Kan ek seker wees ek gaan hemel toe?

Hierdie is die laaste gedeelte van ‘n 4 deel gesprek – sien vorige gedeeltes hier:

___________________________________________________________________

In die vorige brief het Winkelsmidt die volgende gesê:

Tog HAAT ek die gevoelens en hoop elke keer dat ek dit nooit weer sal kry nie, want ek is ‘n christen en wil BAIE graag hemel toe gaan! Die lewe op aarde kan tog nie al wees nie. Sodra ek sulke gevoelens kry, bid ek altyd dat die Heilige Gees dit sal verdryf, omdat ek glo dat dit van die duiwel af kom. My grootste vrees is dat God my sal straf oor die gedagtes wat soms opkom en daarom het ek ‘n vrees vir die dood. Want hoe weet jy regtig of jy hemel toe gaan of nie? Ek probeer als reg doen, maar weet nie verseker nie.

Ek het hierop gevra oor hoe Winkelsmidt ‘n Christen geword het, waarop Winkelsmidt soos volg geantwoord het:

Hi Udo,

Vreeslik dankie vir jou terugvoer! (Deel 1-3, sien hier) Dit het my rustigheid gegee, en ek sal dit oor en oor lees.

Jy’t gevra ek moet jou antwoord oor hoe ek ‘n Christen geword het. Wel, ek was geseënd om in ‘n Christen huis te kon groot word en ek het daarom nie ‘n vasgestelde datum of tyd wat ek kan sê dat ek toe ‘n Christen geword het nie (en ek weet dat dit ook nie nodig is nie). Ek dink net dat hoe ouer ‘n mens word, hoe meer vrae kom daar by ‘n mens op.

Ek glo egter dat ‘n mens ‘n Christen word, sodra jy Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aanneem, m.a.w. as jy glo dat hy vir jou sondes aan die kruis gesterf het en as jy met jou hele hart en mond bely dat God die Vader is en daarna streef om Sy wet na te kom en dan so ook die ewige lewe beërwe.

Sien uit daarna om weer van jou te hoor.

Groete

Winkelsmidt

 

Beste Winkelsmidt

Dankie vir jou antwoord op my vraag oor hoe jy ‘n Christen geword het. Jy sê: “…as jy glo dat hy vir jou sondes aan die kruis gesterf het en as jy met jou hele hart en mond bely dat God die Vader is en daarna streef om Sy wet na te kom en dan so ook die ewige lewe beërwe.”

Gun my ‘n oomblik om jou op ‘n baie belangrike punt te wys (dit is belangrik dat jy waar ek teksverwysings gee, self die skrif naslaan om dit saam met die Heilige Gees te ondersoek en te bestudeer). Jy sou heeltemal korrek gewees het as jy net gesê het, soos in die eerste gedeelte van jou sin, dat, “as jy glo dat hy vir jou sondes aan die kruis gesterf het”, dan word jy ‘n Christen (sien Joh. 3:16-18, Joh. 8:24, Joh. 11:25, Joh. 12:46, Joh. 20:31, Hand. 8:37, Hand. 10:43, Hand. 15:9,11, Hand. 16:30-31, Rom. 1:16, Rom. 5:1, Rom. 10:9-10, 1 Kor.1:21).

As dit is wat jy werklik glo, dan beteken dit dat jy glo dat Jesus deur vir jou sonde te gesterf het, die houvas van sonde, die mag van sonde en die gevolg van sonde in jou lewe heeltemal vernietig het sodat jy nuut gebore kan word. M.a.w. deur te glo Jesus het vir jou sonde (in jou plék [Gal. 1:4], want almal verdien die dood vir hulle sonde [Rom. 6:23]) gesterf het, beteken dat jy deur/uit God gebore is/word. Jy word dus ‘n tweede keer gebore, nie weer op ‘n fisiese manier nie, maar op ‘n geestelike (nie-fisiese) manier (sien Joh. 3:1-12, Tit. 3:5).

Die rede waarom ek die konsep van wedergeboorte beklemtoon is omdat jy egter, deur die woorde “en daarna streef om Sy wet na te kom” in jou sin by te voeg, wys dat jy nog nie heeltemal verstaan wat dit is wat van iemand ‘n Christen maak nie en die rede waarom jy ook nie seker is dat jy hemel toe gaan nie (want ‘n mens kan seker wees – alhoewel daar ook iets soos sekerheid op valse gronde kan wees). Om ‘n Christen te wees/word is om ‘n weer gebore mens te wees/word. Wedergeboorte is die manier waarop God jou as persoon (jou nie-fisiese identiteit) nuut maak (jy kry deel aan die Goddelike natuur – sien 2 Pet 1:3-4.) Voordat ek egter verder praat oor hierdie Goddelike natuur waaran ons deelagtig word by wedergeboorte, wil ek nou eers vir jou die volgende vraag vra:

As dit slegs die dood van Jesus is wat die houvas, mag en gevolg van mense se sonde kon vernietig sodat jy deur/uit God nuutgebore kan word tot nuwe, geestelike lewe deur te glo, hoeveel dinge in die volgende lys dra daartoe by dat iemand nuutgebore word?

