Philip Pullman en ‘The Golden Compass’

Om weg te stap uit die donker

deur Phillip Scheepers

Dit lyk asof Philip Pullman self nie baie seker is oor wat hy met “His dark materials” probeer bereik het nie. Kyk so bietjie na die volgende twee, teenstrydige, aanhalings:

I’ve been surprised by how little criticism I’ve got. Harry Potter’s been taking all the flak. I’m a great fan of J.K. Rowling, but the people – mainly from America’s Bible Belt – who complain that Harry Potter promotes Satanism or witchcraft obviously haven’t got enough in their lives. Meanwhile, I’ve been flying under the radar, saying things that are far more subversive than anything poor old Harry has said. My books are about killing God.” – Philip Pullman in ‘n onderhoud met die Sydney Morning Herald (2003)

I am a storyteller, if I wanted to send a message I would have written a sermon” – Philip Pullman oor die kontroversie rondom “The Golden Compass” (2007)

As jy baie sinies was sou jy seker kon sê dat die tweede aanhaling gelees kan word in die lig daarvan dat die reeks begin het om groot geld te maak, dat hierdie feit effens bedreig is deur die kontroversie daaroor, en dat Pullman ‘n bietjie skadebeheer probeer toepas. Ek dink egter nie dat dit noodwendig die geval is nie. Hierdie twee aanhalings verteenwoordig vir my twee amper teenoorgestelde tendense wat ons in al die boeke kan optel. Die een is dat Pullman duidelik ‘n agenda het om ons van die ‘waarheid’ van ateïsme te probeer oortuig, die ander is dat Pullman doodeenvoudig ‘n goeie storie uitgedink het wat hy vir ons wil vertel. Om hierdie rede lees dele van “His dark materials” inderdaad op sommige plekke soos ‘n preek (bv. waar Mary Malone haar ‘bekering’ tot ongeloof verduidelik) en kan ons baie duidelik die hoofpunte van daardie preek raaksien (sien deel 2 vir ‘n opsomming daarvan). Die interessante is egter dat sekere elemente van die storie wat Pullman wil vertel nie altyd die preek ondersteun of bevestig nie! Die moraliteit wat Pullman verkondig word byvoorbeeld nie noodwendig konsekwent deur sy karakters gevolg nie. Om hierdie rede is dit nogal moeilik om “His dark materials” vanuit ‘n Christelike hoek te bespreek aangesien ‘n mens nie altyd seker is of dit Pullman die militante ateïs of Pullman die storieverteller is wat aan die woord is nie. Ek het egter hieronder my bes probeer om dit wel te bespreek en om van die kwessies uit te lig wat ter sprake is wanneer ons met Pullman se boeke in gesprek gaan. Voordat jy verder lees net gou ‘n paar praktiese sakies:

  • Hierdie artikel moenie gesien word as ‘n algemene bespreking van die probleme met ateïsme nie. Dit is baie spesifiek op “His dark materials” gefokus. Vir ‘n meer algemene bespreking kan jy gerus gaan kyk na my artikels oor Richard Dawkins se boek “The God delusion”.
  • Deel van die antwoord op “His dark materials” is eintlik al reeds in die vorige artikel verskaf toe ek die vernaamste lyne van sy argument teen die Christelike geloof en kerk probeer uitstip het. Dit sal dalk vir jou as denkende Christen goed wees om met jou Bybel in die hand te gaan kyk wat die Woord oor elkeen van daardie kwessies sê, ter wille van spasie kan ek dit nie hier doen nie en probeer ek maar net die vernaamste lyne trek.
  • Twee van Pullman se vernaamste argumente is dat die Christelike kerk ‘n bose instelling is en dat geloof in die hart van ‘n groot klomp van die swaarkry sit. Ek het reeds op ander plekke uitvoerig oor hierdie twee onderwerpe geskryf en gaan dus ‘n bietjie minder aandag daarin in hierdie artikel gee. (Sien Richard Dawkins en The God Delusion – deel 3)

Nou ja, met dit alles gesê, dink ek die volgende is moontlik die hooftrekke van ‘n Christelike antwoord op “His dark materials”:

