My skeptiese seun

Hallo Udo

Ek het ‘n immer-dwalende seun van pas dertig wat elke nuwe ding wat hy op die Internet lees, aangryp asof dit Evangelie is.  Sy groot probleem dink ek egter, is dat hy soek na ‘n verhouding met Christus, maar dat hy met sy rede daar wil uitkom. Hy is (on)gelukkig nie met bolangse antwoorde tevrede nie en ek het by ‘n punt gekom dat ek my werklik in die onderwerp moet ingrawe. 

Vriendelike groete en mag die Heer julle seen in die groot werk waarmee julle besig is.

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Baie dankie vir jou skrywe aan ons. Ons help graag waar ons kan.

Ek hoor jou bekommernis oor jou seun se twyfel en skeptisisme. En ek dink dat jy reg is – daar is baie mense wat soek na ‘n verhouding met Christus, maar omdat so ‘n verhouding ten diepste oor vertroue gaan, is baie mense huiwerig. Kan God regtig vertrou word? Ek dink dis die vraag waarmee baie mense worstel, beide emosioneel en intellektueel. Dit is natuurlik ook so dat baie mense hulle twyfel as verskoning gebruik en God sodoende op ‘n afstand probeer hou, maar baie ander mense se twyfelvrae is opregte pogings om sin te maak van dit wat oor God, of spesifiek dan, die “Christelike” God soos Hy in Jesus gestalte gekry het, aan hulle vertel word. Ek weet nie in watter kategorie jou seun val nie, maar ek dink dis altyd goed om iemand die voordeel van die twyfel te gee (dat hulle soekend is) tot en met hulle die teendeel gewys het.

Jy is welkom om jou seun te vra of hy sou belangstel om self met my per e-pos te skakel. Dan kan ons dalk bloot ‘n vriendelike gesprek hê oor sy voorbehoude en twyfel en dalk kan ons albei daaruit leer en tot beter insigte kom.

Ek hoor graag van jou.

Beste groete

Udo

 

Hallo Udo

Dankie vir jou vinnige antwoord.  Jy is reg, hy is besig om allerhande dinge te bevraagteken, maar tog ook ernstig soekend.  Ek het jou webadres vir hom gestuur in die hoop dat hy op julle webblad sal gaan en begin vrae vra.  Kom ons vertrou die Here daarvoor.  Dalk kontak hy jou self.  Intussen sal ek bly wees as jy maar enige inligting wat julle het, vir my sal stuur.  Ek is in elk geval in gesprek met hom en wil nie daardie vertroue skend nie.

Baie dankie

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dis in elk geval goed dat jy in gesprek is met jou seun en dit klink asof jy ondersteunend en belangstellend is. Ek dink in elk geval dat ons as volwasse Christene groter pogings moet aanwend om te probeer belangstel en verstaan waar ander mense vandaan kom, en nie dadelik met allerlei antwoorde en voorskrifte na mense gaan nie. Mense is dikwels meer oop en bereid vir gesprek as hulle die gevoel kry dat ons nie dadelik met hulle in konfrontasie staan nie, maar werklik wil luister en verstaan wat hulle te sê het.

Sterkte en seën vir jou.

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.