Twyfel oor of wonderwerke gebeur

Liewe Udo

Dit is met blydskap dat ek gehoor het van jul webwerf!

Ek was in ‘n Christelike huis grootgemaak en is nog een van die gelukkiges wie se ouers nog bymekaar is en ’n wonderlike familie het. Ek streef daarna om meer soos Jesus te lewe en alle versoekings te vermy. Ons gaan ook Sondae kerk toe en doen bybelstudie en bid elke dag.

My probleem is dat ek myself soms kry waar ek so twyfel in God se bestaan, juis omdat ek hom nie kan sien nie. Ek het nog nooit van onrealisties stories gehou nie en ek dink dat ek partykeer so voel omdat die hele verhaal van God so onwerklik klink. Om op te vaar na die hemel is “amazing”, maar is tog vir ons vandag ‘n verskynsel wat nooit meer voorkom nie.

Tog HAAT ek die gevoelens en hoop elke keer dat ek dit nooit weer sal kry nie, want ek is ‘n christen en wil BAIE graag hemel toe gaan! Die lewe op aarde kan tog nie al wees nie. Sodra ek sulke gevoelens kry, bid ek altyd dat die Heilige Gees dit sal verdryf, omdat ek glo dat dit van die duiwel af kom. My grootste vrees is dat God my sal straf oor die gedagtes wat soms opkom en daarom het ek ‘n vrees vir die dood. Want hoe weet jy regtig of jy hemel toe gaan of nie? Ek probeer als reg doen, maar weet nie verseker nie.

Ek hoop jul sal my kan help, of net bemoedig op een of ander manier.

Lekker dag en dankie dat ek kon gesels.

Groete

Winkelsmidt

 

(Slegs een gedeelte van bogenoemde vraag word hier beantwoord. Sien onder vir skakels na die ander dele.)

Liewe Winkelsmidt

Jy sê: “Ek het nog nooit van onrealisties stories gehou nie en ek dink dat ek partykeer so voel omdat die hele verhaal van God so onwerklik klink. Om op te vaar na die hemel is “amazing”, maar is tog vir ons vandag ‘n verskynsel wat nooit meer voorkom nie.”

Winkelsmidt, ek stem met jou saam dat die onderskeie woorde, “onrealisties” en “stories”, opsigself soms al baie problematies is, wat nog te sê as jy dit kombineer! En dis ongelukkig presies wat baie mense van wat in die Bybel geskryf staan, dink: dis alles net stories en dan is dit nog onrealisties ook!

Die probleem wat baie mense natuurlik sê hulle het, is die probleem met die idee van wonderwerke. Mense redeneer dat sulke wonderbaarlike verskynsels soos wat die Bybel beskryf, tog nie iets is wat vandag gebeur nie. Die redenasie is dat die skrywers van die Bybel in ‘n tyd gewoon het toe dit algemene praktyk was om allerlei aktiwiteite aan die “gode” toe te skryf. Dit was so omdat baie mense van daardie pre-moderne tyd, meestal dinge waarvoor hulle nie ‘n verduideliking kon gee nie, aan bonatuurlike oorsake toegeskryf het. Vandag verstaan ons egter, so word geredeneer, dat wetenskaplike vooruitgang gewys het dat “onverklaarde oorsake” nie meer met “bonatuurlike oorsake” verwar moet word nie. En omdat die wetenskap gewys het dat daar nie bonatuurlike oorsake kan wees nie (alles het ‘n natuurlike verklaring), het dit terselfdertyd gewys dat daar byvoorbeeld ook geen “Bonatuurlike Wese” bestaan nie.

Baie mense is dus oortuig dat, 1) wonderwerke nie meer vandag gebeur nie en omdat dit nie meer vandag gebeur nie, het dit, 2) heel waarskynlik ook nie in die verlede gebeur nie en daarom, 3) is die Bybel maar net ‘n boek vol onrealistiese stories en wys dit, 4) daarop dat God ook eintlik net ‘n onrealistiese storie is!

Wat baie mense egter nie besef nie is dat die belangrike vraag nie in die eerste plek is of wonderwerke vandag nog gebeur nie. Die vraag is of dit hoegenaamd moontlik is dat ‘n wonderwerk kan gebeur. En ten spyte van wat baie mense dink het die wetenskap nog nooit gewys dat wonderwerke nie kan gebeur nie. Inteendeel, die wetenskap KAN NIE bewys dat wonderwerke nie kan gebeur nie. Daar is geen wetenskaplike eksperiment wat iemand kan gaan doen om te bewys dat wonderwerke nie kan gebeur nie. Dit sou ‘n verkeerde verstaan wees van hoe  die wetenskap werk. Die wetenskap is hoofsaaklik ‘n beskrywing van hoe dinge in die natuur gewoonlik werk, dit is nie voorskriftelik van hoe dinge behoort te werk nie (selfs al bied dit ook akkurate voorspellings oor bepaalde dinge). Net so hét die wetenskap nie en kán dit ook nie, bewys dat God nie bestaan nie (dit kan ook nie bewys dat alles ‘n natuurlike verklaring het nie). Die wetenskap is hoofsaaklik ook net gemoeid met dinge wat met die sintuie waargeneem kan word. As God egter, soos ons reeds genoem het, per definisie nie met die sintuie waargeneem kan word nie, hoe gaan (of het) ‘n mens dan wetenskaplik bewys dat God nie bestaan nie?

