My plek in die Reënboognasie?

(Brief 1)

Hi Eerstens, julle site lyk baie nice- ek het al klaar ‘n paar vrae gesien wat ek sal gaan oplees by Winkelsmidt. Thanks! Nou vir die vraag: Wat het God te sê oor die hele lelike wit-en-swart gemorsspul wat huidig in die land aan die gang is? Die enigste manier om my vraag te beskryf is deur nog vrae te vra: dit sal julle darem ‘n idee kan gee van wat in my kop aangaan, obviously sal ‘n antwoord op die bogenoemde vraag waardeer word – en ja, ek besef dit sal ‘n opinie wees, maar in hierdie stilte sal enigeiets waardeer word. Ek het nogal gaan soek vir antwoorde, maar almal bly stil en ek kry nie ‘n antwoord op hierdie vraag nie: dis asof mense of te bang is om te vra, of te bang is om te antwoord. Die media is gou om aan te hits, maar stadig om regte leiding te gee. Moet ek landuit vlug? Moet ek myself bewapen? Moet ek my saam met die meerderheid Pretoriase witmense skaar (met wie se skokkend rassistiese opinies ek nie regtig saamstem nie) ? Staan ek by die mense in my selgroep (met wie se skokkend rassistiese opinies ek nie regtig saamstem nie)? Maak ek vrede dat ek met ‘n wit vel, as vrou, maar verdoemd is in Suid Afrika? Moet ek bid en hoop God hoor my gebed? Wat van die swart vrou wat glo wat Malema aanbeveel en saans bid dat God haar en haar familie sal help om die wittes uit te wis? By wie skaar God hom? Waar staan my kerk? Hoe kan ek uitvind? Julle het my simpatie met die vraag- jammer, maar ek wil graag weet. Ek hoop ek kry ‘n antwoord terug… Groete Winkelsmidt

 

Beste Winkelsmidt

Dankie vir jou kompliment oor ons webwerf. Daar is soveel wat ons nog wil doen en byvoeg, maar dikwels so min tyd. Geen simpatie is nodig met jou vraag nie – ek dink dit is ’n baie belangrike en relevante vraag, en beslis nie iets wat veral Suid-Afrikaanse Christene kan bekostig om voor te koes nie. So ek antwoord dit graag (‘n persoonlike vraag verdien altyd ‘n tydige antwoord – so dankie, jy dwing my nou bietjie om hierdie belangrike saak aan te spreek!)

Natuurlik is my denke hieroor my eie opinie, maar terselfdertyd is ek as Christen verbind tot God se ‘opinie’ oor dinge en glo ek dat God sy opinie oor dinge deur die Bybel aan ons kommunikeer. Dit veronderstel egter dat ek as Christen moeite sal doen om die Bybel noukeurig en verantwoordelik te bestudeer om te verstaan wat God werklik sê.

Ek glo verder dat as ons erns maak met ons verhouding met God (of ons soeke na Hom) dan word die Bybel nie net iets wat ons inlig nie, maar ook iets wat God gebruik om ons denke en ons lewens te verander. Goed, dit net so iets oor my vertrekpunte.

Maar terug by jou vraag: Wat het God te sê oor die verhouding tussen mense?

Ek weet dit was nie presies jou vraag nie, maar hierdie is ‘n belangrike beginpunt. Vóórdat ons kom by die spesifieke situasie in ons land en hoe God van ons verwag om daarin op te tree, moet ons eers vir ‘n oomblik stilstaan by wat God te sê het oor die verhouding tussen mense – mense wat almal verskillend is. Die feit dat mense verskillend is, is eintlik ‘n gegewe en nie opsigself noemenswaardig nie. Geen twee mense is dieselfde nie en partykeer is mense só verskillend dat dit baie interessant is om die verskille met mekaar te vergelyk. In daardie hierdie opsig is alle mense wel uniek. Maar beteken dit dat omdat daar sekere verskille is, of omdat sekere mense eienskappe het wat anders is as ander s’n, hulle daarom meer of minder waardevol is as ander? En as alle mense dan wel ewe waardevol is (omdat alle mense na God se beeld geskape is) sê dit dan nie iets oor hoe mense mekaar behoort te hanteer nie?

