Kan ‘n filosoof ‘n Christen wees?

Hi Udo

Na aanleiding van Dr. Louise Mabille se aanbieding “Kan ‘n filosoof ‘n Christen wees?” wil ek weet of die vraag nie eerder moet wees: “kan ‘n Christen ‘n filosoof wees?” nie. Ons is immers EERS ‘n Christen, dan iets anders (sportman, wetenskaplike, ens). So die antwoord op “Kan ‘n filosoof ‘n Christen wees?” is ‘nee’.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou reaksie. Ek verstaan heeltemal wat jy sê. En ek stem ook heeltemal saam dat ‘n mens se identiteit as Christen al die aspekte van jou lewe toelig en dat dit die verskillende rolle wat ons as Christene daagliks vervul baie spesifiek inklee.

Die vraag wat egter hier gevra word het te doen met die versoenbaarheid tussen die Christelike wêreldbeeld en die werkswyses en ambisies in die filosofie. M.a.w. is daar iets inherent aan die filosofie as dissipline wat teenstrydig is met die aansprake van die Christelike geloof? Baie mense dink dat ‘n bestudering van die idees in die filosofie (soos met die bestudering van die natuurwetenskappe) ‘n mens noodwendig moet en sal bring by ‘n ontkenning van die waarheidsaansprake van die Christelike geloof.

Natuurlik is dit juis wat sommige filosowe en wetenskaplikes wil aanvoer. Ek glo egter dat wat Dr. Mabille onder andere in haar aanbieding wil wys is dat die filosofie as dissipline nie per definisie antagonisties teenoor Christelike idees staan nie en dat dit selfs kan bydra tot ‘n beter waardering en begrip vir hoekom Christene glo wat hulle glo. Terloops, dit beteken nie dat ‘n mens bloot deur die intellektuele aanvaarding van filosofiese argumente ‘n Christen word nie, maar dit beteken wel dat filosofiese beredenering kan wys dat bepaalde Christelike idees nie summier vals of ongegrond is nie.

Verseker bestaan daar ook genoeg ambivalensie in die werkswyse van die filosofie sodat dit ingespan sou kon word om anti-Christelike idees en wêreldbeskouings te probeer regverdig. Maar daar is genoeg filosowe wat ook Christene is om die idee te besweer dat om ernstig na te dink oor die vrae wat die filosofie vra, noodwendig ‘n ondermynende invloed op ‘n denkende mens se oortuigings as Christen moet en sal hê.

Ek dink Dr. Mabille sal die punt ten sterkste beaam dat om ‘n filosoof én ‘n Christen te wees, nie twee teenstrydige of uitsluitende begrippe is nie. Maar kom luister gerus Sondagaand saam met ons na wat Dr. Mabille te sê het.

Beste groete
Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.