Om ‘n antwoord te gee – Deel 4/5

Om ‘n antwoord te gee – Deel 4/5

Hallo Udo

Jy beweer dat jy my “argumente taamlik frustrerend vind” en dus “bedenkinge het oor die nut van hierdie korrespondensie.” Maar wat verwag jy? Dat alles maar “smooth sailing” sou wees? Juis daarom het ek weer vir jou 1 Petrus 3:15 gekwoteer in my sms. Hierin het ek die volgende gesê: “Udo, dankie. Brief vandag ontvang. Jy het ingestem tot 1 Petrus 3:15 met ‘sagmoedigheid’. En wees altyd bereid… Ek antwoord jou brief. Dit word interessant. Is jou passie so gou geblus.” Jy antwoord: “Jy soek nie na ‘n antwoord oor die hoop van 1 Petrus 3:15 nie. Jy ontken so ‘n hoop en probeer jou standpunt verdedig. My openlikheid beteken nie onvriendelikheid nie.”

Nou, sukkel ék om die kloutjie by die oor te bring! 1 Petrus 3:15 is jóú opdrag; die hoop is jóú hoop en dit is mos logies dat ek my standpunt sal verdedig – jy doen dit ook, vandaar die korrespondensie. Hoekom maak jy jóú hoop my hoop? Is dit nie waarvan jy my moet oortuig, in lyn met jou Christelike opdrag en gédrag nie. As ek ‘n teruggevalle Christen is (jy sê dit nie, maar baie Christene sien dit so), is dit nie presies jou opdrag in 1 Petrus 3:15 nie: “wees altyd bereid”! Ek was van die begin af eerlik! Jou opdrag is om jou standpunt te verdedig (verkondig) met “sagmoedigheid” en nogal met “vrees” (Mt.12:33-37; 5:43-48; 7:21-23). Om te beweer dat ek klaar besluit het, soos wat jy elders in jou brief beweer, is mos juis om te oordeel (Mt.7:1-6). Vers 6 is van toepassing op die eindpunt van ons korrespondensie; nie die begin nie. Ek het probleme met die Christelike geloof wat ek in my brief uiteengesit het. Jy skuif dit sommer eenkant toe in stryd met Hand.17:11 waartoe jy ingestem het. Dit lees duidelik: “…om te sien of dit is soos Paulus sê”…Jes. 43:26 (NAV) sê: “Kla My aan, laat ons die saak tussen ons uitmaak…” Job 38:3: “Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy my…” Jy sê jy was nie “onvriendelik” nie: Goed! Kom ons gesels dan!

Ek onderskryf nie hoofvaardigheid soos wat jy in jou Christenskap doen nie, dat almal na my moet luister en dus doen wat ek bewys nie. Daarom het ek juis Hand. 17:11 genoem. M.a.w., dis ‘n kritiese ondersoek waarvoor ek gevra het. Jy probeer nie eers om my te oortuig met grondige argumente nie. Jy het klaar besluit dat ek onoortuigbaar is wat jóú vooroordele bewys, want, ek moet “kwaak” soos wat jy “kwaak”. ‘n Goeie voorbeeld hiervan: Ek het Mk.16:8 aan jou gekwoteer en jou gevra wat dink jy van dié vers. Jou antwoord: dat ek eers moet verduidelik waar my voorbehoude lê: dus so versigtig soos ‘n voëltjie by die val wat bewys dat jy die bevoordeelde, heel versigtige een is wat nie bereid is om jou eie paadjie uit te kap nie, maar bloot wil bou op ‘n antwoord. Dit bewys jou vooroordele want jy antwoord ‘n vraag met ‘n vraag! Hierdie klas van optrede word nie in ‘n hof geduld, waar jy ‘n vraag met ‘n vraag mag beantwoord nie. In die hof sou ek jou dadelik geantwoord het: “Mnr. Karsten antwoord die vraag, asseblief” en enige verdere versuim sou jou die argwaan van die voorsittende beampte op die hals gehaal het (Deut.19:15-21 wat hof-prosedure pragtig opsom en ‘n oordeel uitspreek oor valse getuies en getuienis soos wat Christene elke dag teenoor niksvermoedende lede van die publiek doen, soos wat ek was toe ek daarvoor geval het in my onkunde (Deut.13 & 30). Dit is hierdie hoofstukke wat Paulus verkrag het in Romeine 10, wat dit vir julle so moeilik maak om Jode te “bekeer”! Hulle rabbis wéét dat julle die Pentateug foutief vertolk en hou hulle lede op hoogte daarvan. Jy tree graag met mense in gesprek wat luister en nie teen-argumente opper nie. Dit is my ondervinding met jou. Moet dit nie ontken nie! Jou oortuigings is bepaal, nie myne nie en beide van ons wil “maar net weer…bevestig deur met die volgende gewillige gespreksgenoot in interaksie te tree” en, nie ek alleen nie, soos wat u beweer nie.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Jy dink skynbaar dat ek onder een of ander ongekwalifiseerde verpligting staan om aan enigiemand ‘n antwoord te gee vir die hoop wat in my leef (n.a.v. 1 Pet 3:15). Ek het in my sms aan jou gesê dat jy nie na ‘n antwoord soek oor hierdie hoop nie, dat jy die hoop ontken en bloot jou eie standpunt wil verdedig. Hierop wil jy dan by my weet hoekom ek my hoop jóúne maak.

My antwoord is dat ek nie doen nie, maar dat jy dink dat ek doen omdat jy nie ‘n onderskeid tref tussen diegene wat ontken dat daar ‘n hoop is (skeptici soos jy) en diegene wat graag meer wil uitvind oor hierdie hoop – selfs aanvaar hulle nie die uiteindelike antwoord nie – en dit is die konteks van 1 Pet 3:15. Daarom, na jou eerste brief aan my was ek nie seker oor waar jy vandaan kom met jou vrae nie en ek wou graag meer daaroor uitvind.

In teenstelling met wat jy verkeerdelik glo is dit nêrens ‘n opdrag om diegene te probeer oortuig wat so skepties veroordelend teenoor die Christelike geloof staan dat hulle nie oop is vir redelike verduidelikings nie. Inteendeel, ek het Bybelse rede (siende dat jy so daarvan hou om vir my uit die Bybel te vermaan) om versigtig te wees in my gesprekke met sommige mense dat ek nie pêrels vir die varke gooi nie (Matt 7:6, sien ook Matt 10:14, Hand 13:46, Hand 28:25-28).

Ek ontken daarom nie jou reg om jou standpunt te verdedig nie, ek oefen maar net my eie reg uit om nie verder aan hierdie gesprek deel te neem nie. Soos ek reeds genoem het, dink ek nie daar vind werklik kommunikasie tussen ons plaas nie en is hierdie gesprek nie regtig opbouend en sinvol nie.

Groete

Udo

 

Leave a Reply

*