‘n Mens kan die vraag op ‘n magdom verskillende variasies vra: Wat sê God oor die verhouding tussen mense van verskillende… …ouderdomme, geslag, kulture, intelligensie, ekonomiese agtergronde, lande van oorsprong, opvoedingsvlakke, fisiese vermoëns, lengte, breedte, haarkleur, oogkleur of velkleur?

Hier is die belangrike vraag: Is daar enige aanduiding in Jesus se woorde in Matteus 22:37-40 dat Christene ‘n onderskeid volgens enige van hierdie verskille (en daar is talle meer) behoort, mag of kan maak oor wie ons naaste is of vir wie ons lief moet wees? (Sien ook Gal 3:26-29) Die meeste mense sal natuurlik saamstem dat ‘n mens jou naaste moet liefhê en dat alle mense ons naaste is. Tog wil baie mense dan dikwels byvoeg dat elke mens darem die reg het om te kies met wie hulle wil assosieer. En natuurlik het alle mense so ‘n reg; niemand kan jou byvoorbeeld dwing om met enige iemand vriende te wees nie. Die feit is dat iemand wat nodig het om sy verstaan van naasteliefde op so ‘n wyse te kwalifiseer deur die vanselfsprekende te sê, eintlik te veel gesê het. Dit verraai dikwels ‘n gesindheid wat lippediens doen aan die idee van Christelike naasteliefde, maar wat byvoorbeeld geen probleem het met die ou “onskuldige” grappietjie om die braaivleisvuur wat ander se menswaardigheid in beginsel aantas bloot omdat hulle ‘n ander velkleur het nie.

Iemand wat sy naaste liefhet (en nie net glo aan die idee van naasteliefde nie) is na my mening iemand met die begeerte en vermoë om regtig te kan belangstel in ander mense en betrokke is by daardie mense, maak nie saak wie hulle is nie. Dis iemand vir wie veralgemenings, stereotipes en goedkoop etikette geen waarde het nie. Dis iemand wat ander se karakter kan beoordeel volgens wat hulle doen en sê, maar nooit volgens hoe hulle lyk, wie hulle is, wat hulle het, of waar hulle vandaan kom nie. In effek is dit iemand wat Christus se voorbeeld navolg.

Maar hier is nou die moeilike vraag: Hoe volg ons Christus se voorbeeld na in ‘n land waar dinge soos misdaad en werkloosheid hoogty vier. Ek dink dis belangrik om die rassistiese element hier in perspektief te plaas (Malema ten spyt) en nie te dink dat dit die wortel is van ons land se probleme nie. Alle dele van die Suid-Afrikaanse samelewingsgroepering gaan met misdaad en werkloosheid gepaard en dis nie net wit Suid-Afrikaners wat met die probleme in ons land gekonfronteer word nie. Tog dink ek dat Christene ‘n baie spesifieke taak het in hierdie land, maak nie saak wie hulle is nie:

