Onderskeiding en die ‘Word of Faith’-beweging

Hi Udo

Ek het jou raad nodig. Jy ken seker die Word of Faith teaching en die verband tussen dit en die “Name it and Claim it” en die “prosperity teachings”.

Kom ek begin voor, ons het nou ‘n gebedsgroepie by die werk begin. Die een ou het sommer besluit ons moet Joel Osteen se “Your Best Life Now: Seven Steps to Living at your Full Potential” gebruik as dagstukkie goed. Alles klink vir die ander mense baie nice, want dit gaan aanvanklik oor hoe jy kan groei in God en God jou help om beter te bereik. Maar dis allerhande “Word of Faith teaching”, goed van “Positive Thinking” en goed waar jy voor die spieël staan ens. (Sien bv. wat Hank Hanegraaf se site oor die boek te sê het in die artikel wat ek aangeheg het.) Ek was voorheen ook in ‘n kerk wat sulke tipe goed aangehang het, en ek is bitter bly ek het daaruit gekom, die lering is verkeerd en bring mense net by die liefde vir geld uit en op die ou end by teaching soos “Name it and Claim it” en die “prosperity teachings”. Ek het mooi probeer praat met die ou daaroor maar hy is so verblind. Hy is ook maar nog ‘n redelike jong Christen, en ek weet ook hoe ek was toe ek in ‘n kerk was wat sulke goed aangehang het. Mense wat daarteen gepraat het was net weird en wou net nie dit wat God vir hulle het, aanvaar nie.

Ek sit nou met die dilemma, ek wil graag die eenheid behou maar aan die anderkant voel ek nie gerus om week na week daar te sit en deur die hele boek saam met hulle te werk nie. Ek voel natuurlik as hy ‘n volwasse Christen was dan sou hy die boek laat gaan het omdat dit ‘n ander Christen gepla het. Ek kan aanvaar dat hy nog nie die volwassenheid het wat daarmee saamgaan om dit te kan doen nie. Wat maak ek in die situasie? Hy sê die outeur van die artikel interpreteer die Bybel nie reg nie, waarop ek toe vir hom gesê het die Bybel moet nie geïnterpreteer word waar dit letterlik gelees moet word nie. Ongelukkig vrees ek dat van die sieninge en leringe by sy kerk baie verkeerd is, van die goed wat hy vir my op mail gestuur het maak my baie bekommerd.

Ek sal jou insigte baie waardeer.

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Ja-nee, dit is voorwaar ‘n netelige situasie waarin jy jou bevind. Vanuit my perspektief as buitestander is daar basies twee opsies. Ek gaan noem wat elke opsie is en dan verduidelik wat die voor en nadele daaraan verbonde is, sodat jy dan self saam met die Here kan worstel oor wat Hy wil hê jy moet doen (miskien is daar ook ander opsies):

Opsie A: Vra vir die lede van jou gebedsgroepie dat hulle jou tydelik (solank as wat hulle met die boek besig is) van die groepie sal verskoon. Noem pertinent dat jy baie graag weer sal wil deel wees van die groep as hulle met die boek klaar is. Verduidelik eenvoudig net aan die groep dat jy in jou gemoed (deur die Heilige Gees?) oortuig is dat wat Joel Osteen vir mense leer nie skrifgetrou is nie (jy kan spesifiek noem dat wat hy leer baie verband hou met die Word of Faith Movement en dat jy dink dat die Word of Faith Movement baie dwaalleer [heresy] verkondig). Wat hier belangrik is, is om nie in die groep verder uit te brei oor die details van wat Osteen of die Word of Faith Movement leer nie. Dit verhoed dat mense jou as alarmisties beskou of dink dat jy verdeeldheid wil bring. Sê eerder dat as mense jou opinie oor hierdie dinge wil hoor, hulle jou asseblief later individueel daaroor moet vra. Jy moet egter dan gereed wees om wanneer hulle later na jou terugkom, mooi te verduidelik hoekom jy glo wat jy glo en gereed wees om hulle met relevante materiaal (soos o.a. die artikel wat jy vir my gestuur het) in te lig. (Ek sal ook vir jou probeer uitvind oor watter boeke jy kan aanbeveel wat die onderwerp toelig).

  • Voordele: Deur op hierdie diskrete manier te vra om tydelik van die groep verskoon te word, doen jy twee baie belangrige dinge. Eerstens wys jy aan ander gelowiges dat jy erns maak met wat jy glo en dat ‘n Christen onderskeiding (discernment) aan die dag moet kan lê. Terselfdertyd wys jy dat jy nie bloot alarmisties wil wees of eenheid wil bedreig nie, omdat jy ander se keuse om met die boek voort te gaan, respekteer. Tweedens maak jy ander in die groep bewus van die feit dat hulle dalk self die saak moet ondersoek. Hierdie is iets wat jy ongelukkig nie op iemand kan af forseer nie, maar waar jy die Here sal moet vertrou dat hy mense sal oortuig van wat waar is.
  • Nadele: Die nadeel met hierdie benadering is dat jy gaan moet wag dat mense na jou toe kom om hulle in te lig oor bepaalde dinge (soos ek gesê het kan ‘n mens iemand nie forseer om enige saak dieper te ondersoek nie), maar nie almal gaan dit noodwendig doen nie en hulle word dus aan potensieel gevaarlike dwaalleer blootgestel. Hier moet jy daarom die Here vertrou vir wat Hy in mense se lewens doen.