Christene glo ook nie in die ‘god’ waarin Pullman nie glo nie. Die manier waarop Pullman in “His dark materials” die Authority aan ons voorstel behoort vir ons ‘n baie duidelike idee te gee hoe hy oor God dink. Sy oortuiging hieroor rus skynbaar op twee bene a) Daar is nie ‘n God nie en b) Enigiets of iemand wat voorgee dat hy/sy/dit goddelik is mislei die mensdom. (So is die Authority eintlik niks meer as ‘n engel wat dit reggekry het om van die ander engele te oortuig dat hy hulle skepper was nie.) Hierdie twee bene van Pullman se denke oor God lyk redelik voor die hand liggend en sou seker ook as ‘standaard ateïsme’ gesien kon word. Ek is egter oortuig dat daar iets dieper by Pullman aan die werk is, want hoe meer ek hieroor gedink het, hoe meer het ek oortuig geraak dat hierdie aarts-ateïs tog ‘n godsbeeld het, en dat dit primêr hierdie godsbeeld is waarteen hy in “His dark materials” reageer. Uit die manier waarop Pullman die Authority teken is dit duidelik dat hy as “God” verantwoordelik is vir die grootste deel van die pyn, lyding en swaarkry in die wêrelde wat Pullman vir ons teken. Die kerk as sy agent is ‘n afstootlike liggaam wat mense met alle mag probeer onderdruk en in die Authority se kamp probeer hou. Trouens, al manier waarop die Authority ‘lojaliteit’ by mense kan inspireer is deur te martel, te dreig en te onderdruk. Die rebellie gelei deur Lord Asriel is daarom nie sommer ‘n moedswillige gryp na mag nie, dit is om mense van ‘n baie swaar juk te bevry. In hierdie sin staan Lord Asriel in die tradisie van soveel ander karakters uit die wêreldliteratuur wat veg vir reg en vryheid. Ek vermoed dat Pullman graag sou wou hê dat sy lesers Lord Asriel se stryd in die ‘regte lewe’ op God en die kerk sal toepas. Die probleem is egter dat geen Christen wat Sy Bybel ken die God wat ons aanbid in die Authority sal kan raaksien nie.

Die Authority is dus niks meer as ‘n strooipop wat Pullman met groot vreugde vernietig nie. Die skrywer George MadDonald het egter gesê: “Instead of blaming a person who does not believe in a God, we should ask first is his notion of God is a god that ought to be believed in” Wat die Authority betref is die antwoord op hierdie vraag ‘n duidelike ‘Nee’. Inteendeel, elkeen wat oor die Authority lees kan die rebellie teen hom heelhartig ondersteun. Hierdie feit sê egter vir my niks oor die God van die Bybel of oor Sy karakter nie. Christene aanbid nie ‘n hartelose tiran nie maar ‘n liefdevolle Vader wat met eindelose medelye en geduld ‘n verdwaalde mensdom terugroep na Homself.

Die God wat Christene aanbid het Sy liefde bowenal aan ons geopenbaar in die stuur van Sy Seun Jesus om ter wille van ons die prys vir ons sonde te dra. Dit is daarom baie interessant dat, hoewel die Christelike geloof en kerk duidelik Pullman se primêre teikens is, Jesus byna totaal afwesig in “His dark materials” is. Daar kan seker baie verduidelikings vir hierdie vreemde weglating aangebied word, maar kan dit dalk wees dat Pullman so graag ‘n ‘voëlverskrikker beeld’ van God wil opdis dat hy doelbewus kies om die Een te ignoreer wat God se liefde en genade op die duidelikste moontlike manier demonstreer? In Jesus van Nasaret sien ons nie Een wat die mensdom ten alle koste in kettings wil hou nie maar Een wat in liefde en medelye uitreik na ‘n moeë en oorlaaide mensdom (Matteus 11:28-30). Jesus vertel vir ons van ‘n Vader wat hardloop om ‘n terugkerende rebel te omhels (Lukas 15:11-31). Dis moeilik om jou ‘n prentjie verder verwyder van die karakter van die Authority (wat eerder rebelle met brute geweld sou verwoes) in te dink. Tog verwag Pullman dat mense in die ondergang van die Authority ook die ondergang van die God van die Bybel sal bedink. Persoonlik dink ek hy klop aan die verkeerde deur!

Ons kan die eensaamheid, troosteloosheid en vaderloosheid van ‘n lewe sonder God baie duidelik in “His dark materials” uitgebeeld sien. Indien Philip Pullman probeer het om ons te probeer oortuig dat ateïsme ‘n vervullende en vreugdevolle alternatief op geloof in God is slaag hy beslis nie met “His dark materials” daarin nie! Toegegee, die helde van die boek word geteken as mense met ‘n vasberadenheid om van die wêreld ‘n beter plek te maak. Of dit egter van hulle beter of gelukkiger mense maak is ernstig te betwyfel. Lord Asriel en Marisa Coulter gebruik alles in hulle vermoë (insluitende leuens, bedrog en selfs martelinstrumente) om hulle eie doelwitte te bereik en word aan die einde maar net in ‘niksheid’ opgeneem. Will en Lyra vind wel liefde en aanvaarding bymekaar maar moet die res van hulle dae apart en in verskillende wêrelde deurbring. Selfs Mary Malone wat met soveel selfversekerdheid van haar geloof afstand gedoen het bely dat sy dit ongelooflik mis om te voel dat sy aan die res van die heelal verbind is. Baie van die res van die karakters stap ook maar alleen deur die lewe met slegs hulle daemons (wat eintlik maar deel van hulleself is) vir geselskap en verbind hulleself bloot tydelik aan ander wesens omdat hulle die Authority probeer ontsetel. Ons kry geen aanduiding in die boek oor hoe die veel gewaande “Republic of heaven” hierdie mense op ‘n dieper vlak aan mekaar verbind of hulle lewens beter maak as wat dit was nie.

