Wie Was Jesus Werklik?

deur Phillip Scheepers

Christene bely dat Jesus meer as net ‘n mens was, dat Hy die Seun van God en God self is. Tog het daar baie ander interpretasies ontstaan oor wie Jesus nou eintlik was (en is) en wat Hy hier op aarde kom doen het. Hiervan is die belangrikstes:

  • Jesus was niks meer as ‘n groot leermeester nie. Baie mense dink dat die belangrikste rondom Jesus is om Sy etiese leerstellinge te probeer navolg. Ons hoef dus nie al die wonderwerke en goddelike uitsprake wat aan Hom toegeskryf word, te aanvaar nie. Baie mense volg hierdie benadering omdat hulle ‘n bepaalde wêreldbeeld as ‘bril’ gebruik om na die Evangelies te kyk en daarvolgens die bonatuurlike te verwerp.
  • Jesus was net ‘n profeet. Moslems, byvoorbeeld, het baie groot respek vir Jesus en erken Hom as een van die belangrikste profete van alle tye.  Hulle erken ook Sy maagdelike geboorte, Sy wonderwerke en die feit dat Hy ‘n rol sal speel tydens die finale oordeel. Tog glo Moslems dat Jesus niks meer as ‘n profeet was nie en ontken dus die Christelike aanspraak dat Jesus die Seun van God is en ook dat Hy aan die kruis gesterf het.
  • Jesus is een van baie gode. Mense in die Hindoe of die New Age geloof erken Jesus as ‘n god – Hy is dus een van baie gode. Hiervolgens is Jesus maar net een van baie ‘gestuurdes’ wat die goddelike as’t ware vir die mensdom kom wys het.

Baie van bogenoemde mense het ‘n selektiewe lees van die getuienis oor Jesus in die Bybel. Dit is egter maklik om reeds vooraf seker te wees van wat jy oor Jesus wil glo en dit dan op die teks te gaan toepas. Alles wat dan nie by jou skema inpas nie, word verwerp. As ek dus vooraf besluit dat die bonatuurlike nie moontlik is nie, of dat Jesus maar net ‘n profeet is, gaan ek tog dit wat met my aannames bots, verwerp en dit nie as ‘n akkurate getuienis oor Jesus beskou nie. Die vraag is dus: Waar kry ‘n mens jou beeld van Jesus vandaan? Is dit uit die Evangelies self; of gebruik jy ‘n koekiedrukker om jou moderne beeld van wat jy graag wil hê Jesus moet wees, uit die getuienis te sny? Die probleem is dat jy die getuienis rondom Jesus dan buig om te sê wat jy wil sê. Dan word jou eie ideologie, en nie die teks nie, die finale maatstaf. Die vraag is of dit dan regtig die beste afleidings maak vanuit die totaliteit van getuienis oor Jesus.

Waar kom wat ons van Jesus weet vandaan?

Die oorgrote meerderheid van dit wat ons van Jesus van Nasaret weet kom spesifiek uit die Nuwe Testament.  Die aanklag wat dikwels gebring word is dat die Bybel ‘n spesifieke agenda het en daarom bevooroordeeld is oor wie Jesus regtig was. Die vraag is egter of geskiedenis wat met ‘n bepaalde ‘doel’ geskryf is, onmiddelik as onbetroubaar beskou moet word. As dit so is, dan sou ons omtrent alle geskiedenis moes verwerp, aangesien alles uiteindelik maar met een of ander doel voor oë geskryf is. Die groot vraag is nie na die motivering van die skrywers nie, maar of hulle betroubaar met die waarheid omgegaan het. Daar is goeie rede (‘n tema op sy eie) om te glo dat die skrywers van die Evangelies hierdie toets met vlieënde vaandels slaag. Jesus se identiteit en sekere details oor Sy lewe word ook deur historiese bronne buite die Bybel bevestig (waarvan sommige Hom dikwels vyandig gesind was). Hieruit is dit duidelik dat die historisiteit van Jesus en sekere biografiese feite oor Hom, nie bevraagteken kan word nie. Die groot vraag wat ons oor die Evangelies as primêre historiese bronne moet vra, is oor hoe Jesus daarin voorgestel word: Is Hy ‘n leermeester, ‘n profeet of is daar getuienis dat Jesus meer as dit was? Hieroor is die Evangelies duidelik – Jesus is die Seun van God!  Vervolgens ‘n paar van die belangrikstes verwysings hierna in die Evangelies.

