Is daar bewyse vir God se bestaan?

Hallo André

Is daar bewyse vir God se bestaan?

Groete

Winkelsmidt

Beste Winkelsmidt

Eerstens wil ek sê dat ek nie glo ‘n mens kan die bestaan van God bewys (soos in ‘n wetenskaplike of wiskundige bewys nie). Ek dink egter dat daar baie goed is wat waar is en wat ons as waar aanvaar, maar wat ook nie op daardie maniere bewys kan word nie. Ons WEET baie goed (ook in die wetenskap soos die “Big Bang teorie) op grond van ‘n argument en/of teorie wat die bestaande getuienis die beste verklaar. Daar is altyd die moontlikheid vir wetenskaplike leidrade wat iets méér geloofwaardig kan maak, maar die woord “bewys” is dikwels gelaai met onderliggende konsepte soos waterdigte bewyse en wiskundige vergelykings wat nie altyd van toepassing is op hoe ons sekere dinge weet nie. Uit die aard van wie en wat God is (indien Hy bestaan), is hy in elk geval nie wetenskaplik ondersoekbaar nie. Wat ek wél glo is dat daar baie goeie en oortuigende argumente vir die bestaan van God is en dat die beste verduideliking vir die bestaande getuienis deur die hipotese oor die bestaan van God gegee word.

Ek dink dit is verder belangrik om te sê dat daar twee groepe mense is wat die argumente vir die bestaan van God oorweeg. ‘n Mens kan ‘n beeld gebruik van mense wat as reisigers op ‘n pad stap, terwyl ander as toeskouers op die balkonne van die geboue langs die pad sit en kyk hoe die ander stap. Vir die stappers is die soektog eg en eksistensieel. Dit maak vir hulle persoonlik saak wat die antwoorde op hul vrae is en hulle is ten minste oop om na enige kant toe oortuig te word. Aan die anderkant is daar die balkonsitters wat sit en kyk hoe die ander mense stap. Vir hulle is die vrae na die bestaan van God teoreties en hulle is dikwels net besig om uit die hoogte uit kommentaar te lewer sonder om toe te laat dat die antwoorde en argumente eksistensiële slaankrag kry. Argumente vir die bestaan van God kan nie werklik eerlik geassesseer word sonder om bereid te wees om ‘n stapper te wees nie, want indien God wel bestaan het dit noodwendige en diepgaande eksistensiële implikasies wat nie ontsnap kan word nie (ook nie eens deur die balkonsitters nie).

Ek wil hier ‘n beperkte saak argumenteer – dat daar ‘n God is wat bestaan. Ek gaan nie hier vir die bestaan van ‘n spesifieke Godheid argumenteer nie. Ons kan dit gerus later doen, maar ek dink dit is sinvol om hierdie sake te skei.

Die argumente wat ek gaan aanbied gaan almal in die vorm van logiese argumente gestel word en elke argument sal deur ondersteunende getuienis gevolg word. Elkeen van die logiese argumente moet aan die volgende vereistes voldoen en behoort na gelang van hierdie vereistes geevalueer te word:

Eerstens moet die argument logies sin maak (volgens die wette van logika opgestel en gestel wees). Indien die argument onlogies is of ‘n logiese drogredenasie bevat, is dit vals.

Tweedens moet elkeen van die stellings in die argumente op hul eie waar wees. Die argument hou nie stand indien een of meer van die stellings in die argument vals is nie. Dus, ‘n manier om die argument verkeerd te bewys is deur een van die stellings daarin as vals te bewys.

Laastens moet die stellings wat as die dele (premisse) van die argument staan, elkeen op hul eie meer waarskynlik wees as die ontkenning daarvan. Dit sou dus nog ‘n manier wees om die argument as onwaar te bewys: deur die ontkenning van een van die dele, te probeer verdedig as meer geloofwaardig as die stelling self.

Daar is nie werklik ander maniere om ‘n logiese argument verkeerd te bewys as die bogenoemde maniere nie. Iemand sou dus op logiese foute moet wys, of moet wys waar een van die dele vals is, of die ontkenning van een van die dele as meer geloofwaardig moet verdedig. Dit sal egter met goeie gronde, redes en met getuienis gedoen moet word, anders word die argument as geldig en korrek aanvaar en dat dit die bestaan van God genoegsaam ondersteun.

