My geloofsworsteling

Hi Udo,

Baie dankie vir jou gewilligheid om met my te praat oor my geloof.
Ek het al begin om ‘n brief te skryf oor die aspekte van geloof wat ek nie kan korreleer met ander bewyse nie en sal dit baie graag met jou wil deel vir kommentaar. Ek sal hopelik die naweek kan klaarmaak en sal dit dan kan aanstuur. Een vraag net, Sal jy omgee as ek die brief in Engels skryf? Ek moet dit seker nie erken nie, maar ek is nou al te lank hier in die vreemde en meeste van my verwysings ens. kom ook van Engelse boeke.

Groete,
Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt!

Aangename kennis!

Jy is welkom om jou brief in Engels te skryf en ek sal graag met jou in gesprek wil tree. Ek dink dat ‘n ondersoek na die gronde vir wat ‘n mens glo (of nie glo nie) altyd belangrik is. Ons is rasionele wesens en daarom maak dit sin om ook intellektuele integriteit te wil nastreef wanneer dit kom by sake rondom God. So kom ons gesels en kyk waar ons uitkom.

Wees maar bietjie geduldig met toekomstige korrespondensie. My reaksie kan soms maar stadig wees (my program is soms effe besig), maar weet dat ons gesprek vir my belangrik is.

Beste groete
Udo

 

Hi Udo,

Ek moet om verskoning vra, ek moes vroeër al geantwoord het. Ek sit met 2 lang ‘briewe’ wat ek omtrent 3/4 geskryf het, een in Engels en toe gaan ek oor Afrikaans toe en elke keer as ek dink ek gaan dit klaar skryf, dan stuur my werk my weg iewers heen. So om ons gesprek aan die gang te kry, wil ek graag ‘n verkorte weergawe vir jou stuur.

Om te begin, sal ek gou verduidelik waar ek vandaan kom.

Ek het grootgeword in eers die NG Kerk en toe die Christelike Gereformeerde Kerk, waar die kerk ‘n baie groot rol gespeel in alle aspekte van my lewe. Ek het tot bekering gekom (meer as een keer vorentoe gegaan, en in my hart geglo ek is bekeer) en die Bybel vertrou as die onfeilbare woord van God. Ek het geglo God het vir Adam en Eva geskep saam met die res van die wêreld. Ek het geglo dat God sy seun Jesus afgestuur het aarde toe waar hy gekruisig is vir ons sondes en opgestaan het op die 3de dag. Ek het geglo dat Hy ‘n plan vir ons lewe het en dat Hy gaan terugkom wanneer die aarde reg is (wegraping) en dat daar ‘n Hemel en Hel is.

Ek kan met eerlikheid sê dat my besluit om my geloof  te laat gaan seker die moeilikste besluit in my lewe was en dit was glad nie ligweg geneem nie. Ek het dit nie geneem omdat ek enigsins negatiewe gevoelens gehad het teenoor Christenskap nie. Dit was vir my ‘n natuurlik uitvloeisel na maande se ondersoek oor my eie geloof en oor geloof en Christenskap in die algemeen, oor waar dit vandaan kom.

Ek reken die maklikste sal dalk wees as ek vir jou ‘n paar ‘stellings’ gee soos ek dit nou glo, met ‘n kort verduideliking hoekom. Dit sal ons dan ‘n basis gee om van te werk vir verdere redevoering. Daar is ander aspekte wat ek ook in ag neem, en ek is doodseker alles wat ek hieronder sê sal jy al vroeër gehoor het, maar hierdie staan vir my uit as die belangrikste.

Ons, en alles om ons op aarde het tot stand gekom deur die proses van evolusie oor miljoene jare.

  • Daar is genoeg bewyse vir evolusie op alle vlakke. Daar is fossiele wat bewyse gee dat ons, saam met diere en plante, deur die proses van evolusie verander het tot op die punt waar ons vandag is, sonder die vereiste vir ‘n God of selfs ‘n ’Intelligent Designer’.