Getuienis in die Evangelies oor die identiteit van Jesus:

  • Tydens Sy verhoor

Die mees ondubbelsinnige uitspraak deur Jesus self oor Sy identiteit, vind ons in die gedeelte oor Sy verhoor (Mark. 14:61-64) waar die hoëpriester Hom direk uitdaag oor of Hy die Seun van God is. Jesus se antwoord is: “Dit is soos U sê” (letterlik vertaal). Hierop skeur die hoëpriester sy klere. Volgens Joodse wette is die hoëpriester verbied om sy klere te skeur in reaksie op sy persoonlike probleme (vgl. Lev. 21:10). Hy was egter verplig om dit te doen indien daar godslastering in sy teenwoordigheid geuiter is. Die hoëpriester was dus oortuig dat Jesus, in sy teenwoordigheid, Homself aan God gelykgestel het. Hy verklaar dan ook dat geen verdere verhoor nodig is nie, aangesien Jesus Homself as’t ware reeds ‘skuldig’ bewys het. Die kwessie in Jesus se verhoor was nie oor wat Hy gedoen het nie, maar oor Sy identiteit. Dit is dus op grond van Sy eie uitsprake oor hierdie identiteit, dat Hy veroordeel word.

  • Ander aansprake van Jesus
    • Eenheid met die Vader. Jesus maak die uitspraak, ‘Ek en die Vader is Een’ (Joh. 10:30-33). Dit is duidelik dat Sy Joodse gehoor baie duidelik verstaan het wat Hy hierdeur bedoel het, aangesien hulle dadelik klippe optel om Hom te stenig (die straf vir godslastering). In ‘n ander gedeelte maak Jesus die stelling ‘My Vader werk tot nou toe en ek werk ook’ (Joh. 5:17). Hy gebruik spesifiek die manlike enkelvoud (My Vader), in plaas van die gebruiklike meervoud (Ons Vader). Weer eens snap die Jode onmiddelik die implikasie van wat Hy sê (dat Hy Homself met God gelykstel) en sê Johannes vir ons dat hulle nog des te meer ‘n begeerte gehad het om Hom dood te maak.
    • Jesus gebruik die Goddelike Naam. In Johannes 8:58 maak Jesus die stelling: “Dit verseker ek julle: Voordat Abraham gebore is, was ek al wat ek is.”  Die impak van wat Jesus hier sê gaan so bietjie in die vertaling verlore, maar dit het verseker nie verby Jesus se gehoor gegaan nie.  Jesus gebruik nie die gebruiklike vorm om die verlede tyd aan te dui nie.  Letterlik staan hier: “Voordat Abraham gebore was. Ek is!” Hy gebruik dus presies die Naam wat God gebruik het toe Hy Homself aan Moses geopenbaar het: Ek is! Ook hierdie uitspraak maak die Jode wat na Hom luister, woedend, omdat hulle baie duidelik verstaan wat Hy bedoel het.
    • Jesus is dieselfde eer as die Vader waardig. Jesus stel dit baie duidelik dat om Hom te eer, uiteindelik is om ook die Vader te eer (Joh. 5:23-24).  Verder sien ons dat Jesus dit duidelik stel aan Filippus dat die persoon wat Hom gesien het, ook die Vader gesien het. (Joh. 14:9)
    • Jesus het gesag om die Skrif te interpreteer. Jesus gebruik nie die normale profetiese formule (So spreek die Here!) nie; Hy leer op Sy eie gesag en begin dikwels Sy uitsprake met: ‘Ek sê vir julle!’ (vgl. Matt. 5:20, 22 ens.)
    • Jesus vergewe sonde. Dit is duidelik dat dit slegs God is wat sondes kan vergewe, aangesien Hy die een is teen wie daar in die eerste plek gesondig word. Tog sien ons dat Jesus in die Evangelies mense hulle sondes vergewe (Matt. 9:5) en dat die Fariseërs dit as godslasterlik beskou, aangesien Hy daarmee iets doen wat net God uiteindelik mag doen.
  • Jesus aanvaar aanbidding

Hoewel dit dwarsdeur die Bybel duidelik is dat slegs God aanbid behoort te word (Eks. 20:3, Matt. 4;10, Luk. 4:8), sien ons baie gereeld in die Evangelies dat mense na Jesus toe kom en in aanbidding voor Hom neerval (Matt. 8:2, Joh. 9:35-39, Joh. 20:27-29). Jesus bestraf nie hierdie mense nie, of stuur hulle nie weg nie, maar aanvaar telkens hulle aanbidding.

