Waar verwys die skrif na homoseksualiteit?

Hi Udo

My suster is verloof – enigste probleem met haar verlowing is haar verloofde se naam te wete Sarie. Verder kan sy glo uit die bybel bewys dat sy reg is en dat ek verkramp is. Tensy daar nuwe skrif opgegrawe is wat nuwe lig werp en alles wat reeds in die woord aangespreek word kanselleer – ek twyfel! Help my met ‘n paar skrifgedeeltes asb.

Mooiloop,

Winkelsmidt

 

Hallo Winkelsmidt

Met betrekking tot jou vraag wil ek eerstens net noem dat ek ongelukkig nie vir jou ‘n maklike antwoord het vir hoe jy jou suster moet benader nie. In vele opsigte is daar ‘n kompleksiteit verbonde aan die kwessie van homoseksualiteit waarvoor ‘n mens sensitief moet wees. Dit beteken nie dat ek nie dink dat die Bybel onduidelik is oor hierdie saak nie, maar ek dink wel dat hoe ons mense benader en hanteer van kardinale belang is.

Baie mense wil argumenteer dat homoseksuele oriëntasie soos dit vandag verstaan word, nie regtig in die Bybel aangespreek word nie en dat die gedeeltes wat wel na homoseksualiteit verwys (soos o.a. Romeine 1, 1 Korintiërs 6:9 en 1 Timoteus 1:10) daarom nie relevant is vir ‘n gesprek oor die moraliteit van homoseksualiteit nie. Ek gaan nie poog om hier ‘n breedvoerige bespreking te gee van al die kwessies ter sake by ‘n gesprek oor homoseksualiteit nie en hoe die Bybel wel daartoe spreek nie (sien hiervoor die verwysings aan die einde). Ek wil bloot twee aspekte beklemtoon en jou dan verwys na ‘n goeie inleidende boek wat onder meer hierdie sake in meer diepte bespreek en na my mening ‘n verantwoordelike siening verteenwoordig. (Die boek se naam is: Homoseksualiteit: ‘n Skrifgefundeerde perspektief deur Dr. Jorrie Potgieter.)

  • Ek dink eerstens nie dat Christene moet probeer om die idee van ‘n homoseksuele oriëntasie te probeer ontken of te verdoem nie. Ek dink byvoorbeeld nie dis ‘n probleem as dit so is dat homoseksuele oriëntasie grootliks deur genetiese faktore bepaal word nie. Ek dink daar is baie aangebore menslike eienskappe wat ongewenste morele implikasies kan hê (let wel, kan hê en nie noodwendig moet hê nie.) Vanuit ‘n Christelike perspektief is alle mense vanaf geboorte onderworpe aan ‘n sondige, gebroke natuur (m.a.w. ‘n natuur wat nie meer is soos God dit oorspronklik geskape het om te wees nie). Ek dink byvoorbeeld dat ‘n homoseksuele oriëntasie, of dit nou grootliks aangebore of aangeleer is, deel uitmaak van so ‘n gebroke natuur. Maar dit beteken nie dat ek daarom summier verskoon kan word vir al die sondige maniere waarop ek dikwels uiting gee aan ‘n my inherente neiging om sonde te doen nie. Veral nie as God dit moontlik gemaak het om teen ‘n sondige natuur weerstand te bied deur vanuit ‘n Geesgebore natuur te leef en van Hom afhanklik te wees nie. In effek dink ek dus dis heeltemal moontlik om gay te wees (‘n homoseksuele oriëntasie te hê), sonder om my seksualiteit uit te leef op maniere waarvoor dit nie deur God bedoel is nie. Dit bring my by die volgende punt.
  • Die groter raamwerk vir ‘n voldoende perspektief oor homoseksualiteit is om te vra wat die Bybel leer oor seksualiteit en die huwelik. Wat is God se bedoeling met die huwelik en hoe hou seksualiteit daarmee verband? Ek gaan weereens nie hierdie vrae hier probeer beantwoord nie (sien asb. Potgieter se boek), maar daar rus ‘n groot onus ter verduideliking op die persoon wat probeer aanvoer dat homoseksuele verhoudings (al is dit monogame, lewenslange verbintenisse) as voorbeeld dien van ‘n huwelik wat deur God ingestel is en dat die seksualiteit wat in ‘n homoseksuele verhouding uitgeleef word, voldoen aan die manier waarop God die mens geskape het om binne die huwelik te funksioneer. So ‘n persoon gaan moet verduidelik waarom die Christelike tradisie en siening oor homoseksualiteit dwarsdeur die geskiedenis, wat begin by Ou Testamentiese gelowiges, Nuwe Testamentiese gelowiges, die vroeë Christelike kerk (kerkvaders), tot en met die vorige eeu se kerklike standpunte (beide Rooms Katoliek en Protestants), nou skielik gewysig moet word om gay-huwelike te erken.

Jy sal sien, Winkelsmidt, dat die gesprek rondom homoseksualiteit vir baie sensitiwiteit, geduld, kennis en konteks vra, en dat om bloot ‘n paar verse aan te haal vir baie mense nie genoeg is nie. Baie Christene met ‘n homoseksuele oriëntasie wat die Bybel as gesagvol beskou, worstel diep en opreg met baie van hierdie gedeeltes in die Bybel en daar is baie dinge wat om verduideliking vra. Menslike seksualiteit is ‘n baie prominente aspek van ‘n mens se lewe en speel ‘n noemenswaardige rol in ons identiteitsvorming. Ons wil daarom versigtig wees om mense nie sommer net te veroordeel (omdat ons dink dat dit is wat die Bybel doen) deur ‘n paar Bybelverse vir hulle aan te haal nie. Ons wil mense eerder help om op verantwoordelike maniere met hul seksuele oriëntasie en verstaan van die Bybel om te gaan wat terselfdertyd diep afhanklik is van God se genade en aanvaarding van hulle as individuele mense. Op die ou end is dit slegs in hierdie genade en aanvaarding van God dat enige mens sy ware identiteit kan vind.

Laat weet gerus as ek verder kan help met iets of as iets om meer verduideliking vra. Maar ek stel regtig voor dat jy Jorrie Potgieter se boek vir jouself in die hande kry, want dit kan jou baie help om die relevante sake beter te verstaan en jou toe te rus vir ‘n konstruktiewe en sinvolle gesprek met jou suster.

Beste groete

Udo

Sien ook:

Sien ook:

 

Be the first to comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*


*

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.