Agnostisisme en vooroordeel

Hallo Udo

Ek is ‘n agnostikus en het nie tyd vir allerlei aansprake uit tradisie of van gesagsfigure nie. Waarom sou ek? Dit word bloot oorgedra van geslag na geslag sonder dat dit die toets van waarheid slaag.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Studie oor en ondersoek na die waarheid van die Christelike geloof is vir my ‘n passie, alhoewel ek nie ‘n opgeleide teoloog is nie. Dit is egter my mening dat ons niemand uitgelewer is om maar net dinge te aanvaar volgens kulturele oorlewering nie. Die vraag na waarheid hou nie noodwendig verband met tradisie of wat figure in posisies van outoriteit voorhou nie. Ek dink dit is redelik om te verwag dat ons toegang sal hê tot goeie redes vir waarom ons bepaalde dinge sou glo. Dit is ongelukkig so dat meeste Christen gelowiges nie regtig in staat is om ‘n goeie verduideliking aan ander te kan gee vir hoekom hulle bepaalde dinge glo nie. Uit my eie ondersoek het ek oortuig geraak van die waarheid van die teïstiese wêreldbeskouing, en meer spesifiek, Christelike teïsme, en daarom is dit my strewe om ‘n verantwoordelike verduideliking te kan gee vir die aansprake van die Christelike geloof (1 Pet 3:15 en Hand 17:11)

Jy noem dat jy agnosties van oortuiging is. Daarmee bedoel jy waarskynlik een van twee dinge m.b.t. die bestaan van ‘n God: 1) jy is nie seker oor die bestaan van God nie, want jy het nie genoeg rede om geloof in sy bestaan te regverdig nie, of 2) jy dink nie dis enigsins moontlik om kennis rakende die bestaan van God te bekom nie en daarom sal geloof in sy bestaan altyd ongegrond wees.

Dit sou interessant wees om by jou te hoor watter een van die bogenoemde twee beskrywings van agnostisisme (indien enige) jou beter pas.

Groete

Udo

 

Hallo Udo

Agnostisisme, soos ook die geval met ateïsme, is van die mees misverstane uitdrukkings in die mond van die algemene Christen. Jy het dit korrek wat betref teïsme en dan ook ateïsme waarna jy verwys en die verskil maak tussen algemene teïsme en Christelike teïsme. In die lig hiervan is min Christene bewus van die feit dat, bv., die ou Romeine, Christene gesien het as ateïste omdat hulle nie die Romeinse gode wou aanbid nie. Rome was baie goedgesind teenoor godsdiens op voorwaarde dat jy nie hulle gode moes minag nie. Hand.17:23 vertel selfs waar Paulus na bewering die aandag hierop gevestig het, met ‘n standbeeld vir ‘n “onbekende” god wat verkeerd vertaal is in die Afrikaanse Bybel as sulks. Die Grieks verwys na ‘n “agnostiese” god  (wat die erns van Rome bewys om alle gode van sy onderdane te eerbiedig) bewys wat darem sleg sou gelyk het in die korrekte vertaling. Ek het ‘n werkende kennis van Grieks met die interlinear as hulp. Toe die Christelike geloof onder die moordenaar (nie die Grootte nie) Konstantyn die staatsgodsdiens geword het, het hulle die betekenis van ateïsme anders uitgespel as nou enige teenstand teen die Christelike Teïsme wat nie die grond-betekenis van die woord verteenwoordig nie, wat dan ook die leer van die Drie-enige God tot gevolg gehad het.

Nou agnostisisme:  soos wat die negatief “a” voor ateïsme staan vir die verwerping van ‘n spesifieke god wat verkondig word, staan die “a” negatief teenoor die “gnosis” (die spesifieke boodskap) wat jy verkondig, maar bloot (baie belangrik) na ‘n deeglike ondersoek wat daarop dui dat jy die betekenis van die woord verkeerd het waar jy verwys na God (nie omdat ek onseker is oor sy bestaan nie (eerste gedeelte van jou sin), maar wel tweede gedeelte: die Bybelse boodskap regverdig of bewys nie sy bestaan nie.