  • Ander mense erken Hom as die Seun van God

Skeptici bring soms die beswaar in dat hospitale vol is van mense wat daarop aanspraak dat hulle God is. Hierop is die vraag egter oor hoeveel ander met sulke mense se aansprake sou saamstem. Die volgelinge van Jesus was absoluut oortuig van Sy identiteit, soveel so dat hulle bereid was om vir Hom te sterf. Dit is nie net Jesus self wat sekere aansprake oor Sy identiteit gemaak het nie. Dit is duidelik dat ander mense ook in Jesus iemand raakgesien het wat baie meer as net ‘n mens was. Beskou die volgende. Paulus: “…Jesus Christus is die Here!” (Fil. 2:9-11), “Ons groot God en Verlosser” (Tit. 2:13);  Petrus: “U is die Christus die Seun van die lewende God” (Matt. 16:15-17); ‘Ongelowige’ Thomas: “My Here en my God!” (Joh. 20:28); en Stefanus “Here Jesus in U hande gee ek my gees oor” (Hand. 7:59).

  • Die uniekheid van Jesus se lewe en bediening

Benewens die uitsprake van en oor Jesus, sien ons baie duidelik uit soveel ander aspekte dat Hy veel meer as net ‘n mens is. ‘n Paar voorbeelde hiervan is:

  • Jesus kom die aarde op bonatuurlike wyse binne. Jesus se koms aarde toe was uniek en dit word lank voor Sy geboorte voorspel. Sy naam word voor die tyd aangekondig en Sy geboorte gaan met allerhande wondertekens gepaard. Hy word dan ook uit ‘n maagd gebore wat daarop dui dat God, die Vader, direk betrokke was by Sy koms aarde toe.
  • Jesus Christus se woorde en lering was uniek. Ons sien dwarsdeur die Evangelies dat die mense wat Jesus aangehoor het, verstom was oor Sy wysheid (Luk. 4:32) – selfs heidene erken dat dit wat Hy geleer het, waar en uniek is (Joh. 7:46). In dit wat Jesus leer, herbevestig Hy nie maar net dinge wat reeds in die verlede gesê is nie. Hy kom leer die mensdom op ‘n radikale wyse wat die Koninkryk van God beteken (Matt. 5-7).
  • Jesus maak die bonatuurlike sigbaar. Een van die groot elemente in die bediening van Jesus was dat Hy van bonatuurlike mag (wat Hy getuig van die Vader af kom) gebruik maak om sekere dinge te doen. Jesus maak mense verskeie kere gesond (Matt. 8:24; Matt. 9:2-8, Joh. 4:46-53, Luk. 17:11-19, Mark 3:1-6); oefen gesag uit oor die natuurlike wêreld (Joh. 2:1-11; Matt. 8:23-27; Mark. 6:34-44) en wek selfs mense uit die dood op (Matt. 9:18-26; Luk. 7:11-15; Joh.11:1-44).  Die feit dat Jesus wel ‘n ‘wonderwerker’ was, word dwarsdeur die Evangelies herhaal. Dit is ook duidelik dat Hy telkens daarop klem gelê het dat hierdie wonderwerke juis gebeur het, sodat die heerlikheid van God gesien kon word.
  • Jesus Christus het gesag oor die dood. Hierdie punt word elders in groter detail behandel, maar kortliks net dit: Jesus bewys dat Sy uitsprake baie meer as net woorde is deur uiteindelik die dood te oorwin. So plaas Hy as’t ware die waarborg op alles wat Hy geleer en gedoen het.
  • Jesus was sonder sonde. As Jesus werklik God was dan sou ons tog kon verwag dat Hy iets van God se heiligheid hier op aarde sou weerspieël. So sien ons dan dat Jesus so vêr gaan as om mense uit te daag om sonde in Sy lewe uit te wys (Joh. 8:46). Jesus se sondeloosheid word ook bevestig deur mense wat jare saam met Hom deurgebring het (1 Pet. 2:22).  Selfs persone wat vyandig teenoor Hom gestaan het moes erken dat hulle niks fout kon vind met Sy optrede nie (Luk. 23:41). Selfs wanneer Jesus se vyande wel sonde probeer uitwys, kry hulle dit nie reg nie (Mark. 14:55,56). Jesus was daarom werklik uniek onder alle ander persone wat in die Bybel genoem word. Bybelskrywers was nie skaam om sonde by die profete en helde van die geloof uit te wys nie (vgl. Abraham, Moses, Dawid), tog word oor Jesus getuig dat Hy perfek en sondeloos was.
  • Jesus Christus stil mense se geestelike honger en dors. Jesus het Homself aangebied as die antwoord op mense se diepste vrae (Joh. 6:35). Hy het mense ook uitgenooi om hulle laste op Hom te lê en in Hom sin te vind (Matt. 12:28-29).
  • Jesus Christus het ‘n universele en standhoudende invloed. Ons hoef maar net rondom ons te kyk om te sien hoe Jesus en Sy nalatenskap ‘n geweldige invloed deur die eeue uitgeoefen het. Die moderne jaartelling begin byvoorbeeld by Sy geboorte (die persoon wat dit uitgewerk het was ongelukkig met ongeveer 4 jaar uit gewees) en Hy deel dus letterlik die geskiedenis in twee! Binne enkele jare na Sy hemelvaart het mense wat aan Hom en Sy boodskap toegewyd was, die wêreld omgekeer. Hy is vandag nog vir baie mense ‘n lewende werklikheid wat hulle lewens verander het, en in wie se Naam hulle hierdie wêreld probeer verander.