Ek gaan vervolgens net twee (van die verskeie) argumente vir die bestaan van God met ondersteunende bewyse stel. Kom ons begin met hierdie twee en beredeneer hulle eers ordentlik. Indien een of beide staan, is die bestaan van God meer waarskynlik as die ontkenning van Sy bestaan. Op hierdie punt wil ek ook net sê dat die argumente vir die bestaan van God saamwerk soos fyn toutjies wat saam gevleg word om ‘n dik tou te vorm en nie soos die skakels van ‘n ketting wat elk op die ander se verdediging staatmaak nie. So ‘n kumulatiewe saak vir die bestaan van God (wat uit ‘n verskeidenheid argumente bestaan) word sterker soos meer argumente bygevoeg word, maar een staande argument maak reeds die bestaan van God ‘n geloofwaardige opsie.

Vervolgens sal ek twee (van die verskeie) argumente ten gunste van die bestaan van God uiteensit.

Die kosmologiese argument

Daar is ‘n hele reeks argumente ten gunste van die bestaan van God wat almal as kosmologiese argumente bekend staan. Een van hierdie argumente is die Kalaam kosmologiese argument en kan basies soos volg uiteengesit word:

  • Alles wat begin om te bestaan het ‘n oorsaak
  • Die heelal het begin om te bestaan
  • Daarom het die heelal ‘n oorsaak
  • (Die oorsaak van die heelal vertoon eienskappe wat aan die teïstiese God toegedig word)

Ondersteunende argumente en getuienis

Dit is baie belangrik om daarop te let dat die argument nie beweer dat “alles” ’n oorsaak het nie, maar slegs “alles wat begin om te bestaan”. Verskeie ateïste (insluitend Bertrand Russell en Richard Dawkins) lees die argument verkeerd en verwerp dan ’n verswakte drogvorm van die argument. Die Kalaam kosmologiese argument soos geherformuleer deur William Lane Craig is ’n belangrike deel van die huidige debat rondom die bestaan van God en stel dit dat:

  • Die heelal het begin om te bestaan, of dit is ewig
  • Indien die heelal begin het om te bestaan, dan het dit ‘n oorsaak gehad, of dit het nie.

Die arm van die boomdiagram wat ek verdedig is dus dat die heelal begin het om te bestaan en dat dit ‘n oorsaak gehad het en dat dit redelik is om daardie oorsaak aan God toe te skryf.

Die Kalaam kosmologiese argument kry sterk ondersteuning vanuit beide die wetenskap en die filosofie. Die wetenskaplike bevindings wat die Kalaam kosmologiese argument vir die bestaan van God ondersteun, sluit die volgende in:

Die heelal het begin om te bestaan:

Volgens die tweede wet van Termodinamika sal die energie in ‘n geslote sisteem (soos die heelal) afneem. Dus sal wanorde (entropie) toeneem en temperatuur in so ‘n geslote sisteem afneem oor die verloop van tyd. Dit is wel besig om in die heelal te gebeur en daarom kon die heelal nie van altyd af bestaan het nie, want dan sou ’n toestand van die hoogste entropie reeds behaal gewees het. Dus moes die heelal iewers in die verre verlede begin het om te bestaan.

Die “Big Bang” teorie (oerknalteorie) oor die ontstaan van die heelal ondersteun ook die idee dat die heelal begin het om te bestaan. Dit stel dat die heelal op ‘n spesifieke tyd in die verlede (ongeveer 15 tot 20 miljard jaar gelede) ‘n begin gehad het. Die “Big Bang” teorie was oorspronklik nie baie gewild onder wetenskaplikes nie, maar met die verloop van tyd was die getuienis vir die begin van die heelal so baie en so sterk dat dit vandag bykans onbestrede is. Die twee vernaamste voorbeelde van hierdie getuienis is die volgende: 1) die “red shift” van lig (die “Doppler-effek” in lig) waarvolgens ons kan weet dat sonnestelsels gedurig van ons (en van mekaar) af wegbeweeg en per implikasie, as ons tyd terugwen, al nader aan mekaar beweeg sal beweeg tot by ‘n absolute beginpunt, en 2) die agtergrond mikrogolf bestraling (deur Wilson en Penzias in 1965 ontdek) wat dwarsdeur die heelal bestaan en aanduidings is van ‘n “kosmiese ontploffing”, byna soos wanneer ons die eggo’s van ‘n ontploffing hoor en vanuit die eggo’s (soos met die mikrogolf bestraling in die heelal) kan aflei dat daar ‘n oorsaak (‘n begin) daarvan is.

