Skrifinterpretasie, God se Woord en redding

Lees die ander gedeeltes in hierdie gesprek:

____________________________________________________________________

Liewe Udo

Jy sê in jou laaste brief baie dinge, maar heel onderaan, die volgende: “…is soos om ‘n huis te probeer bou sonder ‘n fondasie.”

So, ek wil ook voorstel dat ons by die fondasie begin…

Psa 118:22: Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.

Isa 28:16: daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.

Mat 21:42: Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?

Eph 2:20: gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,

1Pe 2:6: Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.

Nou, indien jy hierdie Hoeksteen as jou Fondasie aangeneem het, het ek oor hierdie Fondasie-Steen die volgende vrae:

1.      Toe Jesus na die aarde gestuur is, was dit die “ou” testament of die “nuwe“ testament wat Vlees geword het?

2.      Sou jy sê, indien jy oor Jesus se gedrag met die sweep in die tempel lees, dat Christene ook so ‘n gedrag mag openbaar? maw. ons moet daarna streef om soos Hy te word?

3.      Was Jesus ‘n Jood of ‘n Griek?

4.      Is jou Woord [Bybel] dus op ‘n Griekse of Joodse Fondasie gebou?

5.      Wie se woorde in jou Bybel, dra swaarder waarde, Jesus se woorde of Paulus se woorde?

6.      Na wie verwys Jesus met Sy volgende opmerking? Mat 7:3  En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?

7.      Na wie verwys die volgende stelling: Moshiach ben Yoseph?

8.      Na wie verwys die volgende stelling: Moshiach ben David?

9.      Na wie spesifiek se Jesus is Hy gestuur? Mat 15:24: Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.

10.     Indien Jesus nie hierbo in item 9 lieg nie, wat bedoel Hy met Sy volgende stellings: Joh 10:11 (cjb): “I am the good shepherd. The good shepherd lays down his life for the sheep. Joh 10:15 (cjb) just as the Father knows me, and I know the Father — and I lay down my life on behalf of the sheep.

11.     Wie is dan hierdie huis van Israel , waarvoor Jesus alleenlik gestuur is?

12.     Indien ek dan “gered” wil word deur Jesus, soos die Christene sê, dan moet ek mos ook deel word van Sy teikengroep [huis van Israel] vir wie Hy gestuur is?

13.     As God dan vir Jesus alleenlik na die verlore skape van die huis van Israel gestuur het, wat bedoel Jesus met volgende stelling: Joh 20:21(AOV): Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.

14.     Na wie verwys Jesus hier as honde? Mat 15:26:  Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.

15.     Na wie verwys Jesus hier as honde? Mat 7:6:  Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.

Udo, ek glo jy sal sien dat met bogenoemde vrae, my en jou Bybellees, heeltemal verskil, miskien omdat ek vrede gemaak het met wie en vir wie Jesus gestuur is deur die “Joodse” God?

Jy sien, ek en my vroutjie maak besonderse studie van Jesus se Woorde, want Hy sê…

Joh 5:46:  Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.

Joh 5:47:  En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?

Joh 8:45: Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.

Joh 10:26:  Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.

LAASTE VRAAG AAN JOU UDO, GLO JY DIE WOORDE VAN JOU MESSIAS?  IS JY EEN VAN SY SKAPE? DAN WIE, VRA EK JOU, IS DIE HUIS VAN ISRAEL, UDO??????

Groete

Winkelsmidt

 

 

Hallo Winkelsmidt

Ek verskil geensins van jou dat Jesus volledig ‘n Jood was en dat sy aardse bediening eerstens en hoofsaaklik op die Jode gemik was nie. Die meeste van sy woorde (jy verwys na sommige) was daarom baie spesifiek op daardie oomblik aan die Jode gerig. Maar hy was nie deur God die Vader UITSLUITLIK net na die Jode gestuur nie. Sy uiteindelik dood en sy boodskap van redding was vir alle mense bedoel.

