Die Wrang Vrugte Van Situasionele Etiek: Die ‘Lee Mathews’-Saak

deur André van Zyl

Gedurende die afgelope paar maande het daar een van die mees opspraakwekkende kriminele hofsake in Suid Afrika afgespeel.  ‘n Jong vrou met die naam Lee Matthews is enkele dae voor haar 21ste verjaarsdag vanaf die kampus van die Bond-universiteit ontvoer.  Die ontvoerder het ‘n losprys vir haar vrylating van haar familie geëis, maar na die betaling van die losprys het niemand ‘n woord van Lee gehoor nie.  Dae later is haar naakte liggaam met vier skietwonde in ‘n stuk veld gevind.  Na ‘n intense ondersoek is Donavan Moodley vir haar ontvoering en moord in hegtenis geneem.  Hy het deur die verloop van die daaropvolgende ondersoek en in die oploop na die hofsaak, volgehou dat hy onskuldig is.  Met die aanvang van die hofsaak het Moodley sy storie verander en tot almal se skok en verbasing skuldig gepleit op al die aanklagte.  Skielik was hy berouvol en het vele stories vertel om sy gruweldade in konteks te probeer plaas.

Rob Matthews, Lee se pa, het in sy getuienis as deel van die oorweging van Moodley se vonnis, ’n paar belangrike algemene opmerkings oor berou gemaak. Sy opmerkings is die fokus van hierdie artikel.  Die volgende aanhaling uit Mnr. Matthews se getuienis is veral relevant  (gedeeltes in hakkies deur die outeur bygevoeg vir duidelikheid):

“This leads us to the concept of remorse. Given the way Mr. Moodley conducted his life after the 9th of July it is hard to understand that this man has any remorse in his body. Of course once he was apprehended then remorse could always be a possibility. (Moodley’s) Remorse we submit is a function of being caught. It is so easy (for him) to start looking at what he has done after one has been found out. Something that I have never done before is phone in to a radio chat programme. The discussion was on remorse. I phoned in anonymously and suggested that remorse was a function of being caught. To my amazement the next caller was an ex-prisoner who agreed with me. This caller said that he and many other prisoners were remorseful of their deeds simply because they had been caught.”

Mnr. Matthews impliseer dat Moodley se “skuldgevoelens” nie die gevolg is van sy gewete (die besef dat hy iets verkeerd gedoen het) nie, maar eerder die gevolg van die feit dat hy uitgevang is.  Een van die eienskappe van die postmoderne tyd van vandag is dat die lyne tussen reg en verkeerd op alle vlakke toenemend onduidelik geword het.  Enigiemand wat aanspraak maak daarop dat iets wat iemand anders doen reg of verkeerd sou wees, word uitgekryt as ‘n fundamentalis of as veroordelend.  In die sekulêre gemeenskap het alle morele en juridiese wette vervaag tot vae riglyne wat oop is vir interpretasie.  Dit het tot gevolg dat die meeste landsburgers wette ignoreer soos dit hulle pas.  Die houding is dat hierdie wette vir ander mense geld maar nie vir my nie.  Hierdie denkpatroon se effek kan in die hele samelewing gesien word. Dit veroorsaak ’n denkklimaat waarbinne misdaad hoogty kan vier.

Die natuurlike verwagting sou wees dat die Christelike geloof hierdie aftakeling van die skeidslyn tussen reg en verkeerd sal teëwerk.  Die teenoorgestelde is egter waar en hierdie denkpatroon het ook binne die Christelike gemeenskap begin posvat.  Daar word vandag in baie kerke van die kansel af gesê dat die enigste ding wat die mens kan seker wees is reg, is die “liefde”.  Die gevolg hiervan is  dat alle morele en etiese reëls deur ‘n wollerige konsep van “liefde” vervang word.  Volgens die voorstanders daarvan is die motevering daarvoor te vinde in die opsomming van die wet wat Jesus in die liefdesgebod (liefde vir God en liefde vir die naaste) gemaak het.  Daar is by die skrywer geen twyfel dat die liefdesgebod soos Jesus dit gestel het steeds vandag die maatstaf behoort te wees vir morele optrede nie.  Dit is egter belangrik dat die woord “liefde” in die liefdesgebod duidelik gedefinieer sal word.