  • Ons moet in afhanklikheid van die Here leef, maar dis ‘n verhouding waarin ons staan en waaruit ons leiding en krag ontvang en nie ‘n waarborg dat ons nooit sal swaarkry nie. Dit beteken ook dat ons ons nie deur die media laat aanhits of opsweep nie – maar dat ons optree volgens God se doel vir ons lewens, ten spyte van ons omstandighede.
  • Ons moet persoonlike integriteit nastreef waar ons werk en waar ons leef; ons is geroep om sout en lig te wees daar waar ons is, ons behoort ‘n positiewe impak te hê, maak nie saak wat ons omstandighede is nie. Hierdie roeping beteken dat ons daar sal wees waar mense genesing nodig het, waar ons persepsies kan help verander en waar ons ander kan aanmoedig om groter vertroue in mekaar te hê. Nee, ek dink nie om land uit te vlug is ‘n oplossing nie, tensy ‘n mens weet dat die Here jou spesifiek êrens heen roep.
  • Ons moet aanhou om by ons land se regering te pleit vir die aanspreek van korrupsie en die onaanvaarbare vlak van misdaad en nie maar net voel alles is hopeloos nie. Ons sal egter self ook pogings moet aanwend om veilige omgewings te skep – nie deur as wit, Afrikaans sprekende mense bymekaar te skaar nie, maar om as mense van ‘n bepaalde gemeenskap bymekaar te staan en  proaktief op te tree (nee, ek dink ook nie self-bewapening is die oplossing nie, alhoewel georganiseerde polisiëring onvermydelik is).

Ons as volgelinge van Jesus is God se kerk. Ons moet ‘n boodskap van hoop en liefde uitdra en mekaar aanmoedig om dit te doen. Daar is nie tyd vir negatiwiteit, self-bejammering of laer-trek nie. En ja, ons gaan soms baie swaar kry. Tog word ons geroep om getrou te wees. Laat weet gerus weer van jou, Winkelsmidt.

Groete

Udo

(Brief 2)

Hi Udo Hoop dit gaan goed met jou. Wil by jou hoor of jy enige inligting oor die Suidlanders het. ‘n Vriendin van my het eenkeer gevra dat ons ernstig moet bid vir SA. Sy het later ‘n brief en DVD’s in my hand gestop en gevra ek moet dit kyk daarna en my opinie lig.  Ek het dit net begin kyk, maar het onmiddellik ‘n politiese ondertoon opgetel – ‘n verregse streep wat my glad nie aanstaan nie. Wou toe sommer net julle opinie ook hoor, sodat ek met meer as net my opinie na die vriendin kan teruggaan om lig op die onderwerp te plaas. Dankie vir jou insette. Groete en lekker naweek vir jou. Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Dit gaan goed, dankie. Hoop met jou ook! Oor die Suidlanders. Ai tog. Verregse politiek is onverantwoordelik, alarmisties en ‘n hindernis vir ‘n Suid Afrikaanse samelewing wat strewe na eenheid en genesing van die verlede. Ek het nie nodig om veel meer as ‘n google soektog te doen om te weet dat ek niks daarmee te doen wil hê nie.

Hier is my opinie oor hoe ons behoort op te tree in Suid-Afrika waar armoede, misdaad en korrupsie groot en destruktiewe faktore is: Ek dink dis baie nodig om te bid en die Here te vra dat Hy daadwerklik sal ingryp. Maar ons moet begin deur te vra dat die Heilige Gees met ons (almal wat Christus se naam bely) sal begin en ons harte sal verander en omvorm na Sy wil. Want dit is bitterlik nodig dat Christene al meer die vrug sal begin dra van selfopofferende liefde, vergewingsgesindheid en hartlike belangsteling (en nie net lippediens nie) in mense van ander kulture en agtergronde. Terselfdertyd het ons nodig om vreesloos op te staan en uitgesproke te wees oor waar ongeregtigheid hoogty vier (op watter vlak van die samelewing ook al), maar ons moet sake aanspreek met ‘n gesindheid wat eenheid en die bevordering van ALLE mense se belange in Suid-Afrika nastreef.

Laastens moet ons bly glo en hoop – op die Here vertrou dat Hy ons (as Christene) wil gebruik om genesing en hoop in hierdie land te bring. As bogenoemde die Suidlanders se agenda is, dan sal ek dit ten volle ondersteun. Maar ek dink nie dit is nie. My opinie is dat bewegings soos die Suidlanders haat, agterdog en vrees versprei. Dit is die teenoorgestelde van die liefde, hoop en geloof waarvan ek in die Bybel lees.

Baie groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*