Wat is depressie?

Hallo Udo

Wat presies is depressie en hoe kan ek iemand help wat daaraan ly?

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is self ‘n depressielyer en daarom gee ek hier ‘n perspektief op depressie as iemand wat al self baie met depressie geworstel het, maar ook tot ‘n groot mate genesing ervaar het. Ek dink dit is van kardinale belang dat mense – depressielyers sélf, asook die mense naaste aan hulle – hulleself sal inlig oor presies wat depressie is, wat die simptome is, hoe dit ontstaan en hoe dit effektief behandel kan word. Daar bestaan te veel stigma oor depressie en baie mense worstel onnodig met depressie sonder dat hulle besef dat daar baie goeie hulp beskikbaar is. Beskou hierdie as my poging vanuit my eie ervaring om meer duidelikheid oor ‘n paar aspekte rondom depressie te gee. (Alhoewel ek ook na bepaalde mediese aspekte gaan verwys, behoort die diagnose en behandeling van kliniese depressie altyd in oorleg met ‘n dokter, sielkundige of psigiater geskied.)

Ek wil begin met die volgende aanhalings:

If there is a hell on earth, it is found in a melancholy man’s heart. (Robert Burton)

‘n Gevoel wat soos swart water oor jou kop spoel en al probeer jy daarteen veg – jy kan maar net nie bo bly nie. (Dr Henk Gous se beskrywing van die gevoel van depressie na aanleiding van ‘n gedig wat sy dogter geskryf het voor haar selfmoord.)

Wie is jy, Swakkeling!

Jy wat wegkruip in die donker

Ek sien jou daar –

‘n glinstering weerkaats

in die druppels oor jou wange

Kom uit, Lafaard!

Wys jou wonde soos ‘n man

en moenie net daar lê nie,

soos ‘n hond

wat slae gekry het.

                          (Udo, 1996)

Dis nou genoeg, Here, snik ek saam met Elia, ek kan nie meer verder nie.

Algehele ineenstorting, liggaamlik en geestelik, sê die dokter.

Ons verstáán dit nie, sê die huismense.

Foeitog, sê familie en vriende.

Ongerieflik op hierdie tydstip, sê kollegas by die werk.

Wys jou net, sê buitestaanders, d bekwame persoon.

Ek het jou by die naam geroep, jy is myne, sê God.

Maar ek kan Hom nie hoor nie…

                                                (Bertha van der Walt, Konteks Jan/Feb 1998) 

Wat is depressie?

Al die bogenoemde aanhalings weerspieël iets van die gevoelens verbonde aan depressie. Tog is depressie veel meer as net ‘n gevoel. Dit is baie meer as om met tye die neerslagtigheid te ervaar wat deel uitmaak van die normale op en af van ons almal se lewens. In kort: depressie is ‘n siekte, en dis nie verniet dat dit al as die kanker van die siel beskryf is nie. Dis ‘n ernstige en lewensbedreigende siekte wat liggaam en siel raak. Dit beïnvloed die manier waarop jy eet en slaap, hoe jy oor jouself voel en die wyse waarop jy oor jouself, die wêreld en ander mense dink.

Dr. Henk Gous skryf in ‘n preek, na sy dogter se worsteling met depressie en selfmoord: “Depressie is iets wat jou lewensvreugde steel. Dit verwyder jou van mense dat jy ver voel van elkeen wat jy so nodig het. Dit maak jou magteloos oor jouself, want jy kry jouself nie reggeruk nie. Dit maak jou helpers magteloos, want hulle kan net van buite help en die vyand is van binne.”