Postmoderne denkers gebruik ‘n baie “wollerige” definisie van liefde.  Wat hulle egter vergeet is dat die Bybel die liefde waarvan daar in die liefdesgebod sprake is, duidelik definieer.  Dit gaan nie hier oor die emosie van liefde of om vir mense te gee net wat hulle wil hê nie.  Volgens die Bybel (onder andere Johannes  en I Johannes) is die uitleef van die liefde (soos Jesus dit bedoel het) gesetel in die uitleef en die toepassing van die wet van God soos wat dit in die Bybel uiteengesit word.  Die “liefde” waarvan daar in die liefdesgebod sprake is, is dus nie ‘n wollerige iets nie, maar iets wat in die wette en gebooie wat God in die Bybel gee verder verduidelik word.  Liefde is die uitleef van die wet eerder as om te doen wat reg voel of vanuit ‘n humanistiese perspektief reg lyk.  Die postmoderne mens hou egter nie daarvan om met wette gekonfronteer te word nie, nee, wollerige “liefde” is baie beter en laat baie meer vryheid sodat elkeen “geaktualiseerd” en gelukkig kan lewe (net soos hy wil).  Die probleem is egter dat die oortreding van wette natuurlike (en gewoonlik negatiewe) gevolge het.  Wette word nie gegee om die mens se pret te bederf nie, maar om ‘n sinvolle en relatief veilige lewe moontlik te maak.  Die wette wat in die Bybel gegee word is deel van God se manier om die “koninkryk van God” reeds op aarde ‘n realiteit te begin maak.  Wette (juridies en moreel) is dikwels teen die mens se natuurlike wil en plaas beperkings op die mens se vryheid.  Dit is juis hierdie beperking van sy vryheid en besluitnemingsmag wat die postmoderne mens teen die bors stuit.  Hoe durf iemand dit waag om aan ander voor te skryf wat hulle moet of nie moet doen nie!

Die wollerige “liefdesbeginsel” se toepassing word aan die oordeel van die betrokke persone oorgelaat.  So byvoorbeeld is voor of buite-huwelikse seksuele omgang volgens hierdie siening nie in beginsel verkeerd nie, solank dit net in “liefde” en met “verantwoordelikheid” geskied.  Indien die voorstanders van hierdie idees gepols word oor die detail van die betekenis van “in liefde” en “met verantwoordelikheid” blyk dit dat hierdie konsepte betekenisloos is en dat dit deur die partye wat direk by die besluite betrokke is met betekenis ingekleur moet word.  Hierdie siening van etiese sake staan as situasionele etiekbekend.

Volgens die voorstanders van situasionele etiek is daar omtrent geen etiese beginsels of reëls (behalwe die “liefde”) wat universeel geldend is nie.  Hulle gebruik graag uiterste situasies met keuses tussen twee baie slegte opsies om hulle punt te motiveer.  Die onderliggende redenasie is dat omdat daar wel situasies bestaan waarin dit slegs moontlik is om tussen ‘n verskeidenheid slegte (selfs verkeerde) opsies te kies, die implikasie is dat alle normale morele reëls nie in alle situasies prakties toepasbaar is nie.  Volgens hulle beteken hierdie feit dat alle morele reëls aan die situasie gebonde is.  Daar bestaan dus geen universeel geldende reëls nie.  Elke persoon moet self die situasie in ag neem en daarvolgens self ‘n “morele” besluit neem.  Die verwerping van alle vaste morele standaarde berus dus op die redenasie dat uitsonderlike gevalle waar die morele wette nie prakties toepasbaar blyk te wees nie, ’n regverdiging bied om sulke wette omvêr te werp.  In baie kulture en in die volksmond bestaan daar ‘n spreuk (wat ook in wetenskaplike navorsing toegepas word) wat hierdie postmoderne benadering uitdaag.  Dit lui: “Die uitsondering bevestig die reël, dit werp dit nie omver nie.”

Die skrywer van hierdie artikel is daarvan oortuig dat situasionele etiek baie wyd in mense se denke ingekruip het.  Die infiltrasie sluit die breë samelewing en die kerk in.  Meeste mense sal dit nie in soveel woorde erken nie en sal aandring op die bestaan van vaste morele beginsels.  Die probleem is net dat dieselfde mense dikwels nie huiwer om self ’n morele beginsel te oortree omdat dit hulle pas nie.  Dit is amper asof mense dink: “Hierdie reëls geld, maar net nie vir my nie.”  Indien hulle die geldigheid van morele reëls erken sal hulle dit steeds sonder enige gewetenswroeging breek.  Hulle sal ook net sleg voel oor wat hulle gedoen het as hulle gevang word.

