Hoe verskil die wêreld se godsdienste?

Hoe verskil die wêreld se godsdienste?

deur Udo Karsten

Inleidend

‘n Vergelykende oorsig van die wêreld se godsdienste is altyd ‘n moeilike onderneming. Eerstens is daar verskillende menings oor wat met die begrip “godsdiens” bedoel word en daarom watter “godsdienste” almal in so ‘n oorsig ingesluit moet word. Byvoorbeeld, nie alle godsdienste erken die idee van ‘n godheid nie (bv. Boeddhisme) en daar is ook die vraag of ‘n mens ‘n siening soos Ateïsme (wat in ontkennende terme van God of die idee van ‘n godheid praat en daarom nie streng gesproke ‘n “godsdiens” is nie) ook in ag sou neem.

Tweedens wil ‘n mens seker maak om in jou uiteensetting van wat die aanhangers van ‘n bepaalde godsdiens glo, ‘n getroue weergawe te gee van wat geglo word. Maar byna geen godsdiens verteenwoordig ‘n monolitiese sisteem van denke en geloofsoortuigings nie. As praktiserende gelowiges onderling verskil oor presies wat hulle glo, dan is dit waarskynlik vir enige buitestander onmoontlik om ‘n uiteensetting daar te stel wat almal tevrede gaan stel. Dis dus byna onvermydelik dat ‘n oorsigtelike beskouing in sekere opsigte ‘n oorvereenvoudiging sal wees (raadpleeg daarom gerus die naslaan bronne aan die einde van hierdie artikel).

hoeverskilgodsdienste1

(2005 statistiek)

Gegewe die bogenoemde voorbehoude, toegewings en kompleksiteit, kan dit steeds ‘n waardevolle poging wees om die verskillende godsdienste oorsigtelik in oënskou te neem. Met hierdie vergelykende oorsig is daar egter ‘n spesifieke agenda. Daar is die persepsie by baie mense in vandag se pluralistiese samelewing dat alle godsdienste “wesenlik dieselfde en slegs oppervlakkig verskillend” is. Dis my oortuiging en die doel van hierdie vergelyking om aan te toon dat so ‘n siening nie erns maak met die spesifieke en teenstrydige lering van die wêreld se godsdienste nie. By nadere ondersoek (waarvan hierdie slegs ‘n inleidende doel dien) behoort dit vir enigiemand duidelik te word dat die wêreld se godsdienste slegs oppervlakkig dieselfde is, maar eintlik wesenlik verskillend. Godsdienstige pluralisme is dalk polities korrek, maar doen die unieke aard van elke godsdiens geen guns nie, en misken die onversoenbare elemente tussen godsdienste. (Vir ‘n meer breedvoerige bespreking van godsdienstige pluralisme en waarom dit ‘n onhoudbare siening is, sien my artikel Die Bergtop, Die Olifant en Die Drie Blinde Mans.)

Vir my doeleindes hier verstaan ek die begrip godsdiens as die historiese stel antwoorde wat bepaalde groeperings van mense gegee het op die groot lewensvrae waarmee mense al van die vroegste tye af worstel. Verskillende godsdienste antwoord dus verskillend op vrae soos: Wat is die realiteit? Hoekom is ons hier? Hoe moet ons leef? Waarheen is ons op pad? Wie of wat is God? Wat is fout met die wêreld? Wat is die oplossing daarvoor? Alle godsdienste verteenwoordig dus ‘n spesifieke wêreldbeeld en probeer spesifieke inhoud aan daardie beeld van die wêreld gee.

Drie Basiese Wêreldbeelde

Die wêreld se godsdienste kan in drie basiese wêreldbeelde ingedeel word:

  1. Naturalisme: Alles wat bestaan (realiteit) kan in terme van materie en die wette waarvolgens dit funksioneer, beskryf word. Die mens is ‘n fisiese wese en die resultaat van blinde en toevallige evolusionêre prosesse. (Voorbeelde: Ateïsme, Agnostisisme, Humanisme.  Let wel , die term “ideologie” eerder as “godsdiens” mag dalk hier meer gepas wees.)
  2. Monisme: Alles wat bestaan (realiteit) is in wese spiritueel (nie-fisies) van aard en alles is deel van ‘n onpersoonlike en ononderskeibare geheel. Die heelal is ‘n manifestasie van die spirituele en in ‘n sin minder werklik as die geheel waarvan dit deel is. Die mens is in wese gelyk aan die aard van die spirituele geheel. (Voorbeelde: Boeddhisme, Hindoeïsme, New Age)
  3. Teïsme: Alles wat bestaan (realiteit), fisiese en nie-fisiese entiteite, is deur God geskep. God self is ewig (ongeskape) en persoonsmatig. Die mens is na die beeld van God geskape en het ‘n fisiese en nie-fisiese komponent wat in wisselwerking tot mekaar staan. (Voorbeelde: Christelike geloof, Islam, Judaïsme, sommige Tradisionele Godsdienste)

Die volgende skema is nog ‘n manier om ‘n paar basiese opsies te verstaan in wat die verskillende godsdienste oor God of ‘n Godheid glo (die uiteensetting kan natuurlik verder verfyn word). Die Christelike geloof word in rooi aangedui:

Sewe Wêreld Godsdienste

In die kort oorsig wat volg gaan die fokus val op slegs sewe van die wêreld se bekendste (en in sommige gevalle ook grootste) godsdienste. In my verwysing na hierdie godsdienste se belangrikste simbole, outoriteitsfigure, belydenisse, terme, konsepte, geskrifte en gebruike, maak ek glad nie daarop aanspraak dat dit enigsins ‘n volledige of selfs besonder genuanseerde beskrywing verteenwoordig nie. Hopelik is dit darem ook nie ‘n karikaturisering nie en kan dit wel handig wees om ‘n goeie indruk te kry van die belangrikste elemente in elke godsdiens.

