Spiritualiteit

Hallo Udo

Wat is ‘spiritualiteit’?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt,

Die HAT verstaan ‘spiritualiteit’ as dit wat te make het met die “onstoflike element  in die mens [teenoor die liggaamlike of fisiese] wat van hom ’n denkende, voelende, willende wese maak”.

Spiritualiteit of geestelikheid dui dus op daardie dimensie van die mens wat nie met die fisiese te make het nie, maar met dit waaruit die mens as ’n sielewese bestaan. Om meer spesifiek te wees gaan dit oor ’n voortdurende bewustheid en selfs aktiewe soeke na antwoorde op die groot lewensvrae waarmee alle mense gekonfronteer word: Waar kom alles (ek) vandaan? Hoekom leef ek? Hoe moet ek leef? Wat gebeur (met my/ander) na die dood? Dit is die feit dat ons gemoeid is met hierdie tipe vrae en betrokke is in die proses om dit op ‘n spesifieke manier te beantwoord, wat maak dat ons spirituele/geestelike wesens is.

Alle mense beleef ’n bepaalde spiritualiteit, selfs al sou dit lyk asof hulle op ’n kognitiewe vlak onbewus of ongeërg daaroor is, of selfs al is dit so dat mense met verskillende antwoorde op die groot lewensvrae vorendag kom. ’n Mens kan jou spiritualiteit ontwikkel en ‘n onderontwikkelde spiritualiteit kan jou verarm (sommige mense praat spesifiek in terme van ‘geestelike intelligensie’).

In een opsig dui spiritualiteit dus op ’n algemene karaktereienskap van die mens wat van hom iets anders maak as ’n dier wat bloot volgens instinkte en drange leef. Die mens het ’n morele karakter met ’n vrye wil, asook ‘n rasionele vermoë wat hom of haar in staat stel om te kan nadink oor die lewe en bepaalde ideale kan laat nastrewe. Hierdie definisie van spiritualiteit hoef egter nie ’n erkenning aan die bestaan van ‘n Goddelike Wese in te sluit nie. By verre die meeste mense bring die konsep ‘spiritueel’ of ‘geestelik’ egter in verband met die bestaan van een of ander Hoër Mag of onpersoonlike krag wat nie in terme van die fisiese beskryf kan word nie. Ander is streng materialiste en beskou die idee van ‘spiritualiteit’ as ‘n soort funksionele illusie, dat dit eintlik niks anders is nie as die produk van bepaalde brein-aktiwiteit wat ons ervaar as ‘n kombinasie van denke, emosie en wil. Die punt is dat ‘spiritualiteit’ en ‘godsdienstigheid’ nie dieselfde ding is nie. Iemand wat godsdienstig is beleef wel ‘n bepaalde spiritualiteit, maar iemand kan bemoeienis maak met sy spiritualiteit, en glad nie godsdienstig wees nie.

Dan is daar die konsep van ‘Christelike spiritualiteit’. Die term spiritualiteit verwys hier na die verskillende maniere waarop gelowiges hulle Christelike geloof beleef en uitleef. Dr. Adrio König skryf in een van sy boeke in ’n hoofstuk getiteld “Spiritualiteit en geloofsoortuiging” die volgende: “[Spiritualiteit] lê nie soseer die nadruk op die inhoud van ons geloof nie maar eerder op die praktyk van ons geloof, die uitlewing van ons geloofsoortuigings, die manier waarop ons aan ons geloof gestalte gee. In sekere sin het spiritualiteit egter tog verband met die inhoud van ons geloof, want in ’n groot mate sal die manier waarop ons ons geloof verstaan, bepaal hoe ons dit beleef en beoefen.”

Spiritualiteit bestaan uit verskillende komponente en mense is geneig om sekere komponente meer as ander te beklemtoon. Dit beteken dat Christene ‘spiritualiteit’ op verskillende maniere beleef. Van die belangrikste komponente wat in wisselwerking tot mekaar staan in die uitleef of belewing van geloof is o.a. die volgende: die spesifieke rol wat aan die Bybel/openbaring gegee word; die rol wat aan ervaring/belewenis toegedig word, die rol van die rede/intellek en die rol van die geloofstradisie/godsdiens-atmosfeer waaraan mense blootgestel is. Dr König skryf in hierdie verband: “’n Mens kan praat van die MISTIEKE VROOMHEID van die Oosters-Ortodokse Kerke (o.a. weens die mistieke betekenis wat die ikone by hulle het); die SAKRAMENTELE VROOMHEID van die Katolieke Kerk (weens hulle tradisionele nadruk op die sakramente as draers van die heil…), en die ENTOESIASTIESE SPIRITUALITEIT van die Pinkster- en Charismatiese Kerke (met hulle besondere siening van die werk van die Heilige Gees)… Daar word dan graag van die Protestante in die algemeen, en meer in besonder van die GEREFORMEERDES, se spiritualiteit as SOBERE VROOMHEID gepraat…”

Spiritualiteit het dus te make met hoe ons ons geloof verstaan, ervaar en gevolglik uitleef. Die idee is nie dat een tipe Christelike spiritualiteit hier noodwendig beter is as ’n ander nie (aangesien elke tipe maar sy eie blinde kolle het), maar dat ons bewus sal wees van wat ons glo, hoekom ons dit glo en watter verskil dit in ons lewens en die wêreld maak. Tog dink ek dat die waarheid van God se Woord sentraal moet staan in Christene se strewe om ’n antwoord op daardie groot lewensvrae te kry. (Die kombinasie van sulke antwoorde word ‘n Christelike wêreldbeskouing genoem.)

Winkelsmidt, ek hoop die bogenoemde help jou in jou nadenke oor hierdie onderwerp. Miskien het jy nog ander insigte wat jy sou wou byvoeg. Jy is welkom om dit te doen.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.