Is daar ‘n hemel en ‘n hel?

Hi Udo

Baie dankie vir jou skrywe.  Ek waardeer dit. Ek  het ek op Dinsdae oggende ‘n klein selgroeppie by ons kerk.  Ons is ‘n baie klein gemeente en hou kerk in ‘n skoolsaal.  Die area waar ons bedien is geleë in een van die armste dele van ons dorp.  Dus het ons baie te doen met uiterste armoede.  Maar dis vir my ‘n passie om ‘n pad met hierdie mense te loop en ‘n groot voorreg.  Maar saam met dit is dit ook ‘n baie groot verantwoordelikheid.  Want wat ek hulle leer, moet die absolute waarheid wees, en slegs op die Woord van die Here gebaseer wees.

Ek het onlangs vir hulle gevra waaroor hulle meer sou wou leer, en daar het heelwat interessante onderwerpe na vore gekom.  En dis waar ek dalk nog ‘n paar keer van julle dienste gebruik gaan maak????  Van die vrae was bv. Is daar ‘n hemel en ‘n hel?  Gaan jy regtig hemel toe?

As julle dalk al oor die onderwerp antwoorde het sal ek dit waardeer indien julle dit met my kan deel?

Ek sal op ‘n ander tydstip van die ander vrae aan julle noem.

Dankie byvoorbaat.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ons wil graag van hulp wees waar ons kan. Dis wonderlik om van jou passie te hoor vir die mense wat julle bedien. Mag die Here jou daarin seën en jou gebruik in die lewens van die mense by wie jy betrokke is.

Is daar ‘n hemel en ‘n hel? Hierdie vraag kan op twee maniere verstaan word. Eerstens kan dit ‘n vraag wees oor of ‘n mens se siel die dood oorleef, m.a.w. wat word van jou as jou liggaam sterf? ‘n Mens kan hier eenvoudig die punt maak dat indien God bestaan, dan is Hy verantwoordelik vir die menslike siel se voortbestaan na die dood. Daar is in elk geval talle verwysings in veral die Nuwe Testament wat daarop dui dat ons ‘n nie-materiële siel het wat die dood oorleef.

Die tweede manier om die vraag te verstaan is dat dit vra oor die aard van die hemel en die hel. Waar is die hemel en die hel en hoe is dit om daar te wees? Wat hiermee kan saamhang is die vraag oor hoekom daar juis ook ‘n hel moet wees.

Om te verduidelik dat daar ‘n hemel sowel as ‘n hel is, is om daarop te wys dat daar mense is wat ‘n verhouding met God wil hê en dat daar ander is wat dit nie wil hê nie. Mense wat ‘n verhouding met God wil hê is mense wat deur die Heilige Gees se werking oortuig raak van God se liefde vir hulle (Joh. 3:16) en wat Hy gedoen het (Jesus se verlossingswerk) en wat Hy wil doen (weergeboorte gee, Joh. 3:3-8) om so ‘n verhouding moontlik te maak. Diegene wat egter nie ‘n verhouding met God begeer nie, is mense wat die Heilige Gees se werking in hulle lewens teenstaan en verwerp en is daarom mense wat ook nie die dinge van God verstaan nie (1 Kor. 2:12-15).

Die hemel kan vervolgens beskryf word as ‘n plek waar sekere mense in ‘n ewige verhouding met God sal leef. Omdat God niemand egter forseer om ‘n verhouding met Hom te hê nie (alhoewel God almal uitnooi tot so ‘n verhouding), maak dit sin dat daar ook ‘n plek is waar mense sal wees waar hulle nie in God se teenwoordigheid hoef te wees nie. So ‘n plek word die hel genoem.

Daar is natuurlik veel meer hieroor te sê as dit. Die Nuwe Testament praat van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar die kinders van God sal woon (2 Pet. 3:13, Open. 21:1). So ook word die hel met allerlei metafore beskryf, hoewel daar nie ‘n aanduiding is van presies hoe en waar die hel sou bestaan nie. Tog kry ‘n mens duidelik die indruk dat beide die hemel en hel werklik sou bestaan.

Wat baie mense dikwels wil verstaan is hoekom daar hoegenaamd ‘n hel moet wees as God dan werklik ‘n God van liefde is. Wanneer mense egter begin besef dat God niemand kan forseer om hom lief te hê nie (daar bestaan nie iets soos “geforseerde liefde” nie) en dat mense die keuse het om God nie lief te hê nie en daarom nie iets met Hom te doen wil hê nie, dan sal God daardie keuse respekteer. Hoe verskriklik dit ookal mag wees om eendag in die hel te moet wees, is die hel ‘n bewys van hoe God mense se keuses respekteer en niemand dwing om op ‘n plek soos die hemel te wees waar hulle nie wil wees nie (omdat dit ‘n plek is waar God in sy volle glorie is). Mense dink dikwels bloot aan die hemel as ‘n soort plek waar hulle heeltemal gelukkig sal wees. Wat mense egter nie besef nie, is dat daar niks in die hemel kan wees wat hulle gelukkig sal maak as hulle nie eers gelukkig is in ‘n verhouding met God nie. (C.S. Lewis met sy boek The Great Divorce maak hierdie punt uitstekend.)

Vir nog vrae rondom die hel, lees die volgende:

Oor die vraag of iemand werklik hemel toe gaan, kan jy gerus die volgende twee gedeeltes lees op ons webwerf:

Wel, ek hoop dit help. Laat weet egter gerus as daar nog iets is.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.