Stephen Hawking, bekende fisikus en nie ‘n gelowige nie, het in 1983 die volgende oor die implikasies van die oerknal gesê:

“The odds against a universe like ours emerging out of something like the Big Bang are enormous…I think clearly there are religious implications whenever you start to discuss the origins of the universe. There must be religious overtones. But I think most scientists prefer to shy away from the religious side of it.”

Robert Jastrow, ‘n baie bekende Amerikaanse astronoom en agnostikus, sê die volgende oor die implikasies van die oerknal en die beperkings wat die “inflationary period” (die periode wat aanleiding gegee het tot die oerknal self) op die wetenskaplike ondersoek plaas:

“Now we would like to pursue that inquiry farther back in time, but the barrier to further progress seems insurmountable. It is not a matter of another year, another decade of work, another measurement, or another theory; at the moment it seems as though science will never be able to raise the curtain on the mystery of creation. For the scientist who has lived by his faith in the power of reason, the story ends like a bad dream. He has scaled the mountains of ignorance, he is about to conquer the highest peak; as he pulls himself over the final rock, he is greeted by a band of theologians who have been sitting there for centuries.”

Die filosofiese argumente wat die begin van die heelal se bestaan ondersteun, sluit die volgende in:

Oneindige hoeveelhede (infinite quantities) bestaan slegs teoreties, maar nie in die praktyk nie. Wiskundige reekse kan neig na ‘n oneindigheid, maar werklike oneindige hoeveelhede (an actual infinite) is onmoontlik. (Ek gaan nie die punt hier dieper bespreek nie, maar daar is ‘n baie goeie gedeelte hieroor in die werk van William Lane Craig en ook J.P. Moreland). Op dieselfde manier is ‘n oneindige regressie van tyd (m.a.w. ‘n oneindige hoeveelheid tyd in die verlede), prakties onmoontlik en daarom moes tyd ‘n beginpunt gehad het. (Dink so daaraan: as tyd nie ‘n begin gehad het nie en daar ‘n oneindige hoeveelheid tyd bestaan het voor hierdie huidige moment, dan sou hierdie huidige moment nooit kon aanbreek nie, want daar sou altyd ‘n oneindige hoeveelheid tyd moes verloop om by die huidige moment uit te kom. En tog, ons beleef tans ‘n huidige moment!)

Alles wat begin om te bestaan het ‘n oorsaak:

Die stelling dat alles wat begin om te bestaan ‘n oorsaak het, is aksiomaties en onbetwisbaar en ek gaan daarom nie bewyse daarvoor probeer gee nie. Alles wat begin om te bestaan het ‘n oorsaak buite die self.

Die kalaam kosmologiese argument hou ‘n belangrike implikasie in vir ons verstaan van God. Volgens wetenskaplikes het ALLE materie/energie, tyd en ruimte met die oerknal ontstaan. Die logiese afleiding hieruit is dat die oorsaak van die oerknal, self noodwendig immaterieel, ruimtelik ongebonde en tydloos moet wees. Wat nou interessant is, is dat die natuur van God tradisioneel verstaan is om onder andere juis ook hierdie eienskappe te hê: God is immaterieel, ruimtelik ongebonde en tydloos (ewig). Dit is daarom redelik om te redeneer dat omdat die oorsaak van die heelal hierdie eienskappe het, dat die oorsaak van die heelal God is.

Die teleologiese (ontwerp) argument

An explosion in a junkyard does not lead to sundry bits of metal being assembled into a useful working machine. (Fred Hoyle)

Soos met die kosmologiese argumente is daar ook ‘n reeks argumente wat as teleologiese (ontwerp) argumente bekend staan. ‘n Basiese vorm van hierdie argumente is deur William Paley uiteengesit, maar dit is eintlik een van die oudste argumente vir die bestaan van God en is reeds in die antieke tyd gebruik.

