Paternalisme en debatvoering

Hallo Udo

Verwyder my asb. van AntWoord se epos-verspreidingslys.  Ek beskou dit nie as gemorspos nie, maar ek stel glad nie belang in die inhoud daarvan, of van debat, of die toon van debat nie.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ons doel is om veral Christene te help om sinvol oor aspekte van hulle geloof na te dink. Baie mense beskou die Christelike geloof as irrelevant en irrasioneel. Ons probeer op ‘n rasionele manier te wys dat dit nie so is nie en dat dit waarskynlik die mees haalbare wêreldbeskouing is. Natuurlik is die klem op ʼn persoonlike verhouding met God deur Christus en dit is dan ook uiteindelik waartoe ons mense wil help.

Ter wille van duidelikheid sou ek dit nogal waardeer as jy kortliks wil verduidelik hoekom jy dink so iets nie belangrik is nie. Dit help om te verstaan waar mense vandaan kom, want in die proses leer ons om ander beter tot hulp te wees.

Ek verwyder jou naam intussen van ons poslys.

Goeie wense

Udo

 

Udo,

Debat vind nie plaas wanneer een van die partye die ander “help” nie.  “Hulp” is selde isoleerbaar selfs van ‘n sweempie paternalisme. Wanneer die betrokke partye mekaar egter werklik as gelyk sien (dus wedersyds beïnvloedbaar is) dan onstaan debat.

Net ‘n laaste gedagte, soos die groot filosowe, wetenskaplik en ander, van die twintigste eeu aangetoon het, rasionaliteit is ook ‘n persepsie.

Groete

Winkelsmidt

 

Winkelsmidt,

Sommige (!) groot filosowe, wetenskaplik en ander (soos jy?), beweer dat rasionaliteit ‘n persepsie is. Ek neem egter aan dat so ʼn bewering darem seker bedoel is as ʼn rasionele opmerking, nie waar nie? Of is dit ook net ‘n persepsie?

Ek dink nie dis regtig paternalisties om iemand anders te wil ‘help’ nie. Sou jy werklik sê dat almal wat jou al probeer ‘help’ het omdat hulle meer en beter geweet het as jy, paternalisties teenoor jou opgetree het? Waarskynlik nie. Maar ek verstaan jou eintlike beswaar lê juis hier: hoe kan enigiemand dink dat hulle meer en beter weet as ander oor byvoorbeeld ‘n saak soos wie God is. Om dit te dink is mos arrogant, om dit te sê is mos onverdraagsaam en om ander daarvan te probeer oortuig is mos paternalisties! Of is dit?

Dis egter juis omdat twee of meer partye van mekaar verskil en elkeen dink dat hy reg is dat daar geleentheid vir debat of gesprekvoering ontstaan. Wat is arrogant of onverdraagsaam daaromtrent vir een persoon om te dink dat hy reg is en dat ander verkeerd is? Absoluut niks. ‘n Mens het dan juis debat of gesprekvoering om die gronde vir sulke aansprake aan openbare ondersoek te onderwerp! En in die proses is jy tog besig om ander te ‘help’ om insig te kry in hoekom jy dink dat jy reg is (soos wat jy ook waarskynlik probeer doen het in jou brief aan my!) Die belangrike punt is egter nie dat dit gaan oor wie nou eintlik reg en wie verkeerd is nie. Dit gaan tog daaroor om te wil ontdek wat waar is.

Wat wel arrogant en onverdraagsaam is, is om te dink dat niemand van jou mag verskil nie, dat almal daarom moet dink soos jy doen, of om teen ander te diskrimineer net omdat hulle van jou verskil. Paternalisme is dus om aan ander voor te skryf, sonder om enige debat of gesprekvoering toe te laat.

Ek dink nogal ek streef daarna om diegene met wie ek in gesprek of debat tree, as my gelykes te hanteer. As iemand my paternalisties beleef (en ek mag dit wel in onbewaakte oomblikke wees), dan verwag ek dat hulle my daarop sal wys. Weer eens moet ek dit egter beklemtoon dat om iemand as gelyke te beskou, nie beteken dat ek hulle idees sondermeer hoef te aanvaar nie. Ek kan byvoorbeeld respek hê vir die feit dat jy bepaalde idees het en dat jy dit mag huldig, maar jou idees is nie noodwendig geldig nie. Dis nie paternalisties om te dink (of te sê) dat jou idees verkeerd is en dan te wys hoekom ek so dink nie. Alle idees dra tog nie gelyke waarde nie. Party is waar en ander is vals. En debat of gesprekvoering kan ‘n mens help in die proses om waarheid van valsheid te onderskei.

Ek dink die Christelike geloof is waar en ons by AntWoord wend rasionaliteit aan om te verduidelik hoekom ons so dink. As ons ander nooi om saam met ons daaroor na te dink en hulle in die proses wil ‘help’ om dit te verstaan, het dit werklik niks te doen met paternalisme, arrogansie of onverdraagsaamheid nie.

Goeie wense

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.