Die Bybel is nie die onfeilbare woord van God nie.

  • Die Nuwe Testament is geskryf te lank na die gebeurtenisse, deur mense wat nie ooggetuies was nie.
  • Die boeke wat ons vandag in die Nuwe Testament het was 300 jaar later gekies uit vele ander boeke, meeste waarvan vir ons ‘n heel ander storie sou vertel het.
  • Daar is veelvoudige belangrike teenstrydighede in die Bybel, insluitende hoof stories soos die kruisiging en opstanding.

Daar is veelvoudige vergelykings tussen die storie van Jesus en ander vroeër gelowe.

  • Daar is te veel vergelykings tussen die storie van Jesus en ander ouer gode, veral Horus om te dink dat die Bybel storie nie beïnvloed is deur die ander nie.

Daar is geen bewyse van enige bonatuurlike wese wat ‘n direkte invloed of belangstelling het met die mens op aarde nie.

  • Behalwe vir persoonlike ‘getuienis’ waar sekere gebeurtenisse toegeskryf word aan ‘n God of bonatuurlike wese, is daar geen bewyse dat dit die geval is. Die feit dat sekere gebeurtenisse ‘onwaarskynlik’ is, beteken nie dat dit ‘n wonderwerk is nie. Ek self het in die verlede sekere positiewe gebeurtenisse aan God toegeskryf, en negatiewe gevalle aan ’Sy wil en plan’ maar daar is geen bewyse dat daar enige ‘invloed of plan’ is van ‘n bonatuurlike wese nie. Dit is natuurlik glad nie endemies aan die Christelike geloof nie, en meeste ander gelowiges sal ook die positiewe en negatiewe aspekte van hulle lewe aan ‘n God toeskryf.

In al hierdie ‘stellings’ het ek my bes probeer om soveel moontlik inligting te kry. Ek het baie tyd spandeer om argumente teen elkeen van hierdie stellings te hoor. Ek het na baie debatte geluister van mense soos William Lane Craig, Allister McGrath ens., en elke keer kon ek my besluit maak vir waar die bewyse lê. Ek is heeltemal oop om enigeen van hierdie aspekte te bespreek en indien daar ‘n goeie redenasie of bewyse is teenoor iets wat gesê het, is ek heeltemal bereid om my stellings te verander.

Op hierdie oomblik beskou ek myself as ‘n ateïs, maar omdat dit seker onmoontlik is vir enigiemand om 100% seker te wees van die feit dat daar geen god is, moet ek myself seker as agnosties beskou.

Ek waardeer jou tyd en bereidwaardigheid om my te help hiermee verskriklik baie.

Groete,

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou brief – en jou geduld; ek dink darem daar is teen die tyd ‘n verstandhouding dat ons wel by skryf aan mekaar uitkom, al neem dit ons soms ‘n rukkie.

Ek lewer graag kommentaar op wat jy geskryf het, soos jy gevra het. Weet egter dat ek in my gesprek met jou nie bloot maar net wil probeer om te weerlê wat jy sê nie, maar eerder om te probeer verstaan hoe jy by bepaalde idees uitgekom het of hoekom jy sekere idees verwerp. In die proses sal ek uit die aard van die saak my eie verstaan weergee, en waar ek nie genoeg motivering gee vir hoekom ek iets sê nie, moet jy gerus ook daaroor navraag doen. Die punt is dat ek dink dat oop en eerlike dialoog die beste manier van redevoering is en dat dit nie gaan oor wie waar punte aanteken nie.

Dankie dat jy iets vertel het van jou agtergrond. Wat jy met my gedeel het is die ervaring van baie mense uit die Afrikaanse geloofsgemeenskap wat in Christen-ouerhuise grootgeword het, maar later hul geloof vaarwel geroep het. Daar is verskeie redes hiervoor, maar een daarvan is beslis dat mense (en veral jongmense) in die algemeen nooit in die kerk aangemoedig word om ‘n denkende geloof te ontwikkel nie. Inteendeel, ek wil my verstout om te sê dat die meeste gelowige mense dink dat om “denkend” en “geloof” agtermekaar in dieselfde sin te gebruik, ‘n teenstrydigheid in terme is.