Kennis van God sou wel moontlik wees in die gnosis waar die verwerping daarvan die negatief “a” aandui. Met ander woorde, alle bekende godsdienste verkondig nie die gnosis van ‘n moontlik bestaande god nie en dus per definisie: God bestaan nie tot tyd en wyl ‘n geloofwaardige boodskap uit hom voort vloei na die mens (sien bv. Ps. 44:10-27 teenoor 1 Konings 18:25-29). Logies, as die afwesigheid van Baal bewys is van sy nie-bestaan: hoe kan ons Jahweh hiervan uitsluit in Ps. 44? ‘n Afwesige “landlord” by enige gebou sal enige regdenkende mens laat dink dat daar nie so iemand is nie wat tog juis daar is om na probleme om te sien. Al die smart en probleme in die daaglikse lewe spel ‘n afwesige “landlord” op aarde wat tog nie moontlik is waar die God van die Bybel voorgestel word as ‘n God van liefde wat oor sy skepsels waak nie (Mt.7:25-34 wat elke dag vals bewys word.)  Dus is die BOODSKAP van belang wat die bestaan of andersins van ‘n god vestig of nie.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek dink ‘n mens kan agnosties wees oor verskeie goed, en daarom ook oor of die Bybel ‘n spesifieke kommunikasie is aan mense vanaf God. Jy sê egter dat ek die betekenis van die woord “agnostisisme” verkeerd het, maar ek ontken dit. Die woord “gnosis” is een van die Griekse woorde vir “kennis” en die etimologiese basis is nie “die spesifieke boodskap” soos jy wil aanvoer nie (ek is verbaas dat jy dit so definieer). Byna al die naslaanwerke wat ek geraadpleeg het definieer die term “agnostisisme” (of dan “nie-kennis”) primêr in terme van die beskikbaarheid van kennis oor God en nie oor of sodanige God ‘n spesifieke boodskap vir mense het nie (hoewel dit natuurlik, soos ek saamstem, ook ‘n vorm van agnostisisme verteenwoordig).

Dit is interessant dat baie mense nog altyd daarop aanspraak gemaak het dat God deur middel van die Bybel wel ‘n geloofwaardige boodskap aan die mens daargestel het. En natuurlik was daar ook nog altyd mense soos jy wat aanvoer dat die Bybelse boodskap nie die bestaan van God bewys of regverdig nie. (Terloops, dit is ‘n foutiewe redenasie om te beweer dat God daarom nie bestaan nie – daar is dalk ander redes om te glo dat God bestaan wat nie afhanklik is van ‘n spesifieke boodskap van God na die mens nie.) Ek het daarom geen illusies dat ek of enigiemand anders jou van die teendeel gaan oortuig nie en ek gaan en wil ook nie probeer nie. Wat ek wel wil doen is om hier en daar ‘n paar opmerkings te maak wat spreek tot jou vooroordele en daarop wys dat jy glad nie so objektief is as wat jy dink jy is nie.

Vervolgens ‘n eerste voorbeeld:

Ek vind jou eksegese meestal uiters problematies. Jy verwys na 1 Konings 18:25-29 as ‘n analogie van hoe God eintlik afwesig sou wees, net soos wat Baäl afwesig was. Dan spring jy na Ps. 44 om aan te toon dat om te glo dat so ‘n God werklik afwesig is, inderwaarheid geregverdigbaar is. Maar dis ‘n baie snaakse manier om te werk te gaan wanneer jy maar net in die volgende verse kon aanlees (1 Konings 18:30-40) oor hoe God se teenwoordigheid juis bevestig word. Hoekom ignoreer jy hierdie verse asof dit niks te sê het oor God of sy boodskap aan mense nie? Wat Ps. 44 aanbetref is dit baie duidelik dat die skrywer met God worstel omdat God op ‘n sekere manier optree, wat weliswaar vir hom onverstaanbaar is, maar nie dat hy dink dat God, soos Baäl, daarom afwesig is nie. My enigste verklaring vir hierdie manier van omgaan met die Bybelse teks is dalk jou voorveronderstelling dat God inderwaarheid nie bestaan nie.

Nog ‘n voorbeeld van swak eksegese is waar jy beweer dat “die latere Jes. 44:24 instryd [is] met Spreuke 8:7-9 en ook in 8:22-29, spesifiek: “Ek was daar” in vers 29, teenoor Jes.44:24: “Daar was niemand by my nie.”

Dit is vir my baie vreemd dat jy nie die stylfiguur in Spreuke 8 kan raaksien/verstaan nie. Dit is tog baie duidelik dat “wysheid” haarself hier as ‘n personifikasie aan die woord doen en dat niemand in die lees van die teks hoef te dink dat hier sprake is dat daar werklik iets of iemand by God teenwoordig was toe hy geskep het nie. Ek kan weer eens maar net wonder oor jou vooroordele wat jou noop om die beeldspraak hier so verkeerd te verstaan.

