Richard Dawkins en ‘The God Delusion’

Die volgende artikel is deel 2 van 3 artikels wat aanvanklik op die e-kerk se webwerf (www.ekerk.co.za) verskyn het. Dit word in samewerking en met toestemming van die skrywer hier gereproduseer.

 

The God Delusion: Die boek aan die einde van geloof?

Deur Phillip Scheepers

Richard Dawkins verklaar aan die begin van sy boek The God Delusion baie duidelik dat een van die redes waarom hy dit geskryf het die hoop is dat mense dit as gelowiges sal optel en as ongelowiges sal neersit.  Hierdie stelling alleen behoort jou al ‘n goeie idee te gee van waarmee jy te doen gaan kry in die volgende 400 of so bladsye en watter standaarde van objektiwiteit oor geloof en gelowiges gehandhaaf sal word.  Dawkins probeer geloof so hard slaan dat hy soms nie lekker kyk waar hy mik nie!  The God Delusion is daarom aan die een kant ‘n maklike boek (aangesien ‘n mens redelik maklik op van die aantygings en bewerings wat hy maak kan antwoord) en ‘n baie moeilike boek (Dawkins trek so los teen geloof dat dit duidelik is dat blote argumente nie genoeg sal kan wees om hom, of sy volgelinge, te oortuig nie. Soos een resensent opgemerk het: “How do you review a sneer!?” Verstaan mooi dat ek met moeilik nie bedoel dat die dinge wat hy sê nie beantwoord kan word nie, dit gaan eerder daaroor dat ons hier dikwels met ‘n stuk ‘sekulêre fundamentalisme’ te doen het wat net soos met ander tipes fundamentalisme weier om enige ander standpunte te oorweeg.  Met dit gesê beteken dit sekerlik nie dat ons maar net ons skouers kan ophaal en van die boek wegstap nie.  Dit is sekerlik so dat nie alle ateïste so totaal vasgesement is aan hulle posisie soos Dawkins nie; ek glo dat die volgende tien stellings in reaksie op The God Delusion ‘n paar interessante gesprekke met hulle sal kan ontlok:

  1. Die minagting en sarkasme in The God Delusion maak dit dalk ‘n ‘opwindende’ boek, minagting en sarkasme kan egter nooit as ‘n plaasvervanger vir debat gesien word nie. Dawkins dink skynbaar dat as hy dit kan regkry om gelowiges op elke tweede bladsy te beledig dit sy punt sal staaf.  Hy probeer daarom baie hard om so aggressief en minagtend as moontlik te wees.  Stellings soos ‘The God of the Old Testament is arguably the most unpleasent character in all of fiction’ en om die Christelike leer van versoening deur Christus ‘barking mad’ te noem mag dalk boeke verkoop maar dit dra nie eintlik enige iets by tot die debat oor geloof nie.  Op ‘n retoriese vlak is dit so min of meer die ekwivalent van jou tong uitsteek vir dié wat nie met jou saamstem nie.  Persoonlik sou ek The God Delusion baie meer ernstig kon opneem as ek nie die indruk gekry het dat Dawkins voel dat as hy hard genoeg skree hy mense na sy standpunt sal oorhaal (terloops presies waarvan hy gelowiges beskuldig) nie.
