Philip Pullman en ‘The Golden Compass’

‘n Skietlig op “His dark materials

deur Phillip Scheepers

So waaroor gaan al die bohaai nou eintlik!? Elkeen van ons is sekerlik bewus van die omstredenheid rondom “The Golden Compass”.  Die vraag is egter of ons werklik daaroor bekommerd moet wees, en of dit maar net nog ‘n storm in ‘n teekoppie is? Die kort antwoord is dat ons inderdaad daaroor bekommerd moet wees en dat ons as gelowiges deeglik met die kwessies wat daarin geopper word in gesprek sal moet gaan oor die volgende paar weke.  Die hoofkarakters maak nou wel nie vir God dood soos wat in die talle e-posse beweer word nie, die hele reeks waarvan The Golden Compass deel is, kommunikeer egter ‘n wêreldbeeld wat homself direk teen ‘n Bybelse uitkyk op die wêreld en werklikheid opstel.  Hierdie feit is geen toeval nie, die skrywer Philip Pullman het reeds in verskeie onderhoude gesê dat deel van sy doel met die skryf van die boeke was om (veral) jongmense te oortuig om geloof in God af te sweer.  As gelowiges moet ons, in lyn met 1 Petrus 3:15, gereed wees met ‘n antwoord op The Golden Compass en sy opvolgers.

My doel met hierdie artikel is om die wêreldbeeld wat onderliggend tot Pullman se boeke is te analiseer.  Ek het met die lees van die boeke die hele tyd die vraag gevra “Hoe wil Pullman hê ek moet oor die wêreld dink as ek hierdie boeke neergesit het?” Voordat ek egter my antwoorde op hierdie vraag gee is dit dalk goed om net eers Pullman se trilogie kortliks op te som.

His dark materials” (die ‘versamelnaam’ van Pullman se trilogie) vertel die verhaal van Lyra (‘n twaalfjare meisie uit ‘n wêreld anders as ons eie) en Will (bietjie ouer as Lyra, uit ons eie wêreld).  Hulle word ingetrek in die stryd tussen die volgelinge van die “Authority” (‘n engel wat beweer dat hy God is) en dié wat teen hom gerebelleer het.  Die eerste boek (Northern Lights) fokus op Lyra en hoe sy met die hulp van ‘n instrument (‘n alethiometer, die ‘Golden Compass’ van die fliek se titel) en ‘n hele klomp fantastiese karakters (van gepantserde ysbere tot oorlogslustige hekse) probeer om kinders wat deur ‘n agentskap van die kerk ontvoer is, en op wie gruwelike eksperimente uitgevoer word,  te red.  Dit eindig in die verre Noorde van Lyra se wêreld met haar pa wat ‘n brug na ‘n ander wêreld slaan en sy gaan agterna in daardie wêreld in.  In die tweede boek ontmoet ons vir Will, die tweede hoofkarakter.  In die proses van wegvlug van ‘n paar mans wat desperaat op soek is na sy vermiste pa kom hy af op ‘n venster na ‘n ander wêreld.  In hierdie wêreld ontmoet hy vir Lyra en bekom hy ook ‘n mes (die ‘Subtle Knife’ van die boek se titel) wat vensters tussen verskillende wêrelde kan oopmaak.  Baie ander mense en groepe is desperaat na die mes, en na Lyra se alethiometer en hulle moet tussen wêrelde vlug om te probeer verhoed dat hulle gevang word.  Die derde boek is die langste en in ‘n sekere sin ook die mees komplekse van die drie.  Hierin leer ons vir Dr. Mary Malone beter ken (hoewel sy reeds in die tweede boek haar verskyning gemaak het). Sy het in Oxford eksperimente gedoen op wat in die boek “dust” genoem word.  Dit is partikels wat aan elke mens, veral volwassenes vasklou en wat te doen het met bewussyn (consciousness).  Die kerk assosieer “dust” met erfsonde. Sy ontwikkel, nadat sy na ‘n ander wêreld moes vlug omdat haar navorsing onwelkome aandag getrek het, ‘n manier om die “Dust” te kan sien (die ‘Amber Spyglass’ van die boek se titel). Terselftertyd neem Lyra en Will se reis hulle deur die onderwêreld waar hulle die dooies bevry om weer in die heelal opgelos te word.  Intussen woed die stryd tussen die “Authority” en die rebelle voort met die kerk wat vir Lyra probeer doodmaak omdat hulle glo dat sy ‘n volgende Eva sal wees en dat daar nie weer ‘n sondeval sal plaasvind as sy uit die weg geruim kan word nie.  Aan die ander kant probeer die rebelle (gelei deur Lyra se vervreemde pa, Lord Asriel) desperaat om te keer dat sy gevind word.  Soos wat die stryd tussen die magte voortduur word verduidelik dat die “Authority” die eerste engel was wat bestaan het en wat toe dié wat na hom gekom het oortuig het dat hy hulle skepper was.  Die wat deur hierdie leuen gesien het, het gerebelleer.  Die werklike gesag lê egter nou by sy regent wat uiteindelik deur Lyra se pa en ma verslaan word.  Die “Authority” sterf ook uiteindelik van ouderdom.  Will en Lyra is by toe hy gesterf het maar het hom nie doodgemaak nie.  Die boek eindig met Will en Lyra wat deur omstandighede gedwing word om na hulle onderskeie wêrelde terug te keer en met die vensters tussen die wêrelde wat permanent toegemaak word.