Die vraag na hoe menslike lyding en die bestaan van ‘n liefdevolle God met mekaar versoen kan word (en dit vorm sekerlik deel van die skrywer van Ps 44 se worsteling), is ‘n saak met vele fasette soos wat uit die volgende vrae blyk: Hoe lyk God se betrokkenheid in die wêreld? Verskil dit van hoe ons as mense baie keer dink dit behoort te lyk? Hoe en hoekom verskil dit? Het ons as beperkte menslike wesens genoeg insig om te verstaan waarom ‘n Almagtige en Alwetende God op ‘n bepaalde manier sou optree of nie sou optree nie? Hoe behoort God op te tree in omstandighede waar daar ‘n konflik bestaan tussen wat God wil en wat die mens wil? Behoort God in daardie omstandighede te gryp en die mens se wil te bowe gaan? Maar in watter tipe wêreld sal ons leef as God so ingryp om ons te keer vir elke keer dat ons doelbewus die verkeerde keuses maak (of selfs elke keer in situasie waarvan ons nie die uitkoms kan voorspel nie, maar wat tog tot negatiewe gevolge lei)? In watter mate sal mense God se betrokkenheid in die wêreld of in hul eie lewe erken indien hulle van meet af oortuig is dat God nie werklik bestaan nie? En is mense se onvermoë om God se betrokkenheid in spesifieke omstandighede te erken, ‘n bewys dat God daarom nie wel betrokke is nie?

My punt met hierdie vrae is weer eens maar net om aan te dui dat daar by elke mens ‘n klomp voorveronderstellings teenwoordig is, ook wanneer die teodisee-vraagstuk ter sprake is. Die belangrikste hiervan is of dit enigsins moontlik is dat God bestaan. Ek wonder daarom byvoorbeeld of daar hoegenaamd ‘n antwoord of verduideliking kán wees wat jy sal aanvaar. Ek kry in elk geval die gevoel uit jou skrywe dat dit nie die geval is nie.

Groete

Udo

 

Hallo Udo

Jy betwis my betekenis wat ek aan die woord agnosties heg en sê dan tog: “soos ek saamstem…” wat natuurlik ‘n spesifieke boodskap verteenwoordig, soos in gnostisisme, wat u erken is “kennis,” natuurlik soos verwoord in die boodskap wat beide in die Bybel (NT) voorkom én in die geskiedenis van (Christelike) gnostisisme. Die verwerping van dié gnosis is dan juis agnostisisme, spesifiek die Christelike boodskap in my geval! The Standard Dictionary: International Edition (Collier’s) defenieer Agnostisisme: “The theory that God is unknown or unknowable-distinguished from Atheism,” waar die Bybelse boodskap dus verwerp word as God se openbaring. Dit bewys dat dit spesifiek gaan oor die boodskap, of openbaring (boodskap) van God, wat as dit krank gaan in sy wesenlike boodskap, dit dus nie van God af kom nie. Hoe kan ons God dan erken as hy homself onbetuig gelaat het? Dit is die vraag wat jy probeer beantwoord in jou volgende paragraaf. Colliers gaan voort en beskryf “Gnosticism”: “as teaching that knowledge rather than faith was the key to salvation.” Kennis = boodskap, anders hoe tel jy kennis op? Iemand gee jou ‘n boodskap wat hy aan God toedig wat jy aanvaar as gnosis of na ondersoek verwerp as agnosisties! Dit verwoord presies my vorige brief.

Jy beweer dat my “eksegese meestal problematies is” en verwys dan na 1 Konings l8:25-29. Jy beweer dat ek nie verder gelees het nie en vestig dan my aandag op verse 30-40 waarvan ek deeglik bewus was. Die verse bevestig nie (sien v.40 wat jy oor die hoof sien!) God se teenwoordigheid nie: dit is ‘n blote bewering sonder eietydse stawende getuienis dat 18-30 wél gebeur het.