  2. Wanneer dit gaan oor dié wat hom op wetenskaplike terrein opponeer kies Dawkins in The God Delusion oor die algemeen ‘maklike teikens’.  Ek is nie ‘n natuurwetenskaplike nie en gaan myself daarom nie in detail uitlaat oor die wetenskaplike argumente wat Dawkins in die boek gebruik nie.  Dit is egter baie belangrik om te besef dat vir Dawkins se sentrale argument om te kan staan daar absoluut geen twyfel mag wees oor die Darwinistiese siening van die werklikheid nie.  Moet daarom nie verwag dat die feit dat daar wel legitieme vrae oor Darwin se teorieë gevra kan word hoegenaamd in die boek sal deurskemer nie.  Dawkins doen eerder sy bes om enige iemand wat Darwin bevraagteken te beswadder voordat daar nog na hulle argumente geluister word.  Wanneer die argumente wel aan die orde kom kies Dawkins voorbeelde wat baie maklik is om af te skiet.  Hy haal byvoorbeeld lang stukke uit ‘n publikasie van die Jehova Getuies (beswaarlik aan die voorpunt van wetenskaplike navorsing!) aan en het dan groot pret om die punte wat daarin gemaak word af te skiet.  Die implikasie is duidelik dat alle anti-Darwinistiese teorieë op dieselfde vlak is.  Die feit is egter dat ek tog nie iemand se standpunte probeer verstaan deur vir sy vyand te vra om dit vir my te verduidelik nie.  Dawkins wil ons egter verseker dat hy dit met die grootste graagte vir ons sal doen!  In die proses maak hy ‘n karikatuur van die werk van ‘n groot klomp ernstige wetenskaplikes wat net soos hy baie hard werk om die misteries van die heelal te ontrafel deur dit op dieselfde vlak as ‘n traktaatjie wat hy in die pos gekry het te stel!  Die ironie is egter dat daar ernstige wetenskaplikes is wat al groot moeite gedoen het om spesifiek die argumente wat Dawkins opper te beantwoord.  Een persoon, Alister McGrath (Professor in teologie by Oxford Universiteit en houer van ‘n doktorsgraad in molekulêre biofisika) het selfs ‘n boek geskryf (Dawkins’ God) waarin hy Dawkins noukeurig antwoord en ook alternatiewe vir sy standpunte voorstel.  Dawkins hoef (as iemand wat self by Oxford is) net ‘n paar tree te stap om ‘n alternatiewe ‘teiken’ te kry.  Hy maak egter McGrath se boek in ‘n enkele sin af en kies eerder om liggewigte te teiken.  ‘n Mens wonder hoe sterk sy argument uiteindelik is as die voorstaanders daarvan verkies om dit nie op die hoogste vlak te debatteer nie.
  3. Richard Dawkins besef skynbaar nie dat een van die sentrale argumente van sy boek (dat daar teen mense op grond van hulle oortuigings gediskrimineer word) ook teen homself gebruik kan word nie. The God Delusion begin met ‘n lang klaaglied oor hoe swaar dit is om ‘n ateïs in die moderne wêreld (en spesifiek die VSA) te wees.  Daar is volgens hom ‘n atmosfeer in die Westerse wêreld wat maak dat ateïste nie in hulle beroepe kan vorder nie, wat maak dat mense nie in normale verhoudings met hulle wil staan nie.  ‘n Entjie verder in die boek maak hy ‘n sterk argument uit wat as volg opgesom kan word: Slim mense glo nie!  Benewens die arrogansie wat agter hierdie stelling opgesluit is (hy noem selfs ‘n poging om ateïste na ‘Brights’ te hernoem!) kan ‘n mens nogal pret hê om op hierdie aantyging te antwoord deur Dawkins se argument op sy kop te keer.  Die vernaamste bewys wat Dawkins aanhaal vir sy oortuiging dat ‘slim mense nie glo nie’ is om te wys op studies oor die persoonlike oortuigings van professionele akademiese liggame.  Hiervolgens is ‘n minderheid van natuurwetenskaplikes gelowiges.  Dit volg dus logies (!) vir Dawkins dat sy punt bewys is.  Kan dit egter wees dat daar hier iets anders aan die werk kan wees?  Ek wonder wat sal gebeur as die volgende kandidaat vir verkiesing tot ‘n akademiese liggaam voor ‘n paneel waarvan Dawkins deel is, moet verskyn: Hy het uitstekende verwysings, het goeie navorsing gedoen, baie gepubliseer en glo dat God ‘n rol in die skepping gehad het.  Ek vermoed die kanse is bitter skraal dat hy verkies sal word!  Die punt is dat daar in groot dele van die akademie ‘n soort Darwinistiese fundamentalisme heers waar enige afwyking van die ‘ortodokse’ siening met ballingskap gestraf word.  Het ons nie hier met presies die tipe diskriminasie wat Dawkins so pla, te doen nie en kan dit nie ‘n alternatiewe verduideliking wees vir die syfers wat hy met soveel vreugde aanhaal nie?
