Jehova-getuies en gesprek

Hi Udo!

Hoe gaan dit daar met die apologetiek groepie by KSM?  Sjoe, ek mis dit nogal hoor!  Weet julle van sulke besprekingsgroepie in Londen?  Ek het nou begin betrokke raak by HTB in Londen, maar het nog niks gesien van apologetiek by die kerk nie.

Ek het sommer iets waaroor ek wonder, en wanneer een van julle tyd het kan julle dalk net vir my ‘n opsommende antwoord stuur?  Wat presies glo die Jehova getuies en wat maak hulle geloof anders as ons s’n?

Hier is ‘n groep van hulle wat werksaam is in ons omgewing en ek het al twee keer van hulle voor my deur gekry.  Hulle lees gewoonlik vir my ‘n bybelversie, dan vra hulle vir my hoe ek daaroor dink, en dan gee hulle vir my ‘n boekie om te lees wat veronderstel is om ‘n mens bietjie aan die dink te sit.  Die laaste keer wat hulle hier was het hulle met my gesels oor die skepping en evolusie – ek het hulle boekie deurgelees en dit nogal baie geniet!  Daar was niks in daardie boekie wat teen my eie geloof gegaan het nie en ek het werklik met als saamgestem wat hulle daarin se.  Ek hou actually van die manier waarop hulle mense (veral in die land) se denkwyses bietjie probeer challenge, sonder om hulle opinie op jou af te dwing.  Ek dink hulle het ‘n goeie manier (en baie guts) om die agnostiese/ongelowige mense in London te challenge – dis meer as wat baie van ons Christene hier kan se!

Elke keer wat hulle hier was het ek gedink:  “Volgende keer moet ek hulle innooi vir ‘n koppie tee en ‘n gesprek met hulle hê.”  Die snaakse ding is, na al ons insiggewende gesprekke by KSM oor hoe om ander “gelowe” te benader, is ek amper bang om ‘n verdere gesprek met hulle te hê!  Dis asof ek bang is hulle gaan my vasvra of my geloof challenge en ek gaan nie weet wat om te antwoord nie!  Miskien sal dit my help as ek weet wat hulle glo en vir myself vooraf kan uitklaar hoekom is dit NIE wat ek glo nie!  Dis soms vir my sleg om te weet dat ons tussen so baie ateïste of agnostikuste leef, met hulle vriende is, saam met hulle werk of woon, maar dat die topic van godsdiens en geloof altyd so veel as moontlik vermy word omdat ‘n mens so bang is om iemand te offend.  Ek is seker dis nie heeltemal wat Jesus van ons verwag nie!  Dis een van die redes hoekom dit vir my so belangrik was om die apologetiek groepie te kon bywoon voordat ek oorsee gekom het.  Nou moet ek net leer hoe om dit toe te pas!

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie lekker om van jou te hoor! Dit klink of jy Londen op horings neem!

Hier gaan dit baie goed. Ons KSM brugbou-groepie het gister weer weggespring vir die jaar. Ons kom nou ook in Pretoria-Oos bymekaar om dit vir ‘n paar mense makliker te maak om Maandagaande by te woon.

Deesdae is ons besig om geleentheid te gee vir mense om self aanbiedings vir die groep te kom doen (oor onderwerpe van hul keuse) om ‘n bietjie vaardigheid te ontwikkel. Ons is nou al ‘n redelike intieme groep, so dis ‘n veilige omgewing waar mense op so ‘n manier hul selfvertroue en kennis kan opbou om weer op ander plekke (soos selgroepe/Bybelstudie-groepe) gesprekke te kan gaan fasiliteer oor bepaalde onderwerpe. Ons geniet dit baie.

As ek dit nie mis het nie, dan is HTB nogal die plek waar Nicky Gumble se Alpha-kursus (wat plek-plek aan die apologetiek raak) opgeneem is. Wel, die apologetiek is ongelukkig gewoonlik iets wat die minderheid Christene interesseer, so jy gaan dalk meer proaktief moet wees om gelykdenkende mense op te spoor (ek is seker mense in die kerkleierskap behoort jou in die regte rigting te stuur).

Dis interessant om te hoor van jou kontak met die Jehova-getuies. Ja, daar is heelwat perspektiewe wat ons met hulle deel. Ek het self al van hulle literatuur gelees en kon met baie akkoord gaan. Hulle ywer om met mense oor geloof in gesprek te tree is ook, soos jy tereg opmerk, beslis lofwaardig en selfs navolgingswaardig. Ek dink ook dat hulle ‘n strategie volg wat nogal suksesvol kan wees in ‘n hoogs sekulêre samelewing soos Engeland (en veral Londen) waar baie mense dors na werklike sin in die lewe. Om persoonlik uit te reik na mense en te wys dat jy werklik belangstel en omgee is presies wat baie mense in die geïsoleerde konteks van ‘n Westerse leefwyse behoefte aan het (selfs al mag hulle dit ontken en aanvanklik huiwerig en versigtig wees vir vreemdelinge).

Tog is daar wesenlike verskille met wat die Jehova-getuies leer, en dit kom neer op die verskil tussen wat ons glo waar en wat vals is. Jehova-getuienis is daarom nie slegte mense wat ons ten alle koste moet vermy nie, ons glo maar net dat kern-aspekte van wat hulle leer, vals is.

Die probleem is egter net dat Jehova-getuienis oor die algemeen baie beter ingelig is oor wat hulle glo en hoekom, as die gemiddelde Christen. Ek bedoel, jy doen nie die tipe deur-tot-deur besoeke wat hulle doen as jy jou nie goed van jou taak kan kwyt nie (op gebiede soos interpersoonlike verhoudinge sowel as kennis). Die meeste Christene is natuurlik bewus van die Jehova-getuienis en dat hulle leer wat strydig is met die Christelike geloof. Baie sal dan vir hierdie rede alleen eerder niks met Jehova-getuies te doen hê nie, maar oor wat presies die Jehova’s glo, is hulle dikwels salig onbewus en ongeïnteresseerd.

Om met ‘n Jehova-getuie in gesprek te tree wat aan jou deur kom klop gaan inderdaad ‘n uitdaging wees. Ek dink nie Christene moet hulle vermy nie, maar ek dink ook nie die gemiddelde Christen is voorbereid op so ‘n gesprek nie. So ek dink jy doen die regte ding om eers ‘n bietjie jou huiswerk te doen, en miskien later as die geleentheid hom voordoen, met hulle ‘n vriendelike gesprek te hê oor die wesenlike verskille tussen Christelike leer en wat hulle leer.

Ek dink ‘n goeie beginplek is die volgende kort artikel (daar is ook ‘n paar skakels aan die einde wat jy kan lees) en as jy verder belangstel kan ek ook ander aanbeveel:

Witnessing to Jehovah’s Witnesses – what is the key?

Moenie huiwer om te vra as ek verder met iets kan help nie. Ek is nie self bewus van ‘n spesifieke groep wat erns maak met apologetiek nie, maar ek sal bietjie hoor.

Baie groete
Udo

1 Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.