My opsomming klink dalk so bietjie droog maar die boeke is werklik uitstekend geskryf en Pullman is duidelik ‘n meester van sy kuns.  Ekself (wat nie normaalweg ‘n groot leser van fantasie verhale is nie) kon baie maklik raaksien hoekom miljoene tieners (en ook volwassenes) sy boeke verslind.  Hy het ‘n besondere vermoë om afgeronde karakters te skep (nogal aangehelp deur die feit dat van die karakters se siele in diervorm buite hulle liggame leef) en om dan verder te gaan en sommer ook hele wêrelde te skep waardeur hierdie karakters beweeg.  Hoewel dit dus op een vlak ‘a good read’ is, is die onderliggende boodskap egter allesbehalwe goed of opbouend.  Pullman beoog duidelik niks minder as ‘n totale heroriëntasie van sy leser se diepste geloofsoortuigings nie.  Die vraag is: Wat wil hy hê dat ons sal glo?

Na my lees van die boeke glo ek die antwoorde lê so min of meer op die volgende vlakke:

  • Die heelal bestaan slegs uit materie en as daar dan wel iets is wat spesiaal daaraan is, is dit menslike bewussyn. Bogenoemde is dalk ‘n moeilike konsep om te verduidelik maar dit is ‘n integrale deel van die wêreldbeeld wat in “His dark materials” ‘verkoop’ word.  “Dust” is dwarsdeur die boek teenwoordig.  Aanvanklik word ons vertel dat dit dalk iets met erfsonde te doen het, maar dit word gou duidelik dat hierdie oortuiging maar net ‘n leuen van die kerk is omdat hulle baie bang vir “dust” is.  Dit blyk later dat “dust” ‘n simbool van menslike bewussyn (consciousness) is: “…dust is only a name for what happens when matter begins to understand itself.  Matter loves matter. It seeks to know more about itself, and dust is formed.” (uit The Amber Spyglass) Daar waar daar baie “dust” is, met ander woorde waar mense bewus is van hulle eie onafhanklike bestaan en op kreatiewe maniere probeer om volledig mens te wees, daar het die mens in sy doel geslaag.  Daar is geen hoër doel om na te streef as om jou volle potensiaal as ‘n onafhanklike mens te bereik en om selfinsig na te jaag nie.  “Dust” verteenwoordig dus die humanistiese ‘evangelie’ in ‘n neutedop.
  • Die ‘hier en nou’ is al wat belangrik is. Aan die einde van die boeke moet die twee hoofkarakters met groot hartseer van mekaar afskeid neem.  Dit moet gebeur omdat hulle tot die besef kom dat hulle slegs in hulle eie wêrelde kan oorleef.  Hierdie feit word dan ook bevestig met die vensters tussen die wêrelde wat toegemaak word.  Ek vermoed dat Pullman hierdeur die idee probeer tuisbring dat ons vir die oomblik moet leef en niks anders of niks meer te wagte moet wees nie.  Will (die karakter wat met sy mes maklik tussen wêrelde kon beweeg) breek daarom uiteindelik die mes en neem homself voor om die beste te maak van sy lewe in sy ‘eie wêreld’.  Pullman se boodskap is dus: Moenie wag vir beter dae of vir ‘n ewige paradys nie, maak die beste van wat jy in die hier en nou het.
  • Wanneer iemand sterf is al wat gebeur dat hy opgeneem word in die res van die heelal. Lyra en Will besoek in die laaste boek die doderyk waar elke wese wat op ‘n stadium gesterf het in geestelike vorm voortbestaan.  Dit word geteken as ‘n verskriklike plek waaruit daar geen ontsnapping moontlik is nie.  Dit is nou totdat die twee hoofkarakters daarin slaag om die inwoners van die doderyk te bevry.  Hierdie bevryding word baie duidelik as ‘n stuk ‘verlossing’ gesien.  Die ‘goeie nuus’ is dat elkeen van die inwoners van die doderyk bloot sal ophou bestaan en opgeneem sal word in die groter geheel.  Die ‘bevryding’ van een van die gestorwe karakters, soos hy uit die doderyk uitstap, word as volg beskryf: “He took a step forward…and laughed in surprise as he found himself turning into the night, the starlight, the air…and then he was gone, leaving behind such a vivid little burst of happiness that Will was reminded of the bubbles in a glass of champagne.” (uit The Amber Spyglass)  Die punt wat Pullman hiermee probeer maak is baie duidelik en is maar net ‘n kunstige verwerking van die klassieke humanistiese oortuiging dat ons met die dood bloot ophou om te bestaan, niks meer en niks minder nie.
  • Die mens self is die hoogste gesag en etiek en moraliteit kan slegs bepaal word deur ons eie keuses. Dr. Mary Malone verduidelik in die laaste boek redelik uitgebreid hoekom sy opgehou het om ‘n non te wees en ek ook terselfdertyd die Christelike geloof later afgesweer het (meer hieroor later).  Een van die vrae wat Lyra hierop vra is of sy dus ook opgehou het om in goed en kwaad te glo.  Sy antwoord as volg: “No. But I stopped believing that there was a power of evil that were outside us. And I came to believe that good and evil are names for what people do, not for what they are. All we can say is that this is a good deed, because it helps someone, or that’s an evil one, because it hurts them.” (uit The Amber Spyglass).  Die mens en sy keuses verteenwoordig dus die hoogste moontlike gesag.  Daar is niemand om vir die karakters in die boek te sê wat om te doen nie.  Hulle moet dus as’t ware na vore tree en hulle werklike posisie as heersers van die heelal kom inneem. Daarom eindig die laaste boek ook met ‘n oproep om weg te beweeg van die konsep van ‘n “Kingdom of heaven” (waar God regeer) en eerder ‘n “Republic of heaven” (waar die mens volkome in beheer is) na te jaag.
  • Seksuele ontwaking bring die mens tot by ‘n baie dieper verstaan van sy eie bewussyn. Dit is dwarsdeur die boek duidelik dat daar ‘n groot verskil tussen volwassenes en kinders is.  Kinders het baie minder “dust” as volwassenes, in die konteks van die boeke beteken dit dat hulle dus ‘n  beperkte selfbewussyn (consciousness) het.  Pullman laat ons in geen twyfel oor hoe die kinders in die boek in ‘n dieper selfbewussyn inbeweeg nie. Vir Will en Lyra gebeur dit op die oomblik toe hulle van vriende in minnaars verander.  Na dit is hulle skielik so oortrek van die ‘dust’ dat: “…they would seem to be made of living gold. They would seem the true image of what human beings always could be, once they had come into their inheritance. The dust pouring down from the stars had found a living home again, and these children-no-longer-children, was the cause of it all.” (uit The Amber Spyglass).  Pullman speel hier met die konsep van die sondeval  en verhef die seksuele tot ‘n amper magiese krag waardeur ons tot ‘n baie dieper verstaan van onsself kan kom.  Lyra en Will ‘val’ dus nie, inteendeel, hulle word vir die eerste keer volledig menslik.