  4. Dawkins gaan met The God Delusion voort om antwoorde vanuit die natuurwetenskappe te bied wat dit nie toegerus is om te antwoord nie. Richard Dawkins is ‘n goed opgeleide natuurwetenskaplike, maar kan skynbaar nie verby sy eie dissipline sien nie.  Alle antwoorde oor die werklikheid moet volgens hom deur middel van klassieke natuurwetenskaplike metodes bevestig word.  Die feit dat daar ander dissiplines is, byvoorbeeld die filosofie, wat vanuit ‘n ander hoek na dieselfde kwessies kyk registreer skynbaar nie.  Op hierdie manier word die natuurwetenskappe tot die enigste moontlike bron van kennis en insig verhef.  ‘n Mens sou van hierdie tipe standpunt as Scientism kon praat en Dawkins is beslis hierdie rigting se vernaamste voorstaander in die moderne wêreld.  Wat dit betref staan hy egter redelik alleen, selfs in die wetenskaplike wêreld!  Stephen Jay Gould (wat self ‘n voorste evolusionêre bioloog by Harvard Universiteit was) het die volgende direkte waarskuwing oor Scientism aan sy wetenskaplike kollegas gerig: “To say it for all my colleagues for the umpteenth millionth time (from college bull sessions to learned treatises): science simply cannot (by its legitimate methods) adjudicate the issue of God’s possible superintendance of nature.  We neither affirm nor deny it; we simply cannot comment as scientists.  If some members of our crowd have made untoward statement claiming that Darwinism disproves God, then I would find Mrs. McKinnerey (een van sy laerskool onderwysers!) to have their knuckles rapped!” Sommige van die voorste wetenskaplikes kry dit reg om nederig te wees oor wat hulle dissipline kan doen en nie kan nie.  Dawkins sien egter skynbaar die wetenskap soos die ring in The Lord of the Rings (One ring to rule them all!) waarvoor alles moet buig!
  5. Vir ‘n boek oor geloof doen The God Delusion bitter min moeite om sy onderwerp te verstaan! Dawkins het skynbaar reg aan die begin van sy boek besluit dat alle geloof blinde geloof is en hy baseer sy aanval dus amper volledig op ‘n tipe geloof wat baie Christene self redelik skeef sal laat opkyk!  Dit is duidelik dat daar bykans geen poging aan Dawkins se kant was om homself so bietjie te onderlê in die teologie as dissipline nie (hy maak dit trouens eerder af by elke moontlike geleentheid), gevolglik kom hy in sy kritiek teen geloof niks verder as ‘n karikatuur van geloof soos wat hy dit in sy skooljare leer ken het nie.  Dit is verstommend om te dink dat iemand kan probeer om ‘n boek oor geloof te skryf sonder om vir ‘n oomblik die redes waarom mense glo ernstig te neem.  Alister McGrath, wat met sy voete beide in teologie en natuurwetenskappe staan, reageer soos volg op hierdie aspek van Dawkins se werk: “…is this the same Richard Dawkins who, knowing nothing of Christian theology, rushes headlong into the field, and tells theologians what they really mean when they use their own language? Or that they really mean “blind trust” when they speak of “faith”?  There is a total failure on Dawkins’ part to even begin to understand what Christian theology means by its language.  It really does make it difficult to take his judgments concerning its alleged failures with any degree of seriousness.  Let’s try and get things straight here.  As a professional theologian I have no hesitation in asserting that the classic Christian tradition has always valued rationality, and does not hold that faith involves the complete abandonment of reason or believing in the teeth of evidence.”  Dawkins erken tog die bestaan van wat hy ‘sophisticated believers’ noem.  Hulle is egter in ‘n sin die ‘skimme’ van die boek aangesien daar amper geen teken daarvan is dat hy ‘n ernstige poging aangewend het om homself met hulle denke te familiariseer nie.  Om dit te doen sou dalk te sterk teen sy agenda ingewerk het!