Paley het die analogie van ‘n horlosie gebruik en sy stelling van die argument kan soos volg uiteengesit word: As jy op ‘n strand stap en jy tel ‘n horlosie op wat uit die see gespoel het, dan kan die vraag gevra word: waar kom dit vandaan? Niemand sal dink dat dit bloot spontaan in en deur die werking van die see en die wind (of ander natuurkragte) gevorm is nie. Die geordende komplekse ontwerp en duidelike doel van die eindproduk, impliseer ‘n intelligente ontwerper. Net so sien ons duidelike tekens van ontwerp in die natuur. Dit impliseer ‘n ontwerper.

Alhoewel Paley se spesifieke argument baie kritiek en teenargumente ontlok het, is die teleologiese argument in baie sterker vorms terug in die huidige debat. Ek verdedig daarom nie hier soseer Paley se spesifieke teleologiese argument nie, maar die meer moderne argumente vir ontwerp.

‘n Teleologiese argument kan soos volg opgesom word:

  • Alle ontwerp impliseer ‘n ontwerper
  • Daar is baie hoë vlakke van ontwerp in die heelal waarneembaar (op mikro en makro vlak)
  • Daarom moet daar ‘n ontwerper van die heelal en aspekte van die heelal wees
  • (Ontwerp impliseer intelligensie en persoonsmatigheid – eienskappe wat aan die teïstiese God toegeskryf word)

Wetenskaplike getuienis vir die ontwerp-argument

Wetenskaplikes is baie goed daarmee om ontwerp van “nie-ontwerp” te kan onderskei. Deur middel van erkende wetenskaplike ondersoekmetodes kan ’n klip uitgeken word as ’n pylpunt eerder as slegs ’n skerp klip. Alle forensiese ondersoeke onderskei intelligente (“ontwerpte”) aktiwiteite van bloot toevallige gebeure. Indien dieselfde maatstawwe wat in ander wetenskapsvorme gebruik word op sekere natuurverskynsels toegepas word, dan dui dit sterk op die teenwoordigheid van ontwerp. Ek sal vervolgens twee voorbeelde van ontwerp in die heelal gee:

Die fyn instelling van die oorsprongstoestande en die konstantes van die heelal self

Vanuit die wetenskap kom die “Anthropic principle” (wat hier vertaal word as die Antropiese beginsel) na vore. Die Antropiese beginsel verduidelik dat die heelal basiese eienskappe het wat dit vir ons as menslike wesens moontlik maak om te bestaan en meer spesifiek dat ons die tipe wesens is wat kan sien dat die heelal sulke eienskappe het. Wat ons in toenemende mate sien is hoe geweldig fyn die oorspronklike toestande (begin-waardes en konstante waardes) tydens die “big bang” was asook in die huidig waargeneemde toestande in die volledig gevormde heelal om menslike lewe moontlik te kon maak. Die heelal is soos ‘n “broeikas” wat ontwerp is om lewe (en spesifiek menslike lewe) moontlik te maak. Daar is reeds meer as ’n honderd en vyftig wetenskaplike bevindinge van veranderlikes wat só fyn ingestel moes wees om lewe op aarde moontlik te maak dat hulle onmoontlik nie almal per ongeluk “reg” kon gewees het nie. Dit is ontsaglik onwaarskynlik dat dit per toeval so ontstaan het en dit impliseer ontwerp. Hier volg ‘n paar van daardie wetenskaplike feite:

  • Die aarde is presies die regte afstand van die son af vir menslike lewe op aarde. As dit te na aan die son was, dan sou die son se bestraling en hitte lewe op aarde onmoontlik gemaak het. Te ver van die son af en die aarde sou te koud wees om lewe te onderhou. Nie net is die aarde op die regte afstand van die son af nie, die aarde beweeg ook tydens sy omwenteling van die son nie te na of te ver van die son af nie. In vergelyking met ander planete het die aarde ‘n baie meer ronde wentelbaan om die son wat dit stabiel genoeg maak om lewe te kan onderhou.
  • Water is noodsaaklik vir die onderhouding van enige lewe. Dit is ook die enigste stof, sover bekend, waarvan die digtheid as vastestof minder is as die digtheid as vloeistof. Dit laat ys bo op water dryf. Visse en seelewe kan onder die ys in die water bly leef en die hele planeet ys nie toe nie.
  • Die krag wat deur swaartekrag uitgeoefen word moet presies reg wees om lewe in die heelal moontlik te maak. Dit moet akkuraat wees binne een deel van 1060. Die bekende fisikus Paul Davies beskryf die fyn instelling van swaartekrag as een van die grootste misteries van die kosmologie.
  • Die krag van swaartekrag is presies die regte proporsie swakker in vergelyking met die krag van die elektromagnetiese krag. Swaartekrag is 1039 keer swakker as elektromagnetisme. As dit 1033 keer swakker was, sou sterre baie kere kleiner gewees het en baie vinniger gebrand het. Dit sou lewe onmoontlik gemaak het.
  • Wetenskaplikes het bereken dat die waarskynlikheid vir die aarde om die korrekte atmosfeer te hê met die watersiklus soos ons dit het, ongeveer 1 uit 1026 is. Die probleem is dat die maksimum moontlike getal planete op net sowat 1022 geskat word.

Hierdie en nog meer as ‘n honderd soortgelyke feite noop sommige wetenskaplikes om die fyn instelling van al hierdie faktore te probeer verklaar. Nuwere verklarings soos “multiverses” (baie heelalle) is pogings om die duidelike indruk van ontwerp wat die antropiese beginsel by ‘n mens laat, op een of ander naturalistiese manier weg te verklaar (soos dat as daar volgens die “multiverse”-teorie ‘n oneindige hoeveelheid heelalle is, dan sal daar noodwendig ook ‘n heelal wees met presies die eienskappe soos wat ons in hierdie heelal sien). Die probleem is net dat al die pogings om naturalistiese verklarings vir al die fyn instelling te vind, slegs spekulasie is en nooit getoets kan word nie (daar is byvoorbeeld geen bewyse vir die bestaan van “multiverses” nie). Dit kan vergelyk word met iemand wat van ‘n misdaad beskuldig word waar die getuienis OORWELDIGEND sterk op die persoon se skuld dui. Vingerafdrukke op die moordwapen, DNS getuienis, ooggetuies, video-opnames van die misdaad en meer. Dit gaan nie help om dan te sê dat ‘n identiese wese vanuit die buitenste ruim die misdaad kom pleeg het nie. Dit is eenvoudig ongeloofwaardig. Die sterk afleiding tot ontwerp wat die getuienis gee, het wetenskaplikes al genoop om die volgende te sê:

“A common sense interpretation of the facts suggests that a super-intellect has monkeyed with Physics as well as with Chemistry and Biology and that there are no blind forces worth speaking about in nature The numbers one calculates from the facts seems to me so overwhelming as to put this conclusion beyond question.” (Fred Hoyle)

“It is hard to resist the impression that the present structure of the universe, apparently so sensitive to minor alterations in the numbers, has been rather carefully thought out… the seemingly miraculous occurrence of these numerical values must remain the most compelling evidence for cosmic design” (Paul Davies)

Die fyn instelling van die toestande tydens die “big bang” en die bestaande toestande in die volledig gevormde heelal is slegs een deel van die getuienis vir die ontwerp argument vir die bestaan van God. ’n Tweede sterk deel van die argument is die bestaan van inligting in die DNS kode van alle lewende organismes.

Die aard van inligting soos in ‘n DNS-molekule

Vanuit wetenskaplike navorsing is dit duidelik dat natuurkragte wel op hul eie verantwoordelik kan wees vir die ontstaan van orde, soos ’n kristal se molekules wat ordelik, maar eenvoudige herhaling bevat. Natuurkragte is ook verantwoordelik vir kompleksiteit soos skulpe wat op die strand uitspoel. Daar is egter geen bewese voorbeelde van gevalle waar natuurkragte vir ’n kombinasie van orde en kompleksiteit (inligting) verantwoordelik is nie. Inligting (informasie) is egter altyd ‘n kombinasie van orde (reëlmaat, netheid, rangskikking volgens ‘n bepaalde stelsel) en kompleksiteit (saamgestelde geheel, ingewikkeld, moeilik om te verstaan).

