Bybelstudie en twyfel

Naand Udo

Wat my in die laaste tyd baie pla is dat ek skielik aan die egtheid van die Bybel begin twyfel het – my soeke na “bewyse” het my dan ook op jou webblad laat beland. Ek het skielik die gevoel gekry dat my geloof begin taan het. Ek moet ook byvoeg dat ek deur my aanraking met mense van verskillende lande vir die eerste keer met mense in aanraking gekom het wat glad nie aan die bestaan van ‘n God glo nie. Dan praat ek nie van ander gelowe nie, maar van mense wat saam met my werk wat GEEN geloof aanhang nie. Vir my, komende van ‘n land waar ons redelik “Christelik ” lewe en nog Godsdiens in die skole beoefen, was dit baie vreemd. Dan verder die feit dat daar so openlik in die koerante te velde getrek word teen elkeen wat ‘n Christen is, deur ateïste en mense wat nie net in geen God glo nie, maar ook Christene verkleineer en afkraak. Ek dink al hierdie dinge het my skielik laat begin twyfel en ek moes gaan soek na iets om my weer te oortuig van die bestaan van God en die egtheid van die Bybel.

Ek sukkel ook baie met my daaglikse Bybelstudie. Ek het geen probleem om geestelike boeke, artikels op die internet en geestelike stof te lees en te versamel nie, maar die Bybel het my skielik begin verveel (nie in die lelike sin van die woord nie). Alles wat ek lees is vir my bekend en ek ken die boodskap daaragter. Dit het tot gevolg dat ek liewer geestelike artikels en preke op die internet lees en nie soseer die Bybel bestudeer nie, wat my dan laat skuldig voel en verder my twyfel laat verdiep.

Wel, dit is hoe ek toe op jou webblad beland het. En ek moet ook dankie sê, dit het my baie gehelp.

Dankie vir die luister.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Ek is baie bly as jy baat gevind het by wat jy op AntWoord se webwerf gelees het. Laat weet gerus as jy spesifieke vrae het wat ons kan help aanspreek, want elke persoon se vrae en worsteling is uniek en het unieke beklemtonings.

Jy noem dat jy sukkel met jou daaglikse Bybelstudie en dit klink vir my asof jy sê dat jy voel dat dit jou skielik nie meer stimuleer nie. Daar is natuurlik verskillende maniere waarop ‘n mens die Bybel kan lees en ek dink beslis dat ‘n mens jouself later in ‘n familiêre groef kan bevind deur die Bybel elke keer op presies dieselfde manier te benader. Daar is byvoorbeeld ‘n verskil tussen stiltetyd-lees (devotional reading) en ‘n werklike bestudering van die Bybel. Altwee het ‘n belangrike plek en spesifieke doel, so dis nie dat een manier belangriker is as ‘n ander nie. Wanneer ‘n mens spesifiek die Bybel wil bestudeer, dan is daar ook verskillende maniere om te werk te gaan. Ek noem ‘n paar:

  • ‘n Mens kan ‘n tematiese studie onderneem deur van ‘n konkordansie gebruik te maak en al die gedeeltes op te soek wat na ‘n spesifieke woord of idee verwys. Sodoende kry ‘n mens ‘n wye oorsig van wat met daardie woord of idee in verskillende kontekste bedoel word en kry dit ook dieper betekenis.
  • ‘n Ander manier van studie is om ‘n bepaalde gedeelte of selfs ‘n boek van Bybel saam met een of twee Bybelkommentare te lees (ek weet die gratis Bybelsagteware e-Sword het ‘n paar wat ‘n mens met vrug kan gebruik) en sodoende kry ‘n mens ‘n beter begrip en waardering vir die breër konteks van ‘n bepaalde gedeelte.
  • ‘n Ander baie eenvoudige manier om ‘n bepaalde gedeelte te lees wat dikwels interessante insigte meebring, is om van meer as een vertaling gebruik te maak. Om dieselfde gedeelte byvoorbeeld in die Ou Vertaling, die Boodskap-vertaling en ‘n Engelse vertaling (bv. The Amplified-vertaling, Good News-vertaling, ens.) te lees en dit dan met mekaar te vergelyk, kan ‘n baie verrykend ervaring wees (e-Sword bied ook ‘n paar gratis Bybelvertalings).
  • ‘n Laaste voorbeeld van ‘n bestudering van die Bybel wat ek wil noem is na aanleiding van die lees van ‘n Sistematiese Teologie. ‘n Handleiding vir sistematiese teologie is basiese ‘n boek wat al die groot temas van die Christelike geloof uiteensit en verduidelik. Wat dit ideaal maak vir Bybelstudie is dat daar gewoonlik ‘n groot klomp teksverwysings is wat ‘n mens kan nagaan. Nie net kry ‘n mens ‘n beter begrip van baie elemente in ons geloof nie, maar ‘n mens leer ook hoe en waar die Bybel daaroor handel. Ek kan veral twee sulke boeke aanbeveel (terloops, dis baie toeganklik om te lees): Systematic Theology (Wayne Grudem) en Christian Theology (Millard Erickson).

Ek dink regtig nie jy hoef skuldig te voel oor jou huidige gevoel oor Bybelstudie nie. Die oplossing mag so eenvoudig wees soos ‘n verandering in roetine en metodiek. Ek dink in elk geval dis baie goed dat jy steeds aktief soek na opbouende Christelike materiaal, want dit bring baie keer nuwe perspektiewe wat ons weer met nuwe oë na die Bybel kan laat kyk. Dis jammer dat jy nie gereeld geleentheid het om met ander Christene te fellowship nie, want dit help nogal baie om met ander mense oor goed te praat (terloops, sien dit as ‘n uitnodiging om enige tyd vir my te epos as jy behoefte daarvoor het!)

Veral ook in die apologetiek (Engels: apologetics), dit waarmee die AntWoord bediening gemoeid is, is my geloof al menige male versterk deur nie net te fokus op wat ek glo nie, maar ook waarom ek dit glo. Ek is gereeld verstom as ek deur my studies besef hoe betroubaar die Bybel wel histories is (en dan het ek nog nie eers gepraat van hoe ‘n alledaagse praktiese belewenis, baie van die wysheid en insigte uit die Bybel bevestig nie).

Jou verwysing na twyfel het my ‘n paar gedagtes verder in hierdie brief laat neerpen. Dis nie noodwendig in direkte reaksie op wat jy gesê het nie – dis eintlik meer ‘n persoonlike refleksie oor my eie ervaring rakende twyfel. Miskien beteken dit vir jou iets.

Iets wat ek telkemale ondervind in hierdie bediening waarby ek betrokke is, veral m.b.t. die Afrikaanse kultuur waarin ek self groot geword het, is dat baie mense nie regtig voorbereid of ingelig is wanneer hulle met ander geloofsidees of wêreldbeelde te doen kry nie. Diegene van ons wat vir lank in ‘n redelik beskermende Christelike omgewing grootgeword het, het dit dikwels nooit nodig gevind om ernstig na te dink oor die gronde vir wat ons glo nie (m.a.w. die vraag na hoekom ons bepaalde dinge glo). Dit gebeur dan dikwels dat wanneer ons met ander idees gekonfronteer word, of bloot oor ons eie geloofsoortuigings uitgevra of uitgedaag word, dan voel baie mense heeltemal onbevoeg om sinvolle verduidelikings/antwoorde te gee. En skielik klink die enigste antwoorde wat ons dan dikwels weet om te gee, soos bv. “Dis hoe ek geleer is,” of “Ek glo dit, want almal wat ek ken glo dit,” baie hol, naïef en onbevredigend.

