Saambly en die Bybel

Haai André

Is saambly verkeerd as twee persone in hulle harte committed is aan mekaar? Is dit dan nie so dat Bybelse troues, veral in die vroegste tye, nie volgens die staat se seremonies en wette plaasgevind het nie? Is ‘n seremonie wat nie ‘n wetlike troue behels nie, maar ‘n informele ‘troue’ is, dan nie ook aanvaarbaar nie?

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Ek wil graag antwoord deur ‘n paar goed oor die Ou Testamentiese wêreld te sê en dan sal ek oor die situasie vandag kommentaar lewer.

Dit is eenvoudig net nie waar om te dink dat die Ou Testamentiese mense die huwelik nie ernstig opgeneem het nie of dat mense maar hul eie ding gedoen het.  Indien ‘n mens na ‘n parallelle sisteem soek soos wat ons dit vandag het met ‘n kerklike en ‘n staats-element (wetlik), dan soek jy verniet.  Die staat soos ons dit vandag ken, het nie destyds bestaan nie.  Voor die wet aan Israel gegee is, weet ons nie veel van watter wette gegeld het nie, maar enige lees van Genesis sal dit duidelik maak dat mense die huwelik ernstig opgeneem het. So gee Abraham sy vrou weg en dan kom die Kanaänitiese koning baie kwaad na hom toe as hy uitvind Sara is sy vrou en nie sy suster nie. Hierdie heidense Koning sê selfs dat hy teen die Here sou gesondig het as hy haar as sy vrou gevat het.

Nadat God se wet gegee is, was dit die wetlike gesag oor Israel.  Daar is dus nie sprake van ‘n staat nie, omdat “staat” en “kerk” een ding was.  Gaan lees gerus hoe ernstig God en Israel die huwelik opgeneem het.  Om die waarheid te sê was daar nie werklik sprake van seks buite die huwelik nie.  Indien mense seks buite die huwelik gehad het, dan was hulle of daardeur met mekaar getroud of dit was prostitusie.  Die afwesigheid van ‘n staats-element maak dus nie die huwelik in die Ou Testament minder ernstig nie. Die hele samelewing het ingekoop by die wet van God en indien jy nie by die samelewingsreëls gehou het nie, dan kon dit jou dood tot gevolg hê.

Dit is ook belangrik om te besef dat die huwelik nie gegee is om mense negatief te bind nie.  Dit is reg aan die begin (Genesis) gegee om ‘n band tussen man en vrou te skep en om ‘n gesin te skep waarbinne die kinders vry en veilig kon grootword.  Die gesin is die basis van ‘n gesonde samelewing. Dit is ook gegee om beide partye te beskerm (man en vrou), maar veral die vrou.  Vrouens in die Ou Testament kon nie eiendom besit nie en mag nie vir geld gewerk het nie.  Dus was ‘n vrou onder haar pa se beskerming tot sy getrou het en dan het sy onder haar man se beskerming geval.  Deur die huwelik te skep het God vir vrouens ‘n stabiele verhouding verseker waarbinne hulle versorg sou word.  Dit het nie altyd so gewerk nie, maar die misbruik van ‘n goeie ding, maak nie die goeie ding sleg nie.

Ek dink ook dit is baie belangrik om die verloop van sake in die Ou Testament as deel van God se progressiewe openbaring van Homself en van sy wil te sien.  God gaan roep Abraham uit die land van Ur, onder die afgodsdienaars uit.  Soos die geskiedenis in die Ou Testament verloop, leer die aartsvaders die Here en sy wil al hoe beter ken.  Met die gee van die wet word dit steeds verfyn en in Jesus in die Nuwe Testamentiese tyd kry ons nog meer vaste en sterker aanduidings van God se wil.  Dit geld ook vir die huwelik.  Dit word toenemend deur die geskiedenis duidelik dat God se wil vir die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou, die huwelik is.