Hierdie eensaamheid is beswaarlik ‘n goeie advertensie vir ongeloof maar ek glo dat Pullman hierdeur onbewustelik (of dalk heel bewustelik!) ‘n diep waarheid verwoord het, naamlik: In ‘n wêreld sonder God is almal weeskinders. Pullman glo nie in God nie, en die God waarin hy nie glo is definitief nie God die Vader nie. Daarom is die hele konsep van die liefdevolle versorging van ‘n vader afwesig uit sy wêreldbeeld en is alle mense vir hom maar op een of ander vlak wees. Ons hoef nie ver in “His dark materials” te lees om hierdie perspektief duidelik uitgebeeld te sien nie. Lyra is ‘n weeskind wat deur akademici grootgemaak word (Ons vind later uit dat sy nie regtig wees is nie, maar uit die manier waarop haar ouers, veral haar pa, haar hanteer kon sy net sowel gewees het). Will is nou wel nie heeltemal wees nie (sy pa is vermis en hy woon by sy ma), maar sy ma is op alle vlakke so afhanklik van hom dat hy haar moet versorg en nie andersom nie. Byna nêrens in die drie boeke sien ons ‘n intakte, funksionerende gesin nie. Dit is veral Pa’s wat in hulle afwesigheid skitter. Ons sien baie leierskap maar bitter min vaderskap. Waar die twee hoofkarakters se pa’s wel ter sprake kom is dit in die konteks van bittere verraad (Lord Asriel teenoor Lyra) of ‘n vlietende ontmoeting aan die einde van die pa se lewe (John Parry teenoor Will). Van geduldige, liefdevolle versorging en leiding is daar geen sprake nie. Wat almal in “His dark materials” nodig het is ‘n v(V)ader om na vore te tree om alles beter te maak, maar hy daag nooit op nie.

Dit is gevaarlik om te hard in iemand se diepste motiewe rond te krap, maar ek wonder of hierdie aspek van “His dark materials” nie direk deur Philip Pullman se eie ervaring van grootword sonder ‘n pa (sy pa, ‘n RAF vlieënier, is in ‘n vliegongeluk dood toe hy sewe was) beïnvloed is nie. Kan dit wees dat die afwesigheid van ‘n aardse vader dit vir hom bitter moeilik gemaak het om in ‘n hemelse een te glo? Dit is asof die boeke ‘n diepe begeerte vir ‘n vader uitspreek wat net nooit opdaag nie. In die uitspreek van hierdie begeerte is Pullman nie anders as enige ander mens nie. Waar sy paadjie egter met dié van gelowiges skei is dat hy homself versoen het met die feit dat hy glo dat hierdie begeerte vir altyd onvervuld sal bly. Die beste wat ‘n mens dus kan doen is om daarna te streef om ‘n tragiese ‘Lone Ranger’ tipe held te wees, want selfs die bietjie sorg en liefde wat ons in hierdie lewe ervaar sal ook brutaal van ons weggeneem word (soos wat inderdaad in Will en Lyra se geval gebeur het). Beswaarlik ‘n beeld wat mense sal motiveer om in hulle duisende aan te meld vir ‘n nuwe ateïstiese wêreldbeeld.

In teenstelling met Pullman se eensame, tragiese held bied die Christelike Evangelie ‘n visie op die werklikheid waarbinne liefde, versorging en veral kindskap sentraal staan. God is nie skaam om ons Vader genoem te word nie – Sy Gees binne ons laat ons trouens “Abba” uitroep wanneer ons hom nader (Romeine 8:15). As Vader verbind God homself aan ons, en verbind hy ons ook aan ander mense – dié wat vir dieselfde persoon ‘Pa’ sê is tog broer en suster. Ek is nie naïef genoeg om te dink dat almal wat hier lees ‘n groot stuk troos en rustigheid in hierdie beeld (die van God as Vader) sal beleef nie. Aardse vaders maak almal maar foute en in te veel hartseer gevalle kom van hulle se kinders by die punt dat hulle wil weghardloop as hulle die woord ‘pa’ hoor. God wil egter dat ons sal verstaan dat hy die perfekte Vader is op ‘n manier waarop ons aardse Vaders dit nooit sal kan wees nie. Hy is die Een wat alles sal gee sodat Sy kinders by Hom kan wees. Om aan Hom verbind te wees is dus perfekte vryheid en nie die slawerny wat soveel ongelowiges dink dit is nie. Trouens, soos die verlore seun uitgevind het, kan die ‘vryheid’ wat ons self probeer skep in sy eie eensame tronk verander; en kan die skynbare gebondenheid van in jou pa se huis wees niks minder as diepe bevryding wees nie.