Jy maak Ps. 44 maklik af as sou die skrywer met God geworstel het. Hiervan is daar geen bewys in die Psalm self nie. Die skrywer verwyt God met gruwelike aanklagtes: “Waarom slaap u Here? Word tog wakker!” Wat presies ‘n afwesige “landlord” beskryf soos wat ons in ons daaglikse lewe ondervind in die toestand van die wêreld! Wat is dus problematies in my eksegese? Dit wil eerder lyk of jy in ‘n staat van ontkenning verkeer, want Ps.44:24 beskryf presies waaroor Elia die Baal priesters oor bespot het: ‘n God wat nie hoor nie! Hoekom verskoon jy Jahweh en kla Baal aan? Dit is mos nou niks anders as kant kies nie: “Dit is nie regverdig om partydig te wees in die regspraak nie”: (Spreuke 24:23; ook 23:23.)  Stilswye (gebrek aan gebedsverhoring) word in beide geïllustreer: as dit in Baal se geval ‘n bewys is van sy nie-bestaan, soos wat Elia aanvaar het! Hoekom nie ook in die geval van Jahweh by die Psalmis nie? Ek dink dat Ps.44 jou onkant betrap het. Jou antwoord is deursigtelik problematies! Nou sê jy: “My enigste verklaring vir hierdie manier van omgaan met die Bybelse teks is dalk jou voorveronderstelling dat God inderwaarheid nie bestaan nie.” Ek het nie die bestaan van God betwyfel toe ek ‘n Christen was nie! Dus om te kom waar ek vandag in my agnostiese standpunt staan, veronderstel wraggies nie ‘n “voorveronderstelling” nie, waar die Bybel vir 6 jaar my enigste rigtinggewer was.

Jy beweer dat “’wysheid’ haarself hier sien as ‘n personifikasie aan die woord; en dat niemand in die lees van die teks hoef te dink dat hier sprake is dat daar werklik iets of iemand by God teenwoordig was toe hy geskep het nie.” Dan voeg u weer u persoonlike klap by deur te sê: “Ek kan weereens maar net wonder oor jou vooroordele wat jou noop om die beeldspraak hier so verkeerd te verstaan.” Dit lyk of jy vergeet van die aangewese sagmoedigheid wat in 1  Petrus 3:15 jou opdrag is as ‘n Christen. Dalk het jy nog nooit van 1 Petrus 3:15 geweet voordat ek jou aandag daarop gevestig het nie, want jou gedrag negeer dan dié vers op ‘n deurlopende basis! Jy versuim dus om ‘n lig vir die wêreld te wees of die sout van die aarde!

Luister na jou eie woorde: “…dat wysheid haarself hier…” personifiseer! Hoe kan sy dit doen sonder om te dink, te handel en om te getuig oor wat sy gesien het as ‘n getuie: dus ‘n doelbewuste voorstelling van haarself as ‘n persoon wat u bloot as beeldspraak sien. Maar dit is sy wat getuig! Dus, ‘n duidelike weerspreking van Jes. 44:24: ‘n bewys dat God nie alleen was soos wat hy beweer het nie. Maar, God was nie alleen soos wat hy beweer en “wysheid” erken nie.

Maar, terug na Spreuke 8 vanaf verse 1-2: wysheid vorm duidelik deel van die persoon wat praat met “Verstandigheid” (OAV) as ‘n getuie wat duidelik een van “ons” voorstel wat in Elohim sigbaar is in Gen.1:1. Anders, hoekom sien sy haarself as ‘n getuie? ‘n Getuie word nie verpersoonlik nie: dit is ‘n persoon! En nou getuig die persoon vals in verse 22-30 (wat jy ignoreer en let tog weer op: “toe was ek as kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig”, alles karaktertrekke wat aan ‘n persoon gekoppel word. Op grond van sulke karaktertrekke het die Kerk in sy wyse Drie-eenheidsleer besluit dit is so juis omdat karaktertrekke wat wysheid hier aan haarself toedig, ook bewys dat die Heilige Gees wél ‘n persoon is, maar nie in jou wysheid nie. Dit was besluit dat die “Heilige Gees” wat leer, in herinnering bring (Joh 14:25), getuig, lei, praat, hoor en Jesus verheerlik (soos wat “wysheid” Jahweh verheerlik), die “Heilige Gees” juis daarom ‘n persoon is!  “Consistency, thou art a rare Jewel”, indeed! Wysheid wat haarself hier as ‘n getuie (‘n persoon) identifiseer, getuig vals ten spyte van haar selfversekerde houding in verse 6-8. Let op die woorde: “…is niks wat slinks of vals is nie.” En, dan getuig wysheid vals in vers 29 waar sy verwys na: “(T)oe Hy die fondamente van die aarde van die aarde vasgelê het.” So, wysheid was nie daar nie, want die aarde het nie fondamente nie; en dat “fondamente” bedoel word in sy werklike sin, word bewys deur die dubbele versekering dat dit “vasgelê” is. En, dit was so aanvaar deur Katolisisme én Protestantisme voordat die wetenskap in die vorm en persone van Kopernikus en Galileo die teendeel bewys het, wat beide dié kerk-vorme nie wou aanvaar het nie. Luther het Kopernikus “’n dwaas” genoem omdat hy Jos 10:10-12 weerspreek het. Maar, die katolistiese geskiedenis met hulle behandeling van Galileo spreek vanself: beide geloofsvorme in hulle Bybel-gefundeerde onkunde wat vandag deur Christene na die maal weggepraat word. Hier spreek dus nie “wysheid” nie, maar kontemporêre onkunde wat verskoon kan word in sy menslike hoedanigheid, maar beslis nie as ‘n beweerde getuie van ‘n beweerde skepping deur ‘n beweerde God nie. Dit is nou wysheid wat praat en nie godsdienstige obfuskasie nie, wat bloot vooroordele verdedig. Die Bybel veroordeel dus enersyds homself as ‘n vals getuie soos verwoord in Deut.19:18 wat lees: “(E)n is die getuie ‘n vals getuie, het hy vals…getuig.” Of andersyds bewys dit nét sy kontemporêre onkunde. Laasgenoemde is sekerlik die aangewese standpunt. Wysheid verpersoonlik nie haarself nie, maar word as persoon voorgestel. Descartes het besluit: “I think, therefore I am.” Wysheid “dink” in haar verpersoonliking van haarself as ‘n getuie waaroor sy getuig van dit wat sy ondervind het; dus is sy ‘n persoon! Maar, persoon of nie, sy het vals getuig oor die aarde as vas gefondeer, waarvan u die aandag probeer weg praat. En die “ons” verteenwoordig ‘n meervoudige godheid hoe u ookal probeer om dit weg te praat. Wie se vooroordele word nou hier aan die kaak gestel! Of is “ons” enkelvoudig in jou taal? Die kerke wat vir jare die “ons” in (én) Elohim (meervoudig) probeer vereenvoudig het, toon juis die kerk se ontkennende “stylfiguur” as ‘n “uiters problematiese eksegese”, wat al hoe meer opsy geskuif word!