Opsie B: Die volgende benadering is een waarin jy nie uit die groep onttrek nie, maar doelbewus in die groep aanbly sodat jy stelselmatig enige verkeerde hantering van die skrif kan uitwys. Hierdie benadering verg egter baie wysheid en takt omdat jy weer eens nie alarmisties wil voorkom deur die duiwel om elke hoek en draai te soek nie. Die basiese strategie is om dit wat daar in ‘n spesifieke dag se dagstukkie gesê word, krities te evalueer. Die vangplek is egter dat daar konsensus in die groep moet wees dat enige persoon toegelaat sal word om te sê waarmee hy saamstem, maar ook waarmee hy nie saamstem nie. Eintlik is dit iets wat vanselfsprekend so behoort te wees, maar dit sal goed wees as die groep doelbewus hieroor ooreen kan kom. (Indien daar nie so ‘n konsensus is nie, dan is dit in elk geval nie ‘n byeenkoms waaraan ‘n Christen kan deelneem nie, want daar is genoeg in die Skrif wat Christene vermaan om gesteld te wees op gesonde leer (sien Hand 17:11, Rom 16:17, 1 Kor 14:26, Ef 4:14  1 Tim 1 :3-6, 1 Tim 4:16, 1 Tim 6:3-5, 2 Tim 3:6, Tit 1:9-13, 1 Joh 4:1,6, 2 Joh 1:9-11). Dit is egter baie belangrik om te weet waar die fokus van so ‘n evaluasie behoort te wees. Die fokus van so ‘n evaluering moet spesifiek net wees op wat in die dagstukkie gesê word en moenie gaan oor wie Joel Osteen of die Word of Faith Movement is nie. Hierdie fokus is baie belangrik, omdat mense andersins baie maklik kan voel dat jy bloot besig is met ‘n verdagmakery teen persone en kerklike bewegings, eerder as dat jy die meriete van ‘n spesifieke saak in die lig van die Skrif probeer beoordeel. Indien jy dit reg hanteer sal mense later self begin gevolgtrekkings maak oor hoe sekere mense en kerklike bewegings die Skrif hanteer.

  • Voordele: Met hierdie benadering het ‘n mens die geleentheid om direk insae te gee oor waar bepaalde gedagtes afwyk van dit wat die Bybel leer. As dit met wysheid en sensitiwiteit gedoen word, kan dit ‘n baie positiewe bydrae wees, selfs al stem jy nie met die meeste dinge in die boek wat behandel word saam nie. Dit sou byvoorbeeld goed wees om altyd eers na iets te soek waarmee jy moontlik kan saamstem voordat jy die dinge noem waaroor jy jou bedenkinge het. ‘n Betrokkenheid by iets waar die dwaalleer nie noodwendig so voor die handliggend is nie, is dan weliswaar nie vir jou persoonlik tot geestelike verryking nie, maar jou teenwoordigheid en insae kan beslis ‘n invloed op iemand anders se denke hê.
  • Nadele: Hierdie benadering verg baie tyd en toegewydheid, en moet met groot wysheid, takt en voorbidding hanteer word. Dit is byvoorbeeld essensieel om ‘n betrokke dagstukkie voor die tyd onder oë te hê sodat jy deeglike voorbereiding kan doen. In effek beteken dit dat jy ekstra en kosbare tyd aan iets gaan spandeer wat jy grootliks as dwaling en destruktief beskou. As jy dit egter sien as ‘n geleentheid om ander te bedien met die waarheid van die Skrif, dan is dit natuurlik tyd wat goed benut word (en waar jyself opgeskerp gaan word). Verder is daar wel die moontlikheid dat iemand in die groep beswaar kan aanteken omdat jy sy gunsteling outeur of spreker se woorde so dikwels bevraagteken – en dit mag spanning veroorsaak. Ek is egter oortuig dat as jy jou voorbereiding deeglik gedoen het en jy jou standpunte uit die skrif kan motiveer en as jy in liefde en vriendelikheid met ander praat, dan is daar wel geleenthede vir ander (selfs ook jong en onkundige Christene) om tot beter insigte te kom. Die Heilige Gees werk natuurlik met almal: diegene wat erns maak met die Bybel en hul verhouding met die Here, sal die waarheid herken; die wat egter Gees se leiding teenstaan, sal langs die pad moeg word en uitsak.

Winkelsmidt, ek weet regtig nie watter een van hierdie twee opsies jy in jou spesifieke situasie moet probeer nastreef nie en miskien is daar nog ander opsies wat beter sal wees. Vra dus maar self vir die Here waarvoor Hy jou roep. Bogenoemde behoort darem vir jou as goeie riglyn te dien.

Laat weet gerus wat jy besluit het en as daar nog iets spesifieks is waarmee ek kan help.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.