Dit bring ons by die heel eerste en eintlike vraag as ons oor wonderwerke begin praat: bestaan die God van die Bybel? Want om te weet of dit moontlik is dat wonderwerke hoegenaamd kan gebeur, is dit nodig om te weet of daar ‘n God is wat by magte is om iets soos wonderwerke te doen! Norman Geisler verduidelik dit so: “If the theistic God exists, miracles are possible. If there is a God who can act, then there can be acts of God. The only way to show that miracles are impossible is to disprove the existence of God.” En dit, Winkelsmidt, het NIEMAND nog gedoen nie!

Om dus te sê dat wonderwerke nie vandag gebeur soos dit in die Bybel gebeur het nie, het nog ABSOLUUT NIKS gesê oor of wonderwerke kan gebeur nie, en of daar ‘n God bestaan wat sulke wonderwerke kan doen nie! Met ander woorde, selfs al is die stories in die Bybel waarin daar wonderwerke voorkom, presies net dit – opgemaakte stories, dan sê so ‘n feit nog steeds nie vir ons iets oor die moontlikheid van wonderwerke en of God bestaan of nie.

Daarom is wonderwerke (en die feit dat daar van hulle in die Bybel beskryf word) nie regtig mense se groot probleem nie. Die probleem het meer te doen met watter bril mense na die wêreld kyk. Baie mense sê wonderwerke is onrealisties. Wonderwerke kan egter slegs on-realisties (“teen-realiteit”) wees, as wonderwerke die realiteit weerspreek, m.a.w. as dit nie ooreenstem met hoe die realiteit eintlik werklik is nie. Maar as dit werklik die aard van realiteit is dat daar ‘n God bestaan wat alles uit niks gemaak het (die grootste wonderwerk ooit) en daarom by magte is om ook ander wonderwerke te doen (en ‘n wonderwerk is per definisie iets wat net soms gebeur), dan is wonderwerke nie onrealistiese verskynsels nie, maar net baie ongewone verskynsels.

Mense wat sê daar gebeur nie vandag wonderwerke soos in die Bybel nie en dat dit daarom wys dat God nie regtig bestaan nie, het die kat aan die stert beet en bedoel eintlik die volgende: “Ek glo nie dat God bestaan nie en daarom gebeur wonderwerke nie (en het, kan en sal dit ook nooit gebeur nie)”. C.S. Lewis sê hieroor: “[W]hether miracles occur can never be answered simply by experience. Every event which might claim to be a miracle, is in the last resort, something presented to our senses, something seen, heard, touched, smelled or tasted. And our senses are not infallible. If anything extraordinary seems to have happened, we can always say that we have been the victims of an illusion. If we hold a philosophy which excludes the supernatural, this is what we always shall say. What we learn from experience depends on the kind of philosophy we bring to experience. It is therefore useless to appeal to experience before we have settled, as well as we can, the philosophical question.”

Dit bring ons egter nou by die hele vraag oor of wonderwerke wel nog vandag gebeur. Dis een ding om te sê dat wonderwerke moontlik is (as God bestaan) – dis ‘n ander saak om te sê dat wonderwerke wel gebeur of gebeur het. Mense is skepties oor ander se aansprake op wonderwerke, want sulke wonderwerke het al dikwels uitgedraai as ‘n liegstorie, of dis net ‘n baie goeie toertjie (dink maar aan mense soos David Copperfield en David Blaine), of dis bloot ‘n natuurlike verskynsel wat op daardie stadium net nog nie heeltemal verstaan word nie. En selfs al gebeur wonderwerke vandag nog, vra baie mense, hoekom sien ons nie meer dieselfde wonderwerke as wat in die Bybel beskryf word nie?

Dit is egter belangrik om te verstaan wat die doel van wonderwerke in die Bybel is. Is God soos ‘n kulkunstenaar by die sirkus wat mense nooi na ‘n vertoning om mense met sy toertjies te vermaak? Kry ons die indruk in die Bybel dat hy heeldag en aldag wonderwerke gedoen het om mense te beïndruk of te oortuig van sy bestaan? (Sien bv. Numeri 14:11 en Lukas 16:31) Iemand wat die wonderwerke in die Bybel so verstaan, het dit nog nie mooi gelees nie. Die konteks van die wonderwerke in die Bybel wys daarop dat dit altyd ‘n baie spesifieke betekenis het, dit sê altyd iets baie spesifiek oor God of dit is ’n bevestiging van ‘n baie spesifieke boodskap wat van God af kom. Bybelse wonderwerke is nie maar net sporadiese, niksseggende, maar wonderbaarlike gebeurtenisse wat net wys hoe oulik en kreatief God is nie. Daarom dink ek wel dat meeste van die wonderwerke wat in die Bybel gebeur het, nie vandag gebeur nie. Wonderwerke het destyds, in ‘n tyd toe die Bybel as God se Woord neergeskryf is en Jesus op aarde verskyn het, baie spesifiek die doel gehad om God se boodskap, wat saam met daardie wonderwerke gepaard gegaan het, aan mense te bevestig.