  • streef om Sy wet na te kom
  • vermy alle versoekings
  • bid elke dag
  • lees die Bybel
  • woon kerkbyeenkomste en Christelike kursusse by
  • lei ‘n goeie lewe
  • twyfel nooit nie
  • probeer altyd alles reg doen

Die antwoord? NIE EEN NIE!!! Jy kan nie deur ENIGE van hierdie dinge te doen nuwe geestelike geboorte ontvang nie! Jy word slegs deur DIE HEILIGE GEES weer gebore en dit gebeur wanneer jy GLO dat Jesus jou sonde deur sy bloed weggewas het. (Sien spesifiek Hand. 13:38-39, Rom. 3:21-28, Gal. 3:2, Tit. 3:5)

Jy behoort nou te begin verstaan waarom jy ook seker kan wees dat jy hemel toe gaan. Hoe? Deur bloot te weet of jy al deur/uit God gebore is! Iemand wat deur/uit God gebore is, is ‘n nuwe mens, behoort aan God en is per definisie iemand wat hemel toe gaan (sien Joh. 1:12, Rom. 8:14-17, 1 Kor. 6:17,19,20, 2 Kor. 1:22, Gal. 4:6, 1 Joh. 4:13,15).

Dis hoekom ek vir jou gevra het hoe jy ‘n Christen geword het. ‘n Mens word ‘n Christen deurdat jy deur/uit God weergebore is toe jy geglo het dat Jesus vir jou sonde gesterf het! Dit is hierdie feit en hierdie feit alleen wat jou die versekering behoort te gee dat jy hemel toe gaan (sien Joh. 3:36, Joh. 5:24, Joh. 6:40,47, Joh. 11:26, 1 Joh. 5:12-13).

Daarom moet jy die idee dat jy ooit nog iets moet probeer doen om te verdien om hemel toe te gaan (sien Rom. 8:1), of ooit nog iets moet doen om sekerheid te kry dat jy hemel toe sal gaan, begin identifiseer vir die absolute valsheid wat dit is en dit asseblief uit jou gedagtes verban! As jy weergebore is, gaan jy hemel toe – punt – maar hoe meer jy egter as ‘n weergebore mens lééf, hoe meer raak jy bewus van die sekerheid wat die Heilige Gees jou gee (sien weer Rom. 8:16)

Ek wil nou weer terugkeer na die geestelike nuwe mens wat iemand as Christen is. Ek het verduidelik dat ‘n geestelike nuut gebore mens deel gekry het aan die Goddelike natuur. ‘n Mens wat weergebore is kry ‘n nuwe identiteit en kan nou ‘n nuwe geestelike lewe leef, m.a.w. ‘n klomp dinge is nou van jou as Christen waar, wat nie voorheen van die ou mens wat jy was, waar was nie (sien Rom. 6:2,6,8-11, 17,22, Rom. 8:5-6,9, 2 Kor. 5:17, Gal. 5:16,22,25, Ef. 4:22-24, Kol. 2:13, 1 Joh. 3:23-24). Dit beteken nie dat jy nou as ‘n nuwe geestelike persoon skielik perfek is en nie meer sonde kan doen nie. Nee, maar net soos ‘n pasgebore fisiese baba reeds die potensiaal het om ‘n volwassene te word, net so het ‘n geestelik gebore baba (iemand wat weergebore is) reeds die potensiaal om al meer geestelik volwasse te word.

Net soos ‘n baba melk moet drink om te groei en later vaste kosse begin eet om al sterker te word en al meer die mens te word wat hy die potensiaal het om te word, net so moet ‘n geestelik gebore persoon geestelike voedsel inneem om al meer te word wat hy as geestelike persoon die potensiaal het om te word (sien 1 Kor. 3:1-3, 1 Pet. 2:2, Heb. 5:14, Ef. 3:15-19). Die dinge wat ons help om geestelike te groei is dieselfde dinge wat ek vroeër genoem het waarop ons met God in interaksie verkeer en waardeur ons Hom al beter leer ken. Dit is nou, omdat ons nuwe mense is, en nie sodat ons nuwe mense kan word nie, dat ons geestelike aktiwiteite beoefen (geestelike voedsel inneem) soos Bybelstudie, gebed, “fellowship” met ander gelowiges het, ander liefde bewys, die vrug van die Gees dra, geleenthede soek waar ons Bybelse “teaching” kry, gehoorsaam is aan die Here se opdragte, ens.