In ons huidige pluralistiese konteks het die verband tussen sosiale wette en die kerk verval.  Daarom het die staat die rol oorgeneem om wette te maak wat die huwelik en die verhouding tussen man en vrou op ‘n formele manier handhaaf.  Dit was nog nooit bedoel dat die kerk slegs ‘n rubberstempel met geen mag sou wees nie en juis daarom het die kerk al vir eeue lank in die verband met die regering in samewerking gegaan.  Die huwelik het die verbintenis-element en die liefde en die beloftes voor God nodig, maar dit het ook die wetlike element nodig om beide partye te beskerm en om te keer dat sekere ongewenste dinge gebeur.  Ek dink dat as ‘n mens “voor die Here” wil trou, maar nie enige wetlike element inbring nie, dan is ‘n mens nie regtig getroud nie. Jy het geen regte of pligte in enige afdwingbare sin nie en beide partye en die kinders is aan ‘n baie hoë mate van risiko blootgestel.

My gevolgtrekking is dat mense soms die Ou Testamentiese samelewing en die implikasies van die huwelik waninterpreteer om in te pas by huidige sosiale druk weg van die huwelik. Niks sal mense keer om saam te bly nie, maar ek dink nie ‘n mens kan ‘n geestelike “sousie” daaroor gooi en dink jy is dan naastenby getrou aan wat die Here met die huwelik bedoel het nie.  Die huwelik is die Here se model waarbinne bepaalde beloftes plaasvind en emosies uitgeleef word, maar waar ook ‘n wetlike verbintenis die erns van die verhouding uitdruk en wat sekere aspekte van die verhouding reguleer.  Ek dink nie daar is regtig ‘n manier om daarvan weg te kom nie.  Geen ander model strook met die implikasies van die Bybelse model (Ou Testament en Nuwe Testament) nie.

Vrede

André

Twee opvolgvrae:

1.  Is die seksuele nie maar net ‘n biologiese funksie nie?  Hoe kan iets wat biologies van aard is, sonde wees?

Ek dink daar is ‘n hele paar onderliggende aannames in hierdie vraag wat baie moeilik verdedigbaar is.  Die eerste aanname is dat dit wat “biologies” is, op een of ander manier moreel neutraal is en slegs deel is van die fisieke aspek van menswees.  As mens egter hierdie uitgangspunt sou aanvaar, hoekom is iets soos aanranding dan verkeerd?  Is dit nie ook maar “net ‘n biologiese” handeling nie?  M.a.w. as alles wat biologies gedoen kan word, reg is, dan sou ‘n mens verwag dat dieselfde maatstawwe oor reg-en-verkeerd vir mense geld wat ook vir diere geld.  Diere kan nie “moor” of “steel” of “egbreuk pleeg” of “verkrag” nie.  Hierdie terme geld in hulle volle betekenis tog slegs vir mense. In die Bybel verbied God AL hierdie meestal biologiese aksies as sonde.  Tweedens lyk dit vir my dat die aanname gemaak word dat seks slegs ‘n biologiese aksie is.  Ek dink egter dat hierdie idee opsigtelike vals is.  Seksuele interaksie het bykans altyd ook emosionele en selfs geestelike elemente en implikasies.  In die beste gevalle is seks die kulminasie van ‘n werklik intieme verhouding wat vir beide partye die geleentheid gee om tot so ‘n mate by mekaar veilig te wees, dat hulle kaal en kwesbaar by mekaar kan wees en tog onbeskaamd kan wees.

Ek kan baie goed verstaan waarom nie-Christene en mense wat glo dat sonde net geestelik van aard is (soos die Ou Apostoliese Kerk), nie kan insien waarom saambly en seks buite die huwelik verkeerd is nie. Maar as Christene se verduideliking oor die morele aard van die wêreld reg is, dan is dit verkeerd.

2.  Die meeste mense raak seksueel by mekaar betrokke omdat hulle vir mekaar lief is.  Hoe kan iets wat uit liefde voortvloei dan verkeerd wees?

