Jesus was ‘n gewone mens

Hallo Udo

Het ons eie land se Teologie professor Willie Esterhuyse wat Christus in sy boek aandui as net ‘n gewone mens, al sy opinie daaroor verander? Sy opinie het my grootliks beïnvloed om alles waarin ek tevore geglo het grootliks te verander. Dis baie moeilik om terug te gaan na vorige denke wanneer mens reeds verbygegaan het by die punt waar die Goddelikheid van hierdie persoon ernstig betwyfel word. Nie dat ek nie in God glo nie!

Ek dink net ons kan nie voorgee ons ken die God van vandag heeltemal nie. Ons kan wel teruggryp na dit wat ons in geskrifte baie jare gelede bekendgemaak is. Maar prakties vandag sien ek dit nie dat die God-van-vandag gesoek word nie. Ons soek na die God van baie jare gelede! Daarom kry ons nie die God-van-vandag nie! Dis ‘n baie eenvoudige verduideliking van hoe ek geraak is deur die opinie van onder andere Willie Esterhuyse. Nie noodwendig tot my spyt nie, maar tog baie hartseer want dit ontneem my van die veilige gevoel in die verlede waar mens maar kerk toe gegaan het en dan gedink het alles is vas soos dit tevore aan mens gegee was. Ek is ‘n baie ernstige denker wanneer dit kom by wie God is en wat hy in my daaglikse lewe vir my beteken. Mens kan egter nie hieroor gesels met mense wat “glo” vir die saak van geloof nie. Mens is nogal baie alleen met jou denke, behalwe dat ek wel oortuig is God weet van my en ek asem elke dag die wonderlik lug in wat vir ons geskep is, en dit wat in my tuin groei, is ook afhanklik van dieselfde lug as wat God vir my daargestel het. In die proses van my nuwe (persoonlike) Godsbesef het ek ontslae geraak van ‘n paar fobies wat my geteister het. Want ek sien ver buitentoe (letterlik) eerder as om soos in die verlede diep binne myself in te kyk!

Ek het nog so baie om te praat. Weet dit wat ek nou praat sal sekerlik kwaai Godslasterlik voorkom vir die ou wat anders dink. Ek is oop vir enige oortuiging wat van nuuts af en spontaan in my binneste mag opspring. Ek glo aan Goddelike werkinge en dinge wat sinchroniseer volgens voorafbepaling.

Groete

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie dat jy geskryf het. Dis altyd vir my lekker om met mense te gesels vir wie dit belangrik is om met deurdagtheid oor geloofskwessies na te dink. Ek glo ook dat ‘n mens altyd iets by ander kan leer, selfs al dink hulle anders as jy. En jy is natuurlik reg, daar is baie mense wat dit moeilik vind om met ander te gesels wat nie soos hulle dink en glo nie. Gelukkig weet ek darem ook van baie mense, ook ortodokse Christene, by wie dit nie die geval is nie en wat opreg belangstel in wat ander mense glo en hoekom hulle dit glo.

Jy praat van prof. Willie Esterhuyse se invloed op jou denke (terloops, hy is nie ‘n teologie professor nie, maar professor in filosofie gewees). Ek dink jy verwys spesifiek na sy boek, God en die gode van Egipte. Ek wil nie aanneem dat jou oortuigings n.a.v. hierdie een boek verander het nie, hoewel jy tog noem dat dit grootliks daarvoor verantwoordelik is. Maar ek moet egter wonder oor hoe wyd jy regtig al die saak aangaande Christus se identiteit ondersoek het. Ek weet byvoorbeeld van talle akademici wie se sienings totaal van Esterhuyse s’n verskil en wat net so bekwaam en gekwalifiseerd is indien nie meer nie. Esterhuyse se sienings is natuurlik deel van ‘n stroming in Bybelnavorsing waar bepaalde vertrekpunte daartoe bydra dat navorsers grootliks skepties staan teenoor die historiese narratief in meeste van die Bybelverhale. Natuurlik stel hulle argumente vir hul saak, maar daar hoef geen illusies te wees oor die baie spesifieke aard van hul metodologie en voorveronderstellings nie. My punt is bloot dat nie alle Bybelnavorsers in sulke metodologie en aannames deel nie. (As jy belangstel kan ek vir jou goeie bronne aanbeveel as jy meer wil lees van waar en waarom Bybelnavorsers van skrywers soos Esterhuyse se sienings verskil.)

