Is dit Sabbat of Sondag?

Is dit Sabbat of Sondag?

Hallo,

Waarom het die Christene besluit om die Sabbat  te verskuif na die 1ste dag van die week nl. Sondag?

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou vraag.

Die eerste Christene (Christus-volgelinge) het op ‘n Sondag, die eerste dag van die Joodse week, begin bymekaar kom (Hand 20:7, 1 Kor 16:2) spesifiek om Jesus se opstanding (Matt 28:1,9,10; Mark 16:9; Luk 24:1,13,15; Joh 20:19,26) te herdenk. Om die waarheid te sê het Christene aan die heel begin beide die Sabbat en die Sondag gedenk.  Dit was hoofsaaklik omdat bykans al die eerste Christene Jode was.  Aan die begin was die verhouding tussen Jode en Christene goed, maar met die verloop van tyd het hierdie verhouding versleg en al hoe meer nie-Jode tot geloof in Jesus gekom.  Dit het tot gevolg gehad dat Christene begin het om slegs die Sondag te gedenk en die Sabbat het in onbruik verval.

Dit moet egter duidelik gestel word dat dit nie korrek is om te sê dat die Sondag, as ‘n dag van aanbidding waarop meeste Christene bymekaar kom, in die plek van die Sabbat gekom het nie (m.a.w. die Sabbat het nie na die Sondag verskuif nie). Nee, soos baie ander wette in die Ou Testament, is die onderhouding van die Sabbat met sy baie spesifieke doel en stipulasies soos dit in Eksodus tot Deuteronomium uiteengesit word, deel van die wette wat God aan die Joodse volk deur Moses gegee het. Met die koms van Christus is al die Ou Testamentiese wette in Hom vervul (Matt 5:17). Dit beteken dat niemand meer enige wette nakom as ‘n manier om God se goedkeuring te bekom nie (Galasiërs 3). Mense behoort aan God wanneer die Heilige Gees in hul lewe (Rom 8:9,13-16) kom en dis Hy wat hulle in staat stel om aan God gehoorsaam te wees (Rom 8:4).

Jesus was die enigste persoon wat die vereistes van die wet perfek nagekom het en omdat Hy terselfdertyd ook die vervulling van die wet was, is dit Hy waarna die wet heenwys (Rom 10:4; Gal 3:19,23-25; Ef 2:15). Van ons word daar net een dinge gevra om in die regte verhouding met God te kom: geloof, meer spesifiek, geloof in die feit dat Christus die straf vir ons sonde gedra het – sonde a.g.v. die feit dat ons nie God se wette perfek kán nakom nie (Rom 8:3-5).

Die onderhouding van die Joodse Sabbat is dus nie iets wat mense ná Christus meer hoef na te kom om God tevrede te stel nie (sien ook Kol 2:16–17, Rom 14:5–6a, Gal 4:9–10 Matt 12:8, Mark 2:27). Christene kan op enige dag van die week bymekaar kom (tradisioneel is dit Sondag as herdenking van die Opstanding), nie omdat dit ‘n wet is nie, maar omdat Christene deel is van die liggaam van Christus (1 Kor 12:12-30) wat mekaar nodig het en ook saam aan die Here eer wil bring. Dit is ook belangrik om te sien dat God van die begin af ‘n ritme vir die menslike bestaan daarstel.  Dit kan gesien word in die ses skeppingsdae gevolg deur die een dag se rus asook in die 18 jaar wat Jesus as skrynwerker gewerk het (vandat hy 12 was tot hy 30 was) en drie jaar van Sy openbare bediening.  Dit lyk asof die Here se ritme ses eenhede se gewone werk en dan een eenheid se rus is. ‘n Mens kan maar aanneem dat God dit so reël omdat Hy wéét wat goed is vir ons en omdat Hy ons beste belange vooropstel.  Hierdie voorbeeld en opdrag word dus gegee tot ons voordeel, nie om ons in te perk nie.  As jy ‘n gebalanseerde lewe wil leef wat jou in die Here geanker hou is dit nodig om God se geskenk van een rus dag waartydens jy spesiaal op Hom kan fokus as deel van jou lewensritme in te bou.

Gebruik ook die sleutelwoorde “sabbath” en “law” in die soekgleuf by www.gotquestions.org vir ‘n hele paar kort artikels wat die verhouding tussen die wet en die Sabbat ondersoek.

Jy is welkom om enige opvolg vrae of ander vrae te vra.

Groete
Udo

 

Goeiedag.

Dink net hoeveel FOUTE word in die volgende bevat …

“Die eerste Christene (Christus-volgelinge) het op ‘n Sondag, die eerste dag van die Joodse week, begin bymekaar kom (Hand 20:7, 1 Kor 16:2) spesifiek om Jesus se opstanding (Matt 28:1,9,10; Mark 16:9; Luk 24:1,13,15; Joh 20:19,26) te herdenk.”

