Hoe praat ek met iemand wat ontken dat God bestaan?

Hi Udo,

Ek kry baie te doen met wetenskaplikes en een van hulle glo dat God eenvoudig nie bestaan nie – en dat mens as jy dood gaan eenvoudig afskakel soos ‘n rekenaar en dan niks is nie.  Hoe sou jy met so iemand praat? Hy glo nie in die Bybel nie, so dis moeilik om die Bybel as ‘n verwysing te gebruik vir wat ek glo die waarheid is.

Groete,

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Dankie vir jou vraag. Ek dink dis wonderlik om geleenthede aan te gryp om met ander oor God te gesels – selfs mense wat werklik skepties is oor sy bestaan. Natuurlik is daar ‘n tipe skeptisisme wat sinvolle gesprek moeilik maak, maar soms het mense regtig ‘n behoefte aan antwoorde wat sin maak van die vrae in hul gemoed.

Ek dink dat wanneer ons met mense in gesprek is moet ons besef dat elke persoon uniek is en dat daar nie ‘n towerformule van woorde of argumente bestaan wat ons na willekeur kan inspan om mense summier tot ander insigte te bring nie. Daarom dink ek dat ons as Christene gerus meer gereeld eers tyd kan neem om regtig te verstaan waar ander mense vandaan kom en wat hulle vrae en twyfel regtig is, voordat ons wegspring met hele rits antwoorde of argumente om te wys hoe en waar ander verkeerd is.

Kom ons gebruik die persoon waarna jy verwys as voorbeeld. Ek dink dis belangrik om sy skeptiese sienings regtig te probeer verstaan en ‘n vollediger prentjie te kry van hoe hy dink oor die lewe en die wêreld waarin hy leef. Dit beteken dat ‘n mens aanvanklik baie meer vrae aan so ‘n persoon sal vra (m.a.w. belangstellend sal wees) en nie moet voel dat jy ‘n dadelik ‘n teen-antwoord op al sy antwoorde moet kan gee nie. Dis is dikwels eers wanneer ons die groter prentjie van iemand se beeld van die wêreld verstaan, dat ons kan sien waar en hoe ons sinvol met iemand in gesprek kan tree. Uit die klein bietjie van wat jy oor die persoon genoem het wat nie in God se bestaan glo nie, dink ek byvoorbeeld dis belangrik om te probeer verstaan wat hy dink deur die volgende paar vrae te vra:

  1. Is die bestaan van God ‘n irrasionele idee? Indien wel, waarom?
  2. Hoe bepaal die wetenskaplike werkswyse of God bestaan of nie bestaan nie? Anders gestel, watter wetenskaplike kennis ondermyn die idee dat God bestaan?
  3. Waarvolgens weet ons dat as ons doodgaan ons ophou bestaan? En sou die bestaan van God (indien hy wel sou bestaan) die moontlikheid beïnvloed dat ons wel op ‘n manier bly voortbestaan? Wat beteken dit in elk geval om te sê dat “ek” ophou bestaan? Op watter manier is “ek” gelyk aan my liggaam/brein wat eendag doodgaan en disintegreer? M.a.w. my liggaam/brein kan in fisiese terme beskryf word, maar is daar nie ‘n belangrike deel van wie “ek” is (van wat ‘n persoon is) wat nie tot die fisiese gereduseer kan word nie (dink maar aan konsepte soos emosie, intellek en die wil wat ‘n essensiele deel uitmaak van wie ons as persone is)? Indien daar goeie rede is om te glo dat daar ook ‘n nie-materiële persoon soos God bestaan, is dit dan werklik so vergesog om te dink dat die nie-materiële dimensie van ons bestaan nie maar net soos ons liggame disintegreer nie?

Met bogenoemde vrae (en dis maar net ‘n paar voorbeelde) probeer ‘n mens nie net ‘n beter begrip vorm van wat iemand glo nie, maar ook hoekom iemand dit glo. Met hierdie vrae het ons nog nie by die redes uitgekom vir waarom dit redelik sou wees om in God se bestaan te glo nie. Maar, mense het dikwels persepsies rondom die bestaan van God of wanpersepsies oor wat Christene byvoorbeeld oor God glo, wat nie geldig is nie en ons het nodig om sulke persepsies en wanpersepsies sover moontlik te probeer verstaan voordat ons sinvol met iemand in gesprek kan wees.

Nog ‘n area waaroor ‘n mens baie vrae kan vra is oor mense se persepsies oor die Bybel. Maar jy is reg, as iemand van meet af nie dink dat dit sin maak om van die bestaan van God te praat nie, dan is die kanse skraal dat iemand die motivering gaan hê om met die Bybel erns te maak. Tog kan ek noem dat min mense besef dat iets soos die Nuwe Testament manuskripte groot historiese waarde het en dat ‘n mens die gegewens daarin nie sommer so maklik as mites en stories kan afmaak nie.

Winkelsmidt, ek hoop jy verstaan wat ek hier vir jou probeer sê. Wanneer ons met skeptiese mense in gesprek wil tree, dan moet ons op ‘n sensitiewe en respekvolle manier te werk gaan. Mense moet kan voel dat ons werklik wil hoor wat hulle te sê het en nie dat ons bloot gereed staan met ‘n cliché of goedkoop antwoord nie. Sodoende gaan ons ook gou agterkom of iemand werklik oop is vir gesprek. Nie alle mense is werklik geïnteresseerd om op intelligente wyse oor hierdie sake na te dink nie. Baie mense gebruik dikwels hulle skeptisisme en ongeloof as ‘n soort skild om ander op ‘n afstand te hou, en uit hul gesindheid van vyandigheid, verdagmaking en karikaturisering is dit dikwels duidelik dat hulle in staat is tot sinvolle gesprek nie.

Dit is natuurlik vir my moeilik om hier op elke moontlike variasie van iemand se antwoorde op die moontlik vrae wat jy kan vra, te reageer, maar jy is welkom om verder met my in gesprek te tree oor spesifieke sake wat mag opduik. Miskien het jy al daarna gekyk maar hier is paar skakels m.b.t die bestaan van God: Die bestaan van God

Beste groete

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.