Ek dink nie dit sê enige iets van God indien Hy nie meer vandag enige sulke wonderbaarlike dinge doen soos in die Bybel nie. Terselfdertyd dink ek wel dat God steeds vandag bepaalde wonderwerke doen. Ek is egter haastig om by te voeg dat ek nie ander se aansprake oor ‘n sogenaamde wonderwerk sommer vir soetkoek hoef op te eet nie. (Ek is byvoorbeeld hiper-skepties oor “miracles on demand”, veral die soort wat in sogenaamde helingsdienste sou plaasvind. Ek dink welvaarts-teologie loop hand aan hand met sulke aansprake oor wonderwerke, en ek beskou dit alles in stryd met Bybelse lering, maar dis ‘n gesprek vir ‘n ander keer.)

C.S. Lewis het die volgende perspektief oor wonderwerke daargestel: “You are probably quite right in thinking that you will never see a miracle done: … They come on great occasions: they are found at the great ganglions of history – not of political or social history, but of that spiritual history which cannot be fully known by men. If your own life does not happen to be near one of those ganglions, how should you expect to see one? If we were heroic missionaries, apostles, or martyrs, it would be a different matter. But why you or I? Unless you live near a railway, you will not see trains go past your windows. How likely is it that you or I will be present when a peace-treaty is signed, when a great scientific discovery is made, when a dictator commits suicide? That we should see a miracle is even less likely. Nor, if we understand, shall we be anxious to do so. “Nothing almost sees miracles but misery.” Miracles and martyrdom tend to bunch about the same areas of history – areas we have naturally no wish to frequent.”

Daar was ‘n tyd in my eie lewe as ‘n jong Christen toe ek gevoel het dat God Homself deur ‘n wonderwerk aan my moes bewys, dat ek dan sou glo dat Hy werklik bestaan. As ek nou daaroor terugdink dan was dit soos ‘n meisie wat toegewyd is aan haar ou en op ‘n stadium vir hom sê dat sy baie lief is vir hom, en hy haar dan antwoord: “Ek glo jou nie, bewys dit!” So ‘n verstaan van hoe liefde werk en van wat ‘n verhouding beteken, is kinderagtig en kleinlik (gelukkig het God baie geduld met jeugdige voortvarendheid). Vandag verwag ek nie dat God besondere wonderwerke in my eie of ander se lewe moet doen nie, selfs al weet ek Hy kan. Waarvoor ek wel vir myself en ander bid, is om elke dag toenemend op die bonatuurlike werking van Sy Heilige Gees in ons lewens te leer vertrou. Dit is dan dat God ons ook op wonderbaarlike maniere in Sy koninkryk kan gebruik.

Daar is nog baie meer te sê oor wat wonderwerke is en hoekom God soms met wonderwerke sou ingryp en ander kere nie. Ons het ook nog glad nie uitgekom by spesifieke historiese getuienis dat spesifieke wonderwerke wel in die verlede plaasgevind het nie. M.a.w. ons het nog nie gepraat oor hoe ‘n mens ‘n onderskeid tref tussen wat bloot ‘n storie is en wat die waarheid is wanneer dit by wonderwerke kom nie. Maar hopelik het jy ‘n gevoel begin kry vir waarom wonderwerke nie iets is waaroor ons as Christene enigsins verleë hoef te voel nie. Inteendeel, een van die sentrale pilare van die Christelike geloof is die wonderwerk van Jesus se opstanding uit die dood. So sterk was iemand soos Paulus daarvan oortuig dat die opstanding iets was wat werklik gebeur het, dat hy die volgende gesê het (ek haal sy woorde aan uit die parafrase van The Message):

“Now, let me ask you something profound yet troubling. If you became believers because you trusted the proclamation that Christ is alive, risen from the dead, how can you let people say that there is no such thing as a resurrection? If there’s no resurrection, there’s no living Christ. And face it–if there’s no resurrection for Christ, everything we’ve told you is smoke and mirrors, and everything you’ve staked your life on is smoke and mirrors. Not only that, but we would be guilty of telling a string of barefaced lies about God, all these affidavits we passed on to you verifying that God raised up Christ–sheer fabrications, if there’s no resurrection. If corpses can’t be raised, then Christ wasn’t, because he was indeed dead. And if Christ wasn’t raised, then all you’re doing is wandering about in the dark, as lost as ever. (1 Corinthians 15:12-17, The Message)

Klink nogal vir my na iemand wat nie daaroor getwyfel het dat daar ‘n wonderwerk plaasgevind het! Klink ook nie vir my soos iemand wat liggelowig of bygelowig was nie, maar eerder na iemand wat sy verstand gebruik het en met feite gewerk het.

Beste groete

Udo

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.