Die volgende tydslyn (uit The Compact Guide to World Religions, p.25) plaas die ontstaan van verskillende godsdienste in konteks:

 

Die Christelike geloof

Die kruis is die bekendste simbool in die Christendom en verteenwoordig God se liefde, genade en vergifnis deur Jesus se sterwe aan die kruis vir die mens se sonde. In die vroeë Christendom, tydens die vervolging van die eerste Christene, was ook die vis ‘n simbool van geloof in Christus. In die Griekse alfabet vorm elke letter van die woord ΙΧΘΥΣ (Grieks = ichthus, vis) ‘n akroniem wat staan vir “Jesus Christus, Seun [van] God, Verlosser.”

Die Christelike geloof het ontstaan rondom Jesus, die Christus (Grieks = Christos, gesalfde), die historiese persoon (± 4 vC – ± 33 nC) wie se geboorte die ganse menslike geskiedenis in twee verdeel het (daar word na alle gebeure verwys as vóór Christus of ná Christus). Die eerste Christene (volgelinge van Jesus) het in die eerste ongeveer drie eeue onder streng vervolging gebuk gegaan en het grootliks as ‘n ondergrondse beweging bymekaar gekom. Dit was eers in die vierde eeu nadat die Roomse keiser Konstantyn die vervolging van Christene onder wet verbied het, dat die Christendom ‘n gestruktureerde en geïnstitusionaliseerde vorm begin aanneem het. Die Christendom kan sedertdien in drie hoofvertakkings verdeel word: Rooms Katoliek (vanaf ongeveer 440 – 461 nC toe Biskop Leo I die eerste persoon is wat daarop aanspraak maak om finale outoriteit te hê oor die ganse Christendom), Oosters Ortodoks (vanaf ongeveer 1054 nC toe Pous Leo IX die leier van die Oosterse kerk geëkskommunikeer het) en Protestants (vanaf ongeveer 1517 nC toe Martin Luther sy 95 stellings in protes teen ‘n kerk se deur in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker het). Die Protestantisme kan verder in verskeie denominasies (hoofsaaklik te wyte aan verskille in die formulering van belydenisskrifte en kerklike organisering) verdeel word.

Christene beskou die persoon Jesus, as een van die sentrale en belangrikste aspekte van hul geloof (in teenstelling met ander godsdienste wat hoofsaaklik hul leiersfigure se leringe beklemtoon). Dit is so omdat Christene in die Goddelike natuur van die persoon Jesus glo, hoewel hulle ook sy menslike natuur bevestig. Christene glo verder in die Drie-eenheid van God – drie onderskeibare, maar onskeibare persone (Vader, Seun en Heilige Gees) wat een Goddelike natuur deelagtig is (die konsep van die Drie-eenheid veronderstel daarom nie drie gode nie en ook nie bloot drie manifestasies van God nie).

Christene glo dat God homself en sy wil in die skryf van die Ou en Nuwe Testament (die Bybel) geopenbaar het deur die Goddelike inspirasie van mense. Die Bybel is oor ’n tydperk van 1600 jaar deur ± 40 mense met geskryf.

Die Christelike wêreldbeeld verduidelik dat alle mense in ‘n vervreemde toestand van God gebore word, maar dat God dit moontlik maak om in ‘n verhouding met God te tree en mense dan ook na so ‘n verhouding roep. So ‘n verhouding begin met geloof – die aanvaarding dat Jesus se dood as vergewing van sonde en sy liggaamlike opstanding uit die dood as oorwinning oor sonde, so ‘n verhouding moontlik maak. Die Christelike lewe is die uitvloeisel van ‘n wedergeboorte (‘n nuwe lewe en toetrede tot ‘n verhouding met God) en word gekenmerk as ‘n dankbaarheidsleefstyl weens God se vergifnis en liefde.

Lyding in die wêreld is die gevolg van sonde en ‘n gebroke wêreld, en word deur bonatuurlike bose magte uitgebuit. Die mens wat God se genade (onverdiende vergewing van sonde) verwerp sal die gevolge van sonde beleef deur vir ewig van God geskei te wees (die hel) en het geen aanspraak op ‘n ewige lewe saam met God in die hemel na die dood nie.

 

Islam

 

Die Islam geloof het histories geen simbool gehad nie en die sekelmaan en ster wat in baie Moslemlande se vlae verskyn, word nie deur alle Moslems as ‘n simbool van Islam aanvaar nie. Tog word dit vandag algemeen met Islam geassosieer. Die Arabiese spelling van die woord “Allah” word egter dikwels ook as simbool vir Islam gebruik.

Islam beteken onderwerping aan die wil van God en die persoon wat homself so onderwerp word ‘n Moslem genoem. Daar is basies drie hoofvertakkings in Islam:

  • Sunni Islam: Die grootste groep (ongeveer 85%) wat glo dat Mohammed (570 – 632 nC) gesterf het sonder om ‘n opvolger aan te stel om die Moslem gemeenskap te lei en daarom kan enige goeie Moslem ‘n leier wees.
  • Sji’a Islam: Hierdie kleiner groep glo dat Ali, Mohammed se skoonseun, deur Mohammed as sy opvolger (die eerste Imam) aangestel is om as leier vir die Moslem gemeenskap te dien. Opeenvolgende leiers is ook slegs uit die nageslag van Ali.
  • Sufi: Hierdie is eintlik ‘n saambreelterm vir ‘n klein mistiese beweging in Islam wat ‘n esoteriese filosofie en beskouing van geloof en God aanhang.

