Kersvader en die Tandemuis

Kersvader en die Tandemuis

Goeie dag,

Ek het op julle webwerf afgekom deur ‘n vriendin van ‘n vriend op Facebook wat julle aanbeveel het omdat die man sê daar is profesieë in die Koran wat ook bewaar is!  Net maar agtergrond oor my ontdekking van julle webtuiste.

Ek het die antwoord gelees op die vraag of feetjies bestaan (sien “Die bestaan van feetjies”).  Ek het ‘n geruime tyd gelede ‘n DVD van Tiaan Gildenhuys gekyk, genaamd, “Maak skoon jou huis”, dalk het jy daarvan gehoor, dalk nie. Dit was vir my ‘n openbaring en my gees het totaal daarmee saamgestem. Die goedjies waaraan ons vashou is dalk oulik maar waar ontstaan dit? Is daar plek in ons verhouding met God om ons op te hou met allerhande oulike goedjies wat nie bestaan nie en onnodig inspraak maak op ons lewens?  Is dit vir my as kind van God geoorloof om my kind van Kersvader of die Tandemuis te leer, net om hom later te vertel dit bestaan nie regtig nie?! Die Bybel sê ons mag nie lieg nie, nou trek ons vir “lieg” ‘n baadjie van verbeelding aan en dan is dit maar “ok” om te lieg?!

Ek het nog nie gearriveer nie en my elke dag se wandel is soms een van stryd om net op die nou paadjie te bly. Ek het wel al op hierdie pad geleer dat wat jy jaar in en jaar uit in ‘n sekere denominasie leer is nie noodwendig Bybelse waarheid nie. Ek het ook al agtergekom dat daar nie baie mense is wat bereid is om die klein wêreldse insprake in hul lewe teen te staan en net te staan vir en op die Woord van God nie!  Ek kan net bid dat ek gehoorsaam sal wees aan die Almagtige God en Sy Woord bestudeer om sodoende te leer wat hy vir my en my gesin wil leer en wat Hy wil hê ek my kinders moet aan blootstel in ‘n wêreld waar God en Sy gebooie nie altyd meer so welkom is nie!

Ek bid dat die Here julle bediening sal sëen en dat julle werklik God se hartklop vir jul en jul bediening sal ontdek!

Groete

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou brief. Ek kan sien dat jy erns maak met die Here en Sy Woord en dat jy besorg is oor hoe skynbaar “klein” dingetjies ons dikwels daarvan weerhou om ten volle te leef soos wat God van ons verwag. Ek stem heelhartig met jou saam, dit kan beslis ‘n hindernis word in ons verhouding met God. Ek is daarvan oortuig dat ons as Christene nodig het om meer onderskeiding aan die dag te lê en ons nie bloot maar met die stroom te laat meesleur omdat ons nie bewus is van hoekom ons sekere dinge doen of nie nagedink het oor die implikasies van waarmee ons dikwels besig is nie.

Ek wil vir ‘n oomblik stilstaan by die rol van verbeelding. Ek het in my antwoord oor die bestaan van feetjies baie spesifiek na die Tandmuis en Vader Krismis verwys as voorbeelde van hoe kinders dikwels gemanipuleer en hulle goedgelowigheid misbruik word. In effek is ons besig om, soos jy tereg opmerk, doodeenvoudig vir ons kinders te lieg wanneer hulle al ‘n bietjie ouer geword het en begin vrae vra oor waar hul tande heen verdwyn het of waar die geskenke onder die kersboom vandaan kom.

Tog dink ek nie dat alle verbeeldingsaktiwiteite en opgemaakte stories met doelbewuste misleiding geassosieer moet word nie. Jong kinders het van nature ‘n baie aktiewe verbeeldingslewe wat ‘n normale deel van hul ontwikkeling is. Verbeelding, spel en stories is die manier waarop hulle die wêreld waarin hulle leef en die inligting waarmee hulle gekonfronteer word, internaliseer. Soos wat kinders ouer word, begin hulle outomaties ‘n onderskeid tref tussen realiteit en verbeelding, aangesien hulle kognitiewe ontwikkeling hulle al meer in staat stel om abstrakte en komplekse idees raak te sien en te verwerk.

Om jong kinders, wat van nature verbeeldingryk is, daarom aan stories en fiktiewe karakters bloot te stel en hulle te laat meedoen aan verbeeldingsspel, beteken dus nie dat ons besig is vir hulle te lieg nie. Dit is ‘n manier waarop kreatiwiteit gestimuleer word en kreatiwiteit is ‘n baie belangrike element in hoe kinders leer om al meer komplekse inligting in te win en te prosesseer.

