‘n Rede vir wat ek glo?

Hallo Udo

Hoe belangrik is dit vir my as ‘n Christen om aan ander te kan verduidelik wat ek glo? Is geloof nie maar ‘n baie persoonlike oortuiging waarvan ons iemand anders nie regtig kan oortuig nie?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winlesmidt

Ek dink dat dit Christene oor die algemeen net goed kan doen om meer moeite te doen om die Bybel en hul geloof beter te verstaan. Om te weet wat jy glo en hoekom jy dit glo is elke denkende Christen se verantwoordelikheid en wel vir die volgende redes.

Eerstens is dit my oortuiging dat die Christelike wêreldbeskouing ons help om ‘n akkurate prentjie te vorm van hoe die werklikheid regtig is en dat elke denkende mens besorg behoort te wees oor hoe die wêreld werklik is. Ek dink egter dat min Christene besef hoe belangrik hul beeld van die wêreld is en dat dit beïnvloed hoe hulle dink, praat en optree.

Tweedens het die optrede en denke van Christene ‘n groot invloed op nie-Christene se persepsie van die Christelike geloof. Nie-Christene se eerste indrukke is dikwels dat Christene ‘n klomp irrasionele en onsamehangende dinge glo. Behalwe dit, sien hulle ook vinnig raak as Christene se woorde en dade nie ooreenstem nie en dis vir hulle dikwels ‘n teken van skynheiligheid en onegtheid. Natuurlik is niemand sonder sonde nie en Christene faal dikwels. Tog is daar ‘n verskil om te weet dat en waar jy kortkom en om salig onbewus te wees van waar en hoe wat jy sê jy glo, jou lewe en woorde weerspreek.

Natuurlik leef en dink nie-Christene ook vanuit ‘n ander wêreldbeskouing en daarom is dit vir hulle dikwels moeilik om sin te maak van alles wat Christene glo. Tog dink ek dat ons as Christene eerstens baie meer moeite kan doen om te wys dat al het ons ander vertrekpunte, dit nie beteken dat ons gevolgtrekkings daarom bloot op onkunde of wensdenkery gebaseer is nie. Tweedens moet ons ook meer moeite doen om te soek na dit waaroor ons met nie-Christene kan saamstem oor die wêreld waarin ons woon en dan te verduidelik hoe die Christelike wêreldbeskouing op ‘n verantwoordelike manier daarvan sin maak. Wanneer ons dit doen, dan beteken dit nie dat nie-Christene sommer hul oortuigings gaan prysgee en die Christelike geloof gaan omhels nie. Nee, maar hulle het wel meer dikwels nodig om te sien hoe en dat die Christelike geloof intelligent en ingelig met die wêreld omgaan.

Wanneer daar meer Christene is wat in hulle alledaagse omgang met mense met integriteit leef, intellektueel en op praktiese vlak, dan is daar ‘n kans dat meer mense die geloofwaardigheid van die Christelike geloof ernstig sal probeer opneem.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.