Drome

Drome

Goeie dag

Ek weet nie wie die regte mense is om te e-pos nie. Ek is deur baie webblaaie om te kyk wie ek ‘n vraag kan vra.

Ek kry baie snaakse drome oor demone wat my jag en dit pla my verskriklik. Ek is ‘n Christen en ek weet Ons Vader is met ons, maar die drome pla my.

Ek het al drome gehad, maar in my drome, as demone my jaag, dan sê ek die Onse Vader op in my drome en ek sing die Onse Vader na mekaar. Dan verdwyn die demone en ek word wakker. Maar gisteraand het dit nie heeltemal gewerk nie.

Ek weet nie, is ek paranoïes of praat ek met die verkeerde mense? As ek is, kan u my asb verwys na die regte mense toe wie ek kan vra. Ek is jammer as ek die verkeerde mense gekontak het. Ek is net baie desperaat.

Baie dankie as u my kan raad gee.

Winkelsmidt

Beste Winkelsmidt

Ek wil regtig voorstel dat jy in persoon met iemand gaan praat. Ek weet nie wat jou situasie is nie en miskien het jy al persoonlik met iemand gaan praat. Of miskien weet jy nie met wie om in jou omgewing te gaan praat nie. Daar is egter ‘n klomp faktore wat ‘n rol kan speel in die drome wat jy het en ‘n klomp dinge wat iemand daarom vir jou sou wou vra om jou te probeer help. Dit is daarom nie maklik om sommer so vinnig te sê wat die betekenis van ‘n droom is en selfs of daar ‘n spesifieke betekenis is nie.

Ek sal jou graag wil probeer help om by die regte mense uit te kom. Maar eers wil ek weet of jy bereid sal wees om in persoon met iemand te gaan gesels. Ek dink die regte persoon om mee te gesels is iemand wat ‘n Christen is en wat ervaring in Christelike berading het. ‘n Goeie plek om na so iemand te begin soek, is natuurlik om by jou eie kerk te probeer uitvind of daar iemand is wat ervaring het in Christelike berading, of van so iemand weet.

Net een of twee opmerkings van my kant af oor drome in die algemeen. Drome is dikwels die manier waarop ons op onderbewuste vlak, in verskillende mate van intensiteit, bewus raak dat daar spesifieke dinge in ons lewe is (waarvan ons nie spesifiek bewus is nie) wat ons pla of bekommer. Dit kan dikwels dinge wees wat ons intens emosioneel raak (veral in gevalle waar iemand erge trauma beleef het) wat op bepaalde maniere in drome (dikwels herhalende drome) manifesteer.

Ander kere is drome bloot maar net die onderbewuste se kreatiewe manier om onverwante dinge waaroor ons gedurende die dag of afgelope ruk gedink het, bymekaar te sit om sommer ‘n storie, ‘n verbeeldingsvlug, daarvan te maak.

Ek dink daarom nie dat daar noodwendig demone is wat jou probeer aanval nie. Tog sal ‘n mens wel die moontlikheid ondersoek dat jy wel in ‘n spesifieke geestelike stryd betrokke is. ‘n Goeie berader sal egter al hierdie en ander moontlikhede saam met jou kan ondersoek om agter te kom waar die probleem waarskynlik lê en wat daaraan gedoen kan word.

Terloops daar is baie Christene wat wonder of God nie soms self ook met ons in of deur spesifieke drome praat nie. My raad aan enigiemand wat wil weet of God met hom/haar deur ‘n spesifiek droom gepraat het, is om deur gebed en aan die hand van die waarheid in die Skrif, met God daaroor in gesprek te tree. Kan God met drome aan mense ‘n boodskap oordra? Ja, ek dink Hy kan en Hy doen en daar is voorbeelde in die Bybel waar Hy dit ook gedoen het. Maar hier moet ons regtig onderskeiding aan die dag lê en nie méér van drome maak as wat daar rede is om te doen nie. Drome is ‘n baie subjektiewe ervaring en om summier allerlei interpretasies of boodskappe aan sekere beelde te koppel, mag ‘n baie simplistiese verstaan van die droom-ervaring wees.

As die drome jou egter werklik pla, dan wil ek weer voorstel dat jy met ‘n gekwalifiseerde Christen berader daaroor gaan gesels. So ‘n persoon met wie jy in persoonlike gesprek sal wees, sal jou die beste kan help om verskillende aspekte van jou lewe in oënskou te neem en ondersoek in te stel na die moontlike onderliggende oorsake van hierdie drome van jou.

Laat weet gerus as ek jou op enige ander manier van hulp kan wees.

Groete

Udo

Leave a Reply

*