Die Heilige Gees

Hallo Udo,

Ek is weergebore, maar het vandag besef dat my bekering alleenlik gefokus moet wees op Jesus en Sy kruis wat ons sonde-probleem oplos.

Ek lees vandag dat vervulling met die Heilige Gees die oplossing vir die probleem van kragteloosheid is.  Sonder die H/Gees is daar ‘n gebrek aan die vrug v/d Gees en daar is geen ervaring van die Gees se teenwoordigheid nie (bang en ongemaklik met emosies).

Ek glo dat ek Jesus aangeneem het, maar as ek nie vervul is met die Heilige Gees nie, sal dit my “weerhou” om God se heerlikheid in die hemel eendag te aanskou?

Groete

Winkelsmidt

 

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie dat jy vir ons geskryf het. Ons help graag waar ons kan.

Ek dink dis heeltemal korrek om te sê dat vervulling met die Heilige Gees die oplossing is vir die probleem van kragteloosheid in die Christelike lewe. Sonder dat ons van die Heilige Gees in ons lewens afhanklik is, is dit inderdaad so dat ons nie die vrug van die Gees sal dra nie.

Ek dink egter dat dit belangrik is om te verstaan dat ‘n ervaring van die Heilige Gees se teenwoordigheid in ons lewe in die eerste plek met geloof te doen het en nie met emosie nie. Dieselfde kan gesê word van iemand wat wonder of hy/sy regtig ‘n kind van God is. Dit gaan nie daaroor of iemand moet voel (m.a.w. een of ander emosie ervaar) dat hulle ‘n kind van God is nie, maar of hulle glo dat wat die Bybel oor hul status voor God te sê het, waar is. Geloofsekerheid is dus gegrond op wat God verklaar oor ons wat Jesus aangeneem het en nie op hoe ons daaroor voel nie.

Wat beteken dit egter om met die Heilige Gees vervul te word/wees en wanneer gebeur dit? Die Bybel is duidelik dat wanneer ons weergebore word, ons die Heilige Gees ontvang (dit is Hy wat wedergeboorte moontlik maak). As Christene is die Heilige Gees dus deel van ons lewens, wat beteken dat ons in alles van Hom afhanklik behoort te wees. Die probleem is egter dat ons dikwels steeds sonde doen, en sodoende nie altyd in afhanklikheid van die Gees lewe nie (inteendeel, die onbelyde sonde in ons lewe verhinder dat ons in afhanklikheid van God kan lewe). Wanneer die Bybel ons egter beveel om met die Heilige Gees vervul te word, dan beteken dit veral twee goed: 1) Dat ons ons sonde sal bely en erken waar ons nie van hom afhanklik is nie, en 2) dat ons die krag van die Heilige Gees wat deel van ons lewens is, deur geloof sal erken en daarvolgens sal leef.

Iemand het hierdie proses van vervulling met die Heilige Gees as “geestelike asemhaling” beskryf. Ons asem die sonde uit (sondebelydenis) en ons asem die krag van die Gees in (ons beoefen geloof in dit waartoe die Gees ons in staat stel), sodat ons voortdurend van sy Gees afhanklik kan bly en die vrug kan dra waarvoor ons bestem is.

Om met die Heilige Gees vervul te word (geestelike asemhaling) is dus ‘n herhalende aksie (net soos fisiese asemhaling) en intieme interaksie met die Gees, en iets wat ons gereeld behoort te doen, soos bv. sodra ons agterkom dat ons sonde gedoen het, of voor versoeking staan, of sommer net geestelik swak voel.

Ter opsomming. Vervulling met die Gees het dus niks met ‘n mens se redding te doen nie, maar wel met die tipe lewe van oorwinning wat jy as Christen sal beleef. Vervulling het in die eerste plek ook niks met die ervaring van ‘n bepaalde emosie te doen nie, maar met geloof in dit waartoe die Gees ons in staat stel. Dit is dikwels eers wanneer ons in geloof optree volgens die krag wat die Gees gee (die werklike betekenis van ‘n ervaring van die Gees se teenwoordigheid), dat ons bepaalde emosies sal beleef. Baie mense dink dat dit hierdie emosies is wat ‘n bewys is van die Gees se teenwoordigheid, maar eintlik is die bewys en ervaring van Sy teenwoordigheid te vinde in ons geloofsoptrede!

Ek heg vir jou twee skakels aan na artikels waarin hierdie kwessie ook aangeraak word. Laat weet egter gerus as daar nog vrae of onduidelikheid is.

Groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.