Die belangrikste van die geloofsartikels (belydenisse) van Islam is die volgende:

  • God: Daar is geen ander God as Allah nie en Mohammed is sy profeet.
  • Engele: Elke persoon het twee engele aan hom/haar toegedeel wat boekhou van die goed en kwaad wat hulle doen. (Daar is ook die jinn, engel-geeste met ‘n lae rang wat gewoonlik slegte bedoelinge het en van mense besit kan neem.)
  • Die profete van God: Volgens die Koran het God ‘n profeet na elke nasie gestuur om die boodskap te bring dat daar net een God is. Van die belangrikste Bybelse profete is Adam, Noag, Abraham, Moses, Dawid, Solomon, Jona, Johannes die Doper en Jesus. Die Koran ontken egter baie spesifiek dat Jesus die Seun van God was. Mohammed is die laaste en belangrikste profeet en Allah het Sy wil deur die engel Gabriël aan Mohammed gedikteer wat later deur sy volgelinge neergepen is.
  • Heilige geskrifte: Die Wet van Moses, die Psalms van Dawid, die Evangelies aangaande Jesus en die Koran deur Mohammed. Moslems voer aan dat al hierdie geskrifte, behalwe die Koran, in die hande van die Jode en Christene korrupsie ondergaan het. (Baie van die argumente wat deur liberale teoloë gebruik word om die historiese betroubaarheid van gebeure in die Nuwe Testament in twyfel te trek, word ook deur Moslem geleerdes gebruik.)
  • Voorafbepalende wil van God: Die Koran verleen steun aan die idee dat alles volgens die direkte wil van God gebeur.
  • Oordeel (na die paradys of die hel) geskied volgens die balans tussen die hoeveelheid goeie dade in vergeleke met die hoeveelheid slegte dade wat ʼn persoon gedoen het. Allah se goedkeuring hang dus af van die mate waarin iemand Allah se wette nakom. Die belangrikste van hierdie wette is die Vyf Pilare van Islam:
    • ‘n Opregte belydenis van shahadah: “Daar is geen ander God as Allah en Mohammed is sy profeet.”
    • Gereelde gebed (salat) drie of vyf maal per dag in die rigting van Mekka, sowel as gemeenskaplike gebed op ‘n Vrydagmiddag twaalfuur.
    • ‘n Algehele vas (sawm) gedurende dagligure in die maand van Ramadan
    • Die gee van aalmoese (2,5% van jou inkomste) vir armes en behoeftiges (of ook vir sending).
    • ‘n Pelgrimstog (Haj), indien gesondheid en finansies dit toelaat, na die stad Mekka waar die bekende swart rots, die Ka’aba geleë is wat ‘n plek vir verering van Allah is.
    • ʼn Sesde pilaar word soms ook bygevoeg, nl. Jihad (struweling): dit word meestal verstaan as die uitdra van die boodskap van Islam deur geweld of deur oorreding.

 

 

 

Judaïsme

 

 

 

Die ster van Dawid en die menora (sewearmkandelaar) is simbole van die Judaïsme. Die menora wat in die tabernakel se trek deur die woestyn en in die tempel in Jerusalem gebruik is, is egter die oudste simbool en ook die embleem van die moderne staat Israel. Die ster van Dawid is egter ook ‘n baie kenmerkende simbool en verskyn in Israel se landsvlag.

Judaïsme verteenwoordig die geloof in een God, die persoonlike Skepper en Onderhouer van alle dinge. Voor die agtiende eeu was daar basies net een vorm van Judaïsme, maar vandag kan daar tussen drie hoofvertakkings onderskei word (alhoewel daar ander ook is):

    • Ortodokse Judaïsme: ‘n beklemtoning van tradisie en ‘n streng onderhouding van die Wet van Moses (die 613 wette van die Torah) soos deur die Rabbi’s (200 vC – 550 nC) geïnterpreteer.
    • Gereformeerde Judaïsme: ‘n beklemtoning van etiese riglyne en die beginsels wat die profete geleer het.
    • Konserwatiewe Judaïsme: ‘n vertakking wat êrens tussen die streng tradisionele Ortodokse siening en die meer moderne en liberale Gereformeerde siening lê.

In die Judaïsme word die Tenakh (die Ou Testament) as heilige geskrif beskou en kan in drie dele opgedeel volgens belangrikheid: die Torah (eerste vyf boeke van Ou Testament), die Profete en die Geskrifte. Ander belangrike geskrifte is die Talmoed, ‘n versameling van Rabbiniese kommentaar op die Torah.

Die meeste Jode verwag nie eintlik meer ʼn persoonlike Messias wat kom om Israel van onderdrukking te bevry nie, maar die hoop is nou meestal op ‘n messiaanse era waar waarheid en geregtigheid sal seëvier. Daar is verskeie sienings oor Jesus, van ‘n goeie leermeerster tot ‘n valse leraar tot bloot ‘n legende.