Kom ons kyk weer na ‘n spesifieke gedeelte in die skrif wat jy probeer gebruik om jou standpunt te staaf. Jy haal die volgende verse aan: Mat 15:24, 26: “Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel…Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.” Jy gebruik hierdie verse as ‘n voorbeeld om te wys dat Jesus net gekom het vir die Jode en jy wys my daarop dat Jesus dit dan self so gesê het. Jy versuim egter (gerieflikheidshalwe?) om daardie verse in die konteks te noem waarin dit voorkom (die mees basiese beginsel van goeie eksegese!). Jy versuim om te noem dat Jesus juis die moeite doen om met ‘n Kanaänitiese/Griekse vrou (sien Mark. 7:26) te praat. Verder versuim jy om te noem (en dit is wat my so bietjie onstel, Winkelsmidt) wat Jesus se antwoord was op haar verweer toe sy sê, “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval. Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.” Hoe interpreteer jy Jesus se antwoord en wat toe gebeur? Is dit die antwoord en optrede van iemand wat regtig net vir die Jode gekom het? Gee Jesus nie hiermee eksplisiet erkenning dat dit waar is wat sy sê nie: dat kinders (Jode) vóór honde (heidene) eet, nie dat hulle glad nie moet eet nie?! Die feit dat Jesus haar aanvanklik nie eers geantwoord het nie en haar toe tog later antwoord met die skynbaar onsimpatieke woorde dat hy “net” gestuur is na die verlore skape van die huis van Israel, was duidelik bedoel om die egtheid van haar geloof te demonstreer (“groot is jou geloof”).

Dit is hoekom konteks so belangrik is, Winkelsmidt, en ‘n mens kan nie maar net ‘n woordjie hier en daar uitlig en dink jy het nou die skrif verstaan nie. Ook in die lig van ander gedeeltes in die Nuwe Testament is dit heeltemal onhaalbaar om hierdie woorde van Jesus te verstaan as dat veral sy sterwe aan die kruis net vir die Jode se sonde bedoel was (gaan kyk asseblief weer na Handelinge 15!). Iemand maak byvoorbeeld ook die volgende opmerking oor Matt 15:24: “ ‘I am not sent but to the lost sheep of the house of Israel’: The Lord’s personal mission was to the Jews. Under the first commission his apostles were directed to go only to the Jews (Mat: 10:6). It would be impossible to evangelize the Gentiles without setting aside the Jewish customs, the law of Moses, and arousing the bitterest prejudice of the Jews. Hence it was the divine plan that the Son should “keep the law blameless” during his ministry. It was only when the Jews crucified him “that the handwriting of ordinances was nailed to the cross,” the “wall of partition” between Jews and Gentiles broken down, and all prepared for the Great Commission which bade his disciples “go into all the world and preach the gospel to every creature.” Let wel dat Jesus gesê het om dissipels (volgelinge) te maak van alle nasies, nie om van hulle Jode te maak nie. Nêrens in die skrif kry ek ‘n aanduiding dat Jesus ooit gesê het dat enige iemand die Joodse geloof, Joodse gebruike of die Joodse kultuur moet aanneem om gered te word nie, inteendeel, lees gerus wat sê Paulus Galasiërs 2:14-21.

Gepraat van Paulus, van wie jy waarskynlik nie dink ‘n mens as ‘n gesagvolle man van God moet beskou nie. Paulus was ‘n Jood by uitnemendheid (sien Filippense 3:5-6) en dis vir my baie moeilik om te dink dat iemand hom daarvan kan aankla dat hy nie die Joodse Jesus verstaan het nie. Paulus gaan maak spesifiek die boodskap van Jesus aan die nie-Jode bekend, maar nêrens sien ons dat Paulus van hulle Jode probeer maak nie. Inteendeel, hy spreek vir Petrus sterk aan omdat hy so klem lê op die Joodse besnydenis (sien Galasiërs 2:7-14). Verbeel jou dit: Paulus spreek vir Petrus aan, Petrus, een van die dissipels naaste aan Jesus – en verder aanvaar Petrus skynbaar sulke vermaning! Nou as Paulus mense tot bekering roep – nie tot Joodskap nie – waar kom die idee dan vandaan dat enige iemand moet “deel word van Sy teikengroep [huis van Israel]” (Galasiërs 2:14!!!!!). Hoekom moet ek in elk geval deel word van die “huis van Israel” as die meeste in die huis van Israel Jesus nie as die Messias erken nie (sien Joh. 1:11: He came unto his own, and his own received him not”)?