Gevolgtrekking

As ons volgens die Evangelies moet oordeel oor die lewe en identiteit van Jesus, dan kan ons nie anders as om te erken dat Jesus geskets word as baie meer as byvoorbeeld net nog ‘n leermeester of profeet nie. In sy boek Mere Christianity het C.S. Lewis uitgewys dat iemand wat net ‘n mens was en die tipe dinge geleer het wat Jesus geleer het, nie ‘n groot leermeester sou wees nie. So ‘n persoon sou of van sy kop af wees, of die grootste leuenaar wees! ‘n Mens wat die tipe aansprake maak wat Jesus gemaak het, maak beloftes wat hy nie in staat is om na te kom nie en lei mense op ‘n dwaalspoor! ‘n Groot leermeester wat andersins besondere wysheid en morele karakter openbaar, soos wat Jesus gedoen het, sal dit tog nie doen nie!

Ons het ook baie duidelik gesien dat Jesus Homself voorstel as baie meer as net nog ‘n profeet, as net nog een van God se boodskappers. Hy gebruik nie die profetiese formule nie, maar sê eerder: “Ek sê vir julle!” Verder het geen ander profeet nog daarop aanspraak gemaak dat mense na Hom kan kyk en God kan sien nie. Geen profeet het homself ook al ooit voorgestel as die oplossing vir die mens se geestelike soeke nie.

Verder is Jesus ook nie net een van baie gode nie. Dit is duidelik dat persone wat hierdie standpunt huldig, groot dele van dit wat in die Evangelies oor Jesus geleer word, by die deur uitgooi. Ons het gesien dat Jesus die naam en titels van God gebruik en Hy laat dit nie oop asof daar ook ander is wat hierop kan aanspraak maak nie. Inteendeel, Hy stel dit baie duidelik dat Hy die eksklusiewe weg na versoening met God is (Joh.14:6).

As ons daarom die getuienis van die Evangelies as betroubaar aanvaar (en daar is goeie rede om dit te doen), dan kan ons nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat daar oorweldigende bevestiging is dat Jesus die Seun van God en daarom God self is nie.

As Jesus dan wel die Seun van God is, is daar ‘n paar baie belangrike implikasies. Ons sal in die eerste plek die verlossing wat Hy bewerkstellig het, moet aanvaar. Ons sal ook moet aanvaar dat Hy werklik Here is en ons lewens in gehoorsaamheid voor Hom moet neerlê. Laastens sal ons wat aan hierdie oortuiging vashou, met die boodskap van Jesus Christus se heerskap en verlossing na ‘n ongelowige wêreld toe moet gaan. Mag Hy self vir ons in staat stel om dit te doen.

Verdere leeswerk

Groothuis, D 1996 Jesus in an age of controversy Kingsway; Eastbourne

Stott, J. 1986 Basic Christianity Grand Rapids; Eerdmans

Wilkins, MJ and Moreland JP (eds.) 1995 Jesus under fire Grand Rapids, Zondervan

Witherrington, B. 1990 The Christology of Jesus Fortress, Minneapolis

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.