Hoe tree ek in gesprek met ‘n panteïs?

Udo,

Ek is op die oomblik betrokke in ‘n e-pos gesprek met ‘n vriendin wat self erken dat sy nie in God glo nie, en dit wil lyk of sy New Age aanhang. Sy leef soos ‘n Christen en doen veel mooier dinge as baie mense wat ek ken. Ek is egter baie bekommerd oor haar en het daarom by haar betrokke geraak oor Jesus. Sy het die volgende e-pos aan my gestuur – ek copy en paste hom hier en het dringend hulp nodig van jou om haar reg te help. Ek het gebid hieroor en glo God sal my lei…ek haal aan:

“Wat ons ervarings en geloofstelsels betref my anam cara, kom ons van verskillende wêrelde af. Ek het diepe respek vir die verskille.

Ek GLO nie in God of Jesus nie. Ek WEET – Gnosis. Ek is dus nie ‘n gelowige nie. God is nie in of uit ons as ‘n keuse nie. Ons is God. Alles is God, van die molekule wat ‘n tafel vorm tot die galaxy wat ons skaars kan waarneem tot die moordenaar tot die predikant. In engels – we are a part of God, not apart from Him/Her. Ons siele “leef” al deur die eons heen, as deel van Source/God. So is ons dan ook deel van mekaar. Die kant en daai kant met ‘n kaleidoskoop van kleure en patrone. Alles is God. Hoekom anders ontmoet ons mense en jy voel jy “herken” die persoon … ons beweeg al deur die eue heen saam.

Die divine disign van hierdie plek aarde is waar ons leer, ek verkies om te se onthou – dat ons deel is van God. Ons is in die illusie van “separation from the Divine”, is ontwerp vir ons om onthou deur lewenservarings dat ons ‘n deel is van God. Die Christos energie/siel wat ons ontmoet het in die vorm van Jesus het die mees amazingste waarhede na ons toe gebring. Waag dit om verby die Bybel te lees soos wat dit vandag is … die geskrifte wat vir jare begrawe of weg gehou is van ons om ons gevange te hou in hande van hulle wat ons wil weerhou van ons divine spark. Gospel of Judas, Gospel of Thomas, die apokriewe … wees dan nou regtig braaf en gaan lees oor die Summerians, mayans en ou ou samelewings en ontdek meer van dit wat ons is waar ons vandaan kom en hoe oneindig God/Source werklik is.

Nou kom die gedeeltes wat jy dalk nog minder van sal hou, en ek deel dit met respek met jou … Watter oneindige God sal so narsisties wees om aanbid te wil word. Watter almagtige God sal een nasie bo ‘n ander kies .. dit was die spel van ander gode my vriendin, wat ons vandag ken slegs in ons mitologie. Watter God sal wesens skep wat hemel toe gaan en ander wat hel toe gaan gebaseerd op ‘n stel reëls wat in ieder geval deur mense verander en geïnterpreteer word? Ek val nie vir daardie een nie. Alles is God en God is alles. Net dit en net so. Ons is hier om te co-create. Soos in die wetenskappe en quantum energie velde waar alles perfek sin maak (en dit is ‘n lang gesprek), so is die design ook perfek. Free Will. Daar is genoeg van God, genoeg liefde, genoeg kos genoeg van alles. Dit is in ons hande om dit te co-create saam met God en ons mede Goddelinge. En dit is die journey.”

Nou wat sê ek?

Winkelsmidt

 

Winkelsmidt,

Ek is baie bly dat jy met hierdie vriendin van jou in gesprek is. Dit is egter terselfdertyd vir my baie duidelik dat sy diep ingegrawe is in ‘n baie spesifieke wêreldbeeld. (Haar wêreldbeeld word panteïsme [alles is God] genoem en dis waarvan iets soos die New Age deel sou vorm. ‘n Wêreldbeeld is hoe jy oor die wêreld dink en waarvolgens die lewe vir jou sin maak.) Daarom sou dit ‘n fout wees om te dink dat ‘n mens so ‘n persoon, wat lyk asof sy baie oortuig is van wat sy glo, sommer net kan “reghelp”.