Ek besef dat die diepe begeerte by elke mens na ‘n verbintenis met ‘n liefdevolle vader (en ‘n manier waarop ons glo God hierdie begeerte beantwoord) nie opsigself ‘n ‘bewys’ vir die waarheid van die Christelike geloof kan wees nie. Wat egter ook soos ‘n paal bo water staan is dat die ateïstiese antwoord hierop (Naamlik: word groot, jou hemelse pa gaan nooit opdaag nie!) nie anders kan as om mense te isoleer en te vereensaam nie. Op ‘n bloot praktiese vlak (en ek is natuurlik oortuig dat dit ook baie dieper tot op ‘waarheidsvlak’ gaan) bied die Christelike Evangelie egter baie beter nuus wat vir mense ‘n doel gee en hulle op baie diep maniere aan die Skepper en aan ander mense verbind.

Dit is, in die lig van bogenoemde, baie interessant om te sien hoe Paulus die idee van om ‘sonder God’ in hierdie wêreld te wees in dieselfde asem noem as om ‘sonder hoop’ te wees (Efesiërs 2:12). “His dark materials” beeld hierdie hopeloosheid grafies uit, ek is daarom baie dankbaar dat ek oortuig kan wees dat dit nie al is wat oor die lewe, die werklikheid en God gesê kan word nie!

“His dark materials” se sentrale argument teen die bestaan van God is skynbaar: “Christenskap is nie pret nie!”
Een van die sleutel karakters in Pullman se boeke is Dr. Mary Malone, ‘n Oxford fisikus wat voorheen ‘n non was. In ‘n lang relaas vertel sy vir Will en Lyra van haar vorige lewe en ook hoekom sy haar rug op Christelike geloof gedraai het. Aangesien ek agter die kap van die byl van Pullman se denke oor God wou kom het ek natuurlik hierdie gedeelte met groot aandag gelees. Ek moet egter bely dat ek moes teruggaan om te kyk of ek nie dalk iets gemis het nie, want eerder as die poging tot ‘n uitklophou waarvoor ek gewag het, blyk dit dat Malone se hele verwerping van die geloof bloot op ‘n reuse denksprong berus.

Dit is dalk die moeite werd om haar vertelling in ‘n bietjie detail weer te gee. Sy vertel dat sy as ‘n jong non toegelaat is om aan te hou om fisika te studeer aangesien die kerk haar akademiese talent raakgesien het. Op ‘n dag moes sy ‘n referaat oor haar navorsing in Lissabon gaan lewer. Die referaat is baie goed ontvang en sy het die applous (ten spyte van haar oortuiging dat sy nederig oor haar vermoëns moes wees) intens geniet. Teen die riglyne van haar orde in besluit sy toe ook om ‘n uitnodiging te aanvaar om na die konferensie by ‘n restaurant te gaan kuier. In die proses ontdek sy iets wat sy (volgens haar) lank reeds vergeet het: Die lewe kan lekker wees! (I was discovering another side of myself, you know, one that liked the taste of wine and grilled sardines and the feeling of warm air on my skin and the beat of music in the background. I relished it.” – uit The Amber Spyglass) Soos wat sy hieroor dink gee iemand vir haar ‘n stukkie marsepein aan, iets wat haar onmiddellik daaraan herinner dat haar kêrel haar baie jare gelede gesoen het en ‘n stukkie marsepein in haar mond gedruk het. So onthou sy dat sy ook op ‘n stadium liefgehad het en hoe dit gevoel het. Sy besef veral dat sy dit weer wil beleef. Soos toeval dit wou hê sit daar toe ‘n donker Italianer oorkant haar wat duidelik in haar belangstel en hulle twee gaan stap op die strand. Dit was ‘n baie mooi aand met sterre, haweliggies wat veraf blink en die branders wat saggies op die sand breek. Soos hulle verder loop en gesels maak Mary haar hare los en geniet net sy geselskap en die hele ervaring. Skielik besef sy, dit is wat sy uit die lewe wil hê, die vreugde van oomblikke soos hierdie. Sy stop dus net daar, haal die kruis wat sy om haar nek gedra het af, kyk vir ‘n oomblik daarna en gooi dit in die see. Mary Malone is dus nie meer ‘n non of ‘n Christen nie!

