Markus 16 en eksegese

Hallo Udo

Mark. 16:8 is ‘n eienaardige vers. Vind jy dit nie ook eienaardig en weerspekend nie, as vanaf verse 1-7 vertel word wat die vroue sou gesien het, en dan in vers 8 beweer dat die vroue VIR NIEMAND IETS DAARVAN GESÊ HET NIE? As die vroue geswyg het, soos wat vers 8 weersprekend beweer, vanwaar dan verse 1-7? Dit dwing ons om die beweerde opstanding te ondersoek aangesien weersprekende getuienis nie in die hof aanvaarbaar is nie en Markus 16:1-7 dus valse getuienis verwoord (Deut.19:18). Weersprekende getuienis soos dié sal in enige hof verwerp word.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

As ek jou reg verstaan, dan wil jy die opstanding van Jesus in twyfel trek, omdat daar in Markus 16:8 staan: “En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees.” Ek vind jou redenasie en eksegese uiters vreemd en wel vir die volgende redes:

  1. Hoekom is die opstanding onder verdenking wanneer die opstanding juis so duidelik in die teks bevestig word? (Markus 16:6: “Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.”) Dit sou baie swak getuienis in ‘n hof wees om te sê: “Edelagbare, Jesus het nie uit die dood opgestaan nie, want Markus beweer dat die vroue vir niemand vertel het dat hy opgestaan het nie.” Dit terwyl dieselfde Markus (of wie Oom ookal dink die skrywer van die Markus-evangelie is) dit dan juis bevestig het! Die feit dat die teks in vers 7 aandui dat die jongman by die graf aan die vroue ‘n opdrag gegee het en dat dit in vers 8 lyk asof hulle nie aan die opdrag voldoen het nie, vra om verduideliking, maar dis ‘n aparte saak en weerspreek tog nie opsigself Markus se getuienis oor die opstanding in vers 6 nie.
  2. Dit is verder baie vreemd om te wil beweer dat die getuienis oor die opstanding nie eg is nie, as Markus 16:6 self, sowel as die ander drie skrywers van die Evangelies, sowel as Paulus (wat in 1 Korintiërs 15 uitdrukking gee aan die vroegste belydenis van Christelike gemeenskap oor die opstanding) almal getuienis bied vir die opstanding. Watter hof gaan al hierdie getuienis ignoreer omdat dit skynbaar klink asof die vroue niks gesê het oor die opstanding nie?
  3. Hoe moet ‘n mens dan die verwysing na die vroue se stilswye verstaan? Ek kan aan verskeie verduidelikings dink wat geloofwaardig is. Die eenvoudigste het te doen met die vroue se emosionele toestand wat in die teks self weergegee word – hulle was bang. Markus probeer iets weergee van die vroue se absolute verbasing, hul skok, dat iets soos Jesus se opstanding uit die dood hoegenaamd gebeur het en dat hy leef! (Ek kan myself selfs indink dat hulle bang was dat iemand op hulle sou afkom terwyl hulle daar by die leë graf rondgestaan het en hulle miskien daarvan sou beskuldig dat hulle ‘n aandeel gehad het in grafroof – ‘n baie ernstige aanklag in daardie tyd!) ‘n Mens kan jouself daarom indink hoe hulle in hierdie toestand van vrees van die graf af weggehardloop het en nie ‘n woord gepraat met enigiemand wat hulle teëgekom het oor waar hulle sopas was en wat hulle beleef en gehoor het nie. Ek dink dis primêr wat Markus met vers 8 wou kommunikeer. Maar dan, soos hulle emosie later bedaar het, daar waar hulle weer in ‘n veilige omgewing was, het hulle weer begin nadink oor wat hulle gesien, gehoor en beleef het, en so het ‘n ander emosie hulle oorweldig – een van verwondering, een van blydskap dat hul geliefde wel op ‘n manier leef! – en dan is dit nie moeilik om te glo dat hulle hierdie nuus met ywer aan die ander volgelinge van Jesus sou oorvertel nie.

