Menslike antwoorde of vertroue in God?

(‘n Onderhoud op RSG met André van Zyl is ter sprake)

My vriend, ek het net ‘n gedeelte van jou gesprek vanoggend op RSG gehoor. Daaruit kon ek aflei dat jy baie vrae het en antwoorde soek. Moet jou e-mail nie liewers vrae@yahoo wees nie. Dit is vir my as gelowige baie hartseer as medegelowiges hulle besig hou om MENSLIKE antwoorde te soek op vrae wat net God die antwoord weet. Julle is besig om mense te verwar.

Toe Abraham destyds die opdrag gekry het om vir Isak te gaan offer, het hy en Sarah nie eers ‘n vergadering gehou om te probeer uit te redeneer hoe ‘n God van Liefde dit kon verwag nie. Nee, hy het God onvoorwaardelik vertrou.

Die vrae wat julle nou vra, word al deur die eeue gevra. Ek kry die indruk dat mense wat sulke vrae bly vra nie wil aanvaar dat God soveel groter is as ons nie, en dat ons Hom net moet vertrou dat Hy beter weet as ons.

Groete,
Winkelsmidt

 

Beste Winkelsmidt

Dankie dat jy die moeite gedoen het om vir ons te skryf. Ons (as die AntWoord Bediening) waardeer en geniet dit altyd as mense met ons in gesprek tree.

Dit klink uit wat jy skryf dat jy nie regtig verstaan wat ons by AntWoord doen nie (die rede is waarskynlik, soos jy self erken, omdat jy net na ‘n gedeelte van die gesprek, wat uit ‘n paar dele bestaan, oor RSG geluister het). Dis nie ons wat die vrae vra nie, maar soekende sowel as skeptiese mense. André het in die program op RSG voorbeelde genoem van die tipiese vrae wat mense dikwels vra. En ja, jy is heeltemal reg, sulke vrae word al vir eeue gevra en vir eeue al het die Christelike kerk gereed gestaan om te wys dat daar goeie antwoorde op hierdie vrae is.

Jy insinuieer dat ons ons besig hou om “menslike antwoorde te soek op vrae wat net God die antwoord weet.” Winkelsmidt, ek dink regtig dat jy hier gans te haastig is, en selfs ‘n bietjie neerhalend, in die oordeel wat jy oor ons manier van doen fel (ek wonder of jy enigsins al mooi na ons antwoorde geluister het), want ons streef juis om in ons antwoorde altyd rekening te hou met ‘n openbaarmakende God. Jy mag dalk nie hou van ons antwoorde nie, of jy mag selfs dink dat daar, volgens jou, nie ‘n antwoord is op ‘n spesifieke vraag wat ons as mense kan gee nie. Dit staan jou vry om so te doen, maar jy maak ‘n fout om te wil aanvoer dat waar ons wel antwoorde gee, ons sommer net met “menslike” antwoorde besig is, so asof ons dit sommer so uit ons duime gesuig het sonder dat ons in afhanklikheid van God en sy Woord en met erkenning van ons eie feilbare begrip as mense met sake geworstel het.

Ons erken ook dadelik dat dit so mag wees dat mense aanvanklik verwar kan word deur sekere antwoorde wat hulle hoor. Een rede hiervoor is dat geen Christen die moontlikheid kan ontken dat sy verstaan van ‘n sekere saak of interpretasie van ‘n Bybelse teks onfeilbaar is nie, en daarom is die antwoorde wat ons gee, feilbaar. Maar, ons staan ook op die skouers van denkende gelowiges voor ons en probeer ook hande vat met denkende gelowiges om ons, en terselfdertyd is ons diep bewus van ons afhanklik van die Heilige Gees om ons te lei tot groter begrip. Dis omdat ons hiermee erns maak dat ons wel oortuig is dat ons antwoorde kan gee wat nie summier hoef te verwar nie, maar wat juis tot versterking van geloof kan lei of waarby skepties soekende mense kan baatvind. En waar sekere antwoorde dalk steeds die potensiaal het om te verwar, is dit omdat sekere vrae dikwels ondersoek instel na baie komplekse sake en waar dit daarom verwag kan word dat die antwoorde op daardie vrae nie sommer net voor die hand liggend is nie. Wat die geval ook al is, verwarring kan dikwels opgeklaar word deur met ander mense in gesprek te tree vir meer duidelikheid of vir die opklaring van dit wat iemand nie verstaan nie. Maar om bloot te sê dat sekere antwoorde “mense verwar” is ongelukkig ‘n taamlik simplistiese uitgangspunt.