Persoonlik is ek egter glad nie beïndruk met Esterhuyse se teologie nie. Hy het byvoorbeeld êrens die volgende gesê:

“Om Jesus in ’n geboortelike en byna biologiese verhouding as God se Seun te interpreteer is die grootste onsin wat ek in my lewe teengekom het. As jy dit egter sien as metafories omdat Hy vir jou ’n rolspeler in jou lewe is dan sê ek ja. Maar dit is waardeloos om diskussies te voer oor Jesus se biologiese verbintenis met God. Mense wat debatte voer oor Jesus se fisieke, liggaamlike opstanding, hemelvaart ensovoorts dink nog in tydruimtelike terme. Ek dink aan metaforiese terme en in terme van simbole en metafore. Dit is hoe die Bybel ook dink.” (sien hier)

Ek kan aan geen gerespekteerde teoloog dink wat sal praat van “Jesus se biologiese verbintenis met God” nie. In die Christologie word dit gestel dat Jesus in sy persoon volledig die Goddelike natuur deelagtig was, net soos hy ook volledig ‘n menslike natuur deelagtig was, maar om te praat van Jesus se biologiese verbintenis met God, is om verwarring te skep. Die term “Seun van God” was ook nie bedoel om op een of ander biologiese verbintenis te dui nie, maar dui eenvoudig op ‘n spesifieke verhoudingsdinamika.

Ek besef natuurlik dat Esterhuyse Jesus se menslikheid wil beklemtoon en enige Goddelikheid wil ontken, maar dit lyk vir my of hy hierdie teologiese saak hopeloos ongesofistikeerd benader. Niemand wat al ernstig met hierdie sake geworstel het, sal wil aanvoer dat Jesus se Inkarnasie of die Drie-enige beskrywing van God, heeltemal by ons menslike verstaansraamwerk inpas nie (net soos wat baie ander van God se eienskappe nie dinge is waarvan ons as mense ervaring het nie). Maar vir Esterhuyse om hierdie idees as die “grootste onsin” te wil afmaak, klink nogal vir my juis na iemand wat dink hy het God vandag, hier in die 21ste eeu, uitgepluis en kan nou selfvoldaan verduidelik hoe ons eintlik oor God moet dink (so weet hy byvoorbeeld ook dat Jesus se opstanding metafories verstaan MOET word en dink daarom dat enige verdere debatte daaroor waardeloos is). Dit terwyl daar in die Christelike tradisie al vir 2000 jaar ernstig hieroor nagedink word (en nie maar net blindelings geglo word soos baie mense mag dink nie) en die gevolgtrekking al lankal is dat ‘n verstaan van wie God is inderdaad deur misterie en menslike beperking gekonfronteer word. (Ek kan weereens vir jou verskeie baie goeie akademiese bronne aanbeveel as jy belangstel, wat argumenteer dat ‘n fisiese, liggaamlike opstanding van Jesus die beste sin maak van die historiese data.)

Maar genoeg oor Esterhuyse. Ek wil graag meer hoor oor jou eie verstaan van God. Jy noem dat mense hulle te besig hou met ‘n soeke na die God van die verlede en nie meer soek na die God van vandag nie. Dink jy God het hom wel in die verlede aan mense geopenbaar? En as hy het, dink jy ons kan iets van God weet wat vandag net so waar is as wat dit destyds was? Of anders gestel, in watter opsigte verskil die God van vandag, van die God wat homself in die verlede geopenbaar het (en hoe weet jy dit)? En as God homself vandag aan ons openbaar as ons na hom soek, hoe doen hy dit? En hoe weet ons dat dit dan God is met wie ons te doen het (en nie byvoorbeeld ons eie subjektiewe interpretasies nie)?

Laat gerus van jou hoor, ek luister graag na wat jy dink.

Beste groete

Udo

 

Die unitariër Jaco van Zyl het gereageer op hierdie artikel. Ek wys graag op Van Zyl se deurlopende mistastings en onsimpatieke lees van my artikel met die volgende: Trinitariese en Ortodokse Delusie?

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.