As jy dalk gewonder het of jy iets gemis het, jy het nie. Hierdie is, in hooftrekke, die storie van Mary Malone se ‘bekering’ tot ongeloof. Geen diep argumente nie, geen deurlees van Nietzsche of Dawkins nie. Bloot ‘n ervaring met marsepein en brekende branders. Skynbaar het die briljante fisikus se analitiese brein haar tot die volgende manier by haar ongeloof uitgebring: “Ek hou van die smaak van marsepein. Ek geniet dit om verlief te wees. Dus: God bestaan nie!” Kan jy sien hoekom ek weer gaan lees het? Beswaarlik ‘n argument om die kerk in haar skoene te laat bewe!

Ek het nogal erg kopgekrap oor die ‘bekeringsverhaal’ en hoewel ek nou nog nie regtig die reuse denksprong wat hier beskryf word begryp nie, dink ek dat ek ten minste weet uit watter hoek Pullman hierdie verhaal benader het. Die van God as die “Groot Pretbederwer”. Pullman dink skynbaar dat dit nodig is om alle vreugde en lewensgenot af te sweer om in God te glo. Niks kan verder van die waarheid af wees nie. God is die Skepper van alle dinge. Ook van vreugde en genot. Hy is trouens die een wat “…alles ryklik aan ons gee om te geniet!” (1 Timoteus 6:17) God het nie ‘n probleem daarmee as ons lag, die lewe geniet, verlief is, of marsepein eet nie! Mary Malone kon dus vir Jesus gevolg het en al daardie dinge gedoen het. Die probleem kom egter in wanneer ons as mense begin om die genieting van die lewe met rebellie teen God se standaarde te verwar. God het in Sy wysheid bepaal dat ons die lewe binne die konteks van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23) moet geniet. Op hierdie manier wil hy verseker dat ons nie onsself of dié rondom ons benadeel in die manier waarop ons poog om vreugde uit die lewe te put nie. Soveel mense het al na ‘n ander tipe vryheid, een sonder perke, gesoek en gevind dat dit jou maar net met ‘n hele klomp ander strikke bind.

Daar is baie redes hoekom God ons daarop wys dat die genieting van ons lewens en ons vryhede binne sy riglyne moet geskied (Onder andere die beskerming van onsself en van ander – daar kan inderdaad te veel van ‘n ‘goeie ding’ wees). Binne die konteks van hierdie bespreking is die belangrikste egter dat God nie wil hê dat ons by die seën moet vashaak en dus die Een wat seën vergeet nie. Ek kan so gefikseer raak op lewensgenieting, of seks, of geld dat hierdie dinge ‘n doel opsigself raak, dat ek ervarings begin najaag op so ‘n manier dat ek die Een uit wie se hand alle goeie dinge kom (Jakobus 1:17) begin vergeet en die gawe as al wat daar is begin sien. CS Lewis het hieroor gesê: “Our Lord finds our desires, not too strong, but too weak. We are half-hearted creatures, fooling about with drink and sex and ambition when infinite joy is offered us, like an ignorant child who wants to go on making mud pies in a slum because he cannot imagine what is meant by the offer of a holiday at the sea. We are far too easily pleased Mary Malone het besluit om hierdie pad te stap, om krummels vir die feesmaal te verruil. Hierin sien Philip Pullman een van sy sentrale argumente teen die Christendom. Tog jammer dat hy die werk van CS Lewis so verag dat hy waarskynlik nog nooit die woorde hierbo gelees het nie!