Iemand se depressie dra dikwels ook by tot hoe ander mense oor daardie persoon dink en voel. Dis soos Bertha van der Walt skryf (Konteks, Jan/Feb 1998): “Ander voel verleë met jou situasie, nou bly hulle liewer weg van jou. Sommige het geen benul van die donkerte wat oor jou toegesak het nie en preek vir jou: Waar is jou geloof dan? Het jy nie sóveel om voor dankbaar te wees nie? By party kry jy totale onbegrip: Ruk jou reg, jong, kyk hoe skyn die son daarbuite…”

Dit is juis hier waar veral Christene wat met depressie worstel soveel innerlike stryd ervaar. Dr. Gous beskryf dit so: “Jou gebed om anders te voel en die vreugde te beleef wat die Psalms so aan gelowiges beloof, dit word nie waar nie.” Daarom dat dr. Gous sê dat sy dogter kwaad was vir God, want Hy het skynbaar nie sy beloftes gehou nie. Hy het belowe dat hy niemand bo hulle kragte sal versoek nie, maar is sy dan nie bokant haar kragte versoek nie? Tog kan ons ook saam met dr. Gous hiervan oortuig wees: “God word, soos die Vader en Moeder wat Hy is, nie kwaad vir ‘n kind wat kwaad is nie. En Hy laat sy kind nooit uit sy hand glip nie.”

Selfs die Christen wat in die stikdonker nag van depressie voel asof hulle bo hulle kragte versoek word en na die dood gryp as die logiese en enigste uitweg, kan daarvan verseker wees dat God se liefde en vergiffenis vir sy kinders geen grense het nie: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom. 8:38)

Dit alles in ag geneem, bly dr. Gous wat op sy dogter se verminkte liggaam afgekom het, se woorde egter pynlik in die gedagtes vassteek: “Dit beteken nie dat die dood wonderlik is nie. Om so te sterwe is aaklig en geen heldedaad nie. Dis verwoestend. Dit was ondraaglik om te sien hoe iemand so ontsettend mooi so stukkend was. En daarom moet niemand wat hier sit, droom oor die dood nie, al is dit in jou eie depressie al amper aantreklik.”

Vir baie gelowiges wat hulp soek en ontvang in hulle stryd teen depressie, breek die dag tog aan wanneer hulle, in die woorde van Bertha van der Walt, met verwondering besef: “Ek was nog altyd by U! Selfs in die donker bos was U teenwoordig. Ek kon U net nie sien nie. Ek was dom en sonder insig, soos ‘n redelose dier, maar tog was ek by U!”

Die pad na herstel het egter ook sy oomblikke van stikdonkerte. Van der Walt: “Dis val en opstaan, twyfel en vertrou, wanhoop en hoop. Maar lei tog tree vir tree uit die bos uit, nié meer dieper in nie.”

Kan depressie behandel word?

Daar is basies twee vorme van kliniese (gediagnoseerde) depressie: unipolêr en bipolêr. “Unipolêr” beteken daar is slegs een pool (die negatiewe pool) aan depressie. Bipolêre of maniese depressie beteken daar is twee pole aan depressie waartydens iemand uiters negatiewe gevoelens en dan weer baie positiewe gevoelens afwisselend ervaar.

Navorsing toon dat 10% van die samelewing een of ander tyd in hulle lewens ‘n vorm van kliniese depressie sal ervaar. Dit is egter tragies dat twee derdes van hierdie mense nie die hulp ontvang wat hulle nodig het nie. Nog meer verstommend is die feit dat kliniese depressie een van die mees behandelbare siektes is: 80-90% van alle depressiewe mense reageer op behandeling en byna alle depressiewe mense wat behandeling ontvang ervaar noemenswaardige verligting. Ongelukkig het dit ook al mode geword om “depressie te hê” wanneer iemand neerslagtig voel en dit dan summier met modemiddels soos Prozac te behandel, terwyl daar geen rede is om vir elke negatiewe gemoedstoestand medikasie te gebruik nie.