In die lig van al die ander getuienis oor Jesus se opstandig, is laasgenoemde beslis ‘n baie redelike en geloofwaardige verduideliking van gebeure, en na my mening iets wat in enige hof as sodanig aanvaar sal word.

Groete

Udo

 

Hallo Udo

Op grond waarvan kan u sê dat “die opstanding juis so duidelik in die teks (Mk.16:l-8) bevestig word?” Dit word reeds weerspreek (gekorrigeer!) deur Lk.24:9! U moet maar die hof bywoon en leer oor weersprekende en vae getuienis. Vers 8 is die lakmoes-toets wat nie daar hoort as verse 1-7 reeds na bewering vertel wat hulle sou gesien het en dan v. 8 beweer dat “hulle vir niemand iets daarvan gesê het nie”. Hoekom het die NAV “anders” bygevoeg, anders as ‘n erkenning dat die vers sinneloos is soos wat dit staan teenoor verse 1-7 en die betekenis probeer duideliker maak het deur dié byvoeging.  Enige hof beampte sal onmiddellik belangstel in die scenario en aan die getuie uitwys: “Wat bedoel u dat die vroue het aan niemand iets (oor die opstanding) gesê nie. Jy het dan nou net aan die hof vertel dat die vroue dit alles vertel het in verse 1-7. Verduidelik aan die hof: Aan wie het hulle dit vertel? En op grond waarvan beweer jy nou dat hulle nie vertel het nie? Hét die vroue nou vertel of hét hulle nie? Jy mors mos die hof se tyd met sulke teenstrydige bewerings! Verskyn die woord ‘anders’ in jou aanvaarde Griekse teks?”  “Nee, Edelagbare!” Die hof: “Nou hoekom verander jy geskrewe getuienis?” Die vertaler: “Om die teks duideliker te maak, Edelagbare.” Die hof: “Jy het nie die teks duideliker gemaak nie. Jy het dit verander.”  Die hof stel dit dus aan jou: “Dat jy dit gedoen het juis omdat die geskrewe verse weersprekend is. Dit mag jy nie doen nie, want dan verander jy getuienis soos wat dit jou pas.”  Nou, die Lukas getuie: Selfs Lukas die latere skrywer het die fiasko in Markus raak gesien en lees toe: “(E)n al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel.”  Die Hof: “Lukas is jy seker van die getuienis wat jy nou gelewer het?” “Ja, Edelagbare.” Die hof: “Die rede hoekom die hof hierdie vraag vra, is dat die vorige getuie sy getuienis geëindig het met die woorde: ‘Hulle (die vroue) het vir niemand iets daarvan gesê nie.’ Die hof stel dit aan jou dat julle die getuienis oor die opstanding bespreek het en dat jou getuienis ‘n aanpassing is van die vaagheid en weersprekende aard van die getuienis van Markus.” Nou trap Lukas ongemaklik rond en swyg. Die hof: “Antwoord asseblief die vraag!” Lukas: “Ek is nie seker nie, Edelagbare.” Die hof: “Ek stel dit aan jou dat jy Markus se getuienis gemanipuleer het.” Lukas: “Dit is nie so nie, Edelagbare.” Die hof: “Lukas kan jy dan aan die hof verduidelik hoekom jou verklaring wat l9448 woorde bevat,  6779 daarvan woordeliks of amper woordeliks ooreenkom met dit wat in Markus se verklaring staan.” Lukas: “Jammer, Edelagbare. Ek het Markus se geskrif voor my gehad toe ek geskryf het en baie van sy idees oorgeneem en ander verbeter (lees maar, Udo!), soos sy vae vers in l6:8 wat ek moes aanpas.” Die hof aan die Lukas-skrywer: “U erken dus dat u aan die Markus-skrywer se getuienis gepeuter het deur dit te verander.” Die Lukas-skrywer staan sprakeloos! Kan jy bostaande ontken? Nou weer die hof: “Ordonnans sorg asseblief dat, met die verdaging van die hof, Lukas en Markus aangekla word van meineed! Die hof kan nie weersprekende getuienis wat boonop gemanipuleer en dan nog ontken word, oor die hoof sien nie.” Lees maar Deut.19:15-21, veral vers 18 (NAV): “Die regters moet die saak deeglik ondersoek…” Dus, het nie een van Markus, Lukas, Johannes of Paulus “juis (die opstanding) bevestig” nie, soos wat jy beweer wat deur bostaande hof-scenario weerlê word. Daarom is jy populisties en fundamentalisties, want jy dink nie vir jouself nie, maar volg bloot vooroordele na, soos in Dr. Craig!