… en word glad nie besef nie.  Dis so jammer.

By voorbeeld,

“Die Joodse week”;

Nog in handelinge 20:7, nog in 1Korintiers 16:2 staan daar geskrywe dat Christene ‘bymekaar gekom het’.

En in geeneen van “Matt 28:1,9,10; Mark 16:9; Luk 24:1,13,15; Joh 20:19,26″, staan daar geskryf dat Jesus op Sondag opgestaan het nie.

Ons is so gewoond om sulke FOUTE sommer net as vanselfsprekend te aanvaar; DIS ONS MOEILIKHEID, ONS KEN NIE DIE REGTIGE ‘SKRIF’ NIE!

WInkelsmidt


Hallo Winkelsmidt

Op jou webwerf maak jy op ’n stadium die volgende opmerking: “Een of ander ‘kerkvader’ het gesê mens kan die onkundige nog inlig. Maar mens kannie die beterweter reghelp nie. Die onkundiges lees die Bybel; die beterweters skryf die Bybel aan ons voor om te lees soos hulle wil hê hy gelees sal word.”

Ek weet nou nie of jy my (ons) as onkundig of eerder as beterweterig sou wil klassifiseer nie, maar mag ek voorstel dat nie almal wat met JOU verskil onkundig of beterweterig is nie. Soms is dit bloot dat Christene van mekaar verskil omdat sekere dinge in die Bybel ons werklik toelaat om met mekaar daaroor te verskil. Dit beteken nie dat altwee partye reg kan wees nie, maar dat ons groter nederigheid aan die dag sal lê in ons omgaan met ander. Ek het daarom geen begeerte om met jou in ‘n debat te tree oor iets soos die Sabbat nie en beskou ons siening as ‘n verantwoordelike omgaan met die teks.

Jy mag egter korrek wees dat daar “FOUTE” in ons verstaan oor sekere sake mag wees. Die groot vraag is egter of Winkelsmidt bereid is om te erken dat daar foute in sy verstaan kan wees. Ongelukkig moet ek sê (en ek sê dit glad nie ligtelik nie) dat dit nie die indruk is wat ek kry as ek sien hoe jy met ander Christene omgaan wat van jou sienings verskil en hoe jy met hulle argumenteer nie. Jou interaksie met ander, veral op internet forums, sou voorbeelde wees waarna ek wil verwys.

Beste wense vir jou.

Udo

Geagte Udo,

Wat ‘n pragtige span TOEGERUSTE mense in die Here se werk, volgens ‘wie-is-ons’personeel’!

Baie geluk!

Wat my veral opgeval het is die span se betrokkenheid by “apologetiek”.

Dis waar die moeilikheid lê; dis nie altyd so maklik om dieselfde ‘gees’ te openbaar en te handhaaf as byvoorbeeld met u wonderlike “ Vriendskap-evangelisasie” nie— uiteraard. Apologetiek is nou maar eenmaal kontensieus.  Maar ek weet ek gaan gereeld te ver en vergeet die Skrif-vermaninge hoe die gelowige met verantwoording oor sy geloof behoort op te tree.  Ek pleit skuldig.

Van alles bly die hoofsaak die Hervormingsbeginsels van Die Skrif alleen, die Geloof alleen, die Genade alleen, en Christus alleen!  En na alles – met volle versekerdheid van die vergifnis van my sondes – weet ek dat DIT deurentyd my strewe was en is en altyd sal wees : So help my God AL KOS DIT WAT! “Die Waarheid sal julle VRY maak” … Christus Jesus is die Waarheid, die volle Waarheid en die enigste Waarheid van God : “VOLGENS DIE SKRIFTE”.

Dit is hoekom ek NOOIT met die ‘Sondag-ding’ versoen of van die Skrif en Christus se Sabbatswaarheid ontvreemd sal kan word nie.

Dit HET my alle ‘vriendskappe’ gekos : Jesus Christus is my ENIGSTE VRIEND wat my in die lewe AS GEVOLG VAN BYBELWAARHEID, getrou gebly het. Ek praat die waarheid; ek lieg nie; ek praat proef-ondervindelik. Ek sien nou net nog uit na die opstanding van die vlees, wanneer ek sal uitvind hoe baie waaragtige vriende en vriendskappe my van ewigheid af in Hom beskore was.

So, geagte Udo, vel maar u harde oordele oor my; ek verdien ieder en elk. Dit gaan my nie afsit nie : Geseënd is die God en HERE van die Sabbatdag ons Here Jesus Christus!

Winkelsmidt

Naskrif:

Weereens dankie dat u teruggeskryf het.

 

Leave a Reply

*