  6. Dawkins het in The God Delusion groot pret met die neerslaan van strooipoppe; dit maak egter nie sy argument sterker nie. In aansluiting by bogenoemde is dit duidelik dat Dawkins dikwels nie net weier om moeite doen om wat hy ‘gesofistikeerde geloof’ noem te verstaan nie, maar hy gaan selfs verder deur karikature van geloof te skep en dit dan aan te val!  Sy gunsteling tegniek is om te maak asof alle geloof kinderagtige oortuigings op die vlak van geloof in Kersvader of die Paashaas is, hierdie twee figure wals as’t ware deur die hele boek om ons net weer te herinner hoe belaglik geloof dan nou eintlik is.  Op die oog af lyk dit asof Dawkins dalk hiermee ‘n geldige vraag vra, dis nou totdat jy dit so bietjie nader bekyk.  Dit sal nogal interessant wees as Dawkins vir ons kan verduidelik op watter maniere die Christelike geloof soos geloof in hierdie twee ‘mitiese here’ is.  Ekskuus as hierdie so bietjie (doelbewus) belaglik gaan klink, maar waar is die historiese basis vir die Paashaas, waar is die lewens wat deur hom verander is? Hoe lyk die kultuur wat op grond van sy lering geskep is? Waar is die gesofistikeerde filosofiese antwoorde wat gelowiges in die Paashaas aan die mensdom kan bied?  Watter samelewings is deur geloof in hom ten goede omgekeer?  Enige persoon ouer as agt kan tog sien dat sekere oortuigings letterlik kinderagtig is en dat ander op vaster gronde staan.  Vir Dawkins om te maak asof alle geloof op die vlak van sy karikatuur is, is misleidend en dalk doodeenvoudig moedswillig.  Ons het hier weer met die vraag te doen of dit werklik so goeie ding is om toe te laat dat ‘n geswore vyand van geloof vir ons verduidelik wat geloof dan nou presies is!
  7. Dawkins wend in The God Delusion byna geen poging aan om die manier waarop Christene die Bybel lees en interpreteer, te verstaan nie. Met sy boek probeer Richard Dawkins, wat die Bybel betref, werklik om sy brood aan beide kante gebotter te hê!  Aan die een kant maak hy die bewering dat dit vir ons niks kan leer oor die bestaan van God nie, aan die ander kant kan dit egter met die grootste vrymoedigheid gebruik word om geloof in God by te kom!  Selfs met hierdie dubbele standaard sukkel hy egter nog steeds om ‘n samehangende argument oor te dra.  Hierdie is nie die plek om elke stelling wat hy oor die Bybel en die karakter van God maak, te bevraagteken nie, ek dink egter dat dit baie duidelik is dat hy nie eers die mees basiese beginsels van Bybelse eksegese onder die knie probeer kry het nie.  As Dawkins so bietjie meer geweet het van die volgende konsepte sou sy boek dalk baie anders gelyk het (maar sou sy saak seker baie swakker gewees het!).  Enige begrip van die volgende is egter totaal afwesig: Voortgaande openbaring (naamlik dat die beeld van God hoe meer hoe duideliker word soos ons verder in die Bybel lees); die inagneming van konteks (Bybelverhale word vertel sonder dat die historiese en literêre konteks verreken word); die feit dat die Bybel nie alles wat dit oordra goedkeur nie (hy het byvoorbeeld groot pret met die storie van Lot se dogters); en die feit dat Christene die ou verbond in die lig van die nuwe interpreteer (hy maak byvoorbeeld groot gewag van tempelgebruike).  Weer eens is ‘n mens verstom dat iemand ‘n dik boek oor ‘n onderwerp skryf sonder om eers te probeer om te verstaan hoe die wat die naaste aan daardie onderwerp beweeg dit werklik verstaan!