As Christene oor hierdie vraag nadink, dan is dit baie belangrik om dit vanuit ‘n Christelike wêreldbeskouing te doen en nie slegs vanuit ‘n kulturele konteks nie (m.a.w. die idee dat wat is, is reg).  Die sleutel tot die antwoord lê in hoe verskeie konsepte in die vraag gedefinieer word.  Wat word byvoorbeeld met  “liefde” bedoel?  Is dit dalk daardie warm gevoel wat ek teenoor iemand anders het?  Is dit ‘n emosie?  Wat is liefde? En wanneer het twee mense bewys dat hulle regtig lief is vir mekaar?  Die antwoorde op hierdie vrae is baie belangrike onderliggende sake om by ‘n goeie antwoord uit te kom.

Die Bybel se beeld van liefde word baie goed deur Chip Ingram opgesom: “Om aan die ander persoon dit te gee wat hulle die heel nodigste het wanneer hulle dit die heel minste verdien”.  Hierdie definisie kan verder omskryf word deur na Jesus se lewe en voorbeeld te kyk.  Deur Sy menswording en kruisdood kom wys Hy vir ons hoe regte liefde lyk.  Liefde kyk weg van eiebelang en selfsug.  Liefde gee, liefde offer op.  Paulus kom verduidelik die implikasies van werklike liefde in verskeie van sy briewe (die bekendste is seker in 1 Kor. 13).  Ook die liefde wat Paulus beskryf is nie ‘n vae gevoel of emosie nie.  Ware liefde het te doen met onselfsugtige gee.

Kom ons kom terug by die vraag.  Met bogenoemde verduideliking van liefde in ons gedagtes, moet ek sê dat ek sukkel om te dink waarom twee mense wat REGTIG lief is vir mekaar, wat mekaar REGTIG ken en vertrou, nie sal trou nie.  Die enigste redes waaraan ek kan dink om seks te wil hê sonder die huwelik, is dalk dinge soos om ‘n agterdeur oop te hou, om nie alles van myself te gee nie, om die ander persoon op sy/haar tone te hou of om die ander persoon te gebruik.  Wat anders?  Watter positiewe redes is daar vir  saambly?  Ek sukkel om hulle te sien.  Die redes wat gewoonlik gegee word dui nie vir my op ware liefde nie, maar eerder op vrees of op selfsug of op beide.  Hoe is dit goed?  Wat word van Johannes se woorde dat volmaakte liefde vrees sal verdryf? (1 Joh. 4:18)

Die huwelik het ‘n slegte reputasie ontwikkel oor die afgelope klomp jare.  Na my mening het dit nie gebeur omdat die huwelik opsigself sleg of onwerkbaar is nie.  Dit is eerder omdat ons die huwelik dikwels so sleg toegepas en geïmplementeer het.  In ons “kitskos” en verbruikers-era het mense dikwels die huwelik betree sonder ware kennis van God en ware kennis van mekaar. Hulle het agterdeure oopgehou en met selfsugtige motiewe getrou, sodat die romp van die huweliksbootjie dikwels reeds van die begin af fataal gekraak was.  Die oplossing is nie om die huwelik daarom vaarwel toe te roep nie.  Die oplossing is om weer die huwelik ernstig op te neem en in ‘n huweliksverbintenis te leef soos wat God dit bedoel het.

Die veiligste, intiemste en mees stimulerende plek waar ons iets van die Here self kan leer, is in ‘n goeie huwelik.  As twee mense wat saambly dan REGTIG so lief is vir mekaar soos wat hulle sê hulle is, waarom trou hulle dan nie?  Wanneer ons regtig ernstig is oor enige transaksie (ek weet die huwelik is BAIE meer as net ‘n transaksie, maar dit is ten minste ook ‘n transaksie), dan teken ons tog ‘n kontrak om ons erns en verbintenis tot die onderhouding van die ooreenkoms te bevestig.  As ‘n mens dan regtig ernstig is oor die verhouding waarin jy is, waarom dan wegskram van die “commitment” wat ‘n huwelik impliseer?

Vrede

André

2 Comments

    • Hallo Annamarie. Om jou vraag beter te verstaan, gaan dit baie help as jy ʼn bietjie meer kan uitbrei oor die spesifieke redes wat sou geld vir waarom ‘n huweliksverbintenis (wetlik en in die konteks van die geloofsgemeenskap waarvan twee mense deel is) tussen twee ouer mense ongewens sou wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*