Ek wil laastens ook met jou saamstem dat baie mense wat vrae vra en skepties is nie werklik belangstel in God en wie Hy is nie. Hulle probeer hulself regverdig met die vrae wat hulle vra en hou God daarmee op ‘n afstand. Sulke mense is nie werklik geïnteresseerd in enige antwoorde nie. Dit is egter ons ondervinding, as deel van ‘n bediening soos AntWoord, maar sommer as ‘n algemene observasie van mense in vandag se samelewing, dat daar baie mense is wat nie tans glo nie, maar wat werklik eerlik met sekere vrae worstel en opreg soekend is na antwoorde op hulle vrae – antwoorde wat rekening hou met die feit dat hulle ook rasionele wesens is (soos wat God mense geskep het om te wees). Sulke mense is daaroor besorg dat daar nie van hulle verwag kan word om irrasionele of teenstrydige dinge te glo nie, want dit is dikwels die indruk wat hulle kry wanneer hulle met godsdienstige mense of idees te doen kry. Een van die hoofredes vir ‘n bediening soos AntWoord is om vir sulke mense te wys dat die Christelike geloof nie van enigiemand verwag om hul intellek op te offer ter wille van geloof nie. Natuurlik is daar groot misterie verbonde aan die identiteit en wil van ‘n wese soos God wat ons menslike verstande nooit kan omgryp nie. Hierdie gedagte aan ‘n onpeilbare God is iets wat geestelik soekende mense wel konseptueel kan en sal aanvaar, mits ons meer gereeld ‘n bietjie moeite doen om baie van hulle ander vrae met intellektuele integriteit te benader en te wys hoe en dat die antwoorde sin maak en dat die Christelike geloof nie ‘n blinde sprong in die donker is nie.

Natuurlik is daar ‘n baie belangrike element van ons geloof wat bestaan uit vertroue in God. Vir ons as kinders van God wat al lank in ‘n verhouding met God leef, bied so ‘n vertroue ‘n bepaalde insig wat ons in staat stel om baie van ons eie onbeantwoorde vrae asook die swaarkry van die lewe met bepaalde geduld en afwagting te hanteer. Ons belewenis met God beteken vir ons baie meer as bepaalde intellektuele kennis oor God. (Ek dink dis juis vanuit hierdie vertrouensverhouding dat Abraham kon worstel met God se opdrag om Isak te offer al klink dit vir ons uit die trant van die teks asof hy nie eers twee keer daaroor gedink het nie). Die punt is egter dat mense wat God nie persoonlik ken nie, nie weet wat dit beteken om op God te vertrou nie en nie toegang het tot die tipe insig wat so ‘n verhouding meebring vir ons wat al lank Christene is nie. Vir hierdie mense is die vrae wat hulle vra dikwels ‘n manier om uit te vind of die God waarvan Christene praat regtig vertrouenswaardig is. Vrae soos, “Hoe weet ek dat ‘n onsigbare God bestaan?” of “Is die Bybel betroubaar?”, is nie altyd net moedswillige en hooghartige vrae wat bloot wil ontken dat daar ‘n God is wat beter weet as hulle nie. Die manier waarop ons sulke mense se vrae help antwoord, kan uiteindelik daartoe bydra dat mense iets meer kan sien van wie God werklik is, dat hulle kan hoor en ervaar dat Hy vir hulle lief is en wat Hy gedoen het om dit vir hulle moontlik te maak om met hom versoen te word. In kort, om mense se vrae ernstig op te neem, is om God aan hulle bekend te maak, ‘n God wat vertrou kan word, selfs op intellektuele vlak, en wat van mense vra om hul vertroue in hom te plaas.

Winkelsmidt, hopelik verstaan jy nou effe beter waar ons vandaan kom en jy is welkom om terug te skryf. As medegelowiges het ons dikwels meer begrip vir mekaar nodig en hoef ons mekaar se motiewe nie onmiddellik as verdag af te maak nie.

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.