  8. As Dawkins se sentrale argumente teen geloof as bron vir moraliteit, teen Darwinisme gebruik word, kom dit bitter sleg daarvan af. ‘n Groot deel van The God Delusion word gewy aan die oortuiging dat geloof nie as ‘n bron vir moraliteit kan dien nie en dat dit, inteendeel, gevaarlik is.  Hierdie onderwerp gaan in die volgende artikel indringend bespreek word en ek volstaan daarom hier met net een punt daaroor.  Dawkins besef skynbaar glad nie dat Darwinisme aan dieselfde morele toetse onderwerp word as wat hy gebruik nie (naamlik: Hoe lyk die heel slegste morele uitwasse daarvan!?).  As ons hierdie toets op Darwinisme toepas is die plek waar ons uitkom die skrikwekkende verskynsel wat bekend staan as Social Darwinism.  In ‘n neutedop het hierdie teorieë probeer om dit wat Darwin oor individue gesê het (Survival of the fittest), ook op samelewings toe te pas.  Voorstaanders hiervan (bv. Herbert Spencer, Francis Galton) het geglo dat sterker samelewings niks minder as ‘n evolusionêre plig het om te oorleef nie.  Die gevolge hiervan was blatante wetenskaplike rassisme (waardeur daar ‘bewys’ is dat die blanke volke meer gevorderd en daarom meer ‘werd’ is om te oorleef), onetiese wetenskaplike eksperimente (waarmee daar probeer is om nasionale ‘bloedlyne’ te verbeter) en genadedood programme (waardeur daar gepoog is om samelewings van swakker lede, bv. gestremdes, te bevry sodat dit vinniger vorentoe kan vorder).  Dawkins beskryf in amper poëtiese styl hoe wonderlik Darwinistiese moraliteit in die praktyk lyk.  Dit is egter wensdenkery, Social Darwinism met sy bitter vrugte is die enigste geïntegreerde etiese sisteem wat al deur die volgelinge van Darwin daargestel is.  Dawkins mag dalk protesteer dat hierdie beweging nie die suiwer ideale van Darwin verteenwoordig nie.  As hy egter nie van ‘n dubbele standaard beskuldig wil word nie, moet hy verduidelik hoekom hy, ten spyte hiervan, steeds daarop aandring om die Christendom te meet aan mense wat kies om dit te verdraai eerder as aan die suiwer ideaal en aan die geweldige positiewe impak van Christene deur die eeue!
  9. Dawkins se argumente teen godsdienstige indoktrinasie verraai ‘n duidelike dubbele standaard. In die laaste gedeelte van The God Delusion fokus Dawkins op wat hy die godsdienstige indoktrinasie van kinders noem.  Volgens hom is dit onmoontlik om van ‘Christen kinders’, ‘Moslem kinders’ of ‘Hindoe kinders’ te praat.  Ons kan slegs praat van ‘kinders met Christen ouers’ ensovoorts.  Wat jy ook al van hierdie stelling dink (ek vermoed verskillende Christelike tradisies sal verskillend hierop reageer), is dit interessant om te let op hoe hy hiermee een van die sentrale argumente van vroeër in sy boek ondergrawe.  Is geloof dan nie juis, volgens hom, iets wat almal het as hulle kinders is en dan agterlaat nie?  Dit egter daargelaat.  Die ironie van hierdie gedeelte was vir my dat dit vir Dawkins duidelik is dat dit skynbaar heeltemal moontlik is om van ‘n ateïstiese kind te praat.  Asof kinders met volledig gevormde ongeloof die wêreld binnekom.  Omdat dit (volgens hom) so is moet alle opvoeding hierdie ongeloof dien.  Dieselfde persoon wat dus so maklik van indoktrinasie praat sou dus sonder om ‘n oog te knip, as hy sy sin kon kry, die leer van die Bybel vanuit ‘n geloofshoek aan kinders verbied!  Hy sal verder beslis alles in sy vermoë doen om te verhoed dat geen alternatief vir die Darwinistiese wêreldbeeld ooit in ‘n skool geleer word nie.  Die groot vraag is dus, wanneer is sensorskap en indoktrinasie nie sensorskap en indoktrinasie nie? Antwoord: Wanneer Dawkins self beoog om dit te doen!
