Kan ons vir Judas vertrou?

Kan ons vir Judas vertrou?

deur Phillip Scheepers

‘n ‘Evangelie’ het groot nuus hier in Brittanje gemaak. Koerante het oor hulle voete geval om te vertel van die ontdekking van ‘n dokument oor Jesus se lewe wat Christene gaan dwing om hulle hele geloof te herevalueer. Die feit dat ‘n persoon wie se naam sinoniem geraak het met verraad, aan hierdie dokument gekoppel is, het die storie net soveel sappiger gemaak. Dit het gou duidelik geword dat die aansprake van die ‘Evangelie van Judas’ oor die algemeen sondermeer as korrek en betroubaar beskou is. Die Guardian het byvoorbeeld sy berig hieroor as volg ingelui: “Judas: This is what really happened”.

By nadere ondersoek blyk dit dat hierdie storie vir ons baie meer van die moderne Westerse samelewing se byna inherente agterdog teenoor die Christelike geloof vertel as van Jesus (of inderdaad Judas). Ek twyfel daarom of enige kerke binnekort hulle deure gaan sluit as gevolg van die openbarings van hierdie ‘Evangelie’!

In die eerste plek is die ontdekking van die Evangelie van Judas van baie groter historiese as teologiese belang. Dit werp lig op die oortuigings van mense wat die boodskap van Jesus met die leer van die Gnostiek wou vermeng. In ‘n (baie klein en onvolledige!) neutedop, was die Gnostiek ‘n filosofiese rigting wat sterk onderskeid tussen die fisiese (boos) en geestelike (goed en rein) getref het. Mense wat in hierdie denkrigting gestaan het en tog ook aan iets van die boodskap van Jesus wou vashou, het ‘n reuse probleem gehad met die oortuiging dat Jesus werklik mens geword het. Die menslike liggaam is dan boos! Vanuit hierdie kringe het daar dus vanaf die tweede helfte van die tweede eeu baie ‘Evangelies’ ontstaan wat die geestelike aard van Jesus se menswording ten koste van sy fisiese menswees beklemtoon. Die feit dat daar sulke ‘evangelies’ bestaan, is dus nie nuus nie. Die argumente wat uit hulle na vore kom is verder ook baie effektief deur die gelowiges van daardie tyd hanteer. Die bestaan van ‘n ‘Evangelie van Judas’ is selfs nie eers ‘n reuse openbaring nie. Ireneaus (biskop van Lyon) verwys in ‘n dokument wat ongeveer uit die jaar 180 n.C. dateer kan word, na ‘n dokument met hierdie titel. Die bekendmaking van die inhoud van hierdie dokument werp sekerlik lig op die debatte wat daar tussen die Christelike kerk en volgelinge van die Gnostiek was. Dit belig ook die oortuigings van ‘n sekere stroming binne hierdie beweging (Die Kaïniste vir die wat werklik belangstel!) Dit vertel egter hoegenaamd nie vir ons vir die eerste keer van die bestaan van die debat nie.

Dit is, tweedens, interessant om te sien hoe die media normale beginsels vir historiese navorsing en die bepaling van tekstuele integriteit met ‘openbarings’ soos hierdie ignoreer. Daar is twee belangrike beginsels wat baie sterk in ag geneem moet word wanneer daar na die betroubaarheid (al dan nie) van ‘n Evangelie gekyk word. Eerstens word bronne wat (wat tyd betref) nader aan die gebeure is wat dit beskryf, as meer betroubaar gesien. Die eenvoudige beginsel hieragter is dat hoe minder tyd verloop het, hoe minder tyd was daar vir ‘aandigsels’ of historiese onbetroubaarhede om in te sluip. Tweedens is dit belangrik om te let op hoe wyd ‘n dokument deur die vroeë kerk versprei is. Wye verspreiding dui op algemene aanvaarding deur die leiers van die Christelike kerk dat ‘n dokument gesagvol en betroubaar is. Die Kanonieke Evangelies (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) het, wat beide hierdie ‘toetse’ betref, geen gelykes nie! Hulle is almal gemiddeld ‘n honderd jaar ouer as die ‘Gnostieke Evangelies’ en daar is letterlik honderde manuskripte regoor die destydse bekende wêreld gevind. Van die ‘Gnostieke Evangelies’ bestaan daar dikwels net enkele kopieë. Die opgewondenheid oor dokumente soos die ‘Evangelie van Judas’ moet dus aan meer as ‘n blote objektiewe kyk na die getuienis toe te skryf wees.