Jou verweer is waarskynlik steeds dat ‘n mens nie Paulus se woorde meer waarde moet gee as Jesus s’n nie. Behalwe vir die feit dat Paulus Jesus glad nie weerspreek nie, is jy egter besig om ‘n paar dinge te ignoreer: Eerstens, soos ek reeds genoem het, was Paulus self ‘n Jood wat volkome deur Jesus se ander dissipels, wat ook almal Jode was, aanvaar is. As Paulus nonsens gepraat het, dan sou ander skrywers soos Petrus, Johannes en Jakobus hom mos daaroor aangespreek het. (Soos ek ook alreeds genoem het is Paulus die een wat die aanspreekwerk doen en al wat Petrus doen is om te noem dat sekere van die dinge wat Paulus noem moeilik is om te verstaan! – sien 2 Petrus 3:15-16) Jy haal self ‘n gedeelte in Efesiërs 2:20 aan – iets wat Paulus geskryf het. Dink jy daardie woorde dra minder waarde of gesag as byvoorbeeld die woorde van Jesus wat deur iemand soos Lukas wat nie eers ‘n Jood was nie (hy was waarskynlik ‘n Griek) neergeskryf is?

Tweedens, dit is onverantwoordelik om te dink dat sekere woorde in byvoorbeeld die Nuwe Testament meer waarde of gesag dra as ander. Die woorde in die Nuwe Testament, soos in die Ou Testament, is deur mense geskryf wat deur die Heilige Gees geïnspireer is. M.a.w. as jy die gesag van enige van die woorde wil ontken, dan ontken jy terselfdertyd dat die skrywer daarvan deur die Heilige Gees geïnspireer is. Die vraag is dus: is iemand soos Paulus, of Lukas, of Johannes of wie ookal, deur die Heilige Gees geïnspireer? As hulle is, dan dra die woorde wat hulle geskryf het, Goddelike gesag. ‘n Mens kan nie bloot net na die woorde kyk en dan sê omdat dit Jesus se woorde was, moes dit geïnspireer gewees het nie; of as iets teenstrydig lyk met Jesus se woorde, dat ons dit daarom dan summier moet verwerp nie. Die vraag is hoe ons weet dat dit Jesus se woorde was? Die antwoord is nie omdat Jesus dit gesê het nie, maar omdat ons rede het om te glo dat die skrywers daarvan sy woorde getrou weergegee het. Natuurlik ontken ek nie hiermee die feit dat die Heilige Gees ‘n mens oortuig dat die skrif waar is nie. Maar terselfdertyd gaan Hy tog sekerlik nie vir sommige oortuig dat alles in die Bybel waar is en vir ander dat net sekere dele waar is nie. Wie is dan reg? Daarom is daar ook ander dinge (soos hermeunetiek en tekskritiek) waarvan ons bewus moet wees wat saam met die inspraak van die Heilige Gees op die waarheid van die skrif behoort te dui.

Verder is dit ook nie akkuraat om daarvan te praat dat die “Ou Testament” of “Nuwe Testament” vlees geword het nie. Dis nie die daardie woorde wat mense onder leiding van die Heilige Gees geskryf het wat vlees geword het nie, maar die Logos, die tweede persoon van die Drie-enige God. Natuurlik is die Bybel ook spesifiek die Woord van God en hiermee word bedoel dat die Bybel ‘n volle uitdrukking is van God se wil en openbaring van Homself (niks daarin is ‘n valsheid oor God en sy bedoelinge nie). Maar die Geskrewe Woord (die Bybel) en die Vleesgeworde Woord (Jesus) is nie dieselfde nie. Die een is ‘n samestelling van geskrifte waardeur verskillende skrywers God se openbaarmaking van Homself, Sy spesifieke werke en Sy bedoelinge neergepen het; die ander is ‘n Persoon wat Homself in twee nature, maar beslis as God self op ‘n spesifieke tyd en plek aan mense op aarde kom openbaar het. Die feit dat wat albei sê, ooreenstem, maak hulle egter nie daarom dieselfde ding nie.