Daar word in “His dark materials” ‘gewig’ op seks geplaas wat dit nie naastenby kan dra nie. Een van die groot hoogtepunte van Pullman se trilogie is wanneer Will en Lyra mekaar se minnaars word. Dit word geteken as die oomblik dat hulle vir die eerste keer werklik menslik word, en dien in ‘n sekere sin as ‘n oomblik van ‘verlossing’ van die al die wêrelde in die trilogie. Dit is dus seker ‘n bietjie van ‘n onderbeklemtoning om te sê dat seks nogal belangrik in “His dark materials” is! In hierdie sin staan Philip Pullman stewig in ‘n noemenswaardige sekulêre tradisie, naamlik die totale oorskatting van die krag en die belangrikheid van seks. Christene moet dikwels die aanklag aanhoor dat ons ongemaklik is met die seksuele en dat ons dit onder die mat probeer invee. (Iemand wat hierdie aanklag maak het terloops duidelik nog nooit Hooglied gelees nie!) Ons kan egter presies die teenoorgestelde aanklag teenoor mense soos Pullman maak! In ‘n wêreld waarin daar niks daarbuite, geen misterie, en geen uitlaat vir die mens se geestelike impulse is nie word die een misterie wat oorgehou is (seks) tot ‘n amper magiese vlak verhef en as die oplossing vir al die mensdom se probleme geteken. So word mense wat ‘n tipe ideale seksualiteit uitstraal gesien as ‘sex gods’ en ‘godesses’ en word werklike vervulling vervlak tot iets wat jy net in die bed kan beleef. Natuurlik is seks belangrik en is dit deel van God se plan vir menslike geluk en vervulling. Om dit egter op ‘n platform te plaas as die grootste misterie van die menslike bestaan waardeur elkeen van ons uiteindelik vervulling moet bereik (soos wat Pullman skynbaar doen, en duisende glanstydskrifte die wêreld oor definitief doen) is om van seks te vra om ‘n rol te vervul waarvoor dit beslis nie ontwerp is nie. Dat dit (die ‘vergeesteliking’ van seks) gebeur is egter in ‘n sekere sin te verstane. As al die deure vir die mens om homself as geestelike wese uit te leef toegemaak word sal die geestelike steeds op een of ander manier, hoe skeef en krom ook al, uiting vind. Philip Yancey sê hieroor: “…when a society completely blocks the human thirst for transcendence, should we be surprised that such longings reroute themselves into an expression of mere physicality? Maybe the problem is not that people are getting naked, but that they are not getting naked enough: we stop at the skin instead of going deeper, into soul.”

Binne die Christelike geloof word die seksuele nooit ontken of per se as boos verklaar nie (hoewel daar natuurlik duidelike riglyne daarvoor is), dit word egter nooit gesien as ‘n manier waarop die mens se diepste dors geles word nie. Die mens is ‘n veel meer komplekse en waardevolle wese vir dit om selfs moontlik te wees. Ons diepste dors kan slegs geles word by die Een wat ons die beste verstaan en ons die diepste liefhet. Pullman wil hiervan wegbreek. Dit is ironies dat hy in die proses daarin slaag om, eerder as om die mens te verhoog tot heersers van die “Republic of Heaven”, ons te verlaag tot robotte wat slegs in die uitruil van liggaamsvloeistowwe werklik ons doel kan bereik!

Die betowering en skoonheid van Pullman se wêrelde kan nie opmaak vir die troosteloosheid waarmee die einde van die menslike bestaan daarbinne saamgaan nie. Dit is nogal verstommend om te sien hoe meesterlik Pullman, wat ons kliphard probeer oortuig dat hierdie lewe al is wat daar is, dit regkry om hele ander wêrelde te skep. En hoe vol skoonheid en betowering hy daardie wêrelde maak. Daar is wêrelde waarin die Noorderligte so verstommend mooi is dat dit “almost holy” is, waarin “dust” deur die “Amber spyglass” lyk soos stukkies goud wat lewe gee aan alles wat dit aanraak. Tog moet die leser uiteindelik die boek toemaak met die wete dat hierdie skoonheid en betowering eintlik maar net in diens was van ‘n ideologie wat vir ons vertel dat daar niks verby ons laaste asemteug is nie! Uiteindelik is al troos wat Pullman kan aanbied dat elke mens uiteindelik weer in die weefsel van die heelal opgeneem sal word. Daar is geen ewige waarhede om ons oor te verwonder nie, geen beter toekoms waarna ons met alles in ons kan uitsien nie. Dis amper asof Pullman wens dit was nie so nie maar hy kopskuddend by hierdie gevolgtrekking uitkom. As Christen is ek baie dankbaar dat ek na die wêreld kan kyk met ‘n verwondering wat baie dieper as net ‘n ‘dis mooi’ kan gaan. Ek kan dit doen omdat ek oortuig is dat hierdie wêreld net ‘n dowwe afskynsel is van wat kom. Dit is om hierdie rede dat ‘n paar lyntjies uit Rich Mullins se liedjie “With the wonder...” die heeltyd in my kop gedraai het toe ek dele van “His dark materials” gelees het. Dit sou amper net so as ‘n Christelike antwoord op Pullman se diepe begeerte tot verwondering (en die bron daarvan) gegee kan word. Mullins skryf as volg oor die wonders van ons wêreld, en die een wat kom:

‘Cause it flutters and floats
It falls and it climbs
It spins and sputters and spurts
And you fixed this world
With wonders ’round every turn

And it buzzes and beeps
It shimmies and shines
It rattles and patters and purrs
And you filled this world with wonders
And I’m filled with the wonder of Your world