Daar is basies drie sienings wat mense aanhang oor moraliteit. Hierdie sienings gaan vervolgens aan die hand van ‘n voorbeeld (die spoedgrens in Suid Afrika is 60 km. per uur in residensiële areas) geïllustreer word:

Wettisisme – Hierdie siening is dat enige morele of juridiese wet onder ALLE omstandighede volgens die letter daarvan toegepas MOET word.  Iemand wat so siening huldig sal nooit vinniger as 60km per uur ry nie, maak nie saak wat die omstandighede is nie.  Hierdie siening van moraliteit hou nie met die werklikheid rekening nie.  Dit is moontlik om aan omstandighede te dink (bv. ‘n dringende mediese noodgeval) waar dit onredelik en bykans immoreel sou wees om by die spoedgrens te hou.  ‘n Persoon wat die spoedgrens wetties toepas laat geen uitsonderings toe nie.

Situasionele siening – So iemand beskou die wet as ‘n vae riglyn.  Daar sal die meeste van die tyd relatief na aan die spoedgrens gehou word.  Indien die persoon volgens sy eie oordeel dink dat dit veilig is om die wet te oortree sou hulle glad nie dink dit is verkeerd om 80 of selfs 90 km per uur in die 60 sone te ry nie.  Die “situasie” bepaal dat die “riglyn” van die wet nie onder hierdie omstandighede so streng toegepas hoef te word nie.  Mense wat so oor die wet dink kom dikwels gou by ‘n punt waar so ‘n wet die meeste van die tyd net ‘n “riglyn” is wat nie op daardie oomblik van toepassing is nie.  Die gevolg hiervan is dat die wet dikwels of selfs gereeld oortree word sonder dat die persoon dink hy het iets verkeerd gedoen.  Indien daar ‘n spoedlokval sou wees en die bestuurder ‘n R300 boete opgelê word, sou die skuldgevoel egter skielik wel daar wees.  Skuldgevoel is dalk die verkeerde woord.  Die persoon sou steeds nie dink hy het iets “verkeerd” gedoen nie, maar hy is tog opgeskeep met die onaangenaamheid van die straf wat toegedien word.  Indien hierdie siening tot op die uiterste gevoer word kom die skadelikheid daarvan duidelik na vore.  Indien die bestuurder een aand 90 km ‘n uur in ‘n 60 sone ry (laat in die aand met omtrent geen verkeer of mense in die omgewing nie, m.a.w. dit lyk redelik om die wet te oortree) en ‘n straatkind loop voor die motor in.  Die kind sterf in die ongeluk en die bestuurder verskyn voor die hof.  Die klag is strafbare manslag omdat die polisie kan bewys dat die motor 90 km per uur in ‘n 60 sone gery het.  Die situasie het die oortreding van die “riglyn” regverdigbaar laat lyk, maar die gevolge is strafbaar.  Die vraag ontstaan of so persoon nóú sou besef dat hy verkeerd was om 90 te ry.  Of sou hy steeds net “sleg” voel omdat hy in die moeilikheid beland het daaroor?

Aanvaarding van morele wette – Volgens hierdie siening is wette en morele standaarde vas en moet dit met insig toegepas word.  “Met insig” impliseer nie ‘n relativering van die wette nie, maar gaan gepaard met die besef van die gebroke werklikheid waarbinne die wette toegepas moet word.  Volgens hierdie siening sal wette in alle gevalle gehoorsaam word behalwe waar uiterste omstandighede die oortreding daarvan noodsaak.  Selfs onder sulke uiterste omstandighede sou die persoon wat besluit om die wet te oortree, steeds moreel skuldig wees en behoort so ‘n persoon skuld te erken indien die wet oortree is.  Om hierdie siening op die bogenoemde voorbeeld toe te pas sou beteken dat daar altyd by die spoedgrens gehou sal word.  Indien daar egter uitsonderlike omstandighede is (soos ‘n mediese noodgeval) sou dit redelik wees om die wet te oortree.  Die wet word egter nooit slegs ‘n riglyn nie, dit bly voorskriftelik van aard.  Indien daar in die jaagtog na die hospitaal ‘n ongeluk sou gebeur en ‘n straatkind word doodgery, sou die bestuurder ook voor die hof moet verskyn.  Die regter sal dan moet beslis of die oortreding van die wet en die dodelike gevolge daarvan, binne redelike perke was.  Indien wel, sal die hof se beslissing een van onstrafbare manslag wees.

Donavan Moodley illustreer die idees van situasionele etiek wat tot ‘n uiterste graad toegepas is.  Moodley het in die situasie na die “riglyn” van die wet gekyk en besluit om dit nie te volg nie.  Hy het gedink dat die kans skraal is dat hy gevang sou word.  Selfs nadat hy gevang is, het hy nie skuld erken nie, hy wou eers kyk hoe die getuienis ontwikkel.  Toe hy besef hy is behoorlik vasgetrek, het hy besluit dat dit beter sal wees indien hy eerder erken wat hy gedoen het.  Hy kon nou sy innige jammerte betuig en om vergifnis vra.  Soos mnr. Matthews in sy getuienis aandui, is dit uit Moodley se optrede duidelik dat hy nie berou het oor wat hy gedoen het nie.  In effek is hy jammer dat hy gevang is en nou met die gevolge van sy optrede gekonfronteer word.