Die menslike natuur word as moreel neutraal beskou, maar met ‘n neiging na beide die goeie en die slegte. Dit is egter baie belangrik hoe jy leef (selfs belangriker as presies wat jy glo). Die nakom en bestudering van God se wet, gebed en goeie werke het ten doel om ‘n nabyheid met God (en ander mense) te ontwikkel en dit bewerkstellig ‘n meer betekenisvolle lewe. Sonde is ongehoorsaamheid aan die wet en ‘n versuim om hierdie nabyheid na te streef. Na die dood sal God goeie dade beloon en slegte dade straf.

Kenmerkend van die Joodse nasie (afgesien met watter vorm van Judaïsme geassosieer word),  is die Joodse vakansiedae (die Jode self praat van vakansiedae eerder as feeste) soos Rosj Hasjana, Joom Kippoer, Loofhuttefees (Sukkot), Pasga-fees (Pésach), Purim, Fees van Weke (Sjawoe’ot), ens.

 

Hindoeïsme

 

 

 


Geen ander godsdiens is so ryk aan simbole soos Hindoeïsme nie. Die Om is die belangrikste simbool en is ‘n gewyde klank wat die Brahman (die Absolute), die bron van alles wat bestaan, verteenwoordig. Die Brahman self is die Onkenbare en daarom word ‘n simbool noodsaaklik om as herinnering hiervan te dien. Die tweede belangrikste simbool is die Swastika (wat soos die Nazi-embleem lyk) en simboliseer die ewige natuur van die Brahman – die wys in alle rigtings en verteenwoordig die alomteenwoordigheid van die Absolute.

In historiese Hindoeïsme vorm alle realiteit deel van die onpersoonlike, goddelike konsep Brahman. Daarom word Hindoeïsme as deel van ‘n monistiese (alles is een) en panteïstiese (alles is God) wêreldbeeld beskou. Latere sektariese ontwikkeling beskou hierdie onpersoonlike goddelike realiteit in meer persoonlike terme, genaamd die godheid Ishvara. Volgens tradisie is daar manifestasies van Ishvara in drie vorme (Trimurti): Brahma (die Skepper), Vishnu (die Onderhouer) en Shiva (die Vernietiger). Ishvara word nog verder verpersoonlik deur die tien mitiese inkarnasies van Vishnu, genaamd avatars (soos o.a. Krishna en Boeddha). Behalwe die Trimurti en avatars is daar ook 330 miljoen ander godefigure.

Van die oudste en heiligste geskrifte is die Vedas, Brahmanas, Oepanisjads (tussen 800 en 300 vC) en die Bhagavad Gita (die mees populêre heilige geskrif). Daar is geen spesifieke stigter in Hindoeïsme nie, maar drie ander godsdienste is uit Hindoe idees gebore, nl. Jaïnisme, Boeddhisme en Sjikhisme. Die Hindoe is nie regtig verbind tot spesifieke leerstellings nie, maar van die belangrikste begrippe in ‘n Hindoe se wêreldbeeld is die volgende:

  • Karma: alle gedagtes en optrede is die gevolg van gedagtes en optrede in ‘n vorige lewe, maar spesifieke optrede en gedagtes beïnvloed ook die toekoms.
  • Samsara (reïnkarnasie): verwys na die voortdurende siklus van lewe, dood en hergeboorte. Die individu (atman = siel) word hergebore in die gedaante van ‘n nuwe lewensvorm volgens die wette van karma (daarom is daar groot respek vir alle lewensvorme)
  • Die kaste-sisteem: die Hindoe word volgens die wette van karma in ʼn bepaalde sosiale status (een van vier basiese groeperinge) gebore, elk met sy eie reëls en verantwoordelikheid vir elke aspek van die lewe
  • Moksha (soortgelyk aan Nirvana): Die mens se grootste probleem (sonde en die oorsaak van alle lyding) is dat hy fokus op ‘n tydelike en materiele wêreld, wat ʼn misleidende illusie (maya) is. Hierdie ongeërgdheid (die uitleef van verkeerde begeertes) oor die werklike aard van die lewe (alles is deel van Brahman) lei tot optrede wat slegte karma inhou en sodoende word ‘n mens vasgevang in ʼn ewigdurende siklus van reïnkarnasie. Die strewe is om bevry te word van die wette van karma en die reïnkarnasie siklus (sulke bevryding word moksha genoem waar die individuele siel ophou bestaan en deel word van Brahman soos wat ‘n druppel deel word van die oseaan waarin dit terugval). Jesus word byvoorbeeld beskou as iemand wat sy goddelik natuur geaktualiseer het.
  • Moksha kan op een van basiese drie maniere nagestreef word:
    • Volg die weg van ʼn goeie lewe (volgens bepaalde reëls en rituele) om slegte karma te oorkom. Die fokus is veral daarop om familie en sosiale verantwoordelikhede na te kom.
    • Volg die weg van kennis om nirvana te bereik deur ʼn onderwerping van natuurlike behoeftes aan die idee dat jy eintlik een met Brahman is, m.a.w. jy is nie ʼn individuele self nie. Hierdie fokus word deur die geestelike dissipline van diep meditasie en joga verkry.
    • Volg die weg van aanbidding deur jouself oor te gee aan ʼn spesifieke god/godin wat jy aanbid en vereer op spesifieke maniere en plekke.

 

 

 

 

 

Boeddhisme

 

Die wiel is een van die belangrikste simbole in Boeddhisme. Die agt speke van die wiel simboliseer die Noble Eightfold Path in die Boeddha se leringe. Die wiel verteenwoordig ook die eindelose siklus van samsara, of hergeboorte, waarvan ‘n mens slegs vry kom deur die Boeddha se leringe te volg. ‘n Uitbeelding van die mediterende Boeddha is ook een van die bekendste simbole van die Boeddisme.

