Christelike onderskeiding

Hallo Udo

Is dit verkeerd om “discernment sites” op die internet te besoek? En doen dit skade eerder as goed om ander Christene teen valse leer te waarsku?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Daar is vir my ‘n paar ooglopende beginsels wat geld in die kwessie van onderskeiding/discernment.

  1. Dis elke Christen se plig om alles te evalueer vir getrouheid aan Bybelse leer.
  2. Om iets te kan evalueer veronderstel dat jy verstaan wat die Bybel leer (wat die maatstaf is) en daarom verdien so ‘n positiewe studie ‘n sentrale en belangrike plek in enige Christen se lewe.
  3. Daar is sekere sake wat verstaan kan word as nie-essensiele aspekte tot ‘n Christelike wêreldbeskouing waaroor opregte Christene met mekaar verskil. Dit beteken dat ons hierdie feit in ag sal neem in ons evaluasie van bepaalde sake. (‘In essentials unity, in non-essentials liberty and charity in all.’)
  4. Daar is altyd ‘n baie spesifieke konteks waarin mense sekere dinge sê en ‘n bepaalde agtergrond vir hoekom hulle dit sê. In enige evaluasie moet ons baie versigtig wees om ander mense se motivering en bedoeling nie verkeerd of skeef voor te stel nie.
  5. Om in ‘n evaluasie te suggereer dat iemand se uitsprake verdag is by assosiasie (m.a.w., x assosieer met y en z, daarom is wat x sê, onmiddelik onder verdenking) is onverantwoordelik en misleidend. Wat iemand sê moet altyd op meriete geevalueer word en nie omdat die persoon met x, y of z assosieer nie.

Dink ek dis verkeerd (sonde) om ‘discernment sites’ te besoek? Nee, glad nie (sien punt 1 hierbo). Ek kry egter dikwels die gevoel dat baie van hierdie ‘discernment ministries’ nie regtig erns maak met die implikasies en erns van punte 3-5 nie. Baie sulke ‘sites’ bewerkstellig (meestal onbedoeld) eerder verdeeldheid en onmin in Christengeledere, as wat hulle bydra tot konstruktiewe gesprek of ‘n positiewe gesindheid aanmoedig wat poog om mense met ander sienings (al is hulle verkeerd) werklik te verstaan. Die siening is dikwels: “Rather divided in truth, than united in error.” Daarmee stem ek saam, behalwe dat verdagmaking, oneerbiedigheid en onbedagsaamheid geen plek het in hoe ons ander mense hanteer nie.

Ek verstaan die behoefte en noodsaaklikheid om ander te waarsku teen dwaalleer en valse lering. Maar ongelukkig het ek al te veel kere gesien hoe Christene se kritiek in ‘n heksejag ontaard en daar geen sprake is van die waarheid wat in liefde gepraat word nie. Dis dus nie of Christene onderskeiding aan die dag moet lê in wat ander doen of sê nie, maar hoe hulle dit doen.

Ons mandaat is om sout en lig te wees. Sout wat smaak gee sowel as teen verderf bewaar, maar nie iets om in ander se wonde te vryf nie. En lig wat die pad aanwys, maar wat ander nie in die proses verblind nie. As daar ‘discernment sites’ is wat op so ‘n manier sout en lig is (en ek hoor dat jy sê dat daar is), dan is dit beslis iets wat Christene kan ondersteun.

Wel, dit was my stuiwer in die armbeurs. Ek hoop dit is van hulp.

Groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.