Wat Matteus betref: die skrywer sal dieselfde paadjie volg as Lukas want hy het ook vir Markus nageskryf. Bostaande is dus ook op hom Johannes en Paulus van toepassing. In die lig van Mk.16:8 is 16:6 ontoelaatbare getuienis, want as die vroue aan niemand vertel het wat hulle sou gesien of ondervind het nie, wat ook getuienis is, verval 16:6 omdat dit weersprekend is met 16:8! Jy aanvaar hof-getuienis as ‘n basis mét jou Christelike vooroordele en nie soos wat ‘n hof moet funksioneer nie, selfs in die Bybelse voorbeeld in Deut.19:15-21. Een van twee dinge is waar: as die vroue gesien het volgens verse 1-7, dan is vers 8 vals. As vers 8 waar is, is verse 1-7 vals. Beide kan nie waar wees nie (sien Deut.19:18 oor ‘n vals getuie).

Wat betref u volgende woorde: “…as Markus 16:6 self, sowel as die ander drie skrywers van die Evangelies, sowel as Paulus (wat in 1 Kor.15 uitdrukking gee aan die vroegste belydenis…almal getuienis bied vir die opstanding. Watter hof gaan al hierdie getuienis ignoreer omdat dit skynbaar klink asof die vroue niks gesê het oor die opstanding nie?” Lukas 24:9 weerspreek reeds vir Markus 16:8. Dié getuienis is onsamehangend en sal dus deur geen hof aanvaar word as eg en dus deurslaggewend nie. Getuienis in die hof moet op die man af wees, juis wat Luk.24:9 teenoor 16:8 en verse 1-7 nie is nie! Dit is nie “skynbaar” nie soos wat jy bevooroordeeld bevind nie, maar beslis deurslaggewend weersprekend. Ek het 30 jaar hof-ondervinding van hof-prosedure, maar moes ‘n wedergeboorte (“‘n nuwe mens” volgens 2 Kor.5:17 waar “die ou dinge…verby gegaan (het)”; nie alleen in Christus nie, maar elke keer as ons nuwe dinge ontdek) ondergaan om te besef wat ek in l964 en tot en met l970 moes gesien het. So leer ‘n mens maar, nê!

Jy vra: “Watter hof gaan al hierdie getuienis ignoreer…”  Kom ons kyk! Die eerste probleem is dat die name van die vroue wat in die verskillende weergawes genoem word, verskil. Geen hof sal toelaat dat elke getuie sy eie weergawe gee van vroue as getuies van die opstanding nie, en dus verskil oor wie die vroue nou eintlik was; en dat Paulus selfs die vroue uitlaat as getuies wat, soos jy tereg gesê het, eerste geskryf het. Markus, Matteus en Lukas is dus aanpassend met die vroue en weersprekend oor wie hulle was! Beide wat geen hof sal aanvaar nie! So, ons het reeds verskeie probleme hier wat jou bevooroordeelde standpunt oor die hof weerspreek. Jy kan maar die name van die vroue in die drie sinoptiese evangelies self vergelyk en jouself oortuig of daar korrelasie is. Johannes verwys bloot na een vrou wat dit na bewering dadelik aan Simon Petrus en die ander dissipel wie nie eers by naam genoem word nie, vertel het. Belangrike getuienis in die beweerde opstanding van Jesus kan nie so weersprekend en vaag wees en sodat dit nie van ons verwag kan word om dit as deurslaggewend waar te aanvaar in so ‘n belangrike gebeurtenis nie.

