Verskillende kerke

Hallo Udo

Daar is soveel verskillende kerke wat verskillende dinge glo oor die Bybel. Hoe weet ’n mens watter kerk eintlik die regte dinge glo?

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt,

Jy is reg as jy oplet dat verskillende Christelike denominasies verskillende interpretasies heg aan bepaalde gedeeltes in die Bybel. Die meeste kerke doen so vir goeie redes en hulle glo dat hulle daardeur getrou is aan die Bybel. Dit beteken egter dat sommige kerke skynbaar verskillende dinge oor dieselfde onderwerp glo omdat hulle glo dat dit is wat die Bybel leer. As dit so is, hoe besluit ’n mens dan wie is reg en wat geglo moet word, of oor wat die Bybel eintlik leer?

Dit is maklik om te sê dat ’n mens maar net moet teruggaan na die Bybel om te weet wat ons moet doen en glo. En dis net so maklik om te dink dat ander mense in ander kerke nie regtig erns maak met die Bybel as hulle iets op ’n ander manier verstaan as wat ons dink die Bybel leer nie. Ek dink egter dis ’n simplistiese manier om na hierdie probleem te kyk. Die feit is dat alle gelowiges wat erns maak met die Bybel, se verstaan van die Bybel, ’n geïnterpreteerde verstaan is (maar terselfdertyd ’n proses waarby die Heilige Gees baie beslis genooi moet wees om betrokke te wees). Daar is daarom niemand (of geen kerk) wat kan sê dat slegs hulle alleen die Bybel reg verstaan en dat almal wat van hom verskil heeltemal verkeerd is nie.

Hierby moet ek onmiddellik byvoeg dat die Bybel nie sommer op enige manier geïnterpreteer kan word nie. Daar is beslis sekere ononderhandelbare kernwaarhede of essensiële leerstellinge wat die Christelike geloof baie duidelik definieer (en wat dit daarom onderskei van nie-Christelike gelowe en sektes). Daar is ook baie beginsels wat geld in die bestudering van die Bybel (die studievelde van hermeneutiek/skrif-interpretasie en eksegese/skrif-uitleg) om daarvoor te sorg dat nie sommer enige betekenis aan ’n Bybelgedeelte toegedig kan word nie. Maar wat nou gemaak as gelowiges dan van mekaar verskil oor ’n spesifieke verstaan van sekere gedeeltes? Ek dink daar is ten minste drie dinge om in gedagte te hou en wat riglyne vorm vir wanneer ons met ’n ander verstaan gekonfronteer word:

Eerstens moet ons kan onderskei tussen essensiële dinge en randsake. Hier dink ek byvoorbeeld aan die Afrikaanse drie susterskerke wat eintlik maar oor randsake van maar verskil. Ons behoort meer te kan fokus op dit wat ons saambind as om te veel klem te probeer lê op dit wat dreig om ons onnodiglik en oppervlakkig te verdeel.

Tweedens moet ons nie ander (Christene!) summier daarvan verdink dat hulle doelbewus besig is om die Bybel te verdraai nie. Ons kan gerus meer moeite doen om te probeer verstaan waar hulle vandaan kom en hoekom hulle iets op ’n sekere manier verstaan. Dit beteken nie dat ons uiteindelik met hulle gaan saamstem nie, maar ten minste kan ons hulle aanvaar as medegelowiges wat net so ernstig soos ons na die waarheid soek. Sekere sake gee ons egter beslis die ruimte om dit in ’n meer tentatiewe lig te beskou of nie so dogmaties daaroor te wees nie.

Derdens moet ons deeglik bewus wees van die redes (getrou aan verantwoordelike hermeneutiek en eksegese) vir waarom ons (en die kerktradisie waaraan ons behoort) ’n sekere Bybelse gedeelte op ’n sekere manier verstaan. Die implikasie is dat ons juis nie sommer net enigiets onnadenkend moet of hoef te glo wat aan ons geleer word nie (’n goeie voorbeeld sou die NG kerk se voormalige siening oor Apartheid wees). Maar terselfdertyd moet ons ook nie sommer te gou ‘n kerk of persoon van skrif-ontrouheid beskuldig as iets volgens ons nie met die eerste oogopslag na ’n Bybelse lering lyk nie. Daar is te veel opregte gelowiges wat al te lank en met te veel erns met sekere sake geworstel het om bloot te dink dat ons skielik met ‘n nuwe of meer getroue verstaan vorendag gaan kom van waaroor dit eintlik gaan.

Ten slotte wil ek sê dat dit jou nie te veel hoef te bekommer dat daar verskillende kerke is nie. Partykeer is denominasionele verskille bloot te wyte aan die feit dat mense saam groepeer rondom ‘n bepaalde geloofsbelewenis of ‘n spesifieke manier van aanbidding of ‘n sekere bediening van mekaar en die wêreld. Wat wel belangrik is, is om te kan bepaal of ‘n bepaalde kerk of persoon se leer in die kernwaarhede van die Bybel gegrond is. En dit beteken om self die moue op te rol en die harde werk van nougesette studie te doen wat vir elke Christen belangrik behoort te wees wat erns maak met die Bybel.

Ek vertrou dat dit help om jou vraag te beantwoord. Vra gerus enige opvolgvrae.

Groete

Udo

Lees gerus in hierdie verband Norman Geisler and Ron Rhodes se Conviction Without Compromise: Standing Strong in the Core Beliefs of the Christian Faith.

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.