‘n Opmerking oor die Jode wat voor Jesus se koms na die aarde geleef het. Hoe is hulle gered voor Jesus se sterwe aan die kruis? Die hele boek van Hebreërs is eintlik een lang verduideliking van hoe die dood van Jesus die volvoering was van die offerandes wat die Jode moes bring vir vergifnis van hulle sonde (gaan kyk egter spesifiek wat Hebreërs 10 daaroor te sê het). Maar selfs nie ‘n Jood is gered deur die doen van goeie dade of die nakom van die Wet nie, maar alleenlik deur die vergifnis van sonde wat deur die offerandes (die vloei van bloed) bewerkstellig is. Hierdie vergifnis van sonde deur die bring van offers moes die Jode deur GELOOF toeëien en dit was die gronde vir hul redding. Daardie offerande was ‘n simbool, ‘n vooruitwysing, van die eintlike, ware en finale offerande wat slegs deur Jesus se eie lewe bewerkstelling kon word. Daarom dat die hele Hebreërs 11 klem lê op die GELOOF van spesifieke Jode en waardeur hulle redding ontvang het. Hulle dade het uit hulle geloof voortgevloei en dis waarom Jakobus 2:17-26 so klem lê op werke. Dis nie dat werke opsigself iemand kan red nie, dis net dat geloof aanleiding gee tot spesifieke werke wat vir God aanvaarbaar is en deel is van wat dit beteken om gered te wees. Waar die Ou Testamentiese Jode se geloof ‘n vooruitwysing na Jesus se versoeningsdaad aan die kruis was, is geloof in Jesus vandag ‘n terugwysing na daardie versoeningsdaad tussen mens en God. (Net terloops, dis vir my interessant dat die Jode wat Jesus nie as die ware en finale offerande erken nie, nie meer vandag offers soos in die Ou Testament bring nie. Waar in die Joodse Ou Testament, wat hulle as die Woord van God erken, is daar ‘n aanduiding dat die bring van offers as vergewing van sondes, nie meer nodig is nie?)

Jy vra: “Sou jy sê, indien jy oor Jesus se gedrag met die sweep in die tempel lees, dat Christene ook so ‘n gedrag mag openbaar? M.a.w. moet ons daarna streef om soos Hy te word?”

My antwoord op jou vraag is dat ons Jesus se karakter moet openbaar, nie die gedrag wat hy in die baie spesifieke omstandighede waarin, en doel waarvoor, hy geleef het, geopenbaar het nie. As ek bloot sy spesifieke gedrag moes openbaar, dan moes ek waarskynlik ook fisies aan ‘n kruis gaan sterf het, en dis mos absurd. Jesus se spesifieke gedrag het afgehang van die situasie waarin hy was, maar dis sy karakter wat bepaal het hoe hy in daardie situasies opgetree het. Daarvan was die reiniging van die tempel ‘n goeie voorbeeld. Dit was sy sondelose en heilige karakter wat gemaak het dat hy die tempel met ‘n sweep binnegestorm het. Wie anders as ‘n sondelose mens het die reg gehad om te doen wat hy gedoen het om te wys dat God se tempel heilig moet wees? Enige ander mens wat ander met ‘n sweep uit die tempel wou jaag, sou skynheilig gewees het, want bloot sy teenwoordigheid in die tempel as ‘n sondige mens, het God se tempel ontheilig.

My punt is dus die volgende: noem vir my ‘n relevante situasie en ek sal vir jou probeer aandui watter gedrag ek as Christen volgens die karakter van Jesus, wat ek meer en meer probeer aanneem, in daardie situasie moet openbaar.

Ek volstaan eers hierby.

Groete

Udo

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.