In die eerste plek moet ons verstaan dat mense gou agterkom wanneer ander hulle probeer “reghelp”, want dit impliseer dat hulle “verkeerd” is en niemand hou daarvan om te hoor dat hulle verkeerd is nie. ‘n Mens moet in ‘n gesprek met mense, eerder ‘n ander benadering volg (ek sal weldra verduidelik wat dit is). Tweedens is dit so dat nie alle mense werklik opsoek is na wat waar sou wees nie, maar dikwels glo mense dinge omdat dit gerieflik is of hul voorkeure pas. Ons moet dus probeer onderskei wie werklik oop is en soekend is na die waarheid. Verder, wanneer ons agterkom dat iemand nie werklik soekend is nie, dan behoort ons nie aan te hou karring nie, want dan gaan ons mense begin irriteer en onsself frustreer. Dit beteken nie dat die Heilige Gees nie aanhou om met ‘n spesifieke persoon te werk nie, maar ons moet probeer sensitief wees vir waar ‘n persoon soveel weerstand bied dat bepaalde gesprekke meer skade doen as goed. Dis dan wanneer ons ander moet ruimte gee en waar ons voortgesette gesindheid van omgee, vriendelikheid en diensbaarheid veel meer beteken as ons woorde en redenasies.

Die manier waarop ons by mense betrokke raak, is nie deur te dink dat ons hulle gaan reghelp nie, selfs al dink ons hulle is verkeerd. Wanneer ons met mense in gesprek tree, moet ons dit doen omdat ons werklik in hulle sienings en lewens belangstel. Die probleem is egter dat ons dikwels ‘n kunsmatige belangstelling toon, want ons het eintlik ‘n ander agenda, soos om te evangeliseer, of reg te help, of verkeerd te bewys. Natuurlik het mense ook nodig om die evangelie te hoor, of om reg gehelp te word of om daarop gewys te word waar hulle standpunte soms veel te wense oorlaat. Die punt is egter dat ons die regte plek sal vind waar ons hierdie dinge kan deel, wanneer mense die gevoel gekry het dat ons werklik in hulle as mense belangstel en hulle nie sien as ‘n projek of ‘n middel tot ‘n doel nie.

So wat beteken dit om werklik in mense belang te stel? Dit beteken eerstens dat ons die begeerte sal hê om regtig te verstaan wat mense dink en hoekom hulle so dink. Dit beteken dat ons nie onmiddellik op ons perdjie sal spring wanneer iemand dinge sê wat teenstrydig is met wat onsself glo nie. In ons pogings om werklik te verstaan waar mense vandaan kom, sal ons doelbewus ‘n poging aanwend om baie vrae te vra, altyd na meer verduideliking te vra waar nodig en na ander te reflekteer wat ons gehoor het om seker te maak dat ons hulle reg verstaan het. Ons sal ons dus daarvan weerhou om dadelik ons eie siening te wil weergee in reaksie op ons verskille of om antwoorde te gee op vrae wat nie gevra is nie. Dit is wanneer ons mense op hierdie manier benader dat daar vertroue geskep word en dit is in ‘n vertrouensverhouding dat beïnvloeding plaasvind.

Ek noem al hierdie dinge omdat die sinvolheid van ‘n gesprek met jou vriendin baie van hierdie benadering gaan afhang. En soos jy kan sien is dit ook nie ‘n gesprek wat net een of twee keer kan plaasvind nie, maar dis waarskynlik ‘n gesprek waarin ‘n mens jou tot die lang duur sou moet verbind. Terselfdertyd stel dit jou voor die uitdaging om baie spesifiek bewus te raak van wat jyself glo, hoekom jy dit glo en waar dit verskil van ander sienings. Hierdie is ‘n baie belangrike aspek, want jy gaan beslis êrens uitgedaag word om wel ook jou eie sienings te verduidelik en te verdedig. Die probleem is dat baie mense nie hiervoor gereed is nie en dan later soms ernstig aan hulle eie geloof begin twyfel omdat hulle gekonfronteer word met vrae en idees waarop hulle nie antwoorde kan gee nie.

Randy Newman het ‘n boek geskryf met die titel Questioning Evangelism: Engaging People’s Hearts the Way Jesus Did. In hierdie boek sê hy dat ons as deel van ons gesprek met mense baie moet gebruik maak van vrae soos die volgende:

  • Wat bedoel jy daarmee?
  • Waar kry jy jou inligting vandaan?
  • Hoe weet jy dat dit waar is?
  • Wat as jy verkeerd is?