Daar is verskeie variasies en vertakkings van Boeddhisme. Histories gesproke is daar twee vername vertakkings: Theravada Boeddhisme en Mahanya Boeddhisme (daar is ‘n derde vertakking, die Vajrayana Boeddhisme wat veral in Tibet aanhangers het en waar die Boeddhistiese geestelike leier, die Dalai Lama, vandaan kom). Boeddhisme is in vele opsigte eerder ‘n etiese en filosofiese sisteem as die geloof in en aanbidding van ʼn god of gode. Dit word veral in Zen Boeddhisme gesien, ‘n mistiese vorm van Boeddhisme wat in China ontstaan het en wat ‘n fokus het op persoonlike ervaring en wat veral onder Westerse nasies byval gevind het. Die aanhangers van Mahanya Boeddhisme het later bygedra tot die vergoddeliking van Boeddha. Siddharta Gautama (563 – 483 vC) of die Boeddha (“verligte een”) het egter nooit na homself as ‘n god verwys nie en het ook nie spesifiek oor die bestaan van gode gespekuleer nie. (In Boeddhisme word Jesus as ‘n wyse en miskien selfs verligte persoon gesien, maar ook dat sy leer deur Christelike mites verwring is.)

In Boeddhisme word die goddelike verstaan as die onpersoonlike realiteit van alles wat bestaan (Monisme). Die konteks van Boeddhisme se ontstaan moet veral verstaan word as ‘n reaksie op Hindoeïsme. Siddharta Gautama het die gesaghebbendheid van die Hindoe Veda geskrifte verwerp en in  die Therevada Boeddhisme word daar klem gelê op die Tripitaka heilige geskrifte (altesaam sewentig keer meer as die volume van die Bybel).

Soos in Hindoeïsme vind reïnkarnasie ook volgens karma plaas alhoewel dit nie die individuele self of siel is wat gereïnkarneer word nie, maar slegs ʼn persoon se karma. Die kaste sisteem van Hindoeïsme word verwerp.

Die Boeddha se verligte leer staan bekend as die “Vier Edel Waarhede”:

1.     Die lewe is een van lyding deur pyn, ellende, hartseer en onvervuldheid.

2.     Alles is tydelik en verander gedurig. Ons ly want ons begeer dinge wat tydelik is.

3.     Om bevry te word van lyding moet ons afsien van ons begeertes na die tydelike (hierdie begeerte is die definisie van sonde).

4.     ‘n Mens kan bevry word van begeertes deur die Agtvoudige pad te volg. Deur die Agtvoudige pad te volg streef ‘n mens na wysheid, morele gedrag en intellektuele dissipline:

    • Regte siening: aanvaar die Four Noble Truths
    • Regte voorneme: vermy verkeerde begeertes en gedagtes
    • Regte spraak: praat net die waarheid en wat goed is
    • Regte handeling: vermy immoraliteit, leuens, moord, drankmisbruik
    • Regte lewensonderhoud: werk moet ander bevoordeel en nie benadeel
    • Regte inspanning: groei in volwassenheid tot universele liefde bereik word
    • Regte aandag: wees oplettend, oordenkend en vry van begeerte of hartseer
    • Regte konsentrasie: oorkom alle sensasie van pyn of plesier en betree ʼn toestand waar bewussyn te bowe gekom is en nirvana (vrede en geluk) bereik word. Hierdie staat van nirvana is die uiteindelike doel in Boeddhisme en kan met die Christelike konsep van verlossing vergelyk word.

Die Boeddha het nirvana soos volg beskryf: “There is a sphere which is neither earth, nor water, nor fire, nor air, which is not a sphere of the infinity of space, nor the sphere of the infinity of consciousness, the sphere of nothingness, the sphere of perception, or non-perception, which is neither this world, neither sun nor moon. I deny that it is coming or going, enduring, death, or birth. It is only the end of suffering.” (Andrew Powell, Living Buddhism, 1989)

 

 

 

 

Die Tradisionele Godsdienste

 

 

 

Tradisionele godsdienste word meestal as animistiese gelowe (Latyns = anima, siel/asem) beskryf. Ander benamings wat hier ter sprake is o.a. stamgodsdienste, spiritisme en paganisme. In die tradisionele godsdienste is daar meestal ‘n geloof in een of ander onpersoonlike, óf persoonlike, maar onbereikbare opperwese. Dit is daarom meestal ʼn deïstiese en apatiese soort God wat alledaagse dinge oorlaat aan mindere gode soos natuurgeeste, plaaggeeste en voorvadergeeste. Alles in die natuur het ‘n lewenskrag, omdat alle natuurobjekte en verskynsels aan geeste gekoppel is wat daardie verskynsels beheer.

Die verhouding met die voorvadergeeste en ander geeste (goeie en bose), is baie belangrik. Sulke geeste bring gesondheid, voorspoed, geluk en moet tevrede gehou word deur offerandes en/of rituele. Daar moet veral gewaak word teen dinge wat hulle ongelukkig sal maak (die waak teen die doen van “sonde”). ‘n Mens se gees sluit ná die dood by hierdie geeste aan.

Dit is by hierdie gelowe eintlik nie so belangrik wat jy glo of presies hoe jy oor bepaalde idees moet dink nie. Alles is gerig op die welstand en harmonie in die gemeenskap. Die versorging van familie-lede is dus baie belangrik. Daarom is dit die praktiese, alledaagse aangeleenthede wat van pertinente belang is.

