God is liefde en klaar!

Udo,

Ek het onlangs met iemand gepraat wat gesê het God is liefde en klaar.  Al wat Hy wil hê is dat ons Hom en ons naaste moet liefhê.  Sy sê ek moet vergeet van die duiwel en die hel, dit bestaan nie.  Dis glo mense met ryk verbeeldings wat dit uitgedink het om ander skrik op die lyf te jag.  Sy glo ook nie ‘n woord wat in die Bybel staan nie.  Sy sê die destydse regerings (in die Bybelse tyd) het die Bybel saamgestel om die volke in toom te hou, volgens haar het die regerings ook gejok deur te sê dis God se Woord sodat die mense moes skrik en luister.

Sy het ook gesê Moses was seker ‘n mallerige ou wat gemaak het of God vir hom die gebooie op die berg gegee het, hy het alles uitgedink om die volk te beindruk en te laat skrik.  Dit lyk vir my asof sy die onaangename dinge (soos hel, duiwel, gebooie, ens) wil uitsny en net God se liefde wil oorhou.  Sy glo nie daaraan om kerk toe te gaan nie, sy sê kerke is besighede en die meeste van die predikante glo self nie wat hulle preek nie.  Sy het glo die inligting by ‘n teoloog gekry.  Heel verstaanbaar was ek nogal geskok om al die dinge te hoor, want ek glo dat die Bybel God se Woord is en dat mens wel in die Bybel moet glo, wat anders moet ons dan lees om meer van God te leer?  Probeer sy nie miskien godsdiens “versag” nie, m.a.w. sy dink alles is geoorloof omdat God liefde is en daar in elk geval nie ‘n hel en duiwel is nie?  Baie dankie!

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dit lyk vir my die persoon met wie jy gepraat het is baie skepties oor die waarheid van die Christelike geloof. Daar is baie soortgelyke simplistiese verklarings vir dinge te hoor, maar dit hou nie regtig rekening met die feite nie. Daar was nog altyd pogings om die idee van “godsdiens” in menslike terme te verklaar en dan te wys dat niks daarvan te doen het met hoe dinge werklik sou wees nie. En ek gee toe: daar is baie “godsdienstige dinge” wat geensins verband hou met realiteit nie. Maar net omdat daar nog altyd, regdeur die geskiedenis sulke elemente was, is tog nie ‘n aanduiding dat juis die Christelike geloof daarom ook vals sou wees nie.

Dit is interessant dat die persoon met wie jy gepraat het skynbaar alles in die Christelike geloof verwerp behalwe die idee dat daar ‘n God is en dat hierdie God ‘n God van liefde is (sien bv. God: ‘n Godslasterlike Gedagte?). Ek sou egter nogal by haar wou weet hoekom sy nie God se bestaan ook betwyfel nie. En hoekom glo sy dat God ‘n God van liefde sou wees? Miskien is God eintlik die duiwel! Hoekom aanvaar sy juis net hierdie dinge, wat maak haar so seker dat net hierdie dinge waar is?

Die punt wat ek wil maak is dit: dit is maklik om simplistiese verklarings te gee vir waarom iets vals is, maar dikwels verraai dit ‘n agenda en kan ‘n mens ook wys dat daar bepaalde voorveronderstellings is wat heeltemal ongegrond is as dit krities ondersoek word. Natuurlik is sy nie hier om haarself te verdedig nie, maar terselfdertyd het ek ‘n vermoede dat sy waarskynlik nog nooit na intelligente verduidelikings geluister het oor hoekom dit redelik is om te glo dat die Christelike geloof waar is en dat die Bybel God se Woord is nie. Eintlik is dit ‘n aanklag teen ons as Christene, want te min van ons weet hoe om sulke skeptiese vrae op intelligente wyse te beantwoord!

Ek kan nie regtig sê wat haar onderliggende motivering sou wees met haar spesifieke siening nie. Dit klink vir my asof sy eintlik maar ‘n god na haar eie beeld geskape het. My uitdaging aan haar sou wees om erns te maak met hoe ‘n verantwoordelike verstaan van wat die Christelike geloof werklik leer, ‘n mens dalk nader bring aan die werklike God na wie se beeld ons geskape is.

Dankie weer eens vir jou brief.

Groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.