Die probleem is dat baie mense (veral diegene wat uit Christelike huise kom) die ervaring van hul eie onvermoë om sinvol op ander mense se skeptiese (of selfs net belangstellende vrae) te reageer, dikwels onmiddellik begin vertolk as ‘n aanduiding dat wat hulle glo eintlik nie gronde het nie. Sulke persone, wat êrens vir die eerste keer uitgedaag word om dit wat hulle glo te verduidelik en redes te gee vir waarom hulle bepaalde dinge glo, vind  skielik dat hulle dit nie regtig kan doen nie. Hierdie is vir baie mense ‘n ontnugterde gevoel en sommige begin wonder of hulle nie maar net alles wat vir hulle geleer is vir soetkoek opgeëet het nie. Hulle mag selfs begin voel dat hulle dalk subtiel mislei is om nie vir hulleself te dink nie. En stelselmatig mag daar ‘n weerstand teenoor “godsdiens” begin ontwikkel, want hoe meer hulle bewus raak van al die vrae wat daar oor bepaalde godsdienstige idees gevra word (en hulle is natuurlik nooit in hul eie godsdiensonderrig of geloofsgemeenskap aangemoedig om ondersoekende vrae te vra nie), hoe sterker word die indruk dat sulke vrae daarop dui dat daar nie eintlik goeie redes is om meer aan te hou met glo nie. Die gedagte dat die Christelike geloofsisteem as die “waarheid” beskou kan word, begin stadig verbrokkel en dis dan nie lank voordat iemand hul geloof finaal vaarwel roep nie.

Christene wat ervaar dat hulle begin twyfel, het nodig om die dinamiek van twyfel beter te verstaan en nie te gou tot allerlei gevolgtrekkings te kom oor die onderwerp van hul twyfel nie. Om te besef dat jy twyfel is dikwels eenvoudig ‘n bewuswording van ‘n gebrek aan kennis oor ‘n bepaalde onderwerp. Ons word byvoorbeeld met ‘n vraag gekonfronteer (dalk in die vorm van ‘n beswaar of ‘n argument) oor wat ons glo en wanneer ons nie in staat is om ‘n antwoord kan gee nie, dan manifesteer dit dikwels as ‘n gevoel van twyfel, veral omdat ons voel dat ons behoort te kan antwoord. So byvoorbeeld kan ‘n Christen met die idee gekonfronteer word dat die verhaal oor Jesus se opstanding nie werklik so gebeur het nie, omdat ons in vandag se wetenskaplike era weet dat iemand wat sterf, nie weer later lewend word nie. ‘n Christen wat wel glo in Jesus se liggaamlike opstanding, maar nog nooit werklik nagedink het oor waarom die idee van wonderwerke nie regtig deur die wetenskaplike werkswyse ondermyn word nie, mag gevolglik twyfel begin ervaar. So iemand mag dink: “Ek is iemand wat nie irrasionele dinge wil glo nie, maar waarom weet ek dan nie hoe om my geloof in Jesus se opstanding te versoen met wetenskaplike feite nie? Sê die meeste wetenskaplikes dan nie dat geloof in wonderwerke tot die bygelowigheid van ‘n voorwetenskaplike era hoort nie?”

Dit is egter baie belangrik om te besef wat die korrekte reaksie op ‘n gewaarwording van twyfel behoort te wees. Dikwels is die onderliggende en primêre saak waaroor dit gaan in oomblikke van twyfel, die kwessie van kennis (d.i., ‘n gebrek daaraan). M.a.w., iemand wat twyfel ervaar wil basies weet, “Wat is die antwoord?” of “Wat is werklik waar?”. Die probleem is dat daar ‘n subtiele variasie op hierdie vraag is, een wat op die oppervlak baie dieselfde klink, maar wat ‘n mens se soektog na ‘n antwoord kan belemmer. Baie mense wat twyfel ervaar maak die subtiele sprong van “Wat is die antwoord?” na “Is daar ‘n antwoord?” en ek wil kortliks verduidelik wat die probleem met die tweede tipe vraag is.