Daar is egter veral een rede waarom so baie mense onnodiglik met kliniese depressie worstel sonder om hulp te soek. Vir baie mense is die gedagte daaraan om te erken dat hulle depressief is, ondenkbaar. Sulke mense voel dat kliniese depressie ‘n teken is van ‘n swakheid van karakter, asof depressie iets is wat weggedink, weggebid of selfs weggewens moet word. Die waarheid is egter dat ‘n mens jouself eenvoudig nie uit hierdie depressie kan regruk met blote wilskrag om dan skielik beter te voel nie.

Wyle dr. Isak de Villiers skryf in Sarie Marais van 4 Junie 1986: “Depressie kan nie aan ‘n gebrek aan wilskrag gewyt word nie. Die sieke moet begryp wat diegene rondom hom dikwels vergeet: dat niemand uit vrye wil in ‘n emosionele warboel wil leef nie, slapeloos wil wees, angs wil beleef of gedurig wil ervaar hoe haar energie daagliks met rasse skrede afneem nie.”

Hoe ontstaan depressie en hoe word dit behandel?

Kliniese depressie neem dikwels ‘n aanvang na een of meer stresvolle gebeurtenisse. Wanneer iemand egter reeds een depressiewe episode ervaar het, kan opeenvolgende depressiewe episodes dikwels spontaan voorkom sonder enige eksterne invloede. (Persone wat dus meer as een depressiewe episode ervaar, is statisties gesproke meer geneig om daaropvolgende episodes te ervaar.)

Maar waar en hoe ontstaan kliniese depressie egter spesifiek? Is dit so dat bepaalde kognitiewe persepsies aanleiding kan gee tot sekere emosionele reaksies wat weer op hul beurt chemiese vlakke in die brein kan beïnvloed en dan as depressie manifesteer? Of is daar eerder ‘n genetiese geneigdheid tot lae serotonien vlakke wat bepaalde persepsies en emosies meebring wat as depressie beskryf kan word? Dit is vanuit die mediese navorsing moeilik om klinkklare antwoorde op hierdie vrae te gee omdat depressie ‘n komplekse siekte is wat veelvoudige en oorvleuelende oorsake het. Wat ookal vir die ontstaan van kliniese depressie verantwoordelik is, dit lyk asof daar wel meestal ‘n biologiese komponent is wat mediese behandelbaar is en dat in kombinasie met een of ander vorm van terapie, goeie resultate en selfs volkome herstel moontlik is.

Dit kan onomwonde gesê word dat die aanvaarding en erkenning van die feit dat iemand dalk aan die siekte van depressie ly, die eerste noemenswaardige stap kan wees wat sal bydra tot die beheer wat so ‘n persoon op die lange duur oor sy of haar depressie sal hê.

‘n Paar moontlike biologiese sowel as sielkundige faktore wat ‘n rol speel in depressie wat in enige kombinasie kan voorkom, word vervolgens kortliks genoem:

  • Biochemies: ‘n chemiese wanbalans in die brein
  • Fisiologiese faktore soos siektes (beroerte, Cushings se siekte, skildklier probleme), ander medikasie (hoë bloeddruk, geboortebeperking, steroïede/kortisoon), alkohol, dwelms en verdowingsmiddels
  • ‘n Bepaalde dieet
  • Onvoldoende oefening (fisiese aktiwiteit stimuleer serotonien-produksie)
  • Interne aggressie
  • Stres
  • Persoonlike verlies (veral in die kinderjare)
  • Verhoudingsprobleme en emosionele mishandeling
  • Lae selfwaarde: negatiewe denke oor die self en die toekoms
  • Negatiewe interpretasie van ervarings wat gekoppel is aan vrees en angs, vrees vir mislukking of ‘commitment’

Hoe word depressie spesifiek deur medikasie behandel?