Om te illustreer sal die bogenoemde voorbeeld van skulpe wat op die strand uitspoel gebruik word. Indien jy op ’n verlate strand stap en jy sien skielik daar op die sand ‘n boodskap (iets soos “Hallo, ek hoop dit gaan goed met jou” wat netjies met die skulpe uitgepak is. Die rangskikking van die skulpe verteenwoordig duidelik komplekse orde (‘n boodskap) en dus inligting. Indien so ‘n boodskap op die sand gekry word, dan sal geen rasionele mens dink dat die see dit “geskryf” het in die uitspoel van die skulpe op die strand nie. Dit is voor die hand liggend dat inligting nooit deur slegs natuurkragte veroorsaak word nie. Die teenwoordigheid van inligting impliseer altyd ontwerp en die betrokkenheid van intelligensie (‘n persoon).

Nog ’n plek waar wetenskaplikes hierdie onderskeid implisiet erken en gebruik, is die SETI (Search for Extra-terrestrial Intelligence) projek in die VSA. Die SETI projek het ’n paar honderd radio antennas wat na die ruimte wys. Hierdie antennas monitor die ruimte vir enige radioseine wat die aarde bereik. Daar is baie sulke seine wat elke dag opgetel word. Die seine wat daagliks opgetel word is o.a. die agtergrond suising (“static”) van die heelal (dit verteenwoordig kompleksiteit) asook die reëlmatige seine van pulssterre (dit verteenwoordig orde). Selfs met hierdie twee genoemde tipes resultate dink niemand wat by SETI werk dat hierdie waargenome seine op die bestaan van buite ruimtelike intelligensie dui nie. Waarna hulle soek as bewys van buite ruimtelike intelligensie is ’n kombinasie van orde en kompleksiteit, oftewel ’n boodskap. Indien hulle byvoorbeeld iets soos ‘n boodskap in Morse-kode sou optel, dan sou dit dadelik aan ‘n nie-naturalistiese oorsprong toegeskryf word. Morse-kode is komplekse (gespesifiseerde) orde en bevat inligting. Dit is ‘n oortuigende bewys van die bestaan van ’n intellek en kan NET van ‘n persoon afkomstig wees, nie van iets soos die heelal self nie. DNS is presies dit: gespesifiseerde (komplekse) orde wat massas en massas inligting bevat. Indien ‘n boodskap soos dié in DNS, uit die buitenste ruimte ontvang sou word, dan sou NIEMAND dink dat dit van ‘n pulsster af kom nie. Almal sou erken dat dit van ‘n intellek afkomstig is.

John Lennox is ‘n professor in wiskunde en in die filosofie van die wetenskap aan die Oxford Universiteit en stel die sterkte van die “design inference” vanuit DNS soos volg:

“The design inference from DNA is much stronger than its classical predecessors for the following reason: “DNA does not imply the need for an intelligent designer because it has some similarities to a software program or to a human language. It implies the need for an intelligent designer because… it possesses an identical feature (namely information content) that intelligently designed human texts and computer languages possess.” We are not therefore, arguing from analogy; but we are making an inference to the best explanation.”

Francis Collins, die hoof van die “Human Genome” projek en een van die top genetici in die wêreld, is ’n evangeliese Christen en sien sy eie veld van studie as bevestigend van sy geloof in die bestaan van die persoonlike God wat in die Bybel beskryf word. Hy noem selfs sy boek “The Language of God” as verwysend na die inligtingsinhoud van DNS.

Die gewig van teleologiese (ontwerp) argumente was ook die hoofargumente vir waarom die wêreldberoemde akademikus (filosoof), Antony Flew sy opinie na 50 jaar van ateïsme, verander het. Die geweldige impak van Flew se veranderde denke en die geweldige turbulensie wat dit in die wêreld van filosofie en in die wêreld van ateïsme gebring het, moenie onderskat word nie. Al Barger stel dit soos volg:

Dr Anthony Flew now believes in God. I’m not sure how to express what a big deal this is. I believe it may represent one of the seven seals of the apocalypse. Soon dogs and cats will begin sleeping with each other and Michael Moore will be publicly repeating the Pledge of Allegiance. Any halfwit can jump up and down denouncing God, but for a half century professor Anthony Flew has been considered probably the number one living intellectual proponent of religious skepticism and atheism.