If there’s a better world
And a brighter day
Even brighter than the world we’re in
We’d be fools to think
That it could be made
By the wills and hands of foolish men

So, LORD, to You we give our deepest praise
And to You we sing our loudest songs
And while we live in the world that You have made
We hear it whisper of the world
Of the world that is to come

Die manier waarop Pullman oor moraliteit praat dui heel moontlik op ‘n dieper verlange. Een van die interessantste aspekte van “His dark materials” is die manier waarop Pullman met etiese kwessies omgaan. Die duidelikste uitspraak hieroor vind ons in die mond van Dr. Mary Malone (die eks-non). Sy antwoord as volg op ‘n vraag of sy opgehou het om in goed en kwaad te glo toe sy haar geloof afgesweer het: “No. But I stopped believing that there was a power of evil that were outside us. And I came to believe that good and evil are names for what people do, not for what they are. All we can say is that this is a good deed, because it helps someone, or that’s an evil one, because it hurts them.” (uit The Amber Spyglass) Op grond van hierdie antwoord lyk dit of Pullman totaal relatief oor moraliteit dink – met ander woorde “Doen wat jy dink goed in die konteks sal wees, daar is nie absolute reëls wanneer dit kom by reg of verkeerd nie”. Aanvanklik lyk dit vir die leser of hierdie tema met groot effek in die hoofkarakter Lyra (Leuenaar?) se lewe uitgebeeld word. Dit lyk of Pullman suggereer dat sy ‘goed’ doen deur te lieg – iets waarmee sy besonder goed is. Beteken dit dus dat leuens, totaal aan te beveel is omdat dit mense help? Skynbaar nie! Lyra leer in ‘n dramatiese onderonsie met een van die bewakers van die onderwêreld (‘n Harpy met die naam ‘No-name’) dat jy net soveel leuens kan vertel tot dit jou inhaal. Sy sê die volgende vir Will nadat die No-name haar as ‘n leuenaar ontmasker het: “Will – I can’t do it anymore – I can’t do it! I can’t tell lies. I thought is was so easy – but it didn’t work – it’s all I can do and it doesn’t work!” (uit The Subtle Knife). Lyra moes uitvind dat leuens uiteindelik dié wat dit vertel vernietig. ‘n Heel Bybelse insig en een wat direk in opposisie staan tot Pullman se oortuiging dat moraliteit maar net bepaal moet word deur wat iemand op ‘n sekere oomblik sal help.

‘n Verdere voorbeeld van Pullman se denke oor moraliteit kan gevind word in Marisa Coulter. Sy is seker die mees brutale van die karakters in haar pogings om dinge gedoen te kry (Eers in diens van die ‘Authority’ en later in opposisie tot hom), sy is ook Lyra se ma (hoewel hierdie feit eers later in die boek na vore kom). Sy skroom nie om mense rondom haar (insluitende Lyra) te bedrieg, te martel, en te vernietig nie. Tog moet selfs sy by die punt kom waar sy moet besef dat daar ‘n mag groter as haar brutale wilskrag is. Omstandighede dwing haar op ‘n stadium om vir Lyra te versorg (hoewel sy dit op die vreemdste moontlike manier doen deur haar in ‘n koma te hou!), hierdie langdurige kontak met haar vervreemde dogter bring gevoelens by haar na vore wat sy nie eers geweet het bestaan nie. Soos sy dit later beskryf het “A little green shoot of love, not bigger than a mustard seed was sprouting” Later neem hierdie klein plantjie ‘n deel van haar wese totaal oor: “The mustard seed had taken root, and was growing, and the little green shoot was splitting my heart wide open.” (uit The Amber Spyglass) In amper Bybelse taal (mosterdsaad en al!), teken Pullman hier ‘n prentjie van liefde wat alles oorwin, ook ons eie begeertes en eiebelang. Dit sou haar optrede teenoor Lyra, en ook die verloop van die verhaal ingrypend verander.