Paulus verwys selfs na “die twaalf” in die afwesigheid van Judas wat dit valse getuienis maak. Hieruit blyk dit dat die getuienis vir die beweerde opstanding van Jesus een weersprekende gemors is om dit in sy regte perspektief te stel soos wat enige goed-regulerende hof dit sal bevind.

Markus, die vroegste evangelie, verwoord bloot ‘n opvoering wat eie was aan al die heidense gelowe waar die opstanding van Dionysus, et. al., gevier is in opvoerings. Daarom is vroue gebruik as weenklag-voorwerpe wat selfs in die OT voorkom (Ez.8:14; Jer.9:l7-20). Alleen in dié lig maak Mk. 16:1-8 sin waar die vroue op die verhoog voorgestel word waar hulle in vrees en bewing van die graf af weg hardloop wat die gehoor sien. Dan ‘n verdere bedryf waar hulle swyg oor wat hulle gesien het. Geen probleme voor ‘n gehoor nie, maar as getuienis is dit sinneloos. Sien selfs Markus 14:32-42: wie het die bedryf geskryf terwyl die dissipels geslaap het? Dit is alles dinge wat bloot deur ‘n gehoor waargeneem sou kon word; ook in die verhoor van Jesus voor Pilatus, waar na bewering dinge omtrent woord vir woord neergepen is en OT Joodse voorskrifte verkrag word in die proses! Bv. ‘n nag-verhoor in Matteus 26:57-75, teenoor ‘n geredigeerde weergawe van Lukas 22:47-66 wat Matteus se fout agterkom en dit verander het na ‘n dag-verhoor (Lukas 22:66). Was dit alles nou op 14 of 15 Nissan: die dogmatiese verskil tussen die sinoptiese evangelies en Jo. wat uitgeloop het op ‘n hewige stryd tussen “gelowiges” in die 160’s CE, toe die Johannes-evangelie dus sy verskyning gemaak het en vir die eerste keer genoem is! Dit bewys dat profesieë voordelig ‘n raamwerk vorm, want selfs die vroeë kerk kon nie ooreenkom hieroor nie: hoekom? As dit geskiedenis was, so 130 jaar gelede en die dissipels en volgelinge deur God “geïnspireer was”, dan was dit mos maklik (Joh. 14:26).

Winkelsmidt

___________________________________________________________________

Udo se kommentaar: Sien die skakels hier onder vir ’n oorsig van die faktore wat ’n rol gespeel het in hoe en wanneer die evangelies geskryf is wat Winkelsmidt hier geensins in ag probeer neem het nie. Winkelsmidt ignoreer my verduideliking oor Markus 16:8 en gaan bloot voort om op ‘n simplistiese wyse te hamer op wat hy as sogenaamde weersprekings wil sien. Ek het die gesprek beëindig, omdat dit vir my duidelik was dat Winkelsmidt nie geïnteresseerd is in enige redelike antwoord wat nie inpas by sy vooroordele nie. Dis duidelik uit sy metode van eksegese dat hy reeds vooraf besluit het dat alle verskille noodwendig teenstrydighede moet wees en verwerp daarom enige ander moontlike verklarings (wat rekening hou met dinge soos genre, skrywersperspektief, stylfigure, kulturele konteks, ens.) uit die staanspoor as onwaarskynlik. Sien byvoorbeeld die volgende skakels:

Luister ook na dr Michael Licona se lesing, Why are there differences in the Gospels?

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.