Flew was die top intellektuele ateïs in die wêreld (in teenstelling met populêre ouens soos Richard Dawkins, Christopher Hitchens, Sam Harris en ander). Hierdie teleologiese argumente het hom ‘n deïstiese vorm van teïsme laat aanvaar en in sy eie woorde het hy gesê, “I had to follow the evidence where it leads”. Flew verduidelik sy denke soos volg in ’n onderhoud met Gary Habermas:

FLEW: I think that the most impressive arguments for God’s existence are those that are supported by recent scientific discoveries… I think the argument to Intelligent Design is enormously stronger than it was when I first met it.

HABERMAS: So you like arguments such as those that proceed from big bang cosmology and fine tuning arguments?

FLEW: Yes.

HABERMAS: So of the major theistic arguments, such as the cosmological, teleological, moral, and ontological, the only really impressive ones that you take to be decisive are the scientific forms of teleology?

FLEW: Absolutely. It seems to me that Richard Dawkins constantly overlooks the fact that Darwin himself, in the fourteenth chapter of The Origin of Species, pointed out that his whole argument began with a being which already possessed reproductive powers. This is the creature the evolution of which a truly comprehensive theory of evolution must give some account. Darwin himself was well aware that he had not produced such an account. It now seems to me that the findings of more than fifty years of DNA research have provided materials for a new and enormously powerful argument to design.

Die logiese implikasie van die teleologiese argumente is dat ‘n ontwerper nooit net ‘n “iets” is nie, maar altyd ‘n “iemand.” Hieruit sou dit byvoorbeeld volg dat enige ontwerper van die heelal of ‘n ontwerper van inligting in ‘n DNS-molekule wat uit hierdie argument bewys sou wees, ‘n “iemand” is en dus persoonlik sou wees. Dit is natuurlik presies die eienskappe wat aan die teïstiese God toegeskryf kan word.

Slot

Daar is nog baie te sê oor hierdie argumente en daar is nog heelwat ander argumente om op die tafel te sit, maar ek sal volstaan met hierdie twee sterk argumente vir die bestaan van God. Soos ek aan die begin gesê het is daar egter ‘n belangrike vraag om hier te vra aan enige iemand wat hierdie argumente oorweeg: Is jy net ‘n balkonsitter, of self besig om op die pad stap? Is jy werklik bereid om die getuienis te volg waarheen dit ookal mag lei? Natuurlik moet ‘n mens nog verder gaan en vra na presies wie hierdie God dan sou wees, maar om te weet dat God bestaan is ‘n logiese beginpunt. Soos wyle Francis Schaeffer gesê het: “A man can only love a God who exists and who is personal and about whom he has knowledge.”

Vrede

André

1 Comment

  1. Sjoe Andre,

    Ek was opsoek na inligting vir my kind se wetenskap ekpo en het besluit op Termodinamika omdat ek dit hoegenaamd nie op universiteit kon verstaan in my tweede jaar nie. Daardie jare was daar natuurlik nie google en die internet nie en ek het vergeefs prober verstaan. Ek het gedink nou kan ek die “ding” aanpak en miskien voel ek beter daaroor dat ek nooit Fisiese Chemie op universiteit kon onder die knie kry nie.

    Ek het gegoogle eksperimente om die tweede wet van termodinamika te bewys….. en kom toe op hierdie page en artikel af. Alhoewel dit niks met my ekspo soeke uit te waaie gehad het nie, kon ek eenvoudig nie ophou lees nie……

    Wat ‘n fantastiese artikel!!!!!!! Ek oorweeg nou om dalk my onderwerp te verander. Dit het tog alles met wetenskap uit te waaie. Sal heerlik wees om liewer meer oor alles wat jy hier geskryf het te weet. Het jy dalk ‘n goeie wetenskaplike bewys wat vir jou absoluut uitstaan ter stawing van God se bestaan wat jy kan aanbeveel en waaroor ons baie inligting kan kry en moontlik self ook mee kan eksperimenteer?

    Baie groete
    Mariette van Rooyen

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.