In dieselfde juk met ‘n ongelowige?

In dieselfde juk met ‘n ongelowige?

Hi Udo,

Ek hoop jy het ‘n kansie om my gou te help:

Ek wil baie graag bietjie jou opinie vra oor die feit dat gelowige mense nie met ongelowige mense mag trou nie? Ek weet in 2 Korintiërs staan daar “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?”  Vir my beteken dit basies dat mens nie moet trou met ongelowiges nie… In 1 Korintiërs 7 is daar ook ‘n gedeelte oor huwelike tussen gelowiges en ongelowiges. Hier praat hulle van as jy reeds getroud was voor jy tot bekering gekom het, mag jy nie van jou man skei nie al is hy nie gelowig nie maar dat as hy sterwe, dat sy vrou vry is om te trou met wie sy wil, mits dit met ‘n gelowige is.  Weereens voel ek dat dit hieruit duidelik gemaak word dat as jy gelowig is dat jy nie met ‘n ongelowige kan trou nie.

Ek’s nie regtig seker of die opinie wat ek het (dat die Bybel sê dat dit verkeerd is vir ‘n gelowige om met ‘n ongelowige te trou) akkuraat is en of dit maar net ek is wat graag wil glo dat dit verkeerd is nie?

Ek is net nie seker hoe ‘n vrou kan submit aan ‘n man wat ongelowig is nie en hoe kan so ‘n verhouding tot eer van die Heer wees?  ‘n Ongelowige man kan volgens my mos nie hoof van die huis wees, soos wat dit in die Bybel bedoel word nie?

Ek’s nou in die situasie waar ek met ‘n ongelowige hieroor moet praat, maar ek weet nie regtig hoe om die situasie te benader sonder om te klink soos ‘n “HIGH AND MIGHTY” Christen nie (as jy weet wat ek bedoel).  Ek wil nie sy onsekerheid en gebrek aan geloof nog erger maak nie.  Ek wil nie regtig hê dat hy moet dink ek judge hom en dat ek dink ek’s beter as hy nie (dis verseker nie die geval nie, maar ek wil nie ‘n boodskap oordra wat so klink nie).

Sal jy my asb. bietjie raad kan gee?

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Ek probeer graag help.

Jy is heeltemal reg dat ons uit die Bybel kan aflei dat die huwelik soos God dit bedoel het tussen man en vrou, gegrond sal wees in die verbintenis wat altwee persone met Hom het. Ek sal ‘n Christen in die eerste plek ten sterkste afraai om in ‘n romantiese verhouding met ‘n nie-Christen betrokke te raak. Wanneer twee mense van verskillende geloofsoortuigings, wat wel in ‘n verhouding betrokke geraak het, egter op ‘n stadium oor die moontlikheid van trou dink, dan sou ek graag baie ernstig met die Christen in gesprek wou tree. Ek dink nie sulke Christene verstaan regtig die implikasies daarvan om in ‘n huwelik te staan met iemand wat ‘n nie-Christelike wêreldbeeld aanhang nie. Hulle verstaan dikwels nie hoe verskillende waardes en lewensuitkyk op die ou end tog saak maak nie, veral wanneer daar soms moeilike tye in die huwelik is, en dat dit tot baie spanning en verwyt kan aanleiding gee. Ek dink in elk geval nie jy kan ernstig wees oor jou verhouding met die Here (die belangrikste verhouding in jou lewe!) en terselfdertyd dink dat jy jou lewe aan iemand toewy wat niks met hom te doen wil hê nie. ‘n Mens kan wel vir so iemand lief wees, maar dit sou eintlik onverantwoordelik wees om met so ‘n persoon te trou.

Hier is egter my raad. Ek weet nie of dit noodwendig sinvol is om met die nie-Christen in die verhouding hieroor te praat nie, omdat ek nie dink dat so ‘n persoon noodwendig sal verstaan hoekom dit ‘n probleem is nie (en natuurlik is die liefde blind!). Ek dink dis baie belangriker om eerder met die Christen te praat (ten spyte dat die liefde blind is) en die persoon te help verstaan wat op die spel is. ‘n Faktor om hier in gedagte te hou is natuurlik dat nie alle mense wat hulleself Christene noem noodwendig ‘n lewende verhouding met God het nie en daarom sal dit vir sulke persone dikwels ook moeilik wees om te verstaan wat die groot bohaai nou eintlik is.

Jy is natuurlik reg dat die nie-Christen persoon baie maklik kan voel dat jy veroordelend is en dat jy op hom as mens neersien omdat hy nie ‘n Christen is nie (al bedoel jy dit nie so nie). Dit maak die vooruitsigte van so ‘n gesprek baie moeilik. En soos ek gesê het, ek is nie so seker of die gesprek baie sinvol sal wees nie. Het jy enige kontak met die persoon met wie hy wil trou? Sou jy dalk eerder met haar ‘n gesprek kon hê?

Groete
Udo

Leave a Reply

*