Dit behoort uit bogenoemde baie duidelik te wees dat die sentrale konsepte van “His dark materials” lynreg indruis teen die Christelike geloof.  Dit is dan ook die Christelike geloof wat een van die primêre teikens van die boeke is.  Die boek het dus baie te sê oor God en oor godsdiens, bitter min, indien enige, daarvan positief.
Die kerk word in die boek verteenwoordig deur die Magisterium, ‘n liggaam wat dien as die verteenwoordiger van God (hoewel dit later duidelik word dat daar nie eintlik ‘n God is nie, net ‘n engel, the Authority, wat die ander engele probeer oortuig het dat hy hulle skepper was.  Jy hoef nie lank te lees om raak te sien dat die Magisterium ‘n parodie van die Katolieke Kerk is nie.  Daar is ‘n klomp agentskappe en ordes (soms in stryd met mekaar) wat almal op verskillende maniere probeer om hulle eie agendas in diens van die Authority te bevorder. Protestante moet egter nie dink dat hulle skotvry afkom nie.  Die laaste Pous se naam was John Calvin en tydens sy regering is die basis van die kerk vanaf Rome na Genève verskuif!

In opsomming lyk dit vir my asof Pullman wil hê dat ons die volgende dinge oor God, geloof en die kerk sal glo:

  • God is ‘n skepping van die menslike verbeelding waarvan die tyd uitgedien is. Ek het alreeds kortliks verwys na Pullman se tekening van God in “His dark materials”.  In kort kom dit daarop neer dat daar nie ‘n God is nie, slegs ‘n engel wat homself as God voordoen: “… The Authority, God, The Creator, the Lord, Yahweh, El, Adonai, the Father, the Almighty – these were all names he gave Himself.  He was never the creator. He was an angel like ourselves – the first angel, true, the most powerful, but he was formed of Dust, as we are, and dust is only a name for what happens when matter begins to understand itself.” (uit The Amber Spyglass).  Pullman se punt hier is ‘n kreatiewe verwerking van die ateïstiese oortuiging dat die mens God geskep het en nie andersom nie.  ‘God’ is die gevolg van menslike bewussyn en kan dus baie maklik agterweë gelaat word as ons hom nie meer nodig het nie.  Pullman illustreer hierdie gedagte deur ‘God’ as bitter oud en verswak voor te stel.  Met ander woorde dit is ‘n idee wat dalk op ‘n stadium ‘n bietjie waarde gehad het, maar wat nou eenvoudig uitgedien geraak het.
  • Die kerk bestaan om mense te onderdruk en moet dus met hand en tand beveg word. Een van die karakters (Serafina Pekkala) in die boek antwoord ‘n vraag oor watter kant van die oorlog sy gaan veg deur te verwys na die kerk se vergrype in die verlede en gaan dan voort: “That is, what the church does, and every church is the same: control, obliterate, destroy every good feeling.  So if a war comes, and the church is on one side of it, we must be on the other, no matter what allies we find ourselves bound to.” (uit Northern Lights).  Hierdie aanhaling som baie goed op hoe Pullman oor die kerk voel en hoe die verskillende agentskappe van die kerk in “His dark materials” uitgebeeld word.  Geloof moet, en spesifiek ‘organised religion,’ moet ten alle koste beveg word aangesien dit niks anders as lyding en swaarkry in die wêreld inbring nie.
  • Geloof is bloot ‘n kragtige vorm van misleiding. Een van die donkerste hoofstukke in die boeke is waar Lyra en Will die doderyk besoek.  Daar bied hulle vir dié wat in hierdie vreeslike plek vasgevang is die wonderlike geleentheid om daaruit te ontsnap.  En tog, selfs daar, waar dit veronderstel is om duidelik te wees dat alle praatjies van ‘n ewige lewe na die dood vals was, stel Pullman ons voor aan iemand wat nog steeds verblind is en nie bereid is om die ‘waarheid’ raak te sien nie.  Hy was, in lewe, ‘n monnik en hy reageer soos volg op Lyra se ‘goeie nuus’: “Can’t  you see the truth? This is not a child. This is an agent of the Evil One himself! The world we lived in was a vale of corruption and tears. Nothing there could satisfy us. But the Almighty has granted us this blessed place for all eternity, this paradise, which to the fallen soul seems bleak and barren, but which the eyes of faith see as it is, overflowing with milk and honey and resounding with the sweet hymns of angels. This is heaven, truly! What this evil girl promises is nothing but lies. My companions and I of the true faith will remain here in our blessed paradise, and spend eternity singing the praises of the Almighty, who has given us the judgement to tell the false from the true.” (uit The Amber Spyglass).  Dit lyk asof Pullman hiermee wil beweer dat die ‘misleiding’ van geloof so kragtig is dat sommige mense dit nie eers sal afsweer as die ‘waarheid’ hulle vierkant in die gesig staar nie.