Daar is verskeie godsdienstige leiers wat verantwoordelik is vir bepaalde pligte (en kan meer as een rol vertolk):

o      Kragdokters sou magiese kragte hê, en kan towenaars besweer.

o      Waarsêers (sangomas) of mediums bepaal die wil van die geeste deur visioene, drome of ander maniere. Die mens en het die verantwoordelik om die geeste tevrede te hou, wat hulle dan beskerm of as hulle ongehoorsaam is of bloot net ongelukkig is, hulle straf.

o      Medisynemanne beklee hoë posisie: sekere voorwerpe (muti) het krag wat genesing gee, geluk bring of beskerming bied.

 

 

 

Die  ‘New Age’

 

Simbole in die New Age is so uiteenlopend as wat daar uiteenlopende New Age sienings en beklemtonings is. Omdat die New Age sterk Hindoeïstiese ondertone het, maak hulle ook baie van Hindoe en ander Oosterse simbole gebruik. Ander spesifieke simbole in die New Age gemeenskap is die Eenhoringperd, die gevleuelde perd Pegasus, die Reënboog en die Droomvanger. Spiritisme, die Vreemde Vlieënde Voorwerp fenomeen, verskeie vorme van toekomsvoorspelling soos kristalle, tarot-kaarte, astrologie, en in die besonder horoskopie, en die simbole wat daarmee geassosieer word, is baie gewild in die New Age gemeenskap.

Die New Age geloofsisteem is ʼn baie eklektiese en diverse beweging wat aanvanklik in die 1960’s in Engeland begin het. Alhoewel dit nie regtig uitdrukking vind in ‘n georganiseerde vorm nie, kom die basiese invloede egter vanuit Hindoeïsme. Dit laat die aanhanger daarvan egter toe om uit ‘n wye verskeidenheid van godsdienste, leringe of praktyke te kies volgens wat sy/haar smaak in spiritualiteit tevrede stel (dus ‘n voorbeeld van sinkretisme).

Die ‘New Age’ verwys na die nuwe era (huidiglik) van die Aquarian (die sterrebeeld van die Waterdraer) wat die ou era van die Pisces (die sterrebeeld van die Visse) vervang het (dit gebeur elke 2000 jaar). Die Aquarian era verteenwoordig ‘n tyd van Utopia, van vrede en harmonie.

Die basiese wêreldbeeld van die New Age is dat “alles God is en God in alles” (onderskeidelik Panteïsme en Panenteïsme). Holisme en selfverwerkliking is belangrike temas in New Age spiritualiteit. Die heelheid, eenheid en interafhanklikheid van alle dinge word beklemtoon. Shirley MacLaine skryf: “I am God, because all energy is plugged into the same source. We are all individualized reflections of the God source. God is in us and we are God.” Die grootste probleem van die mens is daarom dat hy/sy onkundig is rakende sy/haar ware identiteit en hoe om daardie identiteit ten volle te aktualiseer (daar is dus nie regtig iets soos sonde nie, maar eerder onkunde). Die mens moet bloot leer dat ons een is met die Universele Self en dat ons ongekende krag in onsself het om ons Een-heid met alles te kan ervaar.  Transendentale meditasie, joga en ander ‘mind-expanding/altering’ tegnieke kan vir hierdie doel aangewend word. Dit alles steun die idee van ʼn holistiese wêreldbeeld waarin alles op ʼn panteïstiese wyse met mekaar saamhang.

Invloedryke organisasies wat New Age idees eksplisiet verkondig, is o.a. die volgende: Cosmic Consciousness, The Aquarian conspiracy, Human Potential Movement, die Teosofiese Vereniging, die Christian (Mind) Science groepering, en die Unity School of Christianity. Invloedryke figure in die New Age beweging is Marilyn Ferguson, Benjamin Creme, Deepak Chopra, Shirley MacLaine, L. Ron Hubbard (Dianetics), Marianne Williamson. Rhonda Byrne se The Secret en Eckhart Tolle se A New Earth verteenwoordig idees wat in ooreenstemming is met dié van die New Age. Verskeie hoofstroom films vertoon ook ‘n baie sterk New Age invloede. Die denke en spraak van die karakter Yoda (“May the Force be with you”) in die Star Wars films is seker die bekendste voorbeeld van New Age ideologie. ‘n Meer resente semi-dokumentêre film, What The Bleep Do We Know? met ‘n sterk fokus op ‘n bepaalde interpretasie van die kwantum-fisika, bied ‘n goeie voorbeeld van ‘n gesofistikeerde New Age spiritualiteit.

Volgens New Age idees vind reïnkarnasie plaas volgens ‘n opwaartse karma waar die toekomstige lewe ‘n beter vorm van lewe as die vorige verteenwoordig, totdat onsterflikheid mettertyd bereik word. Volgens New Age idees was Jesus ‘n verligte persoon soortgelyk aan die Boeddha, Krishna en Zoroaster (volgens oorlewering sou Jesus as ‘n kind in die Ooste by Hindoe ghoeroes en heiliges gaan leer het).

 

‘n Vergelyking

 

Die volgende vergelyking van slegs ’n paar aansprake van die wêreld se grootste godsdienste, sal wys hoe verskillend (en teenstrydig) hierdie godsdienste is.