Ek hoop dus dat jy sal begin verstaan dat ‘n mens al hierdie dinge doen omdat jy ‘n nuwe geestelike lewe gekry het, dat jy as nuwe mens wat aan die Goddelike natuur deelagtig geword het, nie anders kan as om dit te doen nie (sien 2 Pet. 1:1-4, Joh. 7:38-39, Matt. 12:33-37, 1 Joh. 1:6-7, 1 Pet. 1:22-23, 1 Pet. 2:24, Gal. 2:20). Dis soos ‘n akker wat nie kan help om ‘n “akkernatuur” te hê nie, en dit is in ‘n akker se natuur om al meer ‘n eikeboom te word.

‘n Akkersaad wat ontkiem en begin groei, kan egter in sy ontwikkeling gestrem word wanneer dit nie genoeg water of sonlig, of goeie grond kry nie. En dit is presies wat sonde en apatie doen en hoekom ons versoeking behoort te vermy. Dis nie soseer dat ‘n nuwe mens bang is dat God jou vir jou sonde gaan straf nie, maar eerder dat jy as nuwe geestelike mens besef dat sonde jou groei belemmer, jou “fellowship” met God verhinder en dat dit jou uiteindelik kan strem sodat jy ‘n onderontwikkelde geestelike persoon word (sien Matt. 3:8, Kol. 3:1-17). Hoewel ‘n nuutgebore mens nie skielik immuun is teen die doen van sonde nie (sien 1 Joh. 1:8) is die doen van sonde egter nie meer ‘n aanduiding van ‘n lewenswyse, soos wat die ou mens gekenmerk het (Rom. 6:6,18) wat nie die Here nie geken het nie. (So ‘n lewenswyse is die sonde waarvan daar in 1 Joh. 3:9 gepraat word en nie ‘n weerspreking van 1 Joh. 1:8 nie; sien ook Heb. 10:26). Christene is nie sondelose mense nie, maar hulle sonde (die van die hede, verlede en toekoms) word hulle nie meer toegereken nie, omdat Jesus dit weggeneem het (sien 1 Joh. 3:5, Kol. 1:22). Tog is die Bybel duidelik dat ons gereeld die sonde wat ons wel doen, moet bely sodat ons vergifnis daarvoor kan ontvang (sien 1 Joh. 1:9). Hierdie belydenis en vergifnis is egter nie omdat die doen van sonde ons redding in gedrang bring nie, want ons is REEDS nuutgebore mense omdat ons Jesus se genade deur geloof aanvaar het. Sulke gereelde belydenis van sonde en die ontvang van vergifnis is nodig sodat ons voortdurend naby God sal leef en sensitief sal bly vir sy wil, sodat ons kan groei om al meer die nuwe mense te word wat ons is.

Ek wil ook iets oor straf op sonde sê. Die idee van straf in die Bybel word meestal geassosieer met die gevolg van sonde vir ‘n persoon wat die Here nie ken of wil ken nie. Veral in die Nuwe Testament word straf met die oordeelsdag by Christus se wederkoms in verband gebring (sien bv. Matt. 25:46). As Christene is ons egter glad nie sulke straf te wagte nie, omdat Jesus die straf wat ons verdien, in ons plek gedra het (sien Gal 1:4, en ook 1 Joh. 4:17-18). Tog beleef ons as Christene, steeds die teregwysig van God wanneer ons sonde doen. Ek gebruik spesifiek die woord teregwysing eerder as straf en wel vir die volgende rede. Straf word dikwels verstaan as die verdiende en negatiewe gevolg op ‘n verkeerde daad. Die gevolg van sulke straf is dikwels minimale of geen gedragsverandering nie, en nog minder van ‘n verandering in gesindheid/denke. Ons is byvoorbeeld bang vir die straf (boete) op ‘n spoedoortreding en dit maak dat ons stadiger ry (gedragsverandering), veral as ons weet dat daar ‘n kamera êrens is, maar hoeveel van ons hou by die spoedgrens omdat dit die goeie en regte ding is om te doen?

God straf ons egter nooit sommer net bloot omdat ons verkeerd optree nie. Sy straf is altyd dissiplinering en teregwysing, om te wys wat reg is, om ons daarmee te help om te doen wat reg is en nog belangriker, om ons te help om reg te dink oor wat reg en verkeerd is (sien Rom. 12:2, Ef. 4:23-24). God is soos ‘n ouer was sy kind dissiplineer, nie sodat die kind hoofsaaklik moet leer wat verkeerd is nie, maar sodat die kind kan leer wat reg is en hoekom dit reg is en dan dit wat reg is in doen en late sal nastreef. Iemand wat nie sy of haar kind dissiplineer nie, het daardie kind nie werklik lief nie, want so ‘n kind word groot sonder enige morele rigting of gevoel van sekuriteit (sien Heb. 12:5-12, Openb. 3:19).

