Die tiende

Udo,

Beroof ek God as ek nie my volle tiende gee nie?

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Die tiende is streng gesproke ‘n Ou Testamentiese beginsel en dit is nie ‘n opdrag in die Nuwe Testament nie. Om finansiële bydraes te maak waar dit nodig is, is ‘n baie Bybelse konsep, maar vir Christene is dit nie meer ‘n wet nie. Onthou dat ons nie meer volgens allerlei wette leef soos die gelowiges (God se volk) voor Jesus se tyd nie. Ons leef volgens die opdrag van liefde. Dit beteken dat ons bewus moet bly van waar mense nood het en hoe ons sulke mense in liefde kan help met wat ons het. Hier is dus geen sprake van verpligting of ‘n reël wat jy moet nakom nie, maar bloot dat ons fokus op die liefde ook gaan bepaal hoe ons ons geld aanwend. Gaan lees gerus Paulus se woorde in 2 Korintiërs 8 en 9. As die tiende nog ‘n wet was wat vir Christene geld, dan kon Paulus maar al sy woorde kortgeknip het en gesê het dat gelowiges hul TIENDES moet gee. Maar hy doen dit nie. Gaan lees maar self wat hy in stede daarvan sê.

So om jou vraag te direk te beantwoord. Nee, jy beroof God nie as jy nie jou volle tiende gee nie, want die tiende-wet bestaan nie meer nie. En tog kan ‘n mens God en ander van liefde beroof, as jy nie besef dat God wil hê dat ons mense ook met ons geld moet liefhê nie. En wanneer ons wys dat ons ander mense liefhet, wys ons tog terselfdertyd dat ons God ook liefhet (sien 1 Joh 4:20-21).

God vra nie dat ons sal gee wat ons nie het nie – Hy vra bloot dat wanneer ons gee, ons met die regte gesindheid sal gee. Jy hoef dus geensins skuldig te voel as jy nie ‘n tiende gee nie. Terselfdertyd dink ek tog om gereeld ‘n tiende van jou geld vir ander te gee, ‘n baie goeie riglyn is om na te volg. Dit wys dat jy ernstig daaroor is om ander mense ook met jou geld in liefde te help. Maar dis slegs ‘n riglyn, nie ‘n wet nie. Soms kan jy slegs ‘n bietjie gee omdat jy slegs ‘n bietjie het om te gee. Op ander tye kan jy uit jou oorvloed meer as ‘n tiende gee. En wanneer die geleentheid hom voordoen moet jy dit doen. Dit beteken egter dat ‘n mens biddend moet bewus bly van hoe God jou lei vir wanneer, waar en hoeveel om te gee. Maar so ‘n manier van doen word nie volgens een of ander wet bepaal nie, maar word uit ‘n verhouding met God gemotiveer. In so ‘n verhouding met God, weet ons dat Hy ons Vader is en vir ons sorg (Matt 6:25-34) en weet ons ook dat alles wat ons het eintlik van Hom af kom en daarom kan ons vryelik aan ander gee.

Ek hoop my antwoord help jou darem. Laat weet maar wat jy dink. Enige ander vrae is ook welkom.

Groete
Udo

Sien die volgende vir ‘n meer breedvoerige hantering: Is Tithing Required in the New Covenant?

2 Comments

  1. Udo, ek stem saam met jou. Ek is ‘n sakeman, en vir sekere van ons (my ingesluit) is dit belangrik om net ‘n oomblik still te staan by die onderwerp. Ek stem saam dat die tiende nie ‘n wet is nie, maar ‘n uitstekende begin punt en riglyn.
    Gebed en Babel lees kan ook wetties “legalism” toegepas word, maar dit maak nie dat Bybel lees en bid sleg is nie.
    Ek kom to bekering en gee my lewe vir U Here, alles 100%. Here, en my geld? Ek noem die 10e die “training wheels”, soos aan kinderfiets om my te help balans hou as ek leer fiets ry. anton om JOU te help, om te besef dat ek jou Vader is en vir jou voorsien, wil Ek hê jy moet 10% van jou inkomste weggee. (nie omdat Ek jou geld nodig het nie, maar sodat jy kan ervaar dat Ek jou Voorsiener is, dat jy meer as genoeg het, dat jy nie tekort gaan skiet nie. En as jy dit doen sal geld jou nie besit nie, en jy stel My bo geld, dit is vir jou ontwil my kind. Nie ‘n wet nie, maar vir ouens soos ek wat geld tel, is dit baie nodig om soos die geld inkom, telkens te vra Vader waar stuur ek U deel. Eintlik besit Hy 100% nie net 10% nie. Ek is van mening dat die gelowiges op aarde se opgegaarde welvaart, en maandelikse inkomste soveel is, dat indien ons gehoorsaam die beginsel (nie wet nie) sou toepas, die wêreld gans anders sou lyk en Ons Vaders se koninkryk gouer sou kom, minder armoede en hongersnood sou wees. Ons leef egter in die nuwe Testament, eintlik behoort alles aan Hom, en ek is slegs ‘n rentmeester.
    Ons gaan egter eendag aanspreeklik wees, ook hoe het ons met Sy geld omgegaan. Daar wag ‘n beloning indien ons getrou Sy fondse bestuur, tot eer van Sy koninkryk en nie net in skure bymekaarmaak of op ons self uitgee nie.
    So ek moedig ander aan, dat die gee van jou tiende ‘n lewens veranderende, vrymakende daad is. Hoe meer jy het hoe belangriker (en moeiliker) is dit. Maar dit is slegs die beginpunt, ‘n goeie begin. Here help my om as rentmeester gehoorsaam aan U te wees, en die fondse en talente en bates wat U aan my toevertrou tot eer van U aan te wend.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.