Rakende jou eie spesifieke situasie is dit vir my goed om te hoor dat jy jou geloofsoortuigings op ‘n stadium begin uitdaag het om die gronde daarvan te ondersoek en dat jy nie maar net blindelings met die stroom saamgegaan het nie. Ek is ook verlig om te hoor dat jy die Christelike geloof nie moeilik vind om te sluk vanweë bepaalde negatiewe gevoelens of ervarings nie. Ek moet sê dis een van die moeilikste dinge om met iemand in gesprek te tree wat eintlik emosionele besware het, maar dit dan met rasionaliteit verwar. Sulke mense is nie regtig oop vir gesprek nie en ‘n mens bereik baie gou ‘n plek waar die gesprek aanvallend en destruktief raak.

Ek wil ek jou ook verseker dat ek erns maak met die feit dat jy sê dat jou besluit om jou geloof te laat gaan vir jou baie moeilik was en dat jy dit nie ligweg geneem het nie. Dis ‘n feit dat mense oor die jare baie emosionele belegging doen wanneer dit by geloofsake kom en gewoonlik is daar ook ‘n sterk sosiale konteks waaraan ‘n mens sodoende deel het. M.a.w. wanneer iemand die grense van ‘n ander verstaansparadigma (wêreldbeeld) beproef en dit uiteindelik betree, dan is dit nie net ‘n kognitiewe skuif wat plaasgevind het nie, maar dit raak ook emosionele en sosiale verbintenisse, dinge wat ‘n mens se bestaanservaring baie direk beïnvloed. So ek verstaan heeltemal dat dit vir baie mense selfs ‘n traumatiese ervaring kan wees om te voel dat die fondamente van hul geloof besig is om mee te gee omdat dit stelselmatig deur bepaalde idees en teorieë weggekalwe word.

Die rede waarom ek egter hierdie gesprek met jou het (en dis natuurlik geen geheime agenda nie) is dat ek glo dat die Christelike wêreldbeeld ‘n konsekwente en samehangende wêreldbeeld verteenwoordig op ‘n manier waarop ander wêreldbeelde nie doen nie. M.a.w. ek is van die oortuiging dat die Christelike wêreldbeeld sterk fondamente het en dat dit baie redelik is om te glo dat die spesifieke elemente van hierdie wêreldbeeld ooreenstem met hoe die wêreld (realiteit) werklik is.

Wanneer ek dus saam met jou kyk na die stellings wat jy op die tafel plaas, dan wil ek enersyds hê ons moet probeer vasstel watter aspek van die Christelike wêreldbeeld in gedrang sou wees, en andersyds of dit werklik ‘n geldige beswaar is teen die geloofwaardigheid van Christelike wêreldbeeld. Dit is verder ook belangrik om te besef dat wanneer iemand kritiek lewer teenoor elemente van ‘n ander wêreldbeeld, sodanige kritiek ook altyd vanuit ‘n spesifieke wêreldbeeld gelewer word (m.a.w. niemand is neutraal t.o.v. wat en hoe hulle glo die wêreld eintlik is nie). Ek mag daarom periodiek by jou navraag doen oor hoe jy jou eie wêreldbeeld i.t.v. van ‘n bepaalde saak verstaan.

Voordat ons by jou stellings kom, ‘n laaste opmerking. In die loop van ons gesprek gaan ons ons waarskynlik beide beroep op bepaalde outoriteite in bepaalde velde. Dis reg en goed so, want sulke mense is kundiges (hopelik!) in hul veld en maak hul saak gewoonlik op ‘n manier wat ons oortuigend vind. Ek gee jou die versekering dat ek enige sulke verwysings na gesagsbronne met ‘n oop gemoed sal hanteer en die meriete van die saak sorgvuldig sal probeer evalueer.

Udo

Lees verder:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.