Die vraag, “Is daar ‘n (sinvolle) antwoord?” (m.a.w., is wat ek tans glo werklik waar?) word dikwels subtiel by die agterdeur ingelaat wanneer iemand begin twyfel nadat hulle ‘n goed beredeneerde skeptiese argument of goed geformuleerde kritiese vraag aangehoor het wat skynbaar dreig om daardie persoon se bestaande verstaanraamwerk oor ‘n bepaalde saak te ondermyn. Die eerste gevoel (wat eintlik maar ‘n emosionele reaksie is) is dikwels dat die opponerende saak so sterk gestel is, of dat ‘n skeptiese vraag so diep penetreer, dat daar waarskynlik nie ‘n sinvolle antwoord daarop is of kan wees nie. Dit is egter presies hier waar die denkfout plaasvind.

‘n Goeie vraag of argument (veral vanuit die perspektief van iemand wat dit vir die eerste keer hoor) behoort hoofsaaklik die funksie te hê om ‘n mens bewus te maak van kompleksiteit (iets inherent tot meeste kwessies in die lewe). Die feit is dat ons as mense, as ons eerlik is met onsself, oor baie goed in die lewe taamlik onkundig is. Vrae of geïsoleerde argumente het selde die vermoë om die saak wat dit aanspreek sommer summier te ondermyn. Gewoonlik is daar ‘n hele reeks van aannames, definisies en nuanses wat eers na die oppervlak gebring moet word om die meriete van ‘n argument of ‘n vraag behoorlik te kan beoordeel. M.a.w., ‘n Christen wat voel dat hy of sy begin twyfel, moet versigtig wees om nie sy of haar twyfel te misgis vir ‘n bepaalde konklusie nie (bv. “Daar is/kan nie ‘n sinvolle antwoord op hierdie vraag wees nie”). Wat so ‘n persoon moet besef is dat twyfel heel dikwels op ‘n gebrek aan die nodige kennis dui. Om meer inligting/kennis te bekom is die mees natuurlike en verantwoordelike reaksie op twyfel en daarom is die vraag, “Wat is die antwoord?” of “Wat is die waarheid?” ‘n gepaste en ondersoekende benadering, terwyl die vraag “Is daar regtig ‘n antwoord?” of “Kan daar ‘n sinvolle antwoord wees?” reeds ‘n skeptiese en bevooroordeelde gesindheid verraai.

Net ‘n laaste opmerking. Die vraag, “Wat is die antwoord?” kan natuurlik gemanipuleer word om ons te bring by ‘n antwoord oor wat ons graag wil hê of wat ons hóóp of wens om waar te wees. Ons behoort skeptiese vrae of argumente daarom nie bloot te sien as iets om te weerlê net omdat dit nie inpas by ons sisteem van dink en glo nie. Sulke vrae of argumente behoort ons eerder te help om eerlik om te gaan met die kompleksiteit van die lewe en behoort ons nederig te hou in ons omgang met mense wat anders dink en glo. Ons behoort respekvol met sulke mense te kan omgaan en te kan wys dat ons hulle idees werklik probeer verstaan en daarmee erns maak, en dan wys hoe die Christelike geloof hul besware en argumente met integriteit tegemoet kom (en my bestudering in die Christelike apologetiek het my al telkemale oortuig dat dit wel doen). As ons dit doen, dan wys ons dat ons streef na ‘n verantwoordelike antwoord wat, sover dit binne ons vermoë is om dit te ontdek, besorg is oor waarheid (wat die werklikheid werklik is) en nie om ons idees op ander af te dwing nie.

Wel, jammer vir die laaang brief. En soos ek genoem het, jy is welkom om periodiek te skryf as jy die lus of behoefte het.

Groete

Udo

Sien ook:

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.