Op ten minste twee terreine (Lyra wat moet leer om nie meer te lieg nie, en Marisa Coulter wat die amper ‘irrasionele’ krag van liefde leer ken) sien ons dus hoe Philip Pullman sy hoofkarakters direk teen sy eie morele voorskrif (doen maar soos jy goeddink in elke situasie) inlei en hulle amper ‘Bybels’ laat optree! Hy laat ons ook met geen twyfel dat hy dink dat hulle nuwe maniere van doen op een of ander manier beter is en aan ‘n hoër standaard voldoen nie. Die groot vraag is natuurlik, en dis een wat Christene al baie lank vir ongelowiges vra, op watter manier kan ons sê dat iets ‘beter’ is as daar nie ‘n objektiewe maatstaf is waarvolgens optrede gemeet kan word nie? As daar nie ‘n God is wat ons van reg en verkeerd leer deur sy voorskrifte nie, dan moet ons onsself seker maar berus dat die een wat die hardste kan slaan die ‘reg’ het om in alles sy of haar wil af te dwing. Dit lyk of Pullman intens ongemaklik met hierdie implikasie van sy eie ongeloof is en dus sy karakters op sekere vlakke terugbring na ‘n tipe moraliteit wat ons baie maklik as Bybels kan erken. Kurt Bruner and Jim Ware sê hieroor: “Pullman…isn’t quite comfortable with the implications of his own godless philosophy. At the end of the day, he can’t quite accept the implications of his superficially relativistic ethic, nor does he feel truly at home in an impersonal universe comprised solely of particles and dust. He believes in goodness, beauty and truth. And as is always the case with a skilled storyteller, his best thoughts and feelings come through in the telling of his tale.”

Kan dit wees dat Pullman, die aarts-ateïs op hierdie vlak vir God mis? Dat hy graag sou wou hê God moet daar wees om vir ons te vertel wat reg en verkeerd is, en om die bron van skoonheid en wysheid te wees? Ek dink nie dit is te vergesog om hierdie stelling te maak nie. Dit lyk of Pullman dit self al by geleentheid erken het: “...I’m conscious of God only as an absence, but an absence which is full of echoes, troubling echoes and unhappy ones, consoling echoes and kindly ones, chastening ones and wise ones…echoes in the space where God has been.” (uit die Arbutnot Honor Lecture, 2002) Pullman is sekerlik nie die eerste ateïs wat hierdie gemis vir ‘n God waarin hy opgehou glo het uitspreek nie. Wat egter verbasend is, is hoe aspekte van sy agtergelate geloof deurskemer in sy groot trilogie oor die afwesigheid van God. ‘n Mens kan maar net hoop en bid dat hy op ‘n stadium diep sal dink daaroor of hierdie gemis werklik nodig is. Dat hy sal omdraai en vind dat God steeds daar is waar Hy hom agtergelaat het, en sommer op elke ander plek ook!

Hoewel ek met hierdie artikel probeer het om sistematies ‘n paar van die kwessies wat uit “His dark materials” na vore kom te antwoord besef ek dat ‘n storie eintlik die beste met ‘n ander storie geantwoord kan word. Die eerste ‘storie’ wat die heeltyd by my opgekom het was natuurlik die van die Verlore Seun (Lukas 15:11-31). Hoe kan dit ook anders as hierdie trilogie uitroep na ‘n Vader wat die skrywer oortuig is nie bestaan nie en wat dus nooit gaan opdaag nie? Daar is baie intellektuele antwoorde wat op hierdie soektog gebied kan word, op ‘n ander vlak is dit dalk ook net nodig om die storie van ‘n liefdevolle Vader wat die mensdom in liefde wil omhels oor te vertel.

Pullman het wonderlike wêrelde geskep maar daar is niks in die sentrum daarvan nie. Daarom is daar in ‘n sekere sin geen ‘gelukkige eindes’ nie, daar is niks buite die mens om sin, doel en vervulling te gee nie, hoewel elkeen rusteloos daarna op soek is. Dit is binne hierdie konteks waarbinne ‘n ander storie konstant by my opgekom het. Dié van die kerkvader Augustinus wat op soveel maniere sin en rigting probeer soek het maar nooit tot ruste kon kom nie. Dit is totdat hy vir die eerste keer werklik die Evangelie verstaan het. Hy sou later die volgende oor sy bekering bely: “You have made us O Lord for Yourself, therefore our hearts remain restless within us until it rests in You”.

Philip Pullman het met “His dark materials” probeer om gelowiges hulle rug op God te laat draai en in die ‘dapper nuwe wêreld’ van die eensame held in te stap. Ek wonder soms of hy dit nie eerder reggekry het om ‘n skrikwekkende prentjie van die troosteloosheid en rusteloosheid van ‘n heelal sonder God te teken nie. ‘n Heelal waaruit enige regdenkende mens eerder sal kies om te ontsnap as om daarheen te probeer verhuis. “His dark materials” is inderdaad op plekke goed donker, maar ek wonder soms of Pullman nie daardeur onbewustelik ‘n honger vir ‘n wêreld van Lig by mense wakkergemaak het nie. Mag dit wees dat die kompas vir baie mense presies in die teenoorgestelde rigting wys as wat Pullman bedoel het, en mag hy self diep dink oor wat (Wie) eintlik in die sentrum van sy heelal hoort!

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.