak op grond van die optrede van sekere mense wat beweer dat hulle glo maar wat geloof vir persoonlike of politieke gewin misbruik.  Die feit is egter dat daar wel gelowiges is wat hulle geloof ernstig opneem en wat konsekwent daarvolgens probeer optree.  Die vraag is of hulle van die wêreld ‘n beter of slegter plek maak.  Sou jy byvoorbeeld graag wou sake doen met iemand wat glo “Greed is good” of met een wat glo “Die Here het ‘n afsku van ‘n skaal wat nie reg weeg nie” (Spreuke 11:1)?  Sou jy graag wou hê jou vriende moet glo dat hulle ‘selfsugtige gene’ hulle dwing om jou uit die pad te vee of dat hulle aan jou sal doen wat hulle graag aan hulleself gedoen sal wil hê (Matteus 7:12)?  Sou jy eerder hoop vir ‘Take no prisoners’ of “Wanneer iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe” (Matteus 5:39) by jou huweliksmaat?  Die feit is dat die morele leerstellings van die Christelike geloof beslis van mense, ‘beter mense’ maak wanneer dit nagevolg word.  ‘n Perfekte manier om hierdie feit aan iemand wat skepties hieroor staan te illustreer is wat ek die ‘Agterstraat Toets’ noem.  Dit lyk as volg:  Jou kar breek in die heel rofste buurt van jou stad.  Jou selfoon se battery is pap.  Jy het geen keuse as om uit te klim en te gaan hulp soek nie.  Jy stap in ‘n vervalle straat af.  ‘n Ent vorentoe gaan ‘n deur oop en ses fris jong mans in leerbaadjies kom in jou rigting aangestap.  Iets glim in een van hulle se hand …  Dis die refleksie van die straatlig op die goue letters van sy sakbybel wat hy nog na die aand se Bybelstudie vashou.  a) Wat is jou reaksie? b) Hoekom?

Wees bang, wees bitter bang!?”  Miskien.  Maar dalk nie vir die Christelike geloof nie.  Dalk eerder vir pogings om geloof te beswadder terwyl daar niks in die plek daarvan aangebied kan word nie.  Richard Dawkins glo dat ons nie geloof nodig het om goed te wees nie.  Hy is selfs so gaaf as om vir ons sy eie tien gebooie te gee.  Die feit is egter dat sonder geloof ons geen sentrale verwysingspunt vir moraliteit het nie en dat elkeen se etiek dan maar op persoonlike voorkeure berus.  As samelewing is ons binne die Weste dus reeds besig om al hoe dieper in die uiters gevaarlike (!) toestand wat WB Yeats in sy gedig “The Second Coming” beskryf in te slaapwandel:

Turning and turning in the widening gyre
The falcon cannot hear the falconer;
Things fall apart; the centre cannot hold;
Mere anarchy is loosed upon the world,

(Hierdie artikel is die laaste in ‘n reeks van drie artikels oor die kwessies wat na vore kom uit Richard Dawkins se boek “The God Delusion” en moet verkieslik eers na die ander twee gelees word.  Die eerste artikel was ‘n algemene bespreking van Dawkins se denke terwyl die tweede spesifiek oor The God Delusion gehandel het.)

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.