Jy sê, “Die vraag van hoe menslike lyding en die bestaan van ‘n liefdevolle God met mekaar versoen kan word…” Hoekom sien jy Ps.44 in dié lig en nie ook Baal (wat bloot “Here” beteken) se optrede nie? As God besluit het om die Psalm-digter te laat sweet, hoe kan jy Baal dieselfde reg ontsê?  Dit is mos jou vooroordele wat so besluit! Want die resultaat is presies dieselfde: beide bid tot hulle God wat nie antwoord nie! Ja, met dié verskil dat 1 Konings 18:30-40 ‘n stertjie bylas wat bewys waar sy vooroordele lê, terwyl die Psalmdigter meer eerlik is deur bloot te getuig oor wat hy en ek en ook jy as jy objektief onbevooroordeeld wil wees, se daaglikse ondervinding is (sien bv. Ps.44:23 en dan 24)! Ps.44:24 is ‘n deeglike beskrywing van ‘n afwesige “landlord”. Nou erken die Psalmdigter in vers 23 presies wat die Joodse geskiedenis verteenwoordig in hulle lyding, ook onder die Christelike geloof.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Die manier waarop jy die Christelike wêreldbeskouing en benadering tot die skrif tipeer, is miskien die manier waarop sommige Christene dit doen. Maar net omdat dit volgens jou die enigste manier is waarop Christene met die teks kán en behoort om te gaan, maak jou siening nie daarom geldig nie. Inteendeel, jy is besig om ‘n strooipop af te skiet.

Siende dat jy egter dink dat jy presies weet hoe Christene die Bybel behoort te interpreteer, maak dit nie vir my enigsins sin om op jou aantygings in hierdie verband te reageer nie. Inteendeel, ek verkeer sterk onder die indruk dat om op veel meer van jou brief kommentaar te lewer, nie werklik ‘n doel dien nie. Ek het genoeg gesien van jou manier van argumentasie en spesifiek hoe jy met die Bybel omgaan (tot my frustrasie) om tot die gevolgtrekking te kom dat daar nie werklik nut is in verdere korrespondensie nie. Ek sê dit nie ligtelik nie, want ek tree baie graag met mense oor hierdie tipe dinge in gesprek. Maar jy het lankal tot bepaalde oortuigings gekom wat jy klaarblyklik telkens maar net weer wil bevestig deur met die volgende gewillige gespreksgenoot in interaksie te tree. En hopelik het jy dit ook nou weer kon regkry in jou gesprek met my om te bevestig dat Christene nie weet waar die bel hang nie en dat jy die Bybel (en daarmee saam vir God) onder die knie het. Maar ongelukkig gaan ek verdere sulke korrespondensie van die hand moet wys.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.