Dit bring my by die derde punt. Dit is binne die moderne Westerse samelewing baie in die mode om jouself as geestelik soekend voor te stel. Dit is egter in baie gevalle nie ‘n eerlike oopkop soeke waarvan mense praat nie, aangesien die Christelike geloof as deel van ‘organised religion’ dikwels nie eers in die verbygaan bekyk word nie. Ten spyte van al die aansprake oor ‘n eerlike soek na waarheid is dit merkwaardig hoe baie van hierdie soektogte eindig by ‘n ‘godsdiens’ wat eintlik maar net gaan oor die vervulling van eie behoeftes. ‘n ‘Godsdiens’ wat mense gerusstel dat die waarheid eintlik maar net diep binne hulleself te vind is. Die sanger Mary J Blige stel dit dalk krasser (en eerliker!) as baie, maar sy verwoord die eindpunt van baie mense se geestelike soeke perfek: “My God is a God who wants me to have things. He wants me to bling. He wants me to be the hottest thing on the block. I don’t know what kind of God the rest of you all are serving.” Die Jesus wat ons in die kanonieke Evangelies ontmoet pas natuurlik nie so lekker binne hierdie prentjie nie. Hy is Iemand wat ons selftrots uitdaag, wat ons oproep om alles te los en Hom te volg en wat ons baie duidelik laat verstaan dat die antwoord definitief nie in onsself te vind is nie! ‘n Ander weergawe van die Evangelie is dus nodig. Vir baie mense het die Gnostieke Evangelies (waarmee hulle in die meeste gevalle tweedehands deur boeke soos die Da Vinci Code kennis gemaak het) in hierdie behoefte kom voldoen! Dit maak nie saak of hulle baie jonger is en baie minder wyd gelees is nie. Dit maak nie saak dat die vroeë kerk die kwessies daarin effektief geantwoord het nie. Dit maak eintlik selfs in ‘n sin nie eers saak wat daarin staan nie (baie van die inhoud hiervan sal trouens moderne mense goed ongemaklik laat). Wat wel vir baie mense saakmaak is die persepsie dat ‘n Jesus gevind kan word wat eintlik maar net die mantra van die moderne mens, naamlik “I’m OK, You’re OK”, vir ons sal herhaal.

Jesus, soos Hy vir ons in die Kanonieke Evangelies geteken word, roep ons op om ons kruis op te neem en Hom te volg (Matteus 10:38). In die praktyk beteken dit dat berou, bekering en gehoorsaamheid van ons gevra gaan word. Vir baie is hierdie ‘n pad wat hulle nie wil stap nie. Hulle sal dus enige antieke getuie wat, so glo hulle, vir hulle sê dat die waarheid maar iewers binne ons gevind kan word, verwelkom. Selfs al dra dit die naam van ‘n verraaier. Wat my betref, hoef ek net binne in myself te kyk om te besef dat ek dringend hulp nodig het. Om hierdie rede hou ek liewer aan die (ouer en meer betroubare) Kanonieke Evangelies vas wat nie doekies omdraai oor wat verkeerd is met my en hoe dit reggemaak kan word nie.

 

Webskakels:

Vir ‘n paar mediaberigte waarin die ‘Evangelie van Judas’ bekendgestel word, sien:

http://www.guardian.co.uk/comment/story/0,,1748835,00.html
http://news.bbc.co.uk/1/hi/magazine/4887222.stm
http://www9.nationalgeographic.com/lostgospel/index.html
http://news.independent.co.uk/world/science_technology/article356265.ece

Vir ‘n bespreking van die inhoud van die ‘Evangelie van Judas’, asook van die stroom binne die Gnostiek waaruit dit kom, sien:

http://www.christianitytoday.com/ct/2006/115/43.0.html
http://www.christianitytoday.com/books/features/bookwk/060417.html

Vir ‘n bespreking van die ‘Evangelie van Judas’ vanuit ‘n Christelike hoek, sien:

http://www.beliefnet.com/story/189/story_18922_1.html
http://benwitherington.blogspot.com/2006/04/gospel-of-judas-et-al-part-one.html

Leave a Reply

*