‘n Laaste opmerking oor God se teregwysing. Een van die skadelikste dinge wat ons as Christene kan doen is om na ander mense se omstandighede waar daar pyn en lyding betrokke is, te kyk en dit dan, vanuit ons perspektief, aan God se teregwysing op sonde te koppel (sien egter Joh. 9:1-3, en lees ook oor al die misplaaste antwoorde wat Job se vriende as oorsake vir sy lyding aangebied het). Ons moet egter almal self in ons omstandighede met God, ons Vader wat vir ons baie lief is, worstel om Sy moontlike teregwysing te onderskei van verskeie ander faktore wat ‘n rol kan speel in ons omstandighede. Die Here roep ons om mekaar in sulke omstandighede te bemoedig, maar ons moet baie versigtig wees om maklike antwoorde op komplekse en persoonlike situasies aan te bied.

Ten slotte wil ek weer die volgende beklemtoon: Hoe meer ons begin verstaan wie ons as nuwe mens is en terselfdertyd wat die potensiaal is wat ons van God ontvang het om te word, hoe meer word die dinge wat ons as Christene doen, ‘n natuurlike uitvloeisel van wie ons reeds is as nuwe mense, eerder as dat dit dinge is wat ons voel ons moet doen in die hoop dat dit ons soos goeie Christene (wat verdien om hemel toe te gaan) sal laat voel. Die probleem is nie dat ‘n mens nooit genoeg sulke dinge kan doen om ons so te laat voel nie, maar dat die doen van sulke dinge nie die vermoë het om ons so te laat voel nie!

Winkelsmidt, behalwe om te verstaan wat die gronde van my redding is, het ek ook, toe ek begin verstaan het wie ek in Christus is, wat Hy elke dag besig is om in my te doen en dat ek daarom al meer ‘n Geesvervulde lewe (nie ‘n sondelose of perfekte lewe nie) kan leef, begin besef wat dit beteken om waarlik vry te wees (Joh. 8:36). Ek het probeer om iets hiervan met jou te deel.

Groete

Udo

Sien ook:

2 Comments

  1. Hi

    Dankie vir die artikels. Ek het nog altyd gewonder waar dit geskryf staan dat ons “hemel” toe gaan…? As ek reg lees, dan gaan die wat saam met die Gewer van lewe sal lewe, op die nuwe aarde leef…

    Help my om te verstaan wat dit is om hemel toe te gaan?

    Dankie

    • Inderdaad gaan kinders van die Here saam met Jesus op ‘n nuwe aarde lewe. Die idee van God se herskepping en dat ons opgestane verheerlikte liggame gaan hê, veronderstel een of ander fisiese bestaan (n.a.v. 2 Petrus 3:10-12, Openbaring 21:1-3, ook Rom 8:19-21, Heb 1:11-12).

      Wat dan van die idee van “die hemel”? Die woord “hemel” (of die ekwivalent daarvan in Grieks) word op verskillende maniere in die Bybel gebruik om na verskillende dinge te verwys. Een van die maniere waarop dit gebruik word, is om spesifiek te verwys na die “koninkryk van God” of die “koninkryk van die hemel” (sien Matteus 13:11, 24, 31, 33, 44, 47, 52 asook Lukas 8:10 en Markus 4:11), m.a.w. dis in kontras met ‘n aardse koninkryk. Die idee is dat daar ‘n geestelike dimensie is (as’t ware waar God woon) in kontras met ‘n fisiese dimensie (soos op aarde), en dit kan in breë terme as “die hemel” beskryf word.

      Wanneer mense dus praat van “hemel toe gaan”, dan het dit meestal te doen met die idee dat kinders van die Here die ewige lewe ontvang het, en dat hulle, wanneer hulle doodgaan, by die Here sal wees (sien 2 Korintiërs 5:6-8 en Filippense 1:23, en sien spesifiek ook 2 Korintiërs 5:1, Filippense 3:20.) Natuurlik kan ons dan verder uitbrei en die details invul om aan te dui dat ons nie bestem is om bloot as sielewesens êrens rond te sweef nie, maar dat ons een of ander fisiese bestaan saam met Jesus op ‘n nuwe aarde sal leef.

      Ek dink dus nie daar is iets fout om daarvan te praat dat kinders van die Here hemel toe gaan nie, gegewe dat ons dit as ‘n breë beskrywing beskou.

      Jy het miskien al daarna gekyk, maar kyk gerus na die volgende artikels wat ook betrekking het op ons webblad: Die lewe na die dood

      Nog ‘n paar ander artikels wat jy interessant mag vind is die volgende:

      Heaven
      What Is “Heaven”?
      Heaven’s Above – Or Is It?
      Do We Go to Heaven When We Die?

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.