Antidepressante medikasie het ‘n normaliserende uitwerking op sekere chemikalieë of neuro-oordragstowwe in die brein. Abnormale vlakke van hierdie oordragstowwe (noradrenalien, dopamien, serotonien) verhinder die effektiewe oordrag van inligting tussen die senuwee-selle, wat onder andere verantwoordelik kan wees vir die ervaring van depressie. Antidepressante help dus om normale vlakke van oordragstowwe in die brein te herstel. Daarom is volkome herstel (of normale funksionering) dikwels moontlik met die gebruik van die regte dosisse van antidepressante medikasie oor ‘n bepaalde tydperk. Dit moet egter onthou word dat daar ook ‘n verskeie antidepressante produkte op die mark is. Dit mag wees dat die eerste siklus van ‘n spesifieke medikasie nie noodwendig effektief werk nie. Soms is dit nodig om oor te slaan na ‘n ander vorm van antidepressante medikasie wat beter resultate sal lewer. Sulke eksperimentasie kan suksesvol in oorlegpleging met ‘n dokter of psigiater gedoen word.

Hoe word depressie deur terapie behandel?

In enige behandeling van die ernstige depressiewe persoon is dit baie belangrik om so ‘n persoon eers veilig uit die depressiewe toestand te kry d.m.v. medikasie voordat die persoon sielkundige aandag ontvang. ‘n Persoon wat bepaalde simptome van depressie ervaar moet sou gou as moontlik ‘n huisdokter of psigiater raadpleeg vir ‘n akkurate diagnose en plan vir behandeling. Behandeling van depressie sal onder andere een of ander vorm van terapie insluit. Waarom is terapie belangrik?

Terapie kan die geleentheid skep om gevoelens, gedagtes en gedrag in ‘n veilige omgewing te ondersoek. Dit kan help om die waarheid van sekere diepgesetelde gedagtes te bevraagteken en alternatiewe en meer positiewe maniere van dink te ondersoek (dit waaroor mense gedurig dink dra dikwels by tot ‘n bepaalde gemoedstoestand). Self-bewuswording, waardebevestiging en motiveringsfaktore is alles aspekte wat ‘n rol speel in die proses van genesing van kliniese depressie en word deur terapie na die voorgrond gebring sodat oplossings gevind kan word.

Vriende en familie het ‘n kardinale rol in die effektiewe helingsproses van die depressiewe persoon. Om empaties te luister en uiterste geduld te beoefen met die depressielyer, sonder om ooit hoop te verloor wanneer daar skynbaar geen positiewe reaksie volg nie, is onontbeerlik. Dit beteken om vir die honderdste keer te probeer om te verstaan en nie toe te gee aan die neiging om ‘goeie raad’ te wil gee nie. (Die belangrikheid daarvan dat die persone naaste aan die depressiewe persoon baie goed ingelig sal wees oor depressie, kan nie genoeg beklemtoon word nie.)

Wat is die mees algemene simptome van kliniese depressie?

Hier is van die dinge wat ‘n aanduiding kan wees dat iemand aan depressie ly sonder dat hulle daarvan bewus is of selfs sonder dat hulle dit selfs wil erken:

Geestelik:

  • Gedagtes aan die dood of selfmoord, ‘n gevoel dat die lewe sinloos geword het
  • ‘n Onvermoë om besluite te neem
  • ‘n Gebrek aan konsentrasie en geheue
  • ‘n Verlies in belangstelling in meeste aktiwiteite asook daaglikse werk
  • ‘n Onvermoë om plesier te kry uit aktiwiteite waarin daar voorheen met ywer betrokke was

Fisies:

  • ‘n Gebrek aan seksuele belangstelling
  • ‘n Noemenswaardige gewigstoename of gewigsverlies
  • Te veel of te min slaap
  • Gereelde moegheid, afname in energie, geen motivering of entoesiasme nie
  • Uitermatige of toename in eet, alkohol-gebruik, rook of ander misbruik

Emosioneel:

