Is daar nie dalk rede vir mense se ongeloof nie?

Hey Udo,

Kyk bietjie na hierdie berig. Dit is goed wat mense by die werk lees en net meer en meer toe maak vir gesprekke oor geloof en ‘n verhouding met God.

Wat doen ‘n mens as iemand so iets voor jou gooi? Ek sou ook skepties wees of selfs ver weghol as ek nie God ken nie en ek lees hierdie tipe goed…

Haar ma gesteek ‘om liefde vir God te wys’

Ai, dis regtig vir my jammer en dit maak so baie skade.

Hoop jy’t n lekker dag,

Winkelsmidt

 

Hi Winkelsmidt

Ja, dis baie sleg om van sulke mense te hoor en die bisarre dinge wat hulle in die naam van een of ander “God” doen en kwyt raak. En ja, ‘n mens se eerste reaksie is nogal om in ‘n toestand van ‘vlug’ te wil ingaan. Maar ek moet bysê dat ek tog dink dat dit eintlik ‘n gulde geleentheid is om wel oor God/geloof te praat (te ‘engage’).

Ek dink dis ‘n kans om wanneer iemand by ons wil weet (bv. kollegas by die werk wat weet ons is Christene) wat ons van ‘n berig soos hierdie dink, die belangrikheid te verduidelik van die regte konsep van wie God is en van ‘n regte verstaan van wat die Bybel is en sê. Ons is nie maar net uitgelewer aan ons subjektiewe gevoelens asof geloof niks te doen het met ‘n strewe na objektiwiteit en waarheid nie. M.a.w. om in God of die Bybel te glo beteken NIE om iets maar net blindelings te glo of irrasioneel te wees nie. Dis onder andere waarom ons dit nooit bloot as ‘n gegewe moet aanvaar wanneer enigiemand (selfs opregte Christene) aansprake maak dat God dit en dat vir hulle gesê het of dit en dat aan hulle geopenbaar het nie (sien o.a. bv., 1 Joh. 4:1-6, 1 Tess 5:21, Ef. 5:10, Hand. 17:11, 1 Kor. 14:28). Sulke aansprake kan en moet altyd getoets word aan ‘n korrekte omgaan met die Woord (met ‘n goeie verstaan van die beginsels vir die uitlê en interpretasie van die Skrif), maar dikwels ook aan iets so eenvoudig soos ‘common sense’.

Verder sou ek die punt wou maak dat ‘n mens byna enigiets kan MISBRUIK om jou eie begeertes te motiveer (dink maar aan hoe tegnologie of wetenskaplike kennis misbruik kan word vir bose doeleindes). Maar die misbruik van iets beteken tog nie dat daar nie ‘n verantwoordelike gebruik of eintlike doel daarvan is nie. M.a.w. net omdat mense wetenskaplike kennis misbruik het om Jode in gaskamers te vermoor of bepaalde tegnologie misbruik het om met vliegtuie in geboue vas te vlieg, beteken nie daardie spesifieke kennis of tegnologie wat sulke optrede moontlik gemaak het, is opsig self onder verdenking nie. Net so is daar geen rede om God of die Bybel summier onder verdenking te plaas bloot omdat sekere mense bepaalde dinge oor hom sê of hul optrede met hul eie interpretasie van sy bedoelinge in verband probeer bring nie. Die vraag is eerder: as God werklik bestaan, wie is Hy dan en wat het Hy regtig gesê?

M.a.w., so ‘n slegte berig in die koerant is regtig ‘n geleentheid om baie mense se persepsies uit te daag dat dit nie werklik saak maak in watter tipe God jy glo nie, solank jy net opreg is (die tipiese onhaalbare relativisme waarby baie mense vandag ingekoop het). Dit daag mense ook uit om geloof in God nie bloot af te skiet omdat sommige mense bepaalde dinge in sy naam doen of selfs van hom sê nie (die argument van misbruik), maar die saak vir hulleself te ondersoek. Afhangende van die graad van iemand se skeptisisme sou ‘n verantwoordelike reaksie tog wees om eerder te begin met ‘n vraag soos oor of God werklik bestaan en hoe ons kan weet dat hy bestaan en wie hy is, en as hy dan bestaan, hoe ons kan weet of, wat en hoe hy aan mense gekommunikeer het.

Dis uiteraard nie ‘n eenmalige gesprek wat ‘n Christen met ‘n skeptiese persoon sal hê nie (en ongelukkig ook nie eintlik iets waarvoor die gemiddelde Christen toegerus word deur net dagstukkies en devotionals te lees nie!), maar dis ‘n ‘engaging’ reaksie wat oor ‘n tydperk dalk baie vrug kan dra. Dis ‘n reaksie wat vir ander mense wys dat Christene wel denkend en verantwoordelik met hierdie sake wil en kan omgaan en dat ons nie enigiets onder die mat wil invee omdat ons ongemaklik of verleë oor ons geloof voel nie.

Wel, net ‘n paar gedagtes van my kant vir wat dit mag werd wees.

Mooi bly

Udo

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.