Konsep van God Stigter en Geskrifte Idees oor die doel van die lewe, lyding en dood
Christelik Een persoonlike wese (Godheid) in drie persone (Vader, Seun en Heilige Gees). Liefdevol en betrokke in mense se lewens.(Monoteïsme: een God) Jesus maak aanspraak op Godheid, maar is ook terselfdertyd volkome mens. Jesus maak Homself die fokuspunt van sy leringe. Die aanspraak is dat God sy wil in die Ou en Nuwe Testament geopenbaar het deur die Goddelike inspirasie van mense. Die Bybel is oor ’n tydperk van 1600 j. deur  ± 40 mense met geskryf. Die herstel van en die leef in verhouding met God, is die doel van die lewe. Dit begin met geloof: die aanvaarding van Jesus se dood vir vergewing van sonde. Die Christelike lewe is uitvloeisel van wedergeboorte en word ‘n dankbaarheidsleefstyl weens God se vergifnis en liefde. Lyding is gevolg van sonde en ‘n gebroke wêreld a.g.v. sonde en word veral deur bonatuurlike bose magte uitgebuit. Die mens wat God se genade (onverdiende vergewing van sonde) verwerp sal die gevolge van sonde beleef (hel: waar God nie is nie) en het geen aanspraak op ewige lewe saam met God in die hemel na die dood nie.
Boeddhisme “Godheid” bestaan nie, slegs ’n onpersoonlike werklikheid.(Monisme: alles is een.) Boeddha (± 560 vC) verwerp die gesag van spesifieke Hindoe geskrifte en stel sy leringe bekend as The Middle Way en The Eightfold Path Die enigste probleem of “sonde” is die mens se begeerte na tydelike dinge. Dit is oorsaak van alle lyding. Bevryding van hierdie begeertes – Nirvana – word bereik deur die Agvoudige Pad te volg. Indien daar nie na Nirvana gestreef word nie, dan word jy volgens karma gereïnkarneer tot ’n ander lewensvorm. Nirvana is die toestand waar die “eie ek” nie meer bestaan nie.
Islam Een wese, Allah, maar hy is so verhewe bo sy skepping dat hy nie persoonlik geken kan word nie.(Monoteïsme: een God) Mohammed (± 570 nC) is die laaste belangrikste profeet van Allah. Allah dikteer sy wil deur die engel Gabriël aan Mohammed, in dit is deur sy volgelinge in die onvertaalbare Koran saamgevat. In Allah is die oorsprong van alle goed en kwaad  – en Hy is direk verantwoordelik vir alle lyding. Moslems word na die dood in Paradys beloon indien hulle genoeg goeie dade gedoen het. Sonde is ongehoorsame optrede en ‘n versuim van toewyding aan die Vyf Pilare van Geloof en die Vyf Belydenisse van Geloof.
Hindoeïsme Baie verskillende gode, wat elkeen ‘n bepaalde uitdrukking is van ‘n onpersoonlike goddelike werklikheid: Brahma.(Panteïsme: alles is God) Geen spesifieke stigter nie, maar die oorsprong is ongeveer 1500 vC (of selfs vroeër) en daarom die oudste godsdiens. Verskeie geskrifte o.a. die Vedas, Brahmanas, Upanishads, en die Bhagavad Gita word belangrik geag. Die eerstes bestaan reeds sedert 1400 vC. Die res is oor baie eeue heen bygevoeg. Die realiteit van sonde en lyding word ontken aangesien die materiële werklikheid ’n illusie is. Die doel van die lewe is om die siel (atman) te bevry deur die reïnkarnasie-siklus. Hierdie bevryding (Moksha) beteken dat die siel een word met Brahman. Moksha word bereik deur bepaalde dade van toewyding, meditasie, goeie werke, kennis en selfbeheersing. Die mens se waarde word bepaal deur die kaste waarin jy gebore word.
Judaïsme Een persoonlike wese: Hierdie wese is God die Vader van die Christelike geloof, maar nie ‘n Drie-Enige God nie.(Monoteïsme: een God) Geen spesifieke stigter nie, alhoewel die profeet Moses en die stamvaders Abraham, Isak en Jakob kernfigure is. Die Ou Testament van Bybel (1400-400 vC) is deur verskeie profete en individue geskryf deur Goddelike inspirasie. Dit vorm saam met die Talmoed (500 nC) die belangrikste Joodse geskrifte Sonde is om in die keuse tussen goed en sleg, die slegte te kies. Mense sal deur God beloon word as hulle ‘n goeie lewe gelei het en vir toewyding aan Hom. God sal mense straf vir sonde. Dit geld vir hierdie lewe en die lewe na die dood.
New Age Alles en almal is deel van ’n onpersoonlike goddelike realiteit (alles is een en alles is god)(Panteïsme: alles is God) Steun sterk op Hindoe en Boeddhistiese leringe, maar leer iets uit verskeie ander godsdienste. Geen spesifieke stigter of geskrifte nie. Dit is die jongste geloofsisteem Daar is nie regtig iets soos reg of verkeerd nie, of sonde en lyding nie. Reïnkarnasie van die menslike siel vind plaas volgens ‘n opwaartse karma (die mens verbeter telkens) sodat verligtheid bekom kan word. Sulke verligtheid lei ‘n mens in hoe jy moet leef. Die mens in essensie self goddelik.
Tradisionele godsdienste Vae afgetrokke, Goddelike entiteit, wat soms as ‘n onpersoonlike krag in sekere objekte manifesteer.(Animisme: God in dinge) Geen spesifieke stigterof geskrifte nie en die details oor wie of wat die Goddelike is, verskil van een groep na die volgende. Twee verhoudings is veral belangrik in die lewe: met mense naaste aan jou, veral familie; en met voorvadergeeste (hulle kan goed of sleg wees.) ‘n Mens se gees sluit ná die dood by hierdie geeste aan. Voorvadergeeste bring voorspoed en teenspoed, beheer natuurverskynsels en moet tevrede gehou word.