Ek glo egter wel dat ons baie meer bewus moet wees van ons kinders se ontwikkelingsfases en sodanig betrokke moet wees by waaraan hulle blootgestel word. Nie alle stories is ewe onskuldig nie. Sommige het beslis die potensiaal (en miskien juis die doel) om kinders oor sekere elemente daarvan nuuskierig te maak (ek dink byvoorbeeld aan stories met okkultiese elemente) en hulle sodoende in ‘n verkeerde rigting te trek. Maar ander verbeeldingryke stories het weer die vermoë om ‘n gesonde belangstelling aan te wakker oor ‘n realiteit waarvan God deel is. Dink maar net aan C.S. Lewis se Narnia-stories. Daar is verskeie dinge in Narnia wat nie regtig bestaan nie, maar ‘n mens sou ‘n groot deel van jou menswees moet onderdruk deur aan te voer dat ons daarom eerder niks daarmee te doen moet hê nie.

Nie alle verbeeldings-elemente word deur Satan geïnspireer nie. Inteendeel, ek dink die meeste daarvan het hul oorsprong by die mens se Godgegewe vermoë tot kreatiewe denke (al word dit dikwels verkeerd aangewend). Satan is natuurlik ook ‘n meester om enigiets te misbruik vir sy eie doel. Die figuur van Kersvader het beslis in vandag se tyd ‘n substituut vir God geword. Ook die feit dat Kersvader indirek met Christus se geboorte geassosieer word, veroorsaak verdere verwarring, omdat dit niks met mekaar te doen het nie. Die groot probleem is natuurlik dat kinders egter met die idee gekonfronteer word dat God soos ‘n oupa met ‘n lang wit baard is wat graag geskenke aan kinders uitdeel omdat hulle so soet was. Kersvader het ‘n verdraaiing van God se karakter geword en ek dink dit pas goed in by wat Satan wil hê mense moet hoor –  hulle moet liefs nie ook met God se Heiligheid gekonfronteer word en dalk deur Sy Gees oortuig word van hulle sondige natuur nie! As die fokus op die legende van Kersvader kan val en nie op die realiteit van Christus se koms na die aarde waar Hy vir ons sonde gesterf het nie, dan het Satan sy doel bereik.

Dit is juis omdat die figuur van Kersvader soveel verwarring en misleiding veroorsaak ten opsigte van die boodskap van die Evangelie en die natuur van God, dat dit my persoonlike oortuiging is dat die gedagte aan Kersvader nie regtig ‘n plek het op die dag waarop ons Christus se geboorte vier nie. Die legende van Vader Krismis (Santa Claus / “St. Nicholas”) het egter nie opsigself ‘n demoniese oorsprong nie. Die oorsprong van hierdie legende kan deels teruggevoer word na ‘n sekere vierde eeuse Biskop – St. Nicholas – wat na bewering gereeld vir arm en behoeftige kinders geskenke gaan uitdeel het. Ek dink dat wanneer sommige Christene ‘n demoniese mag aan sekere objekte of verbeeldings-elemente toedig, dit dikwels eintlik ‘n teken van bygelowigheid is en daarom ‘n subtiele ontkenning van God se oppergesag. Natuurlik moet ons nie demoniese invloede ontken of onderskat nie. Maar een van die baie belangrike maniere waarop ons sulke invloede, asook die “klein wêreldse insprake” waarvan jy praat, kan en moet teenstaan, is deur ons Gees-geleide en geestelik volwasse verstande te gebruik (wat deur die Woord gevoed is), en nie deur byvoorbeeld te dink dat ons eerder nie Kersbome in ons huise of kabouters in ons tuine moet hê nie.

Die feit dat God en Sy gebooie nie meer in ons wêreld welkom is nie, behoort ons ook nie regtig te verbaas nie. Dit was nog nooit werklik welkom nie. Christene in Suid-Afrika het vir ‘n tyd lank in ‘n beskermende kokon geleef waar hulle dit as vanselfsprekend begin aanvaar het dat skool, kerk en regering almal sogenaamde Christelike waardes en leer aangehang het. In die proses het Christene verleer wat dit beteken om in die wêreld, maar nie van die wêreld te wees. So het baie kerke in Suid-Afrika na 1994 ook begin leeg loop omdat mense skielik uitgedaag is oor wat hulle werklik glo en hulle moes agterkom dat hulle nie daaroor verantwoording kon doen nie. Hulle kon skielik nie meer gerieflik vashou aan die rokspante van ‘n sogenaamde Christelike samelewing nie.

Gelukkig is daar baie Christene wat nou weer erns begin maak met wat hulle glo en hoekom hulle dit glo. Ons moet mekaar ook aanmoedig om weer te leer wat dit beteken om geroepe te wees om sout en lig in ‘n donker en dorre wêreld te wees en nie bloot daaruit wil onttrek omdat ons bang is dat ons en ons kinders die nou paadjie sal byster raak nie. Dit is veral hier waar onderskeidingsvermoë en deurdagte optrede so ‘n belangrike rol speel.

Dit is my gebed dat die Here ons sal leiding en krag gee om innemende en invloedryke getuies vir Christus te wees daar waar ons woon en werk, selfs al verwerp mense uiteindelik Sy boodskap.

Dankie weer eens vir jou kommentaar, ek waardeer dit.

Udo

Leave a Reply

*