  10. Vir ‘n ongelowige is Dawkins darem baie lief vir mistiese en kwasi-godsdienstige taal. Dit is asof Dawkins self op ‘n stadium besef dat die koue kliniese wetenskaplike verduidelikings wat hy vir die werklikheid gee nie besonder effektief is om mense te inspireer nie.  Hy gaan dus elke nou en dan ook oor in mistiese taal waarmee hy sy teorieë op so ‘n manier beskryf dat dit amper soos ‘n alternatiewe geloof begin klink.  Dit is in ‘n sin presies wat hy hierdeur beoog.  Melvin Tinkler skryf hieroor: “...to speak of genes as selfish is as nonsensical as speaking of atoms as being jealous.  Using pseudo-religious terms puts Dawkins’ beliefs on the same level as the pagans who spoke of Mars as the god of war, or Pluto as the god of death, but what he has, in effect, constructed is another religion in which the power of the deity have been ascribed to molecules.”  Dawkins beskuldig (benewens die feit dat die meeste teoloë die hele konsep verwerp) dikwels Christene daarvan dat hulle ‘the god of the gaps’ aanbid (met ander woorde alles wat ons nie kan verduidelik nie word aan God toegeskryf).  Die feit is egter dat daar ook ‘n hele paar gapings in sy eie teorieë is, wat hy dan vul met semi-godsdienstige konsepte (selfsugtige gene, ‘memes’ ens.) wat op geen manier ‘bewys’ kan word nie.  Sy antwoord oor hoekom hy dit doen, kom, wat my betref, baie naby aan iets wat hy intens by ander kritiseer: ‘Glo net!’

Richard Dawkins se hoop was dat hy deur sy boek my tot ateïsme sou bekeer.  Hy sal ongelukkig (genadiglik!?) baie beter moet doen as dit!  Die feit is dat hy met sy boek so diep en so ver as moontlik skraap om soveel as moontlik modder te gooi in die hoop dat dit darem iewers iets tref.  In die proses verraai hy sy amper naïewe geloof in die reikwydte van die natuurwetenskappe, sy gebrekkige verstaan van geloof en spesifiek die Christelike teologie en sy passievolle, amper fundamentalistiese haat van enige geloof.  Ek vermoed dat hierdie haat (en die gevolglike woede) die een ding is wat my van die boek sal bybly.  Hier is iemand, met onbetwisbare intellektuele gawes, wat om een of ander rede so kwaad is dat mense hoegenaamd kan glo dat hy ‘n 400 bladsy lange tirade oor sy woede kan neerpen.  In daardie tirade word hy so verblind deur sy woede en minagting dat hy ‘n karikatuur maak van dit wat (en wie) hy aanval.  The God Delusion is nie ‘n oproep tot oop, eerlike debat nie.  Dit is iemand wat met ‘n megafoon vanaf sy seepkis op ons staan en skree.  Juis omdat ek dink dat dit nogal onverantwoordelik sou wees om jou geloof te verloor op grond van iemand se woedebui, glo ek nie dat Dawkins in sy gestelde doel sal slaag nie.

Dis dalk hoekom hy hierdie doel (naamlik dat mense ateïste sal wees as hulle klaar gelees het) ‘presumptious optimism’ noem…
(Die laaste artikel van hierdie reeks van drie, nl. Godsdiens: Die wortel van alle kwaad?, fokus op een van Dawkins se sentrale bewerings naamlik dat geloof skadelik en afbrekend is.  Dit sal baie goed wees om al drie artikels te lees om sodoende ‘n geheelbeeld te kry van die vrae wat ons moontlik vir Richard Dawkins en sy aanhangers kan vra. Die eerste artikel was getiteld: Die tegnieke van ‘die duiwel se kapelaan)

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.