Slegs ’n paar afleidings uit bogenoemde vergelyking, bevestig die wesenlike verskille:

  • Jode, Christene en Moslems glo in verskillende voorstellings van ’n monoteïstiese God (een God), terwyl Hindoes en aanhangers van die New Age glo dat alles wat bestaan deel is van ’n onpersoonlike, panteïstiese krag wat Goddelikheid verteenwoordig. Klassieke Boeddhisme glo nie in ’n spesifieke vorm van goddelikheid nie, maar slegs dat alles deel is van ’n ewigdurende realiteit.
  • Baie Hindoes glo dat boosheid en lyding ’n volslae illusie is, terwyl Christene, Moslems en Jode boosheid en lyding as ’n onvermybare, maar bestrybare werklikheid beleef.
  • Christene glo dat ’n mens gered word deurdat God self, in sy genade, redding moontlik gemaak het (die mens kan homself nie red nie en moet hierdie genade in geloof aanvaar). Ander godsdienste, indien hulle wel in iets soos redding glo, leer dat ’n mense se redding deur goeie dade/strewes plaas­vind. Wat egter ”goed” is en waarvan ’n mens presies gered word, is dikwels uiteenlopend verskillend.

 

Natuurlik kan daar ook op die ooreenkomste gewys word (om egter bloot net op die raakpunte te fokus, maak nie dat die verskille skielik verdwyn of minder belangrik word nie):

  • Die meeste gelowe kan verstaan word as pogings om te verstaan wat die wese is van die realiteit waarin ons leef, van wie God is. Alle nasies van alle tye het nog altyd ’n inherente Godsbesef gehad en met hierdie vrae geworstel.
  • In al die groot wêreld-godsdienste is daar elemente wat goeie intensies en die doen van goeie werke openbaar. Nie een is gerig op doelbewuste boosheid soos in die geval van Satanisme nie.
  • Daar rus verantwoordelikheid by aanhangers van alle godsdienste om ’n sukses van hul geloof te maak deur gehoorsaam te wees aan ‘n persoon, of bepaalde tradisie, of reëls, of bepaalde aktiwiteite. Toewyding, opregtheid en optrede – in samehang met die geloof – is belangrik.
  • Oor die algemeen het ’n belangrike leier of visioenêre figuur ’n sleutelrol gespeel in die ontstaan en ontwikkeling van ’n spesifieke godsdiens en die lering waar rondom dit fokus.

In die praktyk

Is die wêreld se godsdienste wesenlik dieselfde en oppervlakkig verskillend? Nee, inteendeel, die wêreld se verskillende godsdienste verteenwoordig uiteenlopende en dikwels teenstrydige antwoord op die lewe se groot lewensvrae.

 

Tog is dit belangrik om te vra hoe Christene teenoor gelowiges van ander godsdienste behoort op te tree. Baie mense is meestal agterdogtig teenoor dit wat anders lyk of is as waaraan hulle gewoond is of wat hulle as “goed” beskou. Sulke mens is dikwels wantrouig en daarom afsydig teenoor mense wat anders dink en glo as hulle. Ongelukkig verraai so ‘n benadering ‘n gesindheid wat mure tussen mense bou. Tog was Jesus se gesindheid en optrede ‘n voorbeeld van iemand wat gedurig vooropgestelde idees oor mense uitgedaag het en die mure van agterdog afgebreek het. Ons kan sê dat Jesus eerder brûe na mense gebou het.

Ek dink ons moet aktief bereid wees om met enige en alle mense in gesprek tree as ‘n manier om sáám na die waarheid te soek (selfs al dink ons ons weet wat die waarheid is). Ons moet dus óók probeer om brûe na mense te bou. Ons kan egter slegs ‘n brug na ander bou as ons weet waar ander hulleself bevind. As ons wil uitvind, dan beteken dit eenvoudig dat ons sal begin deur in ander belang te stel, in wat hulle glo en hoekom hulle dit glo. Ons kan dit doen bloot deur vrae te vra, sonder om veroordelend of beterweterig oor te kom. Ons kan mense wat anders dink en glo as ons met goedhartigheid, deernis en respek behandel, sodat niemand ons van onverdraagsaamheid kan beskuldig nie, selfs al verskil ons uiteindelik met mekaar se sienings.

Hoe Christene teenoor mense optree, bepaal grootliks of daardie mense geaffronteer gaan word deur die eksklusiwiteit van die Christelike pad, of aangetrek gaan word deur die inklusiwiteit van die uitnodiging om saam op daardie pad te kom stap.

Naslaan bronne

What’s the Big Deal About Other Religions?, John Ankerberg and Dillon Burroughs, 2008

So What’s the Difference?, Fritz Ridenour, 2001

The Compact Guide to World Religions, Dean C. Halverson (Gen. Ed.), 1996

Suid-Afrika, Land Van Baie Godsdienste, Piet Meiring (redak.), 1996

Understanding World Religions, George W. Braswell, Jr, 1994

Christianity and World Religions: The Challenge of Pluralism, Sir Norman Anderson, 1984

 

Leave a Reply

*