Ooggetuies in die storie oor Jesus

Hierdie artikel is deel 4 van ‘n 11-deel gesprek – sien die volgende:

_____________________________________________________________________

Winkelsmidt, as dit dan die geval is dat ‘n mens, volgens die getuienis soos ek uiteengesit het (deel 3), bo redelike twyfel kan seker wees dat die Nuwe Testament ‘n verteenwoordiging is van wat oorspronklik geskryf is, dan moet ‘n mens natuurlik vra of dit wat neergeskryf is, werklik is wat gebeur het. Hieroor het baie mense hul bedenkinge en wel vir die redes wat jy aanvoer. Ek reageer vervolgens stelselmatig op elk van die volgende stellings:

Ooggetuies in die stories oor Jesus

Eerstens wil ek opmerk, eintlik net terloops, dat waar daar nie ooggetuies is nie en waar gebeure eers lank na die gebeure geskryf is, dit glad nie beteken dat dit waaroor verslag gedoen word, daarom noodwendig vals sou wees nie. As dit die geval was, dan sou ‘n mens moes sê dat daar groot gapings regdeur die geskiedenis is waaroor ons absoluut niks kan weet nie. Die meeste historici sou egter aanvoer dat dit ‘n baie simplistiese gevolgtrekking is in ‘n ondersoek na wat in die geskiedenis gebeur het. Daar is verskeie kriteria wat in ‘n historiese ondersoek inaggeneem word wat nie afhanklik is van ooggetuie of resente verslaggewing oor die gebeure nie.

Tog sou ‘n mens kon dink dat as daar nie ooggetuies is nie, te same met die feit dat ‘n rekord van gebeure eers lank daarna geskryf is, dan is daar ten minste ‘n moontlikheid dat die skrywer van ‘n verslag oor daardie gebeure, op die ou end sy feite verkeerd het. Hoewel ek sal saamstem dat daar so ‘n moontlikheid is, is dit, soos ek reeds gesê het, geensins vir my ‘n uitgemaakte saak dat dit in enige spesifieke geval ‘n noodwendigheid sou wees nie. Met spesifieke verwysing na die stories oor Jesus is die waarskynlikheid van grootskaalse (al is dit nie-bedoelde) wanvoorstelling egter vir my onbeduidend klein as ‘n mens noukeurig ondersoek instel na getuienis rondom ooggetuies en die aard van die omstandighede waarin die stories oor Jesus uiteindelik geskryf is.

Eerstens die kwessie van ooggetuies. Dit is ‘n algemene feit dat ons nie direk vanuit die vier evangelies self weet wie verantwoordelik was vir die skryf daarvan nie. Dit is die getuienis van die vroeë kerkvaders wat die skrywers daarvan as Matteus, Markus, Lukas en Johannes identifiseer. Volgens hierdie getuienis was Matteus die dissipel van Jesus wat ook Levi genoem is, die tollenaar in Matteus 9:9-10 en Markus 2:14-15. Markus, op sy beurt, was wel nie ‘n dissipel van Jesus nie, maar ‘n metgesel van Petrus (1 Pet. 5:13) en ‘n neef van Barnabas (Kol 4:10) (sien ook Hand 15:38-40, Filemon 24 en 2 Tim 4:11). Lukas was ook nie ’n dissipel van Jesus nie, maar ’n metgesel van Paulus (Kol 4:14, 2 Tim 4:11 en Filemon 24). Ook die skrywer van die Johannes-evangelie word vroeg in die tweede eeu deur die kerkvaders as die “geliefde dissipel” van Jesus geïdentifiseer (sien ook Joh 21:7,24, 13:23-24, 19:26,35).

Die rede waarom kritici hierdie tradisionele outeurskap van die vier evangelies ontken, het hoofsaaklik te make met die feit dat ons nie volgens die evangelies self kan sê wie die skrywers daarvan was nie (te same met sommige navorsers se laat datering vir die skryf daarvan). Kritici gaan dan verder en voer aan dat die vroeë kerk eenvoudig die name aan hierdie evangelies toegedig het om kredietwaardigheid daaraan te verleen (soos wat verskeie ander tweede-eeuse skrywers probeer doen het – soos die evangelies van Tomas, Petrus, Judas, Maria, Fillipus, en ander). Die bekende Nuwe Testamentikus, Craig Blomberg, maak egter hieroor die volgende opmerking in ‘n artikel, Who Does the Jesus Seminar Really Speak For?:

“It is not likely that the church would have ascribed two of these three [first] Gospels to men who were not among the original twelve apostles (Mark and Luke), and the other one to the notorious ex-tax-collector (Matthew), unless there was strong reason for believing them to be the original authors. Modern-day objections to these ancient traditions have all been adequately answered in a variety of published works… Early Christian tradition…usually attributes [John’s gospel] to John the apostle, one of Jesus’ closest followers, so that here we have reputable eyewitness testimony. In each case, the four Gospels were most probably written by people in a position to know and accurately preserve Jesus’ teaching – Matthew and John because they had personally accompanied Jesus; Luke because he had talked with eyewitnesses and engaged in careful historical research (Luke 1:1-4); and Mark (again according to the church fathers) because he had ministered together with Peter in Rome (cf. also 1 Pet. 5:13).”

Sien ook: Wie het die Evangelies geskryf?

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.