  • Christenskap was van die begin af ‘n ‘tragiese fout’ en mense wat aanhou glo is doodeenvoudig dom. Die mees uitgebreide bespreking van geloof, en hoekom dit verwerplik is, word deur Pullman in die mond van Dr. Mary Malone geplaas.  Sy is ‘n fisikus wat eers ‘n non was, sy vertel aan die einde van The Amber Spyglass in redelike detail hoekom sy haar rug op die klooster en die geloof gekeer het.  Sy som haar besluit met die volgende woorde op: “The Christian religion is a powerful and convincing mistake, that’s all.” (The Amber Spyglass). Om te begin glo is ‘n fout, om aan te hou glo is veel erger want dan ignoreer jy alle pogings om jou die ‘lig’ te laat sien.  Soos ‘n ander karakter (een van die leiers van die rebellie) sê: “…all the history of human life has been a struggle between wisdom and stupidity. She and the rebel angels, the followers of wisdom, have always tried to open minds; the authority and his churches have always tried to keep them closed.” (uit The Amber Spyglass).
  • Gelowiges benadeel hulleself deurdat hulle hulle eie begeertes en instinkte onderdruk. Dit is baie interessant om te let op die manier waarop Mary Malone haar wegkeer van die Christelike geloof beskryf.  Die fokus is hoegenaamd nie op teologiese argumente nie, sy fokus eerder op die skielike begeerte om ‘vry te wees’ wat sy eendag ervaar het.  Sy het beleef dat haar geloof sekere dinge in haar onderdruk het, tot sy eendag so bietjie ‘oor die draad’ gekyk het: “I was discovering another side of myself, you know, one that liked the taste of wine and grilled sardines and the feeling of warm air on my skin and the beat of music in the background. I relished it.” (uit The Amber Spyglass).  Mary se navolg van hierdie gevoel van ‘vryheid’ lei uiteindelik daartoe dat sy haar eed as ‘n non verbreek, die kerk verlaat en saam met ‘n man intrek.  Die boodskap kan nie duideliker wees nie: Christene is vasgevang in ‘n sisteem wat hulle onderdruk en hulle van alle lewensvreugde beroof.  Die enigste manier om werklik vry te kom is om eenvoudig jou rug op die geloof te keer en jou eie ding te doen.  Pullman se les is:  Leef jou lewe want jy as mens is soewerein.  Mary beskryf hierdie ‘vryheid’ as volg: “There’s no one to fret, no one to condemn, no one to bless me for being a good girl, no one to punish me for being wicked. Heaven was empty.” (uit The Amber Spyglass).

Dit behoort, uit die voorafgaande, baie duidelik te wees dat “His dark materials” basies al die vernaamste aspekte van ateïsme en die besware van ongelowiges teen die Christelike geloof in verhaalvorm weergee.  Op hierdie manier word miljoene mense wat nooit eers daaraan sal dink om deur iets soos Richard Dawkins se “The God Delusion” te worstel nie, baie direk aan die wêreldbeeld van dié wat God oorbodig verklaar blootgestel.  Dit is om hierdie rede dat Philip Pullman dikwels ‘the pied piper of Atheism’ genoem word.  Deur sy argumente met ‘n suikerlagie van fiksie te bedek lok hy miljoene jongmense om ernstig na te dink oor die verwerping van God en die Christelike geloof.  As Christene moet ons dus “His dark materials” baie ernstig opneem.  Ek wil weer sê daar is niks in hierdie boeke waarvoor ons hoef terug te deins of wat nie geantwoord kan word nie.  Om te staan vir die waarheid beteken, wat my betref, daarom om nie maar net om te draai en weg te stap nie, maar om gereed te wees met antwoorde vir mense soos Pullman.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.