  • Aanhoudende huilbuie en onverklaarbare gevoelens van hartseer, pessimisme, sinloosheid en eensaamheid
  • Intense gevoelens van angs, hopeloosheid en hulpeloosheid: ‘n onvermoë om daaglikse verantwoordelikhede en die normale uitdagings van die lewe te hanteer
  • Voortdurende skuldgevoelens
  • Gevoelens van waardeloosheid en self-veragting
  • Onrustigheid, ongeduld, geïrriteerdheid

Sosiaal:

  • Die vermyding van ander mense en die gevolglike agteruitgang van verhoudinge
  • Onverklaarbare vyandigheid

Wanneer ongeveer vyf van die bogenoemde simptome vir langer as ongeveer twee weke aaneen ervaar word en wanneer dit inmeng met die vermoë om effektief by die huis, skool of werk te funksioneer, dan kan dit dikwels ‘n goeie aanduiding wees van depressie. Dit is dan noodsaaklik om so gou as moontlik by ‘n huisdokter of psigiater uit te kom vir ‘n mediese diagnose om die regte behandeling te kry.

Ek wil met dr. Isak de Villiers saamstem waar hy die volgende geskryf het oor depressie: “’n Goeie aanduiding van ‘n gesonde balans by behandeling is geloof in God, gebed, medikasie en uitpraat.”

Groete

Udo

(Een van die beste boeke wat ek al gelees het waarin ‘n pa met sy dogter se selfmoord worstel na aanleiding van depressie, is Om Die Ondraaglike Te Dra, deur Henk Gous. Ek beveel dit ten sterkste aan.)

Die volgende drie videos is lesings met ‘n meer akademiese en tegniese inslag, maar gee ook goeie insig:

Hallo Udo

My man het selfmoord gepleeg. Hy het voor dan tot bekering gekom. Hy was definitief ‘n depressielyer as ek na die punte hierbo kyk. Wat my wel pla is dat hy ons geen nota gelos het en die dag van die selfmoord het hy geen teken gegee dat so iets gaan gebeur nie. Ek is baie bekommerd oor die impak van als op my kinders het. Is daar ‘n web wat mense help via die internet soos ‘n hulp groep of iets?

Groete

Winkelsmidt

Hallo Winkelsmidt

Ek is baie jammer om te hoor van jou man se selfmoord. En jy is reg, die impak wat dit op jou kinders (en op jou) kan hê, moenie onderskat word nie.

Ek dink beslis dat julle, as gesin, moet probeer om by ‘n opgeleide persoon of by ‘n hulpgroep uit te kom. Daar is soveel dinge waarmee julle bygestaan kan word om die regte perspektief op te kry en wat kan bydra dat julle die trauma wat julle beleef het op ‘n sinvolle manier verwerk en genesing kry. Die feit dat jou man geen aanduiding of verduideliking/nota gegee het vir sy selfmoord nie, is beslis iets wat bespreek moet word en waarop julle perspektief en sluiting (closure) nodig het.

Ek is ongelukkig nie spesifiek bewus van ‘n internet hulpgroep nie, maar ek dink in elk geval dis beter om met mense in persoon te probeer praat. Daar is twee plekke wat ek kan voorstel waar jy ondersoek kan instel. Eerstens kan jy jou plaaslike pastoor/predikant vra om jou na bekwame persone te verwys. Andersins kan jy ook jou plaaslike dokter nader wat behoort te weet met jy in verbinding kan tree vir die hulp wat jy en jou gesin nodig het.

Moet asseblief nie huiwer om te soek en te vra na die regte hulp nie. Baie mense voel dat daar iets met hulle fout is as hulle nie bepaalde trauma self kan hanteer nie, en is dan huiwerig om hulp te vra. Die feit is dat ons almal een of ander tyd ander se hulp nodig het. Spesifiek in jou geval is dit die regte ding om te doen (veral vir jou kinders se onthalwe) om by ‘n bekwame persoon/e uit te kom wat julle kan bystaan om deur bepaalde dinge te werk.

Skryf gerus as jy dink ek moet nog iets van hulp kan wees.

Groete
Udo