Is Genesis 1 en 2 teenstrydig?

Baie dankie vir julle werk.

Ek is van kleins af God se kind, en deesdae het ek ‘n paar vrae oor hoe mens die Bybel behoort te glo. Soos ek verstaan is daar bv. meer as een skeppingsverhaal. Die een vertel dat die groenigheid op die derde dag geskep is (Gen. 1:11-12), die ander impliseer dat daar nie plante was voor die mens geskep is om dit te bewerk nie (Gen. 2:5). Is dit ‘n teenstrydigheid? Ek kan dit heeltemal versoen met die Bybel dat die heelal en aarde baie miljoene jare oud is, ‘n “dag” in Genesis 1 is tog duidelik nie 24 uur soos ons dit ken nie aangesien die son eers op die 4e “dag” geskep is, maar ek sou graag wou hê dat ten minste die volgorde van gebeure in Gen. 1 versoenbaar is met die werklikheid. Maar wat nou as die Bybel homself weerspreek in die 2e skeppingsverhaal? Hoe moet mens die skeppingsverhale interpreteer? En is die mensdom so oud soos Adam, of ouer soos volgens die wetenskaplikes?

Baie dankie,

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou vrae. Ek probeer graag antwoord.

Die twee skeppingsverhale van Genesis 1 en 2 onderskeidelik, verteenwoordig nie twee totaal onafhanklike en weersprekende skeppingsverhale nie. Genesis 1 bied ‘n meer algemene beskrywing, terwyl Genesis 2 ‘n baie meer gedetaileerde beskrywing vanuit ‘n baie spesifieke perspektief gee. Die verskille in die volgorde van gebeure is daarom te wyte aan die verhale se verskillende oogmerke en perspektiewe.

My eie verstaan is dat die eerste verhaal ‘n opeenvolging van gebeure volgens ‘n bepaalde struktuur beskryf waarin die fokus op God se almag, kreatiwiteit en planmatigheid val. Hierdie beskrywing moet veral verstaan word teen die agtergrond van die skrywer se bedoelde teikengehoor. Idees oor die skepping in die antieke Nabye Oosterse wêreld en kultuur het grootliks deel gevorm van ‘n politeïstiese wêreldbeskouing. So byvoorbeeld, sou een van die gode die wêreld vanuit een of ander voorafbestaande materiaal geskep het. Ook was die son en maan as gode aanbid. In teenstelling met talle van hierdie idees identifiseer en beklemtoon die skrywer van Genesis 1 God se unieke karakter en doel: daar is net één God en Hy is die Skepper van álle dinge (ook van die son en maan, wat eenvoudig as ‘ligte’ dien!). Een van die belangrikste aspekte wat die skywer beklemtoon is die feit dat die mens na die bééld van God geskape is, m.a.w. dat die mens in ‘n baie spesifieke verhouding met hierdie Skepper God staan. Daarom dat die fokus in die skeppingsverhaal van Genesis 2, van die begin af op God se skepping van die mens is, op Sy spesiale sorg en doel vir die mens. Genesis 3 gaan dan onmiddellik verder om die breuk in hierdie verhouding te beskryf en die res van die Bybel is die storie van hoe God dit vir ons moontlik maak om in hierdie verhouding met God herstel te word.

Na my mening is dit belangrik om te verstaan dat die punt van beide die skeppingsverhale teologies van aard is (een van die belangrikste teologiese punte wat die skeppingsverhaal van Genesis 1 wil maak is dat Jahweh die Skepper is van alles wat bestaan, en daaruit kan ‘n mens aflei dat die wêreld nie nog altyd bestaan het nie en ook nie sommer vanself en sonder rede ontstaan het nie). Hierdie antieke verhale was egter nie bedoel as een of ander moderne wetenskaplike beskrywing van die ontstaan van die wêreld of van presies hoe God te werk gegaan het om die wêreld te skep nie. Om daarom enige kronologiese robuustheid van die verhale te eis, is na my mening om die bedoeling van die skrywer en die aard van die verhale te ontken.

Ek dink ook dis belangrik om te verstaan dat om die primêr teologiese aard van die skeppingsverhale en ander verhale in Genesis 1-11 te erken, dit nie beteken dat ‘n mens sulke verhale van alle historiese elemente stroop nie. Ons hoef daarom byvoorbeeld nie die bestaan van Adam en Eva as historiese persone te ontken nie. Dit beteken wel dat ons byvoorbeeld, volgens bepaalde wetenskaplike bevindinge, dalk rede het om te glo dat daar anatomies soortgelyke wesens aan Adam en Eva bestaan het, lank voordat God die asem van lewe in Adam geblaas het. So ‘n gedagte is beslis spekulatief van aard, maar gegewe die bedoeling van die Genesis verhaal, dink ek nie dit verhinder ons om tot bepaalde gevolgtrekkings te probeer kom wat sin maak uit beide die Bybelse en wetenskaplike data nie.

Winkelsmidt, ek is deeglik bewus van die verdeeldheid en vyandigheid wat daar dikwels onder Christene (wat almal bely dat Jesus hul Here en Verlosser is) bestaan wanneer hulle met mekaar skouers skuur oor hoe om die skeppingsverhale van Genesis te verstaan. Daar is dikwels oor en weer beskuldigings van ontrouheid aan die Skrif of van ‘n onverantwoordelike omgang met wetenskaplike data. Ek (en die bediening waarvan ek deel is) probeer wegbly van enige sulke suggesties. Ons wil aanvoer dat die kompleksiteit verbonde aan hierdie spesifieke saak, Christene eerder versigtig behoort te maak om nie ander Christene se sienings sommer as onbybels en onchristelik af te maak nie en vir mekaar ruimte gun vir alternatiewe sienings.

Ek wil daarom sê dat ek met bogenoemde verduideliking op jou vrae beslis ‘n bepaalde siening weergee (en nie almal wat deel is van die AntWoord bediening deel eers noodwendig hierdie siening nie), maar dat ek geensins dink dat dit noodwendig die enigste verantwoordbare siening verteenwoordig nie. Uit my eie worsteling en navorsing oor die saak is dit egter waar ek tans in my oortuiging staan.

Indien jy sou belangstel om hierdie saak verder te ondersoek vanuit ‘n benadering wat in meerdere of mindere mate in ooreenstemming is met die siening wat ek hierbo met jou gedeel het, dan kan ek die volgende boeke as ‘n beginpunt aanbeveel:

  • Can We Believe Genesis Today? (Ernest Lucas)
  • Three Views on Creation and Evolution (Stanley Gundry – series editor)
  • God by Evolution (Michael Jarvis)
  • Designed for a Purpose (John Gilchrist)

Winkelsmidt, laat weet gerus as ek (ons) jou verder van hulp kan wees.

Groete

Udo

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.