Daar is byvoorbeeld ‘n klomp dinge in jou vriendin se epos aan jou waaroor ek laasgenoemde tipe vrae sou wou vra. Byvoorbeeld:

  • “Ek GLO nie in God of Jesus nie. Ek WEET – Gnosis” (wat bedoel jy hiermee?).
  • “Ek is dus nie ‘n gelowige nie” (wat bedoel jy hiermee? Sy glo tog wel aan iets).
  • “God is nie in of uit ons as ‘n keuse nie. Ons is God” (wat bedoel jy hiermee?).
  • “Alles is God” (hoe weet jy dit? Wat is die verskil tussen dat alles God is en dat niks God is nie?),van die molekule wat ‘n tafel vorm tot die galaxy wat ons skaars kan waarneem tot die moordenaar tot die predikant. In engels – we are a part of God, not apart from Him/Her.”
  • “Ons siele “leef” al deur die eons heen, as deel van Source/God”(hoe weet jy dit?).
  • “So is ons dan ook deel van mekaar”(wat bedoel jy hiermee?).
  • “Die kant en daai kant met ‘n kaleidoskoop van kleure en patrone” (wat bedoel jy hiermee?).
  • “Alles is God. Hoekom anders ontmoet ons mense en jy voel jy ‘herken’ die persoon … ons beweeg al deur die eue heen saam.” (Wat bedoel jy hiermee? Is dit net haar ervaring?)
    Die divine disign van hierdie plek aarde is waar ons leer, ek verkies om te se onthou – dat ons deel is van God” (wat bedoel jy hiermee?, hoe weet jy dit?).
  • “Ons is in die illusie van ‘separation from the Divine’,” (wat bedoel jy hiermee?, hoe weet jy dit?) “is ontwerp vir ons om onthou deur lewenservarings dat ons ‘n deel is van God” (wat bedoel jy hiermee?, hoe weet jy dit?).
  • “Die Christos energie/siel” (wat bedoel jy hiermee?) “wat ons ontmoet het in die vorm van Jesus het die mees amazingste waarhede na ons toe gebring” (hoe weet jy dit?).
  • “Waag dit om verby die Bybel te lees soos wat dit vandag is … die geskrifte wat vir jare begrawe of weg gehou is” (waar kry jy jou inligting vandaan?) “van ons om ons gevange te hou” (hoe weet jy dit?) “in hande van hulle wat ons wil weerhou van ons divine spark.”
  • “Gospel of Judas, Gospel of Thomas, die apokriewe … wees dan nou regtig braaf en gaan lees oor die Summerians, mayans en ou ou samelewings en ontdek meer van dit wat ons is waar ons vandaan kom en hoe oneindig God/Source werklik is” (hoe weet sy dat al hierdie tekste eintlik die waarheid is?).
  • “Nou kom die gedeeltes wat jy dalk nog minder van sal hou, en ek deel dit met respek met jou … Watter oneindige God sal so narsisties wees om aanbid te wil word” (hoekom sou dit narsisties wees? Miskien is dit juis ter wille van ons eie welsyn dat Hy wil hê dat ons Hom moet aanbid?).
  • “Watter almagtige God sal een nasie bo ‘n ander kies” (was God se doel nie om deur een nasie ‘n seën te wees vir ander nie?) “…dit was die spel van ander gode my vriendin, wat ons vandag ken slegs in ons mitologie” (hoe weet jy dit?, waar kry jy jou inligting vandaan?).
  • “Watter God sal wesens skep wat hemel toe gaan en ander wat hel toe gaan gebaseerd op ‘n stel reëls wat in ieder geval deur mense verander en geïnterpreteer word?”(wat bedoel jy hiermee en waar kry jy jou inligting vandaan? Verstaan sy regtig die Christelike verduideliking van hoe al hierdie dinge met mekaar verband hou?)
  • “Ek val nie vir daardie een nie. Alles is God en God is alles. Net dit en net so”(wat as jy verkeerd is?).
  • “Ons is hier om te co-create. Soos in die wetenskappe en quantum energie velde waar alles perfek sin maak (en dit is ‘n lang gesprek), so is die design ook perfek. Free Will.” (wat bedoel jy hiermee en waar kry jy jou inligting vandaan?)

Jy sien dus, Winkelsmidt, dat om regtig met jou vriendin in gesprek te tree, baie toewyding gaan verg. Eerstens beteken dit om vir eers net vrae en verduidelikings te vra. Daar is regtig nie maklike, een-sin antwoorde wat haar sommer van opinie gaan verander nie. Ons moet egter onthou dat ons vrae vra omdat ons werklik belangstel en nie omdat ons bloot wil konfronteer nie. Tweedens, as ‘n mens regtig met so ‘n persoon in gesprek wil tree, sal jy moet moeite doen om die panteïstiese wêreldbeeld te probeer verstaan hoekom panteïsme op die ou end ‘n onbevredigende manier is om die wêreld te probeer verstaan. Al hierdie dinge gaan tyd en moeite van jou vra.

Ek sal jou graag in hierdie proses wil help as jy besluit om op hierdie manier na jou vriendin uit te reik. Ek kan jou help met spesifieke kwessies en vir jou meer inligting aanstuur oor panteïsme (soos voorgestelde boeke en artikels), as jy belangstel. Laat weet gerus.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.