Die ondersteuners van situasionele etiek sal dadelik beswaar aanteken dat hulle heeltemal teen geweld en die neem van lewe en ander se besittings gekant is.  Hulle sal aanvoer dat Moodley om hierdie redes verkeerd was in sy optrede.  Die probleem is dat hulle geen gronde het om nou skielik ‘n oordeel oor Moodley te fel nie.  Die wet was dan net ‘n “riglyn” en Moodley het dit toegepas soos hy die situasie ingesien het.  Daar is in beginsel min verskil tussen die dood van ‘n straatkind deur iemand wat wederregtelik die spoedgrens oortree (strafbare manslag) en iemand wat wederregtelik iemand anders se lewe neem (moord).  Die enigste wesenlike verskil is gesetel in die onderliggende bedoeling van die persoon wat beskuldig word.  Die een het “bedoel” om die spoedgrens te oortree waarvoor die normale straf net ‘n boete sou wees, maar waarvan die uiteindelike gevolg veel erger kan wees; en die ander het “bedoel” om ‘n lewe te neem.  Beide het wederregtelik die wet oortree en beide verdien om toepaslik gestraf te word.

Dit is in die aard van morele wette om voorskriftelik te wees.  Humanistiese oorwegings van wat die mens wil doen of oor hoe toepaslik die wet in gewone omstandighede is, word nie in ag geneem nie.  Wette staan vas en MOET gehoorsaam word of die straf moet gedra word.  Slegs in uitsonderlike omstandighede is die oortreding van wette toelaatbaar en dan is die oortreder steeds skuldig aan die oortreding van daardie wet; Die hof kan egter beslis dat ‘n spesifieke optrede binne die perke van redelike optrede val en dan besluit om dit nie te straf nie.

Die Lee Matthews moordverhoor illustreer die wrang vrugte van die uitleef van situasionele etiek.  Geen mens kan vertrou word om situasioneel oor die toepassing van wette (moreel of andersins) besluite te neem nie.  Wetsgehoorsaamheid kan nie onderhewig wees aan persoonlike voorkeur of meerderheidsopinie (soos die Nazi’s bewys het) nie.  Wette word deur die staat gemaak en moet gehoorsaam word om ‘n ordelike en veilige samelewing te help verseker.  Morele wette is deur God daargestel (en in die Bybel weergegee) en moet deur die mens gehoorsaam word of andersins sal die natuurlike gevolge daarvan gedra moet word.  Dit is die taak van die kerk om morele wette en die toepassing daarvan met krag, insig en nederigheid te predik.  Daar behoort geen ruimte te wees vir wollerige liefde sonder reëls nie.  Die kerk werk of die verval van die samelewing tee of dit help dit mee.

Die wetteloosheid wat tot ‘n groot mate in Suid Afrika heers, is ten minste deels vanweë die infiltrasie van die idees van situasionele etiek in die denkprosesse van die gemiddelde Suid-Afrikaner.  Dit is sigbaar in die optrede van die belangrikste politici tot die optrede van ‘n gewone landsburger op die paaie.  Solank die Suid-Afrikaanse publiek juridiese wette en morele wette as “riglyne” beskou en slegs skuldig voel indien hulle gevang word, sal die misdaad-spiraal nie gebreek word nie.  Meer polisie is slegs deel van die oplossing, maar die individu se aanvaarding van verantwoordelikheid ten opsigte van bepaalde wette, is nog belangriker. Tot wetsgehoorsaamheid en morele standaarde (wat met wysheid toegepas moet word) nie weer deel van die algemene populasie se denke uitmaak nie, sal die bitter en pynvolle vrugte van situasionele etiek die lewe van die gemiddelde landsburger versuur.  Elkeen moet sy eie denke ondersoek en seker maak hy nie soos Donovan Moodley dink nie.  Veral Christene moet Romeine 12:1-2 ter harte neem en hul denke oor juridiese en morele sake deur God, sy Gees en sy Woord laat lei.

Make a decisive dedication of your bodies as a living sacrifice, holy and well pleasing to God, which is your reasonable service and spiritual worship.  Do not be conformed to this world (this age), [fashioned after and adapted to its external, superficial customs], but be transformed by the entire renewal of your mind [by its new ideals and new attitude] so that you may prove what is the good and acceptable and perfect will of God. Romeine 12:1-2 (Amp) Verkort

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.